• No results found

4. H EIDEGGER : D IE HUIS AS SYN 24

4.7 Poësie en bewoning as afmeting 33

In Heidegger se bekende lesing getiteld “...Dichterisch Wohnet der Mensch...” (1951) word poësie en bewoning aanmekaar gelykgestel. Bewoning behels dat die mens homself meet aan die goddelike (Heidegger, 1971:221). Die meet-handeling is ook ’n uitreik- of uitstrek-handeling omdat dit die omvang van die mens se bestaan bepaal: Hy reik uit na die onsterflike of goddelike, soos verewig in die hemele, vanuit sy sterflike en tydelike ligging op die aarde (Heidegger, 1971:220-221). Die mens lewe dus in die uitgestrektheid tussen die aarde en die hemele; die ruimte waarin hy bou. Die hemele en goddelike is egter onbereikbaar en bomenslik; soos reeds aangehaal is die goddelike aanduidings “van ’n orde wat ons nooit heeltemal sal begryp nie” (Holm en Schoeman, 1989:169). In sy teenwoordigheid onder die hemele is die mens dus gevul met ’n verwondering oor sy deelname aan ’n groter geheimenis. Hierdie geheimenis is die synsgeheimenis; die onontkenbare teenwoordigheid van die dinge as die dinge. Die mens moet homself deur die uitgestrektheid van sy lewe oopstel vir die teenwoordigheid van die syn.

Indien die mens homself oopstel vir die geheimenis, aanvaar hy dit ook. Hy bepaal homself by ’n orde wat groter is as hyself. Hy onderwerp homself aan die maatstaf van die orde. Hy meet sy lewe daarvolgens. Die maatstaf is nie ’n streng voorskriftelike ordening nie, dit is eerder “a letting come of what has been dealt out” (Heidegger, 1971:224).

Met ander woorde, die erkenning van die goddelike is die erkenning van die geheimenis van die dinge soos wat hulle is. Dit is die bepaling dat mens die dinge sal bewaar, beveilig of behoed in hulle eie-syn. “Taking the measure of the dimension is the element within which human dwelling has its security, by which it securely dwells.” (Heidegger, 1971:221).

Poësie neem ook kennis van die mens se ‘afstand’ of ‘uitgestrektheid’ tussen die aarde en die hemele. Heidegger (1971:214) dui daarop dat dit eerstens ook ’n bou-handeling is: Dit is afkomstig van die Griekse stam ‘poiesis’ wat rofweg ‘maak’ of ‘skep’ beteken. Wat die digter tot stand bring is, tweedens, die teenwoordigheid van die onkenbare of onsigbare geheimenis, sonder om die verborge aard daarvan te misken. Hy maak deur poësie, deur sy ‘afmeting’, die orde duidelik juis in al sy onduidelikheid. Deur die skryf

van poësie bepaal die digter hom by die maatstaf; hy laat die dinge in hulle so-heid verskyn.

Yet the poet, if he is a poet, does not describe the mere appearance of sky and earth. The poet calls, in the sights of the sky, that which in its very self- disclosure causes the appearance of that which conceals itself, and indeed as that which conceals itself. In the familiar appearances, the poet calls the alien as that to which the invisible imparts itself in order to remain what it is – unknown (Heidegger, 1971:225).

’n Ware digter stel homself oop vir die geheimenis van die dinge se teenwoordigheid, net soos wat ’n ware bewoner die vier-eenheid as die vier-eenheid behoed. Die bewoner en die digter maak sin van die geheimenis, omdat hulle hulself neerlê by die eintlike orde van die dinge. Poësie en bewoning is daarom albei gelyktydig ’n verwondering én ’n be-

ken-dheid.

Anders gestel: die poëtiese ingesteldheid is ook ’n betroubare bron van ontologiese insig. Heidegger staaf regdeur sy loopbaan as akademikus en filosoof sy argumente met aanhalings uit of verwysings na onder andere die werk van Homerus, Seneca, Rilke, Goethe, Trakl en Hölderlin. Indien die woord nie deur die metafisika of die tegnologie en hulle ontkenning van die synservaring besmet word nie, maar eerder in sy eie unieke ‘taligheid’ aanvaar word, bied dit die mens ’n wyse waarop hy sy bestaan kan begryp (Heidegger, 1971:215-216). “Het woord is niet op de eerste plaats een middel om informaties in te winnen en te geven, maar het heeft een ontologische betekenis” (Ijsseling, 1964:68). Vir Heidegger onthul woorde die eintlike aard van die dinge. “Het woord verschaft het zijn aan de zijnden” (Ijsseling, 1964:69).

Reeds in Sein und Zeit gee Heidegger (1998:160-167) ’n uitleg van sy begrip van woorde as draers van syn. Diskoers of redevoering (“Rede”) is vir hom verbind met die mens se voorteoretiese verstaan of ervaring van syndes. Diskoers is ook ’n ontberging of ‘verskyning’ van syndes wat dan gestalte kry as ’n taal-uiting. “Het verstaanbare is ook vóór de toeëigenende uitleg altijd al gearticuleerd. Rede is de articulatie van de verstaanbaarheid. Zij ligt dus aan uitleg en uitspraak al ten grondslag” (Heidegger, 1998:161). Daar kan amper gesê word dat die synsgeheimenis deur die mens praat, eerder as andersom. Teenoor diskoers as ’n taalhandeling gegrond in daar-syn se oorspronklike

voorpredikatiewe synservaring, belig Heidegger ook taal (“Sprache”) en gepraat of geklets (“Gerede”). Eersgenoemde is die blote totaliteit van woorde, taal as ’n tuig in die werklikheid. Laasgenoemde is die betekenislose modus van kommunikasie onder die ‘hulle’, taalhandelinge wat geen beduidende of synsontbergende waarde het nie.

Syndes is vir Heidegger waarlik teenwoordig in diskoers-gegronde woorde. Poësie as diskoers of afmeting roep dus die dinge tot verskyning en laat ons op hierdie manier toe om die wêreld te bewoon, om ons tussen die dinge in te rig, om ontvanklik te wees vir die eie-syn van die syndes.

Bogenoemde definisie van poësie maak dit moontlik om die digkuns te beskou as ’n dubbel-gelaaide medium vir die beskrywing van wonings en maniere van woon. Gedigte is, om binne die Heideggeriaanse gedagtegang te bly, die juiste manier van uitwei en besin oor die huis in al sy vorme, omdat albei op dieselfde wyse die wêreld se teenwoordigheid erken.