• No results found

8. B REYTEN B REYTENBACH – “ DIE GAT IN DIE LUG ” 68

8.4 Bachelard 77

Bachelard se dromende inwoner benodig die veiligheid van die huis om goed te kan droom. Die teenstellings binne/buite, veilig/onveilig, wat reeds hierbo uitgewys is, is dus ook die uitgangspunt vir ’n Bachelardiaanse toeligting van die Breytenbach-gedig. Volgens so ’n lesing word die spreker se verbeelding geaktiveer deur die beskutting wat die huis bied. Die gedig is dan as ’t ware die spreker se verbeeldingsvlugte, sy dagdrome waarin die huis omgetower word tot ’n magiese ruimte wat gedurig van vorm verander. Hierdie transformasies van die huis herinner aan die beweeglike of dinamiese aard van Bachelard se droomhuis. In dié gedig is die huis ook ’n dinamiese geheel wat die wêreld binne hom toelaat sowel as van hom deel maak: “die venster [is] oop / die son kom drink / met ’n helder tong / aan die wyn in my glas” (9-12). Die huis is ook eers “op hoë bene” (1), waarna dit ’n “sterrewag” (22) word, en later ook ’n “boot” (38). Hierdie dinamika maak van die huis ’n struktuur wat alles kan wees en inneem, danksy die verbeelding. Weens die beweeglikheid daarvan word die huis ’n ganse kosmos. Die spreker het dus geen behoefte daaraan om die eintlike kosmos te verken nie; daarom antwoord hy “nee dankie, ek is gelukkig hier” (28) op die marsman se uitnodiging. Die wisselende en voortdurend veranderende karakter van die huis word ook stilisties weerspieël in die afwisseling van ritmes, reël- en strofe-lengtes. Daar word verder onreëlmatig van rym gebruik gemaak. Deurgaans het die gedig ’n energieke, springerige tempo wat die onbepaalde karakter van die huis effektief vasvang.

Indien die huis inderdaad so beweeglik is dat dit vir die inwoner ’n vergestalting van die ganse kosmos is, is die huis dan, in ’n sekere sin, onsigbaar. Dit het geen bepaalde vastheid nie, maar is eerder naatloos deel van die omgewing. Die titelbeeld van ’n gat in die lug vang hierdie algehele eenwording vas; die titel is immers toutologies: Dit verwys na ’n oop ruimte binne ’n oop ruimte. Verder herinner dit aan die onsigbare en onaantasbare veiligheid van Bollnow se nes-droom. Die nes is onsigbaar deel van die natuur, en as sodanig is dit die oerbeeld van ’n verborge of bergende ruimte. Hoewel Breytenbach se spreker homself binne ’n ewig transformerende ruimte bevind, dui sy beelde van sekerheid en geluk op ’n huisbewoner wat nes gemaak het, in al die assosiatiewe betekenismoontlikhede van die uitdrukking.

Die dagdrome van beweeglikheid is nie die enigste effek wat die huis se beskerming op die spreker het nie. Bachelard wys op die “imagination of repose” wat ervaar word tydens winter, ’n storm, of enige dreiging van buite. Daar is reeds hierbo vasgestel wat die dreigende aard van die buite-ruimte is, soos gestalte gegee deur die “reën” (14), “idiote” (34) en “vuiste” (47). Ook die verbeelding van gemak, rus en kalmte is inderdaad merkbaar in Breytenbach se vers. Dit is moontlik om “stook die vuur / blaas op my fluit” (5-6) te lees as ’n uitnodiging om die behaaglike en gesellige ruimte van die huis te betree. Daar is ook “stoele en ’n tafel” (18) wat verder die beeld van gemak en geselligheid uitbrei. Daar word ook deurgaans gebruik gemaak van ’n gemaklike, geselserige gesprekstrant, wat bewerkstellig word deur woorde soos “smôrens” (38) en “jaart” (42). Die opgeruimde en speelse gemoed van die spreker is eweneens duidelik. Dit kom veral na vore wanneer die spreker in die vyfde strofe sê “ek krap in my lies / en laat wind in my skoene” (26-27). As beelde van volledige gemak en rustigheid is dit effektief. Om in jou lies te krap is iets wat mens slegs doen in privaatheid of in die teenwoordigheid van mense met wie jy heeltemal gemaklik is. Die daaropvolgende reël is ook ’n voorbeeld van die spreker se gemak en speelsheid, omdat hy óf so gemaklik is dat hy kaalvoet die wind sy skoene laat inwaai, óf dat hy ’n wind los (selfs ’n growwer sosiale handeling as lieskrappery, tog ook deel van die private gemak van die huis) terwyl hy in sy skoene staan. Die woord “wind” het dus hier ’n grappige dubbelsinnigheid. Die geselligheid en gemak van die spreker word verder uitgebeeld deur die gebruik van “wyn” (12, 61). Dit skep ’n ontspanne atmosfeer van samesyn en plesier. Die spreker se gebruik van drank kan moontlik ook sy opgeruimdheid en speelsheid verklaar. ’n Verdere toespeling van die titel word ook dan geaktiveer: “die gat in die lug” kan verwys na die idiomatiese uitdrukking ‘om hoog met die gat te wees’, wat gesê word van iemand wat besope is.

Buiten die verbeelding van gemak, vind Bachelard ook dat die mens so nou en liggaamlik met sy huis omgaan, dat dit ’n menslike karakter ontwikkel. In die gedig word die huis dan ook gepersonifieer: Dit staan op “bene” (1), dit is soos ’n “mond” (52), en die vensters “gaap” (60). Die feit dat die gedig aan die huis opgedra is, dien as ’n verdere aanduiding van die personifikasie wat deurgaans voorkom, aangesien opdragte gewoonlik aan mense gerig is.

Bachelard se uitweiding oor die droomhuis as ’n vertikale eenheid kan ook in verband gebring word met dit wat Breytenbach hier uitbeeld. Die huis staan “op hoë bene” (1) en die spreker “woon in die solder” (2). Vir Bachelard word die solder geassosieer met die rede, die hoër ambisies, en die heerskappy van die denke bo die natuur. Daar is ook, soos reeds bespreek, verwysings na ’n uil in die eerste strofe. Die uil is ’n bekende simbool van wysheid. Daarom is dit gevolglik nie vergesog om af te lei dat die spreker ’n tipe denker of intellektueel is nie. Hy beskou tog sy “boeke” (19) as noemenswaardig, hy kyk na sterre deur sy “lens” (23) en hy het sterk opinies oor “politici” (33). ’n Verdere interpretasie kan ook van die spreker ’n digter-denker maak wat met sy verbeelding of kuns homself afsonder in ’n tipiese kluisenaarsbestaan, ’n lewe wat spreek van “die uiterste isolasie van die digter” (Viljoen, 1998:189) wat dikwels in Breytenbach se werk voorkom. Die musiek van sy “fluit” (6, 30) en die woorde wat hy “vertel” (33) word dan simboliese voorstellings van sy kunstenaar- of digterskap.

Vele van Bachelard se droombeelde resoneer dus in “die gat in die lug”. Die spreker se fantasieë en verbeeldingsvlugte oor sy huis is tipiese dagdrome van bewoning. Hy bou as ’t ware ’n lugkasteel, ’n troostende, selfs vleiende droomhuis wat veiligheid bied, maar nie volkome sekerheid teenoor die gevaar en sterflikheid van die buite-natuur kan waarborg nie. Die idiomatiese ‘lugkasteel’ is moontlik ’n verdere verwysing van die gedig se veelsinnige titel: Die huisdroom is uiteindelik bloot vleiend, eenvoudig ’n najaag van ’n hersenskim, aangesien die eindigheid wel sal oorwin in die vorm van die bewende aarde (56) en die oopbrekende vloer (59).