• No results found

5. B OLLNOW : D IE HUIS AS MIDDELPUNT 37

5.1 Inleiding 37

Otto Friedrich Bollnow (1903-1991) se denke kan geplaas word binne die konteks van die grootliks Christelik-georiënteerde vertakking van die eksistensiefilosofie wat die moontlikheid vir die vervulling van die mens se heilsverlange vooropstel. Hierdie vertakking staan teenoor die sogenaamde donkerder of negatiewe eksistensialisme wat die ellende of ‘misère’ van die mens beklemtoon. Bollnow erken self in sy werke dat hy met sy werk ’n teenvoeter probeer bied aan die negatief-eksisitensialistiese ingesteldheid deur ’n “neue Geborgenheit” as menslike moontlikheid aan te dui. Hy vind veral in die ná-oorlogse poësie vanaf 1918 die eerste tekens van ’n erkenning van die mens se inherente verlange na hierdie ruimtelike geborgenheid. Verder is hy van mening dat nie alleen die eksistensialisme nie, maar ook die wetenskaplike of wiskundige opvattings van ons tyd, ons van ons eintlike ruimtelikheid vervreem het.

Bollnow lê veral in Neue Geborgenheit: Das Problem einer Überwindung des

Existenzialismus (1955) en Mensch und Raum (1963) die struktuur van die mens se

ruimtelike geborgenheid uit. Die liggaamlike en beweeglike aard van die mens struktureer sy ervaring van ruimte rondom ’n middelpunt; Bollnow noem hierdie gestruktureerde ruimte ‘geleefde ruimte’. Die middelpunt van geleefde ruimte is die huis of woning wat die mens teen die dreigende buitewêreld anker en beveilig. Bollnow se filosofiese besinning oor die waarde van die huis is aansienlik meer konkreet en spesifiek as dié van Heidegger; daar word gefokus op besonderhede soos mure, vensters en beddens. Die huis is ’n veilige en intieme ruimte waaroor daar ook antropologies besin moet word, aangesien die mens se spesifieke kultuur daaromheen gestruktureer is. Die gevoelslewe van die mens en sy verhoudings met andere vorm verder deel van geleefde ruimte. Die huis staan verder binne ’n groter geheel, die gemeenskapstruktuur, wat ook volgens geleefde ruimte se middelpunt-beginsel uitgelê is. Omdat Bollnow in sy argumentering op die analise van ons ervaring van fenomene steun, en daardeur die aard van ons ruimtelike werklikheid uitlê, is sy filosofiese ondersoek, net soos Heidegger se daar-synsfilosofie, sowel fenomenologies as ontologies. Alhoewel Heidegger ’n sterk

invloed op Bollnow se werk uitoefen, kom daar ook beduidende verskille voor. Altwee filosowe is dit egter eens dat die poësie ’n unieke medium verteenwoordig waarin die mens se ruimtelike in-syn in die wêreld neerslag vind.

5.2 ’n Reaksie op die ‘misère’-eksistensialisme

Die eksistensialisme is volgens Bollnow (1958:13) ’n reaksie op “de moderne irrationele beweging” wat reeds aan die einde van die agtiende eeu die mens se vertroue in die rede as ’n ordeningsmag oor die wêreld laat wankel het. Hierdie geestelike krisis het vir Bollnow ’n hoogtepunt bereik in die verwoestende twee wêreldoorloë van die twintigste eeu.

Die ‘misère’-eksistensialisme, soos beoefen deur onder andere Sartre en Camus, erken die absurde, angswekkende en gevaarlike aard van die mens se werklikheid. Die lewe is volgens hulle in ’n sekere sin ellendig, omdat die mens tot vryheid verdoem is. Bevry van alle eksterne bronne van sin, word sy soeke na betekenis in ’n sinlose wêreld ’n enorme verantwoordelikheid of las. Hoewel hierdie vertakking van die eksistensiefilosofie aansienlik beïnvloed is deur die Heideggeriaanse verstaan van tydelikheid en verwesenliking, ontken hulle ten sterkste dat die mens ’n oorspronklike, vertroude ervaring van ‘tuiswees’ in die wêreld het. Die mens is eerder ’n homo viator wat in absolute vryheid onverbonde en ongeborge leef; enige ervaring van ’n betekenisvolle tuiste of beskerming te midde van die chaos is bloot ’n illusie (Bollnow, 1958:118). Die enigste rigtende of singewende grondbeginsel is die ‘eksistensie’, soos aanvanklik aangedui deur Kierkegaard as die allerlaaste, onaangetaste innerlike kern van die mens, die setel van sy vryheid (Bollnow, 1958:14).

In sy Neue Geborgenheit: Das Problem einer Überwindung des Existenzialismus reageer Bollnow op hierdie vorm van eksistensialisme. Met sy “Überwindung” of teenargument wil Bollnow nie die eksistensialisme in sy geheel verkeerd bewys of met ’n nuwe denkwyse vervang nie, maar eerder ’n uitbreiding en wysiging daarvan aan die hand doen. Hy redeneer dat die klem wat op ‘eksistensie’ geplaas word die mees hopelose vereensaming van die mens tot gevolg het. Ingekerker in sy vryheid, het die

eksistensialisme se homo viator geen verbondenheid met die wêreld nie. Hy het in ’n onsekere, leë en vlugtende bestaan verval: “Het is eenvoudig niet mogelijk onder deze omstandigheden een menselijk leven te leiden” (Bollnow, 1958:15).

Die eg-menslike lewe word vir Bollnow gekenmerk deur ’n ingebore stemming van vertroue, hoop, troos, geduld en dankbaarheid. Ons aanvaar die syn met die vertroue van ’n kind (Bollnow, 1958:16). Hierin steun Bollnow (1958:121-123) direk op Heidegger se insig dat die mens oorspronklik in sy wese (sy ‘wees’) tuis is. Die twee filosowe se siening van angs verskil egter: Vir eersgenoemde het dit geensins ’n positiewe uitwerking op die mens nie en moet dit teengestaan word met ’n nuwe vertroue in hoe ons onsself in die wêreld beveilig, terwyl laasgenoemde dit beskou as ’n weg na ’n noodsaaklike sterflikheidsbesef en ’n outentieke bestaanswyse buite die onaanwysbare ‘hulle’. Bollnow argumenteer dat die angswekkendheid van die moderne, sinlose werklikheid, wat deur die ‘misère’-eksistensialiste verhef is tot dié werklikheid per se, ons van ons oorspronklike geborgenheid vervreem het op dieselfde wyse as wat ’n kind sy onskuldige gevoel van veiligheid in die wêreld verloor (Bollnow, 1958:16). Hierdie geborgenheid moet herwin word. Dit kan geskied deur ons aanvaarding van die singewende aard van ons vestigingshandelinge en -instellings. Hy verwys na ’n nuwe waardering van geloof, die viering van feeste, en ’n herwaardering van die huis as moontlike middele tot ’n herwonne geborgenheid.