• No results found

9. A NTJIE K ROG – “K LEIN V REDE ” 81

9.4 Bollnow 85

Die huis in “Klein vrede” is, net soos die woning in Breytenbach se “die gat in die lug”, afgegrens van die buitewêreld. Die beskrywing van die huis as ’n “hoëmuurhuisie” (1) plaas reeds aan die begin van die gedig klem op die huis se mure, sy grense, as sy vernaamste kenmerk. Daar is ook afbakenings-, toesluit- en afgrensingshandelinge. Die “gat in die heining” (8) is belangrike nuus wat aan die man vertel word. Die man “maak die hoenderhokke toe” (19) en “sit die kat uit” (20). Die inwoners se lewe is dus apart en afgemeet, met vaste grense en inperkings. Hierin stem Krog se huisbeeld ooreen met dié van Bollnow, wat die afbakening van ruimte en die teenwoordigheid van grense as ’n hoofkenmerk van geleefde ruimte identifiseer.

Skielike en gehele afgrensing, wat ’n negatiewe uitwerking op die inwoner het, word volgens Bollnow vermy deur die sussende effek van drumpel-areas. Ons vind die drumpel as ’n uitgebreide grens in die vorm van die “straatstoepie” (2), die “treetjie” (15) buite die agterdeur, en die uitweiding oor die agterplaas in reëls agtien tot twintig.

Bollnow vind afgrensing noodsaaklik vir die totstandkoming van ’n veilige, private domein waarin die inwoners hulle kan onttrek van die onvoorspelbare en vervreemdende buitewêreld. In “Klein vrede” sonder die huwelikspaar hulle van die buite-ruimte af omdat hulle woning hulle ’n lewe van tevredenheid bied. Hier is dus ’n voorbeeld van Bollnow se sogenaamde sentriese drang. Dit wil voorkom asof die paartjie se ek-sentriese drang ontbreek, en daar word gesuggereer dat die buitewêreld as ’n bedreiging ervaar word. Die huisie is “half toe-oog ingekruip agter ’n straatstoepie” (2), asof dit wegkruip of skuil. Die Bybelverhaal wat gelees word, handel oor die goudafgodery van die Israeliete in Eksodus 19, en dit suggereer dat die mense in die buitewêreld, wat nie so

asketies en arm-eenvoudig soos die paartjie woon nie, hulle skuldig maak aan geldafgodery en ’n sondige leefwyse. Vir die paartjie is ’n onversierde, eenvoudige bestaan dus die ware, eintlike bewoningswyse. Buiten hierdie suggestie van die sondige buitewêreld, val dit ook op dat hulle radio luister en “nuus” (15) hoor van “dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur” (16). “Dinge” gebeur dus buite, maar nie binne nie. Die binne-ruimte is vredig en kalm, terwyl die buite-ruimte nuuswaardig, bedrywig en onrustig is.

Die afgesonderde woning is vir Bollnow heilig. Dit is ’n veilige sanktuarium met roetines en rituele. Die daaglikse roetines en rituele van die paartjie is reeds hierbo uitgewys. Die indruk ontstaan dat hulle huisgodsdiens die belangrikste daaglikse ritueel is, aangesien die Bybel in die “boonste laai” (9) gehou word, en ook omdat daar ’n Bybelvers, klaarblyklik as die enigste versiering, teen ’n muur opgehang is (24). Die huis is dus hier inderdaad heilig in die sterkste sin: Dit is ’n plek van geloof en aanbidding.

Hierdie huis herinner ook verder aan Breytenbach se “gat in die lug”, omdat albei wonings vol liefde is. Vir Bollnow is die gevoelslewe en die ervaring van ruimte nou verbonde, en volgens hom skep die hartstog en samesyn van liefde ’n leefbare ruimte. Krog se huisie is ’n plek van liefde, en hoewel dit “klein” (1) is, word dit nooit as ongemaklik of benouend uitgebeeld nie; dit bly altyd ’n ruimte van gesamentlike aktiwiteite en daaglikse rituele, onbelemmerd uitgevoer. Die liefde van die paartjie word duidelik uitgebeeld deur “hy [wat] haar ... teen hom vasdruk” (6), “haar hande [wat] ... ’n stopskulp in syne” (11) is, en “hul bed” (22) waarin hulle saam slaap en wat in ’n sterk visuele tablo aan die einde van die gedig deur die maan belig word.

Die paartjie se huweliksliefde word ook verstegnies ondersteun deur Krog se aanwending van die koepletvorm en paarrym. ’n Sekere eenheid en eenvoudige samesyn word deur die koepletstrofes weergegee, en dit weerspieël die geluk van hulle verhouding. Die gedig fokus sterk op huwelikseenheid en -samesyn, soos dit duidelik blyk uit reël agt waar daar na die paartjie se vriende Anna en Jannie verwys word as “Anna-jannie”.

Die plasing van die bed teen die einde van die vers verleen ’n prominente en betekenisvolle posisie daaraan. Dit is die laaste ruimte waarin die leser binnegenooi word; die stoep, die kombuis, die eetkamer en die agterplaas is reeds verken. Die

slaapkamer en die bed verteenwoordig dus hier, soos wat Bollnow dit stel, die private kern van die huis. Dit is die middelpunt van hul vredige bestaan, en dit word gekenmerk deur absolute kalmte en stilte. Die voorafgaande strofes is gelaai met aktiwiteite en handelinge. Daar word klere opgehang, koffie gemaak, hande skoongevee, omhels, gebid, skottelgoed gewas en verskeie werkies in die agterplaas verrig. In die laaste twee strofes is daar egter geen aksie of beweging nie, slegs die stadige “skuif [van] die maan” (22). Die bed word hier waarlik voorgehou as die absolute kern van die vrede. Bollnow beskou die bed as ’n middelpuntsimbool omdat dit eerstens die daaglikse begin en eindpunt is, en tweedens ook as geboortebed en sterfbed die begin en einde van die mens se lewe as geheel versinnebeeld. Hierdie siening van die bed as ’n soort eindpunt ondersteun ook die bogenoemde Heideggeriaanse lesing dat die klein liggaamlike vrede van die uiteindelike nagrus die groot geestelike vrede van die dood of hiernamaals eggo.