• No results found

In hierdie afdeling word die outobiografiese en (nie)fiktiewe element van Country of my skull en A change of tongue / ’n Ander tongval ondersoek. Hoewel daar nie eksplisiet na die sistemiese aspekte van die werke verwys word nie, en ook nie na die habitus van Krog nie, is dit implisiet deel van die bespreking. In haar bespreking van outobiografie en postmodernisme voer Gilmore (1994:4) aan dat outobiografie as ’n genre, asook ander vorme van selfrepresentasie as plekke of ruimtes dien vir die skep van identiteit, as tekste wat kulturele identiteite teenstaan sowel as produseer. Die fokus sou dus kon val op die analitiese en empiriese kategorie van die “self” en die beperkings (of selfs die moontlikhede) van hierdie self se representasie. Hierdie benadering sou moontlik gedeeltelik van toepassing kon wees op Country of my skull en A change of tongue / ’n Ander tongval waar die leser grootliks deur die outobiografiese element in die narratief

66 Volgens Popovič is ’n pseudovertaling ’n fiktiewe vertaling: “An author may publish his original work as a fictitious [or pseudo]translation in order to win a wide public, thus making use of the readers’ expectations. […] not only a text pretending, or purporting, or frequently taken to be a translation, but also – given the ambiguity of ‘a text that is to be accepted as a metatext’ – a translation that is frequently taken to be an original work.” Oor die algemeen staan dit dus vir ’n werk waarvan die status as ‘oorspronklik’ of ‘afgelei’ om een of ander rede problematies is (Robinson 2000:183).

gekonfronteer word – hetsy deur die ‘ek’, of dan die kollektiewe wat teenoor die persoonlike of individuele gestel word.

Country of my skull verskyn in 1998 in Engels by Random House, ’n uitgewershuis wat homself in daardie stadium geskaar het by die emosionele aantrekkingskrag wat die Waarheids- en versoeningskommissie (WVK) vir alle Suid-Afrikaners ingehou het. In die voorwoord skryf die uitgewer hoofsaaklik oor die blik wat die WVK op Suid-Afrika se verlede werp. Aan die persoonlike word ’n kollektiewe status toegeskryf: “the people who tell these stories, along with the people who listen to them and, like Antjie Krog, the people who report on them, are living South Africans. They are struggling to find identity for themselves, individually and collectively” (CS viii). Daar word in ’n mindere mate in die uitgewersnota na die waarde van die boek self verwys. Die implisiete hoop word uitgespreek dat die WVK suksesvol sal wees as ’n agent van versoening en herstel, met die veronderstelling, neem ’n mens aan, dat die boek Suid-Afrikaners sal laat begryp dat “the relationship between truth and reconciliation is far more complex than they ever imagined” (CS vii). Die laaste paragraaf van die voorwoord eindig dan ook met: “They speak here to all who care to listen” (CS viii) – weer eens die emosionele pleidooi, met “they” die verskillende stemme van hierdie land, stemme van gewone mense wat die openbare diskoers betree het en die weg van die geskiedenis help vorm het.

Country of my skull verskyn ’n jaar na die laaste WVK-verhore in Desember 1997, waarmee ook die werk van Krog as joernalistieke hoofverslaggewer vir SABC Radio afgehandel is. Na amper twee jaar van daaglikse verslaggewing, verskyn die boek as een van die mees konkrete uitvloeisels van ’n proses van versoening wat aan die begin van 1990 begin het met Nelson Mandela se vrylating asook die voorafgaande prosesse wat gelei het tot die ontbanning van die African National Congress (ANC). Viljoen (2009:75) noem die boek “’n interessante hibried: aan die een kant gee dit ’n feitelike, joernalistieke weergawe van die werking van die Waarheids- en Versoeningskommissie; aan die ander kant is dit ’n hoogs persoonlike en subjektiewe weergawe van die impak wat die werking van die kommissie op die outeur gehad het.” Die hoogs persoonlike of subjektiewe element van die boek is sigbaar in die proses waardeur Krog gegaan het om wel tot die skryf daarvan te kom. Die uitgewer van Random House het Krog aanvanklik gevra om ’n boek oor die WVK te skryf, waarna sy geweier het. Sy is weer gevra, en moes antwoord “No, I can’t write a book,” en ook “I dare not write a book” (CS 294). Uiteindelik was dit

nie ’n kwessie van wil nie of kan nie of durf nie: “I have to write a book, otherwise I’ll go crazy” (CS 294). Selfs in hierdie proses bespeur ’n mens ’n ervaring wat byna parallel loop met die proses van heling wat in die boek uitgebeeld word deur die verskillende narratiewe: die aanvanklike stilswye en/of weiering van die slagoffers en oortreders om deel te hê; die huiwering oor die moontlikheid om wel deel te neem; die besluit om dit nie te durf waag nie (uit vrees?); en uiteindelik die oorgawe, die oopmaak, die stem wat nie anders kan as om hardop te sê of hardop te bely nie.

Dit is moeilik om Country of my skull binne die outobiografiese genre te plaas, net so moeilik as wat dit is om dit gewone verslaggewing te noem. Sonder Ivan Vladislavić, sê Krog (CS 294), sou dit ’n mindere boek gewees het: “His […] help with finding a poetic style”, voeg sy by. Dit is dus nie slegs verslaggewing in boekvorm nie, ook nie blote narratiewe verslaggewing of “fiction bordering fact” (Krog 2005b:106) nie; dit is narratiewe verslaggewing verweef met ’n outobiografiese digterstem. Om die boek binne ’n spesifieke genre te plaas sou wees om, soos Ortiz (1994:36) dit stel, ’n sekere mate van voorspelbaarheid in die teks in te bring: “Genre limits reading because it breeds, among other things, familiarity in the reader.” Dit is hierdie vertroudheid met die teks wat veroorsaak dat die inherente teenstrydigheid in outobiografiese tekste die knie buig voor voorspelbaarheid. Selfs Lejeune (Smith & Watson 2001:1) se definisie blyk onvoldoende te wees vir Country of my skull waar sowel die self as die ander ter sprake kom: “[w]e call autobiography the retrospective narrative in prose that someone makes of his own existence when he puts the principal accent upon his life, especially upon the story of his own personality.” In die eerste plek val die klem nie primêr op Krog se lewe nie en in die tweede plek nog minder op die narratief of storie van haar eie persoonlikheid. In Krog se geval word die onafhanklike individu en die skynbaar universele lewensverhaal allermins voorop gestel. Tog voel Moss (2006:86) dat Krog (d.i. die verslaggewer-verteller) se eie emosionele reaksie op die getuienis, en die worsteling met haar eie aandadigheid, die aandag wegneem van die lyding van diegene wie se gefragmenteerde stories in die boek weergegee word. Volgens Moss (2006:87) is dit problematies indien Krog se “fictionalized mémoire is taken as a documentary record of the apartheid era with a few personal ‘point-of-view journalistic’ interventions thrown in and as representative text of the ‘new South Africa’ for readers outside the country.” Juis omdat Krog soveel genres en onderwerpe inspan – historiese en politieke kontekstualisering, filosofiese debat oor

trauma, herinnering, skuld, poësie en getuienis – sou die boek nóg as suiwer verhalend (gebaseer op historiese gebeure) nóg as joernalistieke dokumentêr gelees kan word. Of die manier waarop die boek aangebied word eties is of nie, is nie ter sake nie, maar wel, soos Krog self verduidelik, die manier waarop sy op subjektiewe wyse met ‘waarheid’ en verskillende waarhede omgaan (CS 171).

Mens sou dit egter ook nie noodwendig “life writing” of “life narrative” (Smith & Watson 2001) kan noem nie, hoewel die historiese element asook ’n breër genre wel tot ’n groot mate ingespan word. In Country of my skull, en tot ’n mindere mate in A change of tongue, sou die volgende aanname deur Gaite (aangehaal in Ortiz 1994:33) heel waarskynlik van toepassing wees:

The thing that’s most exciting is contradictory versions. They’re the basis of literature. We are not just one being, but many, exactly as real history is not what is written by putting dates in their proper order and then presenting it to us as a single whole.

Country of my skull getuig by uitstek van getuienisse wat mekaar weerspreek. Slagoffer en aandadige se narratiewe verskil. Slagoffers se narratiewe verskil. Aandadiges se narratiewe verskil. Hulle emosionele pleidooie verskil. Verskillende ‘waarhede’ het in die proses van die WVK gevorm, en hierdie verskillend geartikuleerde ‘waarhede’ soos in die boek uitgebeeld, word verder geproblematiseer deur die veelvuldigheid van Krog se posisie (verteller/verslaggewer/skrywer), en Krog self wat mettertyd met die idee van ‘waarheid’ worstel. Hoewel outobiografiese narratiewe “feite” bevat, is sodanige tekste nie feitelike historiese verslae oor ’n spesifieke tyd of persoon of plek nie. Hierdie tekste bied veel eerder subjektiewe “waarheid” as “feite” (Smith & Watson 2001:10). Volgens Smith en Watson (2001:13) is dit waardevoller om ’n outobiografiese teks as ’n interpersoonlike proses te benader eerder as ’n waar-of-vals storie, want met sodanige benadering verskuif die klem vanaf die beoordeling en verifiëring van kennis na die manier waarop kommunikasie en begrip gerepresenteer word. As ’n interpersoonlike manier van skryf lê dit uiteraard buite die logiese of wetmatige model van waarheid en leuens (Smith & Watson 2001:13), waarby ’n voorstelling waar is as die voorstelling ooreenstem met ’n toestand in die werklikheid. Aan die een kant sou Country of my skull dus as ’n verslag oor belydenis gelees kan word, ’n belydenis deur veral die aandadiges,

maar aan die ander kant ’n belydenis van Krog self: sy bely namens ander, sy bely dat die grens tussen waarheid en fiksie vir haar te verweef geraak het:

I argue with myself, I compare versions of truth. Out of this must now be taken: The Truth? It must be so.

The truth is validated by the majority, they say. Or you bring your own version of the truth to the merciless arena of the past – only in this way does the past become thinkable, the world become habitable.

And if you believe your own version, your own lie – because as narrators we all give ourselves permission to believe our own versions – how can it be said that you are being misleading. […] Eventually it is not the lie that matters, but that mechanism in yourself that allows you to accept distortions (CS 89).

Benewens die dubbelsinnige of teenstrydige aard van ’n teks soos Country of my skull, is daar ook die verrassingselement wat Felman (in Anderson 2006:32) noem “a literary process of surprise” – ons ‘sien’ hoe die Ander (en sy of haar storie) met ons praat deur die element van verrassing (vergelyk Ortiz 1994:36 oor voorspelbaarheid en genre). Ook Krog voel outobiografie stel die skrywer in staat om algemene sowel as uitsonderlike elemente te gebruik; daar moet iets wees wat die aandag van die leser prikkel, iets onverwags, en dit, volgens Krog, is waar die verbeelding ingryp: in die niefiktiewe dele (hoe onderskei die leser?) van outobiografie is dit die werklikheid. Krog gebruik haar verbeelding nie om die storie uit te dink nie, maar om ’n manier te bedink oor hoe om die storie te vertel: “my imagination is active in the narrative discourse and not in inventing reality”, sê sy (Krog 2005b:106).

Volgens Gilmore (1994:71) word outobiografie deur ’n drang vir bemagtiging aangedryf – in die afwesigheid van ’n enkele model waarop outobiografie geskoei is, word uiteenlopende diskoerse ingespan. Die vraag wat ontstaan, is: Hoe word hierdie tipe teks dan gelees? Hoe word dit ontvang, geïnterpreteer deur lesers? Lees die leser dieselfde waarheid of dieselfde onsekerheid in die teks as wat Krog tydens die WVK-verhore ervaar het, of word hy of sy nou met ’n dubbele waarheid of fiksie gekonfronteer: die konsep waarheid soos uitgebeeld en verstaan deur Krog; en die oënskynlike waarheid van narratiewe verslaggewing gemeng met outobiografiese elemente wat, volgens

Gilmore (1994:67), in ’n sekere sin ’n “fictionalising [of] the past” is. Volgens Anderson (2006:121), wat die verband tussen outobiografie en die feministiese subjek ondersoek, asook die idee van eersgenoemde as ’n produktiewe, kreatiewe ruimte, gee outobiografie ’n naam aan die voortdurende kompleksiteit van betekenis en die subjek. Sy is van mening dat dit hierdie komplekse verhouding tussen betekenis en subjek, en die verband daarvan met die konstruksie van teorie is wat ondersoek moet word. Diane Elam beskou outobiografie byvoorbeeld as ’n “onmoontlike genre” omdat ervaring nooit direk gerepresenteer kan word nie, en omdat alle outobiografieë fiktiewe subjekte of figure in die plek stel van die selfkennis waarna gestreef word (Elam in Anderson 2006:120). Dit is egter nie ’n gegewe dat alle outobiografiese skrywers na selfkennis op soek is nie.

Met die gebruik van persoonlike narratiewe en belydenisse as basismateriaal vir die tipe teks wat Country of my skull is, is die volgende aanhaling van Foucault (1981:61-62) gepas:

The confession is a ritual of discourse in which the speaking subject is also the subject of the statement; it is also a ritual that unfolds within a power relationship, for one does not confess without the presence (or virtual presence) of a partner who is not simply the interlocutor but the authority who requires the confession, prescribes and appreciates it, and intervenes in order to judge, punish, forgive, console and reconcile; a ritual in which the truth is corroborated by the obstacles and resistances it has to surmount in order to be formulated; and finally, a ritual in which the expression alone, independently of its external consequences, produces intrinsic modifications in the person who articulates it: exonerates, redeems, and purifies him; it unburdens him of his wrongs, liberates him, and promises salvation. Dit word toenemend duidelik in die boek dat nie net die slagoffers en aandadiges nie, maar ook Krog hierdie diskoersritueel ondergaan. Krog representeer die slagoffers en aandadiges se belydenisse deur ’n proses van inisiële vertaling67 in die breedste sin van die woord. Deur haar narratiewe styl ontbloot Krog die geheime van getuies, slagoffers en oortreders. Cook (2001:82) beweer Krog ontbloot dit op skreiende wyse terwyl die

67 Inisiële vertaling, afgelei van die konsep inisiële norm (Toury 1995:56), wat na die algemene voorkeurbenadering van ’n spesifieke vertaler tot ’n spesifieke teks verwys.

verteller self nie haar eie verborge geskiedenis ontbloot nie. Dit is egter nie Krog wat die mees intieme detail van slagoffers en oortreders ontbloot nie, die boek word as instrument ingespan om die WVK se verslae vir die leser toeganklik te maak. In hierdie proses, die skryf- en vertaalproses, word sy self vrygespreek, bevry, gereinig, word haar las ligter: “I want this hand of mine to write it”, verklaar Krog aan die einde van die boek, waar sy ook ’n Engelse weergawe van die agtste gedig in die siklus “land van genade en verdriet” in Kleur kom nooit alleen nie (K 42) insluit:

because of you

this country no longer lies between us but within

it breathes becalmed

after being wounded in its wondrous throat

in the cradle of my skull it sings, it ignites

my tongue, my inner ear, the cavity of heart shudders towards the outline

new in soft intimate clicks and gutturals

of my soul the retina learns to expand daily because by a thousand stories

I was scorched

a new skin.

I am changed for ever. I want to say: forgive me

forgive me forgive me

You whom I have wronged, please take me

with you. (CS 278)68

Die diskoersritueel wat in Country of my skull teenwoordig is, hang saam met die narratiewe styl in A change of tongue / ’n Ander tongval. Volgens Gilmore (1994:68) verskuif die outobiograaf die klem vanaf die (oor)vertel van die waarheid na die vertel van die waarheid omdat hy of sy hoofsaaklik ’n narratiewe styl inspan. Outobiografie, soos A change of tongue / ’n Ander tongval, kan byvoorbeeld gelees of geïnterpreteer word as ’n representasie van gebeure of motiewe wat op ’n sekere manier deur die skrywer binne die diskoers van waarheid en identiteit geposisioneer is ten einde ’n sekere mate van geldigheid of waarheid daaraan te verleen. Dit moet egter ook in ag geneem word dat die skrywer, omdat hy of sy dikwels van narratiewe gebruik maak, die gapings in die geskiedenis of die geheue met fiktiewe elemente vul. Wat uiteindelik gebeur, is dat hierdie fiktiewe elemente so geredelik inpas by die groter narratief dat hulle die status van feitelike herinneringe69 (vir die leser of die skrywer of albei) begin aanneem

68 In die gedig word die leser bekend gestel aan die oorsprong van die titel van Country of my skull (strofe 3, reël 1, “in the cradle of my skull”) en moontlik ook van ’n Ander tongval. Vergelyk strofe 4, reël 2 en 3, en strofe 5, reël 1 in Kleur kom nooit alleen nie: “’n duisend woorde / skroei my tot ’n nuwe tong / ek is vir altyd verander” (K 42).

69 “Memories are records of how we have experienced events, not replicas of the events themselves”, aldus Schacter (aangehaal in Smith & Watson 2001:16). Dit wat onthou word, en dit wat vergeet word en waarom, verander oor tyd en staan sentraal tot die kulturele produksie van kennis oor die verlede en tot die individu se selfkennis (Smith & Watson 2001:19). Daar is ook die addisionele kwessie van in watter mate herinnering ’n kollektiewe aktiwiteit is – die kollektiewe aard van onthou strek verder as die blote sosiale plekke van herinnering, historiese dokumente of orale tradisie: dit strek sover as die motiewe agter herinnering en om wie se onthalwe daar onthou word (Smith & Watson 2001:20). Mitchell (in Smith & Watson 2001:20) sê, “memory is an intersubjective phenomenon, a practice not only of recollection of a past by a subject, but of recollection for another subject.” Krog dra Country of my skull op aan “every victim who had an Afrikaner surname on her lips” (CS voorwerk), maar ook aan “all voices; all victims” (CS 278).

(Gilmore 1994:69). Die onthou van dinge uit die verlede het min betekenis of waarde as dit nie aan ’n narratief gekoppel word of soos Proust sê, daarmee saamsmelt of verenig nie (Freeman & Brockmeier 2001:82). Wat die posisie van waarheid (feit of fiksie) betref, is Felman (in Anderson 2006:121) van mening dat outobiografie en teorie soms wel in dieselfde teks ineenvloei – wanneer dit gebeur, tree elkeen op as ’n “form of resistance to the other, unsettling the claims to truth of both.” Wat dus hier van belang is, is die moontlikheid dat teorie en selfrepresentasie in een en dieselfde teks byeenkom/saamsmelt.

Wat die kwessie van teorie en teks betref, is dit belangrik om kennis te neem van metatekstuele kommentaar deur Krog. In ’n artikel getitel “‘I, me, me, mine!’: Autobiographical fiction and the I” (2005) beskryf Krog die teoretiese denke wat die outobiografiese aspekte in Country of my skull en A change of tongue onderlê. Baie prominent in hierdie teks is haar verklaring van die gebruik van die woord “I” (“ek”) teenoor die “he” of “she” of “they.” Volgens Krog is die “I” die eerlikste woord wat sy kan gebruik, die enigste woord wat sy regtig ken en kan weergee. ’n Mens lees hier ’n indirekte verwysing na Butler (2001) se redevoering. Butler volg Adriana Cavarero se argumentasielyn waar die sentrale vraag binne die sosiale teorie van herkenning is “wie is jy?” Met die vraag word daar aanvaar dat die Ander voor ons bestaan – Ek bestaan vir jou, en as gevolg van jou – “If I have no ‘you’ to address, then I have lost ‘myself’.” Volgens Cavarero (Butler 2001:24) kan ’n mens slegs ’n outobiografie skryf of vertel, en slegs die “Ek” gebruik in verhouding met ’n “jy”: sonder die “jy” is daar geen “ek”-verhaal nie. Krog (2005b:103) skryf, “If I say the word ‘I’, I call forth the word ‘you’ […] But if the ‘you’ who is not the ‘I’, responds, then you and I can at last start trying to find ‘us’ as well as ‘he’ or ‘she’ or ‘they’.” Dit sluit aan by Cavarero (Butler 2001:25) se etiek wat vereis dat die “jy” ’n unieke, aparte ander is; ongeag hoe eenders die “ek” en