• No results found

2.3   Die literêre (poli‐)sisteem

2.3.3   Struktuur van die literêre sisteem

2.3.3.1   Die repertorium

Die repertorium word beskou as die versameling wette en materiaal wat sowel die daarstel en/of produksie as die hantering en/of gebruik van enige gegewe produk beheer (Even-Zohar 1997a:20). Die repertorium kan byvoorbeeld onderverdeel word in repertoriums vir ’n skrywer, ’n leser, of ’n literêre agent, wat self deel is van die groter repertorium van kultuur en die literêre sisteem (Even-Zohar 1990:40). Die onderskeid wat Even-Zohar maak ten opsigte van aktiewe teenoor passiewe repertoriums, verwys nie na die aard van die repertorium self nie, maar wel na ’n aktiewe en passiewe gebruik van die repertorium (Codde 2003:95). Die inkonsekwentheid waarvan Andringa (2006:524) praat, is by hierdie sentrale konsep binne die teorie teenwoordig. In ’n vroeër definisie formuleer Even-Zohar (1990:17) die repertorium as “the aggregate of laws and elements

INSTITUSIE [konteks]* REPERTORIUM [kode]

PRODUSENT [adresseerder] ― GEBRUIKER [geadresseerde] (skrywer) (leser)

MARK [kontak] PRODUK [boodskap]

(either single, bound, or total models) that govern the production of texts.” In ’n latere gedeelte (Even-Zohar 1990:40) in dieselfde werk word hierdie definisie uitgebrei:

If, on the other hand, manifestations of “literature” are considered to exist on various levels, the “literary repertoire” may be conceived of as an aggregate of specific repertoires for those various levels. Therefore, a “repertoire” may be the shared knowledge necessary for producing (and understanding) a “text,” as well as producing (and understanding) various other products of the literary system. There may be a repertoire for being a “writer,” another for being a “reader,” and yet another for “behaving as one should expect from a literary agent,” and so on. All these must definitely be recognized as “literary repertoires.”

Wat problematies aan die definisies is, is die vaagheid waarmee daar na verskynsels soos wette en elemente, of gedeelde kennis verwys word. Hoewel die definisie in sy latere artikel (Even-Zohar 1997a:20) ietwat duideliker is deurdat hy twee vlakke onderskei, ontbreek die riglyne vir die toepassing daarvan in konkrete navorsing. Bogenoemde definisies verkry ’n bykomende veralgemenende element in die volgende definisie: “repertoires are sets of options invented by humans for conducting their lives” (Even-Zohar in Andringa 2006:524), asook: “culture is ‘a repertoire,’ or ‘toolkit’ of habits, skills, and styles from which people construct ‘strategies of action’” (Swidler in Even-Zohar 2002:76). In ’n breër toepassing van sy teorie gebruik Even-Even-Zohar (2002) die analogie van “culture as goods”26 en “culture as tools,” en “literature as goods, literature as tools.” As deel van die analogie bespreek hy sogenaamde aktiewe en passiewe instrumente, waar eersgenoemde verwys na prosedures of handelinge (modelle as voorbeelde) wat die individu help om situasies (al die aktiwiteite betrokke by die produksie, verspreiding, herhaling en waardasie van literêre produkte – die hele netwerk van ‘literatuur’) te hanteer en/of te produseer; en laasgenoemde na prosedures waardeur die individu die werklikheid kan analiseer of sin daaruit kan maak; ’n modelsisteem

26 Hiervolgens word goedere wat geen betekeniswaarde het nie, nie as kultuur (m.a.w. literatuur) bestempel nie: “‘possessing’ a literature is […] equivalent to ‘possessing riches appropriate for a powerful ruler’” (indispensabilia of power; Even-Zohar 2002:78). Even-Zohar se omskrywing van hierdie konsep impliseer ’n eksklusiwiteit wat moeilik versoenbaar is met sy siening van die literêre sisteem as ’n inklusiewe, oop en heterogene sisteem waar dié met mag sowel as dié daarsonder bepaalde posisies beklee.

waardeur die wêreld in die denke georganiseer word, aldus Lotman (aangehaal in Even-Zohar 2002:76). Sowel die aktiewe as die passiewe konseptualisering van kultuur en gevolglik literatuur toon parallelle met Bourdieu se veldteorie, hoewel Even-Zohar se benadering groter klem lê op die bewuste eerder as die onbewuste handelinge van die produsent, skrywer en/of vertaler. Vir die doeleindes van hierdie studie word daar by die vroeër definisie van ’n repertorium gehou waar die vlak van abstraksie ’n mate van helderheid bevat.27

Die repertorium funksioneer op die vlak van individuele elemente en modelle. Die onderskeid kan moontlik problematies wees omdat die grens tussen ’n kulturele model (’n abstraksie) en kulturele eenheid vaag is (Codde 2003:98). ’n Model is verder makliker identifiseerbaar, en word oor die algemeen beskryf as die kombinasie van elemente, reëls en die temporele verhoudings waaraan ’n produk onderwerp kan word (Even-Zohar 1997a:22). Kultuur word gewoonlik deur ’n model (’n abstraksie gebaseer op konkrete voorbeelde) oorgedra of aangeleer, eerder as deur individuele eenhede.

Die interne struktuur van die repertorium hang nou saam met die status daarvan, wat primêr of sekondêr kan wees, afhangend van die aard van die modelle (abstraksies) binne die repertorium. ’n Primêre repertorium inkorporeer voortdurend nuwe elemente, terwyl ’n sekondêre repertorium uit konserwatiewe (m.a.w. nievernuwende) elemente bestaan. Die primêre vs. sekondêre teenstelling funksioneer dus as ’n aanduiding van innoverend vs. konserwatief. Die teenstelling impliseer voorts dat wanneer ’n repertorium gevestig is en alle modelle wat daaruit ontwikkel en daarmee verband hou dít navolg, die sisteem te doen het met ’n konserwatiewe repertorium. Elke individuele produk (uiting, teks) sal derhalwe hoogs voorspelbaar wees; sodanige produkte word as ‘sekondêr’ bestempel (Even-Zohar 1990:21). Wanneer nuwe elemente aan ’n repertorium bekendgestel word ten einde laasgenoemde te herstruktureer, word daar gepraat van ’n innoverende

27 Andringa (2006:525) herdefinieer die konsep deur dit op te breek in verdeelbare komponente wat die repertorium beskryf as “mental equipment.” Sy baseer haar gebruik van die konsep hoofsaaklik op Schmidt (vergelyk De Geest 1996) se sisteemteorie wat die literêre sisteem definieer as ’n sisteem van kommunikatiewe handelinge wat uitgevoer word deur institusionele of individuele agente in verskillende rolle.

repertorium. In so ’n geval is individuele produkte minder voorspelbaar, en die modelle wat dit bied ‘primêr’.

’n Voorwaarde vir die funksionering van hierdie primêre modelle is onder andere om gevestigde modelle28 (of elemente daarvan) te ondermyn of om die totstandkoming daarvan te verhoed. Sodra ’n primêre model (abstraksie) of teks die sentrum van die sisteem vanuit die periferie binnedring, is dit relatief gou voor dit sekondêre status kry en die model ’n proses van vereenvoudiging ondergaan. Die stelling impliseer dat die sentrum van die sisteem by verstek konserwatiewe (m.a.w. sekondêre) modelle en produkte ‘huisves’. Dit impliseer verder dat die periferie van die sisteem by verstek innoverende modelle en produkte huisves. Kanonisiteit oorvleuel nie noodwendig met primêre status nie, en dit is belangrik om die tipe verhoudings wat tussen kanonisiteit en innovasie binne ’n gegewe literêre sisteem bestaan, vas te stel. Die proses wat Even-Zohar (1990:22) die ‘sekondarisering’ (secondarization) van die primêre noem, is volgens hom, onvermydelik. ’n Parallelle meganisme van sekondarisering kan ook plaasvind waardeur die sisteem innovasie onderdruk. Tydens sodanige proses word nuwe elemente ‘oorvertaal’ en vorige funksies daarop afgedwing eerder as om die funksies self te verander. Indien die proses van sekondarisering werklik plaasvind, is die vraag wat daaruit voortspruit waarom modelle (abstraksies) of produkte (tekste) wat aanvanklik primêre status geniet buite die sentrum of op die periferie, na dit wat sinoniem is met konserwatisme sou wou streef, en dus die risiko loop om mettertyd sekondêre status te verkry? Hierdie postulaat van polisisteemteorie is dus problematies en moeilik verifieerbaar in die praktyk, waarskynlik omdat dit sterk op ’n waardesisteem berus.

Die status (sekondêr of primêr) van enige literêre repertorium word bepaal deur die verhoudings wat binne die polisisteem geld. Dit is vanselfsprekend dat gekanoniseerde repertorium(s) deur konserwatiewe óf innoverende elite-groepe ondersteun word omdat kanonisiteit nie noodwendig met primêre status alleen geassosieer word nie. Die repertorium se status word terselfdertyd teëgehou (constrained) deur die kulturele modelle (wat as voorbeeld dien) wat die gedrag van hierdie (invloedryke) groepe bepaal (Even-Zohar 1990:18). Hoewel die aard, grootte en omvang van ’n repertorium die

28 Die konsep model impliseer voorspelbaarheid, en is volgens Even-Zohar (1990:21) ’n suiwer historiese konsep.

gemak en vryheid bepaal wat ’n produsent en/of gebruiker met die sosiokulturele omgewing het, is dit die wisselwerking tussen ander faktore in die sisteem wat eersgenoemde kenmerke bepaal. ’n ‘Jong’ sisteem, of jong kultuur, het byvoorbeeld ’n beperkte repertorium, wat dit in ’n sekere mate blootstel aan elemente binne ander repertoriums. Op soortgelyke wyse kan ’n ‘oorversadigde’ repertorium blootgestel word aan interferensie (interference) as strategie deur die doelkultuur (in die geval van vertaling) om by veranderende omstandighede aan te pas (Even-Zohar 1997a:22). Bogenoemde veronderstellings van die polisisteemteorie impliseer dat ’n kulturele sisteem na ’n steeds groeiende, veelvormige repertorium moet streef, en impliseer verder ’n evolusionistiese siening van kultuur en literatuur, waar meer beter is, of noodwendig groei verteenwoordig.

In sy uiteensetting van die kulturele repertorium noem Even-Zohar (1997a:28) dat die repertorium meer as een kombinasie van nuwe produkte of items en beskikbare modelle ‘toelaat’. Dit beteken dat enige handeling waardeur ’n produk geproduseer word êrens geposisioneer is op ’n as met die implementering van bekende en gevestigde modelle aan die een kant, en innovasie aan die ander. Dit bring ’n interessante perspektief op die teenstelling konserwatief teenoor innoverend, en dit verg besinning oor die tydstip binne die dinamiese proses waarop innovasie plaasvind, asook die eienskappe van dit wat as innoverend en dit wat as konserwatief bestempel word. Vind innovasie voor, tydens of dalk eers na die produksieproses plaas? Op watter stadium word dit as innoverend of konserwatief gekategoriseer, en deur wie? Is dit ’n proses wat geleidelik, amper onsigbaar en sonder bewuste handelinge plaasvind? Volgens Even-Zohar (1990:18) is tekste en repertorium(s) bloot gedeeltelike manifestasies van literatuur; manifestasies waarvan die gedrag nie deur hulle eie struktuur verklaar kan word nie, maar wel deur werkinge binne die literêre polisisteem.