• No results found

Die intra‐ en subsistemiese verhoudings van die polisisteem

2.3   Die literêre (poli‐)sisteem

2.3.4   Die intra‐ en subsistemiese verhoudings van die polisisteem

’n Belangrike faktor in die heterogeniteit van ’n sisteem is die hiërargiese (niegelyke) aard daarvan (Even-Zohar 1990:13). Die voortdurende stryd tussen die onderskeie strata (of vlakke) bepaal onder andere die dinamiese karakter van die sisteem. Verandering word bewerkstellig wanneer een stratum ’n ander of meer as een strata begin oorheers en gevolglik meer prominent word – ’n sentrifugale vs. sentripetale beweging ontstaan dus waartydens verskynsels van binne die sentrum na buite (periferie) beweeg of oorgedra word, van die periferie na die sentrum, of alternatief, van die periferie van een sisteem na die periferie van ’n ander binne dieselfde polisisteem.31 Die veronderstelling is dat daar verskeie sentrale of perifere posisies bestaan (Even-Zohar 1990:14).32 Die vrae wat die polisisteemteorie hanteer, is eerstens die redes waarom spesifieke oordragte (transfers) plaasvind, en tweedens hoe hierdie oordrag uitgevoer of gerealiseer word.

2.3.4.2 Gekanoniseerde vs. niegekanoniseerde strata

Die polisisteemteorie steun tot ’n groot mate op die konsepte gekanoniseerd en niegekanoniseerd, waar eersgenoemde beteken daardie literêre norme (geabstraheerde modelle) en tekste wat deur die dominante kringe binne ’n kultuur33 as geldig aanvaar

31 In die teorie van statiese sisteme word die (enkel-) sisteem uitsluitlik met die sentrale stratum (amptelike kultuur soos gemanifesteer in standaardtaal, gekanoniseerde literatuur, gedragspatrone van dominante klasse) geïdentifiseer. Die periferie(ë) word kategories buite die sisteem geplaas (Even-Zohar 1990:14).

32 Szegedy-Maszák (2003:17) bepleit die herondersoek van die polisisteemteorie se sentrum-periferie-postulaat omdat laasgenoemde ’n onderliggende vooroordeel weerspieël: dat kulture beskryf word in terme van vooruitgang en konserwatisme, inhaal en oponthoud, in so ’n mate dat minder ontwikkelde literatuur-sisteme die impulse van hulle meer ontwikkelde eweknieë herbepaal en dus op vertalings moet staatmaak.

33 Kultuur, volgens Even-Zohar, kan ook as ’n “sfeer” beskou word. Dit herinner aan wat Bourdieu noem die “field of action” (Bourdieu 1993:29-73). Kultuur as geheel, of enige sosiokulturele aktiwiteit daarbinne,

word, en waarvan die produkte bewaar word deur die gemeenskap as deel van sy historiese nalatenskap (Even-Zohar 1990:15). Niegekanoniseerd, daarenteen, verwys na daardie norme en tekste wat deur dieselfde kringe afgewys word as ongeldig en waarvan die produkte mettertyd vergete raak (tensy die status verander). Belangrik egter, is dat kanonisiteit nie ’n inherente kenmerk is van tekstuele aktiwiteite op enige vlak nie – dit is ook geen eufemisme vir ‘goeie’ vs. ‘slegte’ literatuur nie. Die navorser hanteer hierdie onderskeid as bewyse van ’n sekere tydperk se norme (Even-Zohar 1990:15).

Die sentrum van die polisisteem in sy geheel word as ’n reël gelykgestel aan die mees prestigeryke gekanoniseerde repertorium. Dit is met ander woorde die groep wat die polisisteem beheer wat uiteindelik die kanonisiteit van ’n gegewe repertorium bepaal. Indien suksesvol, word beheer verkry; indien onsuksesvol, word hierdie groep asook sy gekanoniseerde repertorium uitgestoot deur ’n ander groep, wat nader aan die sentrum beweeg deur ’n ander repertorium te kanoniseer (Even-Zohar 1990:15). Die terme beheer, onsuksesvol, uitgestoot en beweeg, is vaag en word in die res van hierdie studie met omsigtigheid gebruik.

2.3.4.3 Statiese vs. dinamiese kanonisiteit

Even-Zohar (1990:19) onderskei tussen twee verskillende gebruike van die term kanonisiteit. Een verwys na die vlak van tekste, met ander woorde die manier waarop ’n teks ingelyf word by die literêre kanon, die ander na die vlak van modelle (abstraksies). In laasgenoemde geval word ’n sekere literêre model as produktiewe beginsel in die sisteem deur sy repertorium gevestig. Hierdie vorm van kanonisering is die belangrikste vir die dinamika van die sisteem, en word genoem dinamiese kanonisiteit. Die vlak van modelle verskil wesenlik van statiese kanonisiteit, waar ’n teks as finale produk by ’n stel ‘gewaardeerde’ tekste gevoeg word wat die literêre sisteem wil bewaar, sonder dat dit deur ‘die stryd om kanonisering’ gegaan het. Volgens Even-Zohar (1990:19) is die teenwoordigheid van ’n statiese kanon ’n voorvereiste vir enige sisteem om as ’n unieke aktiwiteit binne kultuur beskou te word. Hierbenewens is dit opvallend hoe teksprodusente (skrywers) gewikkel is in ’n stryd om die erkenning en aanvaarding van

verwys na die netwerk wat bestaan tussen al die faktore wat interafhanklik en interverwant is aan die repertorium (Even-Zohar 1997a:21).

hulle tekste, maar belangriker nog, in ’n stryd om die aanvaarding van die literêre model (abstraksie). Indien die model nie aanvaar word nie, is dit ’n aanduiding van hulle gebrek aan invloed. Skrywers kan verskillende strategieë volg om meer suksesvolle tekste te produseer binne dieselfde model, of selfs verskillende modelle volg deur die loop van hulle loopbaan om hierdie gebrek teen te werk. Teoreties gesproke sou die uiteindelike gevolg van hierdie handelinge wees dat hulle die gevaar loop om op ’n gegewe tydstip hulle posisie ten opsigte van die sentrum of periferie (nie noodwendig hulle openbare aansien nie) te verloor.

Omdat kanonisiteit by implikasie gelykgestel kan word aan die sentrum van die kulturele sisteem, word die sentrum gekenmerk deur ’n teenstelling tussen konstante en veranderende strata weens die tweeledige aard van kanonisiteit (Codde 2003:103). Sheffy (1990:517) kritiseer die tweeledige aard van kanonisiteit soos deur Shavit (1991:232) uitgelig, naamlik dat die konstante stratum uit bestaande, maar uitgediende tekste (by implikasie ook modelle) bestaan, en die veranderende stratum uit modelle wat gerig is op kulturele produksie in die toekoms. Waar die konstante stratum binne die kanon volgens Even-Zohar deur individuele tekste alleenlik geokkupeer word, voel Sheffy dat ook daardie modelle en gekanoniseerde repertoriums wat nooit hulle literêre waarde verloor nie, by hierdie stratum ingesluit behoort te word. Hierdie gekanoniseerde modelle is met ander woorde “fixed and durable; they endure in our literary consciousness or, at least, they seem to be much less sensitive to transitions of center and periphery” (Sheffy 1990:517).

Volgens Codde (2003:203) is Even-Zohar se oorvereenvoudigde vergelyking van kanon en sentrum problematies. Dit geld wel dat kulturele items gekanoniseerd kan raak (geniet prestige en erkenning), maar nie sentraal staan nie (in dié opsig dat hulle nie voldoen aan kontemporêre literêre norme of as aktiewe modelle vir nuwe tekste funksioneer nie) (Sheffy 1990:518). Verder, literêre evolusie behels nie net die verplasing van sekere modelle in die sentrum nie; dit behels ook die akkumulasie van ’n relatief stabiele voorraad van die mees gewaardeerde en mees gevestigde literêre items van vorige sowel as huidige generasies (Sheffy 1990:515). In die lig van bogenoemde problematiek, word die term sentraal in hierdie studie gebruik vir daardie tekste en modelle wat op ’n sekere stadium die produksie van nuwe tekste beïnvloed (vergelyk Codde 2003:104). Daar kan derhalwe eerder gepraat word van “dinamiese sentraliteit”

binne die polisistemiese raamwerk, eerder as “dinamiese kanonisiteit”, ten einde verwarring te voorkom. Gegewe die dinamiese aard van die sisteem, sal ’n produsent dus veel eerder wil hê dat die model, soos afgelei van sy teks, sentraal staan eerder as wat dit gekanoniseerd is.

2.3.4.4 Verhoudings tussen sentrum en periferie

Wat betref die dinamiese spanning tussen die sentrum en periferie, voel Codde (2003:105) dat, indien die neiging of poging tot vernuwing misluk of nie plaasvind nie, die repertoriums in die sentrum die groeikrag verloor wat nodig is vir die sisteem om voort te bestaan, en gevolglik stereotiep raak. Wat hieruit blyk, is dat ‘vernuwing’ in die sisteem teenoor stereotiep gestel word en dat stereotiep dus ‘veroudering’ impliseer. Codde (2003:105) beklemtoon die belangrikheid van die onderskeid tussen die verwante konsepte verandering en onstabiliteit, en nieverandering en stabiliteit. Volgens Even-Zohar (1990:26) is ’n stabiele sisteem een wat wel voortdurend, gereeld en beheersd verander; wanneer krisistye of katastrofes (wat dus radikale verandering meebring) in ’n polisisteem egter beheer word deur die sisteem, reflekteer dit ’n lewenskragtige, eerder as degenererende sisteem. As die teendeel waar is, reflekteer dit ’n onstabiliteit wat tot degenerasie sou kon lei.

Die verskuiwing van perifere elemente na die sentrum vind nie plaas sonder teenstand van die meer prestigeryke elemente in die sentrum nie. Met hulle monopolie op die spel, is dit vanselfsprekend dat die sentrale elemente slegs verandering (in hierdie konteks ‘nuwe elemente’) sal toelaat indien hulle dominansie sal behou: “Thus, whenever domination is available by perpetuation (i.e., by non-[radical]change), the extent of change will be minimal to nil” (Even-Zohar 1990:89). Wanneer nieradikale verandering egter ’n verlies aan beheer beteken, sal verandering die heersende beginsel in die sisteem word. Indien die sentrum nie in staat is om by nuwe omstandighede aan te pas nie, loop dit die gevaar om verplaas te word – sowel die dominante groep en die gekanoniseerde repertorium word opsy geskuif deur ’n ander groep en ’n ander repertorium (Even-Zohar 1990:17). In sodanige geval bevind die uitgeskuifde groep en sy repertorium sigself heel moontlik op die periferie van die literêre sisteem. Die periferie het dus die ongewone struktuur van ’n kombinasie van vernuwing en veroudering.