• No results found

Die polisisteem se interverwantskap met ander polisisteme

2.3   Die literêre (poli‐)sisteem

2.3.5   Die polisisteem se interverwantskap met ander polisisteme

Die interverwantskap tussen polisisteme waarvan Even-Zohar (1990:22) praat, kan bestaan tussen verskillende polisisteme wat deel is van dieselfde kultuur (bv. literatuur en filosofie) of tussen dié wat aan verskillende kulture of gemeenskappe behoort. Even-Zohar bepleit ’n inklusiewe studie van literêre tekste; die historiese studie van literêre polisisteme moet verby die sogenaamde ‘meesterwerke’ kyk ten einde waardeoordele te vermy (Even-Zohar 1990:13).34

Teen die agtergrond hiervan, is die oogmerke van die polisistemiese ondersoek om die (literêre) polisisteem van ’n spesifieke gemeenskap te bestudeer, en om daardie omstandighede waaronder ’n sekere literatuursisteem deur ’n ander literatuursisteem beïnvloed word, te bekyk. Laasgenoemde word as interferensie (interference)35 beskryf. Op intersistemiese vlak vind interferensie plaas wanneer die sisteem as ontvanger van nuwe elemente nie ’n voldoende repertorium besit om die behoefte aan nuwe funksies te akkommodeer nie, of verhoed word om ’n bestaande repertorium te gebruik as gevolg van die ongeskiktheid van hierdie repertorium vir nuwe funksies. In so ’n geval, redeneer Even-Zohar (1990:93), vind ’n oordrag van elemente vanuit ’n vreemde repertorium plaas om die repertoriums van die sisteem te vervang of aan te vul. Hierdie oordrag kan slegs plaasvind indien die sisteem, en meer nog, die sentrum daarvan, ontvanklik is en bereid is om dominansie gedeeltelik prys te gee ter wille van vernuwing. Indien hierdie bereidwilligheid ontbreek, is daar na my mening geen kans vir oordrag selfs al bestaan die gaping daarvoor nie.

Indien die oordrag in ’n positiewe lig gesien word, sal die doelsisteem die aangrensende sisteem as meer ‘volledig’, ‘ontwikkeld’ of meer ‘aangepas’ beskou vir ’n gegewe situasie en doel (Yahalom in Codde 2003:114). Omdat hierdie tipe oordrag tussen polisisteme meestal plaasvind via die periferieë, is dit veral semi-literêre tekste en vertaalde literatuur wat die inisiële en mees waarskynlike “kanale van interferensie”

34 Waardeoordele vorm wel ’n deel van polisisteemteorie; dit word as objekte van studie hanteer juis omdat die polisisteem se stratifikasie daarop berus. Geen literêre geskiedskrywer is vry van waardeoordele nie.

35 Gedefinieer as “a relation(ship) between literatures, whereby a certain literature A (a source literature) may become a source of direct or indirect loans for another literature B (a target literature)” (Even-Zohar 1990:54).

verteenwoordig (Even-Zohar 1990:93). Van Coller en Odendaal (2005:6-8) bespreek enkele onderliggende faktore van die verwantskappe tussen literêre sisteme. Hierdie verwantskappe kan in aard en omvang verskil, en hoef nie noodwendig deur twee uiteenlopende sisteme gedeel te word nie. Van Coller en Odendaal sonder gemeenskaplike taal, gedeelde geskiedenis, gemeenskaplike grondgebied en “literêre circuits” uit as faktore. Gemeenskaplike grondgebied blyk een van die belangrikste faktore te wees in die oorvleueling van verskillende literêre sisteme – hier dink mens aan rolspelers (uitgewers, resensente, outeurs) wat tegelykertyd werksaam is in twee afsonderlike sisteme (ook outeurs wat hulle boeke in meer as een taal publiseer) en intersistemiese rolspelers word. Vertaling is hier ’n prominente instrument om funksies tussen en binne meer as een literêre sisteem te bemiddel. Deur middel van literêre groepvorming neem outeurs uit verskillende taalgroepe soms ’n gesamentlike posisie teenoor ’n regering of institusie in, wat uiteindelik kan lei tot die verskuiwing van sisteemgrense, veral as sodanige outeurs ’n belangrike posisie in hulle eie sisteme beklee.

2.3.6 ’n Polisistemiese benadering tot vertaalstudie – algemene postulate

Na aanleiding van die voorafgaande bespreking is van die belangrikste vrae vir enige studie wat met vertaling verband hou: Wat is hierdie posisie(s) wat vertaalde literatuur in die literêre polisisteem inneem, wat is die verband tussen hierdie posisie(s), en wat is die aard van die algehele repertorium? (Even-Zohar 1978:193). Vertaalde literatuur word as ’n aktiewe en integrale deel van enige literêre polisisteem beskou. Of dit ’n sentrale of perifere posisie inneem, en of hierdie posisie aan primêre of sekondêre repertoriums gekoppel word, is afhanklik van die spesifieke samestelling van die polisisteem, in die geval van hierdie studie, die Afrikaanse en Engelse sisteme in Suid-Afrika.

Volgens Even-Zohar (1990:46) het alle vertaalde literatuur twee dinge gemeen: die wyse waarop die brontekste deur die literatuursisteem van die doelkultuur geselekteer word, en die wyse waarop vertalings hulle neerlê by sekere norme, gedrag en beleid – kortom, hulle gebruik van die literêre repertorium – wat die gevolg is van hulle verwantskappe met ander mede-sisteme. Binne die polisisteem en sy verwantskap met vertaalde literatuur, word twee scenario’s voorgestel. Ter wille van duidelikheid word dit afsonderlik aangebied, hoewel daar ’n groot mate van oorvleueling kan wees.

Indien vertaalde literatuur ’n sentrale posisie binne die literêre polisisteem beklee, dan beteken dit die groep vertaalde tekste en/of modelle neem aktief deel aan die groei en vorming van die sentrum van sodanige sisteem. In so ’n geval maak dit ’n integrale deel uit van innoverende kragte, en dit word gewoonlik gekoppel aan groot gebeurtenisse in die geskiedenis van die literatuur (Even-Zohar 1990:46). Dit gebeur dikwels dat die onderskeid in so ’n geval tussen “oorspronklike” en “vertaalde” werke minder duidelik is, en dat dit gewoonlik die vername of bekende skrywers is wat die mees gewaardeerde vertalings oplewer. Hier werk die vertaler dus nie noodwendig net met beskikbare modelle in die repertorium van die doelsisteem nie, maar is bereid om selfs die konvensies daarbinne te skend. Onder hierdie omstandighede is die kans goed dat die vertaling nader aan die oorspronklike sal wees op grond van geskiktheid36 (funksionele ekwivalensie) as in ander gevalle. In die sentrale posisie, is die verwagting dat die heersende norme vertalers sal aanmoedig om na hierdie tipe ekwivalensie te streef (Even-Zohar 1990:45-51). Algehele funksionele ekwivalensie tussen bron- en doeltaal is egter onmoontlik, en afwykings van die bronteks lei noodwendig tot verskuiwings (Weissbrod 1998:4). As die nuwe tendens (nuwe norme, elemente) egter te vreemd en revolusionêr blyk te wees, en gevolglik die literêre stryd verloor, sal die vertaling nooit regtig gewildheid verwerf nie. Indien die stryd gewen word, word die repertorium van vertaalde literatuur verryk en ook meer buigsaam.

Die problematiek van hierdie eerste scenario is dat die sentrum nie oor die algemeen geassosieer word met innovasie nie; inteendeel, dit word meestal gelykgestel met konserwatisme. Vertaalde literatuur kan dalk wel deel hê aan ‘groei’ in die sentrum, maar nie innovasie nie, want innovasie is afkomstig van die periferie. ’n Meer gangbare scenario sou wees dat sodanige literatuur in so ’n geval bydra tot die instandhou van die ideologieë en modelle binne die sentrum. Binne dié scenario word dit voorgehou dat die beginsels van seleksie van werke wat vertaal moet word, bepaal word deur die heersende

36 Geskiktheid beteken funksionele ekwivalensie tussen bron- en doelteks. Indien die vertaler hom of haar aan die bronteks onderwerp, dan streef hy of sy na ’n geskikte (adequate) vertaling – wat ’n sekere mate van nieversoenbaarheid van die vertaling met die linguistiese en literêre norme van die doelsisteem impliseer. ’n Strewe na die doelteks, daarenteen, en die norme aanwesig binne die doelsisteem, bepaal die aanvaarbaarheid (acceptability) van die vertaling in die linguistiese en literêre polisisteem, asook die posisie daarbinne (Toury 1995:57).

situasie in die polisisteem: tekste word geselekteer volgens hulle versoenbaarheid met nuwe benaderings en die skynbaar innoverende rol wat hulle in die literatuur van die doeltaal kan speel (Even-Zohar 1990:47).

Dit lyk asof daar ’n inherente teenstrydigheid in bogenoemde postulaat van vertaalde literatuur is. Volgens die sentrum-periferie-postulaat huisves die sentrum van die literêre sisteem ’n konserwatiewe repertorium, en dit wil by verstek die status quo handhaaf; die periferie, daarenteen, huisves ’n innoverende repertorium. Die statiese posisie van vertaalde literatuur in die sentrum, kan derhalwe nie gelykgestel word aan innovasie nie – dit is slegs tydens die proses van oordrag of die beweging vanuit óf die periferie óf ’n aangrensende sisteem, dat daar op ’n gegewe punt van vernuwing gepraat kan word. Sodra vertaalde literatuur die sentrum ‘bereik’, is dit reeds minder nuut (as op die periferie), en by implikasie meer konserwatief. Belangrike kwessies omtrent die problematiek van konserwatief teenoor innoverend vir die sisteem as geheel, geld ook hier.

Watter omstandighede gee dan wel aanleiding tot ’n situasie waar vreemde werke, dit wil sê vertaalde literatuur, en die nuwe elemente en beginsels wat dit inhou, die repertorium kan verbreed (byvoorbeeld nuwe modelle, nuwe (poëtiese) taal, patrone en tegnieke)? Drie tipes omstandighede, wat verskeie manifestasies van dieselfde wet is, word voorgestel vir die ontwikkeling van bogenoemde situasie (Even-Zohar 1990:47): eerstens wanneer ’n polisisteem nog nie gevestig is nie, met ander woorde by ’n ‘jong’ of ‘onvolwasse’ literatuur in die proses van ontwikkeling; tweedens wanneer ’n literatuur in sy geheel op die periferie staan (binne ’n groter groep verbandhoudende literatuursisteme) of ‘swak’ is, of beide; en laastens wanneer daar draaipunte, krisistye of literêre vakuums in ’n literatuur bestaan. Die grootste punt van kritiek teen bogenoemde is dat die vertrekpunt waaruit sodanige kommentaar gemaak word onduidelik is. Waardeoordele aangaande ’n literatuur in krisis (wat behels dit presies?), ’n jong of swak literatuur (wat impliseer dat enige literatuur op een of ander stadium aan die proses van interferensie deur elemente uit ’n vreemde literatuursisteem onderwerp word), of ’n literatuur met ’n vakuum (beteken dit ’n onbekwame of ongeskikte kultuur?), benodig ’n kriterium waarvolgens veranderlikes soos die ouderdom of sterkte van ’n kultuur, of die teenwoordigheid van ’n vakuum, bepaal kan word (Hermans 1999:109; vergelyk ook Bassnet & Lefevere 1998:127).

Op grond van die eerste postulaat, volg die tweede, naamlik dat indien vertaalde literatuur ’n perifere posisie37 beklee en dus ’n perifere sisteem uitmaak in die polisisteem, dit oorwegend sekondêre modelle implementeer. In daardie posisie het dit geen invloed op groter prosesse nie en word dit gevorm volgens norme wat konvensioneel gevestig is deur ’n reeds dominante tipe in die doeltaalliteratuur. In hierdie geval word vertaalde literatuur ’n groot faktor van konserwatisme. Die postulaat is teenstrydig met die kenmerke en dinamiese karakter van die periferie van die literêre sisteem in die algemeen. Waarom sou die literêre sisteem hoegenaamd vertaalde literatuur wil inlyf as dit onvermydelik deel gaan word van die sogenaamde ‘konserwatiewe’ repertorium? Wat presies word bedoel met konvensioneel gevestigde norme en na watter tipe dominante model of teks verwys Even-Zohar – die dominante tipe in die sentrum van die periferie? Die teorie is vaag rondom die gebruik en toepassing van die konsepte.

Volgens Even-Zohar is die grootste doel van die vertaler wat in ’n perifere posisie werksaam is, om die beste beskikbare sekondêre modelle vir die vreemde teks te selekteer, waarvan die resultaat ’n niegeskikte vertaling is. In so ’n geval vergroot die neiging tot verskuiwings omdat die norme van vertaling aanvaarbaarheid van die doelteks vereis, met ander woorde dat die vertaalde teks moet aanpas by die doelsisteem, en nie toegelaat word om as ’n kanaal van vernuwing te dien nie (Weissbrod 1998:4). Dit geld verder dat vertaalde literatuur nie slegs sentraal of slegs op die periferie van die literatuursisteem staan nie. Vertaalde literatuur is self gestratifiseer, en vanuit die perspektief van ’n polisistemiese ondersoek beteken dit dat terwyl een deel van vertaalde literatuur ’n sentrale posisie kan inneem, ’n ander heeltemal op die periferie kan staan (Even-Zohar 1990:49). In welke opsig dit geld vir Krog, sal uit die ondersoek blyk. Die ondersoek fokus onder andere op die kwessie of daar enigsins na Krog se werk as

37 Hierdie postulaat toon sterk ooreenkomste met twee van Toury (1995:271-272) se hipoteses oor vertaling, naamlik “translation tends to assume a peripheral position in the target system, generally employing secondary models and serving as a major factor of conservatism,” en “the more peripheral, the more translation will accommodate itself to established models and repertoires.” Die teenoorgestelde moet dus ook waar wees: wanneer vertaalde literatuur nie ’n perifere posisie inneem nie, behoort dit minder stereotiep voor te kom, en behoort dit tekens van innovasie te toon. Tog kan dit beide laasgenoemde kenmerke besit, en steeds nie ‘toegelaat’ word in die sentrum van die sisteem nie.

sentraal of periferies verwys kan word, en indien wel, watter onderliggende dryfvere ’n rol speel. Verder fokus dit op die mate waarin die onderskeie posisies van die vertaalprodukte met haar posisie as skrywer, haar status as vertaler, haar status as kulturele agent, en/of die stand van die literêre sisteem self verband hou.