• No results found

2.3   Die literêre (poli‐)sisteem

2.3.1   Oorsprong en algemene kenmerke

Die polisisteemteorie, oftewel die siening van literatuur as ’n sisteem van sisteme,21 het hoofsaaklik ontwikkel uit die werk van die Russiese Formaliste, wie se navorsing gerig was daarop om die definiërende eienskappe van literatuur (poëtiese taal) te bestudeer op grond van die toepassing van die linguistiek. Die doel van die Formaliste (die Moskou-linguiste sowel as die Petersburg-groep) was derhalwe die bestudering van daardie

20 Hermans (1999:76, 79) vind Toury se konsepte aanvaarbaarheid (acceptability) en geskiktheid (adequacy) problematies (vergelyk 2.3.6), en beklemtoon dat, binne ’n deskriptiewe denkraamwerk, norme ten beste ’n eerste vlak van abstraksie bied om die keuses en besluite van vertalers te probeer verklaar.

eienskap(pe) van literatuur, naamlik vervreemding (defamiliarisation of ostranenie),22 wat dit van enige ander vorme van taalgebruik onderskei. Die idees van Russiese Formalisme is in die werk van die Praag linguistiese kring deur Jakobson, oorspronklik deel van die Moskou-groep, en Mukařovský, voortgesit, wat die belangrikheid van die bestudering van strukturele wette van taalsisteme beklemtoon het. Die poëtiese werk sou gevolglik as ’n funksionele struktuur hanteer word – ’n struktuur waar die onderskeie elemente slegs in hulle verhouding met die geheel bestudeer kan word (Jefferson 1986:51). Jakobson se funksionele kommunikasiemodel (Jakobson 1960:350-377), wat gebaseer was op die onderskeie funksies van taal binne verskillende kontekste, sou later as basis dien vir Even-Zohar se skema van die literêre sisteem (vergelyk figuur 2.1).

Die bestudering van taal in sistemiese terme is nie beperk tot die Formaliste of die polisisteemteoretici nie. Die Franse strukturalis Piaget (in De Geest 1996:102) het byvoorbeeld ’n sisteem as ’n outonome entiteit gedefinieer waarbinne elemente wedersyds geskakel is op grond van gemeenskaplike eienskappe, naamlik totaliteit, transformasie en outoregulering. Volgens Piaget word ’n sisteem gekenmerk deur ’n tipe operasionele geslotenheid, op grond waarvan die produksie van nuwe elemente en die integrasie van eksterne gegewens gerig word. Hiervolgens ondergaan eksogene invloede (van ander sisteme) in beginsel ’n funksionele heroriëntering in die lig van die eie struktuur van die sisteem, die interne sistemiese organisasie en die werkende norme en bepalingsmeganismes (De Geest 1996:108-109). Volgens sowel Piaget as Schmidt (1996)23 kom ’n sisteem deur middel van ’n groeiproses – evolusie – tot stand. Binne die sisteem word wesenlike aspekte ontwikkel en beskerm, en strategiese verskille met ander sisteme beklemtoon (Van Coller & Odendaal 2005:3). Die sisteem besit die potensiaal tot verandering deur dinamiese evolusie, en word gekenmerk deur sowel konserwatiewe as vernuwende tendense, afhangend van die funksionering van institusies en rolspelers as agente of sogenaamde ‘hekwagters’ daarbinne. Verandering vind nie noodwendig op

22 Die effek van poësie was volgens die Russiese Formaliste (by name Sklovskij) om taal moeilik, dubbelsinnig en gewronge te maak (Jefferson 1986:27). Volgens Sklovskij is dit die literêre tegniek (device) wat artistieke persepsie moontlik maak (Holub 1984:7); die kernelement van literêre analise, en die element wat die gaping tussen teks en leser verklein.

dieselfde moment plaas nie en beïnvloed verskillende aspekte van die sisteem.

Volgens Fokkema en Ibsch (1977:24) bestaan enige sisteem in direkte verwantskap met aanliggende sosiale, kulturele en gedragsverskynsels, en daarom kan dit nie in isolasie bestudeer word nie. Die implikasie is dat historiese en sosiale veranderinge die evolusie van literêre sisteme kan beïnvloed – iets wat ook geld in die geval van die Afrikaanse literatuursisteem (Van Coller 2005:34). Die Formaliste, by name Tynjanov, Ejchenbaum en Jakobson, het ’n literêre werk beskou as ’n geordende, hiërargiese struktuur. Indien literatuur voortdurend op soek is na vernuwing, is dit nodig om dit aan nuwe middele bloot te stel of bekend te stel, en ander ’n mindere funksie te laat vervul. Die dryfveer agter wat die Formaliste literêre evolusie (Tynjanov 1978:66) noem, is derhalwe die voortdurende behoefte daaraan om die bekende met die onbekende, die tradisionele met die nietradisionele te vervang (Hermans 1999:104).

Even-Zohar het die siening van literatuur as ’n sisteem hoofsaaklik ontleen aan Tynjanov. ’n Literêre werk, ’n genre, ’n periode, ’n literatuur, of literatuur per se, verteenwoordig ’n versameling kenmerke wat afhanklik is vir hulle waarde van die interverwantskap met ander elemente binne die netwerk (Tynjanov 1978:66-78), in welke geval dit ’n sisteem verteenwoordig. Even-Zohar sou voorts konsentreer op die bestudering van literatuur, en die breër sisteem waarbinne literatuur gesitueer is. Die polisisteemteorie het spoedig tot ’n omvattende model ontwikkel om die verhoudings tussen verskeie kulturele sisteme asook tussen verskillende subsisteme van ’n gegewe kulturele sisteem te verklaar. Die teorie vorm deel van funksionele benaderings, en dinamiese funksionalisme in die besonder. ’n Funksionele benadering koppel alle kulturele verskynsels aan een of meer sisteme en die verskynsels word bestudeer op grond van die funksies en gemeenskaplike verwantskappe daarvan (Codde 2003:92). Dinamiese funksionalisme beklemtoon die kompleksiteit, die openheid en veranderlikheid van kulturele sisteme in ’n historiese kontinuum (Even-Zohar 1990:27). ’n Sisteem verkeer dus voortdurend in fluktuasie op die sinchroniese sowel as diachroniese vlak, wat die dinamika van die sisteem weerspieël – die dinamika van verandering en vloei tussen die dominante, prestigeryke en kanonieke sentrum aan die een kant en nuwe dinamiese vorme wat vanuit die sisteem se periferie kom.

Die sentrum/periferie-onderskeid is een van Tynjanov se sleutelkonsepte. Literêre evolusie, oftewel die evolusie van literêre sisteme (Tynjanov 1978:67) beteken hier die

onvoorspelbare verandering in interverwantskap tussen elemente in die sentrum en elemente op die periferie van die sisteem. Even-Zohar se polisisteemteorie het gelyktydig en in noue samewerking met die deskriptiewe paradigma in vertaalstudie, onder andere die werk van Toury (vergelyk Toury 1995), ontwikkel. Veel later as Even-Zohar sou Lefevere (1992) die konsepte sisteme en vertaling in die lig van sosiale en ideologiese faktore aanpas en uitbrei. Albei laasgenoemde teoretici se name en elemente uit hulle teorieë sal in die hieropvolgende gedeeltes klink.