• No results found

HOOFSTUK 4 ANALISE VAN MAATSKAPLIKE WERKERS SE SIENINGS OOR DIE

4.7 TEMA 3: ONDERSTEUNING

4.7.3 Sub-tema 3.3: Beskikbaarheid van verskillende tipes ondersteuningsnetwerke vir die

4.7.3.5 Ondersteuningsgroepe

Deelnemers se response oor hierdie ondersteuningsnetwerk was redelik verdeeld. Nege deelnemers het aangedui dat ondersteuningsgroepe ouers kan bystaan, sewe het aangedui dat dit belangrik mag wees vir die kind met kanker en ses het aangedui dat dit belangrik is vir die gesonde sibbe. Literatuur (Chung, 2000) dui aan dat ondersteuningsgroepe ʼn belangrik rol in die gesonde sibbe se lewe kan speel. Dit help hulle om angstigheid te verminder en leer hulle maniere aan oor hoe om die siekte te hanteer. Ondersteuningsgroepe kan ook vrese verminder en hulle sienings oor die beheer wat hulle kan neem in die situasie verhoog.

“They will all benefit. There is not much support groups for the siblings but once you can, like with the camps, it would be the best thing.”

148

(Die hele gesinsisteem sal hierby baat. Daar is nie baie ondersteuningsgroepe vir sibbe nie, maar indien moontlik soos met die kampe, sal dit baie goed wees.)

Daar was wel vier deelnemers wat aangedui het dat hierdie tipe ondersteuningsnetwerk nie van belang is vir die ouers, kind met kanker of gesonde sibbe nie. Hulle dui aan dat daar nie baie ondersteuningsgroepe beskikbaar is nie, dit hang ook af van individue en of hulle sal deel vorm van ʼn groep, sommige deelnemers het ook verwys na persone wat nie sal opdaag vir die groepe nie. ʼn Belangrike punt wat ook gemaak was, is dat ouderdom ook ʼn rol speel in terme van behoefte en bywoning van ondersteuningsgroepe. Alhoewel die deelnemers aangedui het dat dit nie van groot belang is nie, en bywoning deur individuele behoeftes bepaal word, is daar een deelnemer wat spesifiek verwys het na hoe gesonde sibbe sal baat vind by ondersteuningsgroepe.

“It depends on age.”

(Dit word bepaal deur ouderdom.)

“Vir sekere mense is dit belangrik…ek dink party mense funksioneer goed in groepe, ander weer glad nie.”

Vanuit deelnemers se response was daar bevind dat informele groepe meer algemeen voorkom onder ouers wat in die hospitaal vir lang periodes aaneen bly, as ondersteuningsgroepe soos gedefinieer word in literatuur. Ouers vorm vriendskappe in die tyd wat hulle daar is, en so bied hulle vir mekaar ondersteuning.

“Parents support each other. They would eat at the same table, talking, sharing experiences. It is not structured group work.”

(Ouers ondersteun mekaar. Hulle eet saam, praat en deel ervarings. Dit is nie gestruktureerde

groepwerk nie.)

4.7.3.6 Kampe

Sewe deelnemers het aangedui dat kampe belangrik vir die gesonde sibbe is. Dit is ʼn ondersteuningsnetwerk wat hulle kan bystaan waar ouers nie altyd kan nie. Volgens Packman et al. (2004) help kampe die gesonde sibbe van ʼn kind wat met kanker gediagnoseer is, om vlakke van angstigheid en posttraumatiese stres te verminder. Dit skep ook die geleentheid om te ontspan en weg te breek van die daaglikse stres wat saam met die kankerdiagnose gaan. Met die hulp van beraders by die kampe kan hierdie kinders se selfbeeld, kwaliteit lewe en sosiale en emosionele funksionering bevorder word deur die vermindering van angstigheidsvlakke en posttraumatiese stres.

149

Laing en Moules (2016) het ʼn studie gedoen oor waarom kampe vir die gesin (ouers, siek kind en gesonde sibbe) belangrik is. Daar was bevind dat al die verskeie behoeftes van die gesinne aangespreek kan word gedurende die kampe en dat daar ʼn sin van gemeenskaplikheid ontwikkel. Die studie dui aan dat die konsep van spel, aanvaarding en insluiting, rou, stories vertel en kommunikasie al die verskillende aspekte van genesing aanspreek. Hulle het gevind dat hierdie kampe ʼn instelling moet word in intervensieprogramme, eerder as wat dit as ʼn luuksheid beskou word. Alhoewel geen deelnemers verwys het na ouers wat ondersteuning van hierdie netwerk ontvang nie en slegs vier verwys het na die siek kind, bewys hierdie studie dat ouers en kinders met kanker net soveel hierby kan baat (Laing & Moules, 2016:41).

Die ses deelnemers wat aangedui het dat die kamp nie ʼn ondersteuningsnetwerk vir die gesinsisteem is nie, het nog geen ondervinding gehad met kampe vir kinders met kanker en gesonde sibbe nie.

4.7.3.7 Spelterapie

Hierdie ondersteuningsnetwerk is meer gerig om ondersteuning te bied aan kinders, en sal daarom meer geskik wees vir die kind met kanker asook die gesonde sibbe. Tien deelnemers het aangedui dat dit ʼn goeie ondersteuningsnetwerk is vir die kind gediagnoseer met kanker, en 12 het aangedui dat dit belangrik is vir die gesonde sibbe.

“Would be good for the child and sibling if you could get to them.”

(Dit sal goed wees vir beide die siek kind en sibbe, as toegang het tot hulle.)

Deelnemers het wel gespesifiseer dat spelterapie ʼn bron van ondersteuning kan wees, maar dat dit ook af hang van die ouderdom van die kind met kanker, of die gesonde sibbe. Malone en Price (2007) bevestig hierdie resultate van die deelnemers en verwys na hoe spelterapie kinders kan help om hanteringsmeganismes te ontwikkel en aan te leer. Hierdie vorm van ondersteuning sluit aan by dienslewering vanaf professionele persone soos bespreek gaan word in tema vier.

4.7.3.8 Rol van verpleegsters

Soos alreeds bespreek vroeër in hierdie Hoofstuk, speel die verpleegpersoneel ʼn groot rol en vorm ʼn ondersteuningsnetwerk vir die hele gesinsisteem. Daar het nege deelnemers aangedui dat verpleegsters ʼn bron van ondersteuning is vir die ouers, 13 (100%) het aangedui dat dit ʼn ondersteuningsnetwerk vir die kind met kanker is en nege het aangedui dat verpleegsters ook ʼn ondersteunende rol vir die gesonde sibbe is. Deelnemers het wel aangedui dat hierdie tipe ondersteuning dikwels meer van toepassing sal wees vir die kind met kanker en die ouers weens die gesonde sibbe nie altyd toegang het tot die onkologie eenhede nie.

“They have beautiful relationships with the parents and sick child. They would educate the child and understand the parents. They give comfort.”

150

(Hulle het besonderse verhoudings met die ouers en die siek kind. Hulle voed die siek kind op en toon begrip vir die ouers. Hulle bied vertroosting.)

West et al. (2015) en Brody en Simmons (2007) benadruk die groot rol wat pediatriese onkologie verpleegsters speel in terme van ondersteuning vir die gesonde sibbe van die siek kind. Hulle kan dikwels die behoeftes van die gesonde sibbe aanspreek wanneer die ouers nie kan nie. Die verpleegster moedig dikwels die gesonde sibbe aan om vra te vrae en hul vrese, gedagtes en gevoelens uit te druk. Daar was ook bevind dat verpleegsters veral ʼn belangrike rol speel in terme van dag-tot-dag kommunikasie met kinders gediagnoseer met kanker, en kinders ervaar dit as gaaf, en behulpsaam en hulle geniet dit. Vanuit die studie was dit duidelik dat kinders dit geniet het en uitgesien het om met hulle te kommunikeer. Gemaklikheid het ook ontstaan tussen die kinders en verpleegsters, en het bygedra tot hulle vooruitsig om tyd met hulle te spandeer (Gibson et al., 2010).

Soos vroeër genoem bied die gesondheidsorgspan, verpleegsters, vertroosting vir die ouers. Dit vind veral plaas as ouers die moeite raaksien oor hoe die kind met kanker en gesonde sibbe as persone hanteer word en nie net as pasiënte nie (Monterosso & Kristjanson, 2008:65). Die verpleegpersoneel vorm ook deel van die multidissiplinêre span en hulle ondersteuning kan as dienslewering aan die gesinsisteem gedefinieer word. Hierdie vorm van ondersteuning tree dus in nou verband met dienslewering wat aan die gesinsisteem gelewer word, soos bespreek gaan word in tema vier.