• No results found

HOOFSTUK 3 BESPREKING VAN DIE INVLOED VAN ‘N KANKERDIAGNOSE BY ‘N

3.5 DIE ROL VAN DIE MAATSKAPLIKE WERKER

Volgens International Federation of Social Work (IFSW, 2014), is die internasionale definisie van maatskaplike werk die volgende:

“Maatskaplike werk is ʼn praktykgebaseerde professie en ʼn akademiese dissipline wat maatskaplike verandering en ontwikkeling, maatskaplike kohesie, en die bemagtiging en bevryding van mense bevorder. Beginsels van maatskaplike geregtigheid, menseregte, kollektiewe verantwoordelikheid en respek vir diversiteit is fundamenteel in maatskaplike werk. Versterk deur teorieë vir maatskaplike werk, sosiale wetenskappe, geesteswetenskappe en inheemse kennis, betrek maatskaplike werk mense en strukture om lewenseise te hanteer en welsyn te bevorder.”

Volgens die Witskrif vir Maatskaplike Ontwikkeling (1997) verwys maatskaplike welsyn na die wyse waarop programme, maatskaplike dienste, fasiliteite en maatskaplike sekuriteit bevorder word ten einde die maatskaplike ontwikkeling, sosiale geregtigheid en sosiale funksionering van mense te bevorder. Die Witskrif

68

(1997) verseker ook dat mense se behoeftes en welstand aangespreek word. Daar is verskeie beginsels wat maatskaplike werkers gedurende dienslewering moet toepas. ʼn Paar van hierdie beginsels is om dienste te lewer wat nie diskriminerend is nie, kwaliteit lewe bevorder, menseregte beskerm en volhoubaar is. Afdeling 27, onder Seksie 1, maak voorsiening vir dienslewering aan kinders met kroniese siektes. Die Witskrif (1997) bied dus ook riglyne vir dienslewering aan kinders en gesinne waar die kind met ʼn kroniese siekte gediagnoseer is.

Die bogenoemde definisie van maatskaplike werk skep ʼn konteks waarbinne maatskaplike werkers dienste lewer asook die kern van hul tipe dienste. Maatskaplike werkers wat spesifiek dienste lewer aan gesinne waar ʼn kind met kanker gediagnoseer word, lewer dienste in verskillende, maar spesifieke hoedanighede. Hierdie maatskaplike werkers vorm dikwels deel van die multidissiplinêre span in ʼn hospitaalopset, of lewer buitesorg dienste en ondersteuning aan gesinne en vorm deel van hospiese.

Soos reeds genoem lewer maatskaplike werkers dienste volgens die Geïntegreerde Diensleweringsmodel. Daar is drie vorme van dienste wat aan persone met kroniese/terminale siektes gelewer kan word. Hierdie dienste sluit in voorkomingsdienste, rehabilitasie dienste en aaneenlopende dienste (ISDM, 2006:18,21). Hierdie dienste wat deur die diensleweringsmodel genoem word, stem ooreen met die dienste wat maatskaplike werkers lewer in die multidissiplinêre span asook in buitesorg. Die vorm van dienslewering wat mees relevant is vir hierdie studie, is rehabilitasie dienste.

Om die rol van die maatskaplike werker wat dienste lewer, spesifiek aan gesinne waar ʼn kroniese/terminale siekte gediagnoseer word te verstaan, gaan daar spesifiek gekyk word na maatskaplike werkers se rol van dienslewering binne die multidissiplinêre span.

3.5.1 Maatskaplike werkers in multidissiplinêre spanne

Multidissiplinêre samewerking vorm deel van die struktuur van die span se funksie. Dit vorm 'n sinergie wat lei tot meer doeltreffende behandeling vir die pasiënt en gesin. Daarbenewens trek die span voordeel omdat hulle 'n breër perspektief van die pasiënt, gesin, en die gemeenskap ontwikkel. Maatskaplike werkers se gevorderde psigososiale opleiding en kennis oor die sisteemteorie (pasiënt/gesin in die omgewing) maak hulle ideaal om as tolke op te tree tussen die pasiënt/gesin en die multidissiplinêre span wanneer inligting rakende die diagnose oorgedra word (Maramaldi, et al., 2014:548).

Maatskaplike werkers word opgelei om assesserings vanuit ʼn bio-psigososiale perspektief te maak wat nou aansluit by die sisteemteorie, wat hulle in staat stel om die pasiënt en gesin in ʼn meer holistiese wyse te sien en ondersteuning te bied. Hierdie perspektief stel die maatskaplike werker in staat om die gesin by te staan tydens emosionele reaksies en mediese besluite wat hulle moet neem (Snow, Warner & Zilberfein, 2008:380). Volgens Weissman (2004) moet maatskaplike werkers op ʼn gereelde basis betrek en benut word in

69

multidissiplinêre spanne om die pasiënt en gesin te help om besluite te maak, veral in gevalle waar die pasiënt en gesin na aan die einde van hulle lewe is.

Maatskaplike werkers help die gesin om tydens die laaste fases van die pasiënt se lewe ʼn gevoel van menslikheid te behou asook ʼn aspek van beheer oor ʼn lewe wat realisties naby aan die einde is. Hulle speel ook ʼn noodsaaklike rol in die opvoeding van dokters oor die psigososiale kwessies rakende die versorging van mense wat op sterwe is, asook vroeë verwysings na buitesorg soos hospiese. Die maatskaplike werkers se verdere rol is ook om die gesin in te sluit by gesprekke rakende buite hospitaal sorg en om alle beskikbare opsies aan hulle voor te stel (Snow et al., 2008:389).

Maramaldi, et al. (2014:544) bevestig Snow et al. (2008:380) en Weissman (2004) se sienings oor die rol van die maatskaplike werker in die multidissiplinêre span. Volgens Maramaldi, et al. (2014:544) is maatskaplike werk die primêre dissipline wat oor die vermoë beskik om die psigososiale kwessies in die bio-psigososiale konteks aan te spreek. Hulle konsulteer ook met die mediese veld oor aspekte rondom die diagnose, toestand en toekoms van die pasiënt. Nog ʼn belangrike rol wat maatskaplike werkers aanneem is om inligting van die mediese span en verpleging te integreer. Hierdie stelling beteken dat maatskaplike werkers, nadat die mediese dokters inligting oorgedra het aan die gesin rakende die toestand van die pasiënt, die gesin betrek en dieselfde inligting, maar sonder enige haas aan hulle deur gee (Maramaldi, et al., 2014:544).

Volgens Kitchen en Brook (2005) betrek maatskaplike werkers in 'n akademiese hospitaal die pasiënt/gesin en die mediese personeel op so 'n wyse dat mediese dienslewering meer holistiese raak. Kitchen en Brook (2005) stem saam met Snow et al. (2008:398) dat maatskaplike werkers verbeterde sorg fasiliteer deur gesinne se “stem” na die mediese personeel te bring en ook deur die versorgers in te lig en op te voed oor waar hul toegang tot hulpbronne kan kry. Maatskaplike werkers kan die sisteemteorie gebruik om maatskaplike intervensie ten opsigte van hiérdie gesinne te rig. Die sisteemteorie, soos genoem, beskou die gesin as ʼn eenheid wat uit verskeie sisteme bestaan en interafhanklik is van mekaar, asook met ander sisteme in die omgewing (Von Bertalanffy, 1971). Wanneer ʼn kind gediagnoseer word met kanker, sal die maatskaplike werker met behulp van die sisteemteorie die gesin kan help om in kontak te kom met verskeie sisteme wat ondersteuning kan bied vir die gesin in krisis.

Snow et al. (2008:378) beklemtoon egter dat die belangrikste rol van ʼn maatskaplike werker in ʼn hospitaalopset is om gesinne te help om die diagnose van die kroniese/terminale siekte te aanvaar, te hanteer en daarby aan te pas. ʼn Kind wat met kanker gediagnoseer word se direkte omgewing, die gesin, is die beginpunt vir die verandering van die gediagnoseerde kind se omgewing en indirek die samelewing waarin die kind hom/haar bevind. Wanneer die sisteemteorie in maatskaplike intervensie gebruik word ten opsigte van dié gesin, kan die nodige veranderinge ten opsigte van die gesin bewerkstellig word ten einde die gediagnoseerde kind en gesin in staat te stel om as ʼn eenheid te funksioneer.

70

3.5.1.1 Tipes dienste

Maatskaplike werkers wat dienste lewer in die hospitaalopset kan die volgende tipes dienste lewer, naamlik: maatskaplike intervensie, krisisintervensie, gesinsberading (gesinsgesentreerde intervensie), opstelling van ʼn ingeligte intervensieplan en nasorgbeplanning (verwysings) (Maramaldi, et al., 2014:544,545; Judd & Sheffield, 2010:863,864).

3.5.1.1.1 Maatskaplike Werk intervensie

Maatskaplike werk intervensie se doel is om die fisiese en sosiale staat van die pasiënt aan te spreek. Volgens Maramaldi, et al. (2014:544) word verskeie interdissiplinêre perspektiewe tydens die dienslewering integreer om die pasiënt maar ook die gesin se herstel te bevorder.

3.5.1.1.2 Krisisintervensie

Volgens Maramaldi, et al. (2014:544) word krisisintervensie benut om die gesin se reaksie teenoor die diagnose aan te spreek, omdat gesinne se reaksies soortgelyk is aan persone wat ʼn traumatiese ervaring gehad het. Ander intervensiemetodes wat die maatskaplike werker saam met hierdie metode kan implementeer is psigo-opvoeding oor trauma reaksies en akute stres, tegnieke wat gebruik kan word om die omstandighede te beheer en voor te berei vir die tydperk wat voorlê (Maramadi, et al., 2014:544; Judd & Sheffield, 2010:864).

3.5.1.1.3 Gesinsberading

Gesinsberading stem tot ʼn mate ooreen met maatskaplike werk intervensie. Hierdie tipe intervensie fokus ook om die gesin as ʼn sisteem se behoeftes aan te spreek en kyk ook na watter sisteme in die gemeenskap die gesin kan bystaan. Maatskaplike werkers doen dit deur die sosiale behoeftes van die gesin te assesseer (Maramaldi,

et al., 2014:535).

3.5.1.1.4 Opstelling van ʼn intervensieplan en nasorgbeplanning

Maatskaplike werkers spandeer meeste van hul tyd aan die opstelling van intervensieprogramme, nasorgbeplanning of verwysing na ander mediese sorg vir pasiënte (Judd & Sheffield, 2010:863). Hierdie beplanning sluit in om geskikte ondersteuningsnetwerke in die gemeenskap te nader om hulp te verleen of om die pasiënt na ʼn ander mediese fasiliteit of langtermyn sorgsentrums oor te plaas (Judd & Sheffield, 2010:864; Maramaldi, et al., 2014:545).

Judd en Sheffield (2010:866) het opgemerk dat maatskaplike werkers meer tyd aan nasorg- en verwysingsbeplanning spandeer as wat hulle intervensie en berading aan gesinne gee. Dit is egter belangrik dat maatskaplike werkers meer aandag aan die implementering van intervensiemetodes en berading gee omdat

71

professionele ondersteuning gesinne help om aan te pas en ekwilibrium te handhaaf binne hul sisteem se funksionering.

3.5.2 Samevatting

Vanuit die bogenoemde bespreking kan daar afgelei word dat maatskaplike werkers ʼn kardinale rol speel in dienslewering aan gesinne waar ʼn diagnose van kroniese/terminale siekte, soos kanker, gemaak word. Die maatskaplike werkers beskik oor die kennis en tegnieke om hierdie gesinne by te staan, mediese prosedures aan hulle te verduidelik, in kontak te bring met ondersteuningsbronne en om begrip te toon vir hul situasie.

3.6 GEVOLGTREKKING

Die voorkoms van ʼn kroniese/terminale siekte beïnvloed die hele gesinsisteem se daaglikse roetines en funksionering, identiteit, ontspanningsaktiwiteite, loopbaanbesluite asook hulle hanteringsmeganismes. Die gesin se kultuur vorm ook hul waardes, uitkyk op die lewe, interaksionele patrone en funksionele prioriteite (Ross & Deverell, 2004:267,268). Die maatskaplike werker moet die gesin se kulturele verskille respekteer, hulle bemagtig, hul selfbeeld verbeter en aanmoedig om die pyn en hartseer wat hulle ervaar te uiter.

Die doel van gesinsberading is om die gesin as ʼn sisteem se sterktes, bekommernisse, behoeftes en prioriteite te identifiseer asook om die nodige hulpbronne in die gemeenskap te identifiseer wat dit kan aanspreek. Die vorm van berading moet ook dien as ʼn veilige plek waar die gesinslede negatiewe emosies oor hulle ervarings van die kankerdiagnose kan uiter. Dienslewering van ʼn multidissiplinêre span is noodsaaklik om al die behoeftes van die pasiënt en die gesin aan te spreek (Ross & Deverell, 2004:268).

Alhoewel daar steeds ruimte is vir opleiding om gesinne beter by te staan en hulle emosies van rou en verlies aan te spreek, soos bespreek in Hoofstuk 2, kan die implementering van die sisteemteorie (gesinsberading) as intervensiemetode al die aspekte van die gesinsisteem aanspreek en hul funksionering as ʼn sisteem tydens die tydperk van die krisis (kankerdiagnose) verbeter.

72