• No results found

Moontlikhede vir toekomstige studies

6.2.1

Tekortkominge

Hierdie studie is die eerste van sy soort in Afrikaans en is daarom onvermydelik oorsigtelik. Dit bied ’n bre¨e beeld van die Afrikaanse blogosfeer tussen Januarie 2002 en Augustus 2009 en ignoreer daarom noodgedwonge die nuanse van elke blogger se woorde en die sosiale interaksies wat daaruit spruit. As sodanig skep dit verskeie geleenthede vir verdere studie.

Vyf tekortkominge is veral prominent. Die eerste hiervan is die omvang van die blogosfeer. Soos reeds genoem, sal ’n stipleesoefening van die blogosfeer

om temas op te spoor nooit werklik deug nie, omdat dit onprakties is vir een of selfs ’n paar mense om deur miljoene woorde (wat daagliks toeneem en boonop eers gevind moet word) te lees bloot om temas op te spoor. Vanwe¨e die onbeskikbaarheid van natural language processing kon daar in hierdie studie slegs met sleutelwoordanalises en statistiek gewerk word. Toekomstige studies sal daarby baat om natural language processing, veral sentimentanalise, in te span om meer detail oor bloggers se houding jeens verskillende onderwerpe en hul taalgebruik en skryfgewoontes te bekom.

Tweedens ondersoek hierdie studie Afrikaneridentiteit, maar neem dit noodgedwonge nie veranderlikes soos ras, geslag en ouderdom in ag nie. Dit neem boonop implisiet aan dat Afrikaanssprekende bloggers gemoeid sal wees met en resultate sal lewer oor Afrikaneridentiteit, terwyl die toevoeging van die voorafgenoemde faktore dalk ander resultate mag lewer. ’n Verdere verfyning van ’n korpus blogs aan die hand van hierdie veranderlikes mag interessante bevindinge tot gevolg hˆe.

Omdat die korpus as ’n geheel hanteer is, misken hierdie studie derdens opsetlik die sosiale kompleksiteit van die blogosfeer. Elke blog is potensieel ’n virtuele “stam” waar die blogger optree as “stamleier” en die gereelde lesers van die blog sy of haar “stamlede” is1. Soos in die regte lewe het elke blogger sy ja-broers, hofnarre en teenstaanders. Wanneer verskillende blogs boonop vanwe¨e tegnologiese ontwerp saamgegroepeer is (LitNet en Wordpress.com se bloggers blog byvoorbeeld meestal onafhanklik en grootliks onbewus van mekaar se bestaan), ontstaan ingewikkelde sosiale interaksies wat dikwels ’n effek op identiteitsvorming kan hˆe. Elke sisteem het sy eie unieke rolspelers, wat diskoerse en persepsies op unieke wyses be¨ınvloed. Uit die aard van die saak kom hierdie ingewikkeldhede nie in hierdie studie aan bod nie.

Vierdens is dit belangrik om daarop te let dat sommige blogs veel meer inskrywings as ander produseer. Indien een blogger ’n meerderheid inskrywings publiseer oor ’n betrokke onderwerp, kan dit resultate be¨ınvloed. Hoewel daar grootliks hiervoor gekompenseer is in hierdie studie met verteenwoordigende steekproewe, sal die inagneming van hierdie faktor beslis vrugte afwerp in verdere studies.

Laastens is dit belangrik om daarop te let dat bloggers vir die doel van

hierdie studie as “intellektuele gelykes” beskou is. Onderskeid is nie getref tussen diegene wat in die regte lewe meer aansien geniet vir hul skryfwerk en diegene wat as amateurskrywers of dilletante geklassifiseer word nie. Die blogs van bekende figure, soos Dan Roodt, Koos Kombuis en Hennie van Deventer, is in die studie se korpus opgeneem, maar as gelykes hanteer saam met ’n diverse aantal individue. Die invloed wat sosiale statuur op die blogosfeer het – hetsy op meningsvorming of taalkundige vernuf – kan nog veel verder ondersoek word.

6.2.2

’n Rykdom van data

Die relevansie van die Afrikaanse blogosfeer binne die bre¨er konteks van ’n globale inligtingsrewolusie en die sosio-ekonomiese en politiese posisie van hedendaagse Afrikaners is moontlik groter as wat met die eerste oogopslag mag lyk. Indien Afrikaanse bloggers verteenwoordigend van die meerderheid Afrikaners is, dui hul woorde op ’n bevolkingsgroep wat bykans volledig afskeid geneem het van ’n nasionalistiese ideaal. Stemme in die Afrikaanse pers en elders wat oor iets soos ’n volkstaat bespiegel, dui dan heimlik op die wense van ’n sterwende minderheid. Of dit wel die geval is, is egter debateerbaar en vereis meer navorsing.

Dit tersyde is die Afrikaanse blogosfeer se grootste wins dat dit ’n ryk bron van taalkundige, antropologiese, sosiologiese, geskiedkundige en selfs teologiese data is wat wag om gepeil te word. Die vraag kan tereg gevra word hoekom ’n studie soos hierdie een onderneem is binne ’n departement Afrikaans en Nederlands. Die antwoord het nie soveel te make met die aard van die navorsing as ’n wens wat hierdie navorser koester nie: dat veral Afrikaanse taalkundiges hulself toenemend tot sosiale media vir navorsing sal wend. Filolo¨e, grammatici, sintaktikusse, leksikograwe en morfolo¨e wat data ´of van meer gevestigde publikasies (soos koerante en tydskrifte) ´of deur moeisame prosesse (soos onderhoude) insamel, het tans die geleentheid om ’n oorvloed vars, oomblik beskikbare data oor Afrikaners se skryfgewoontes en taalgebruike te bekom. Die blogosfeer bied moontlik die mees ongerepte rekord van ’n bepaalde groep Afrikaanssprekendes se geskrewe taalgebruik, omdat dit nie deur redaksionele hekke hoef te vloei of beperk is tot die fisieke tydsbeperkinge van onderhoude nie.

Nuwe soorte data vereis nuwe gereedskap en ’n vars benadering tot die omgaan met tekste. Afrikaanse taalkundiges en rekenaartegnici sal (soos reeds by die Universiteit van Potchefstroom se Sentrum vir Tekstegnologie die geval is) kragte moet saamspan ten einde hierdie nuwe studie-areas suksesvol te betree.

6.2.3

God

Een van die opmerkende waarnemings van hierdie studie is dat Afrikaanse bloggers nie slegs besonder baie oor God skryf en hul godsbegrippe drasties in inhoud van mekaar verskil nie, maar dat hulle ook nie skroom om gereeld beto¨e daaroor op publieke platforms te hou nie. Verdere navorsing hieroor sal beslis interessante bevindinge tot gevolg hˆe wat besonder relevant mag wees vir veral die Antropologie, Sosiologie en Teologie. Studies in hierdie verband word sterk aangemoedig.