• No results found

Soos die geval met baie mitologie¨e is daar heelwat gate en weersprekings in die Afrikanernasionalistiese narratief. Sprekend van die narratief se onakkuraatheid is Afrikaners self, wat dit dikwels met hul eie dade weerspreek het. Die Nasionale Party het vir jare interne konflikte beleef. Spanning het geheers tussen die sogenaamde Noorde (Transvaal) en die Suide (Kaapland). Die Suide, wat vir die volk en sy belange gepraat het, was oor die algemeen ongemaklik met die anti-kapitaliese retoriek van die Noorde (O’ Meara, 1996:55). Transvaalse nasionaliste het laasgenoemde om die beurt die pejoratiewe “Keeromstraat”18en “geldmag” toegedig (O’ Meara, 1996:55). Die

NP was ook nie orals ewe sterk nie – in Natal is daar byvoorbeeld tot vandag toe relatief min Afrikaanssprekendes, wat daarna gelei het dat die Natalse NP nooit

werklik in ’n gedugte politieke krag ontwikkel het nie (O’ Meara, 1996:55). In die 1980’s het die Nasionale Party finaal versplinter in die Konserwatiewe Party, die Hervormde Nasionale Party en die Nasionale Party. Die laaste apartheidsverskiesing van September 1989 was trouens ’n hoogtepunt vir die sogenaamde “regse” splinters, wat a meerderheid van die Afrikanerstemme in die Transvaal en Oranje Vrystaat ingepalm het (Davies, 2009:105).

Grundlingh en Sapire argumenteer voorts dat die werkersklas nie so besorg was oor nasionalisme as die middelklas nie en dat hulle teen die 1930’s ook nie juis “entirely hapless victims of forces beyond their control in an alien urban environment” was nie (Visser, 2005:150-1) . Hoewel die eeufeesvieringe van 1938 simbolies was van ’n klasselose eendrag van Afrikanerdom, is dit dikwels nie in die werklike lewe weersp¨ıeel nie. Grundlingh (2005:200) merk byvoorbeeld op dat die eeufees nie veel aan die gewoontes van die werkersklas verander het nie, wat hulself graag met ’n tydverdryf soos honderesies bemoei het. Dit was allermins iets waarop nasionaliste trots was. “Although much has been made,” skryf Grundlingh (2005:200), “of the role of Christian nationalism as the Afrikaner civil religion – a view which tends to take Afrikaner susceptibility to Protestantism for granted – Afrikaner clergy found to their chagrin that they had to counter or capture a constituency which, if not godless, was enthused by pursuits regarded as godless”. Nie alle Afrikaners was dus so Calvinisties ingestel soos wat die mitologie wil voorgee nie.

Die fout moet ook nie gemaak word om te dink dat Afrikaners en hul voorsate voor die nasionalistiese narratief geen kollektiewe identiteit gehad nie. Daar was genoeg ooreenkomste tussen die afstammelinge van die eerste vryburgers in die Kaapkolonie om wel verskillende vorme van groepsidentiteit voort te bring. “Immigrant”, “kolonis”, “vryboer”, ‘’trekker” – al hierdie terme is eens op ’n tyd deur die Afrikaner en sy voorsate vir hulself geapproprieer. Hulle was inderdaad nog altyd ’n minderheidsgroep en hoofsaaklik Calviniste, wat ook ’n fasset van hul identiteit sou moes uitmaak. Hul Europese herkoms het nog altyd beteken dat hulle hulself as “wit” sou klassifiseer. Van meet af het hulle land verbou en ve¨e aangehou. Hulle vryheid en welvaart het vir lank in ’n wisselwerking met die Ander gestaan. Kultuurverskille met inheemse stamme het settelaars van vroeg af genoop om die etiket “beskaafd” om hul eie nekke te hang. Voor Afrikanernasionalisme was die Afrikaner dus allermins

identiteitsloos. Afrikaneridentiteit as ’n nasionalistiese konstruk het egter nie altyd bestaan nie.

Voorts moet die fout nie gemaak word om te glo dat Afrikaans vir die Afrikaners nie belangrik was voor 1902 nie. Die smagting na ’n eie taal vir onderrig en siviele diskoers is veel ouer as 1902, soos die ontstaan van die Genootskap van Ware Afrikaners in die negentiende eeu aantoon. Die liefde vir taal het ook nie in net die Boland voorgekom nie. In 1893 het President Kruger byvoorbeeld die volk in hul boererepubliek daaraan herinner dat hul taal (toe Nederlands) een is “wat [hul] voorouers deur stryd en worsteling liefgekry het” en hulle met die volgende woorde vermaan (Du Plessis, 1952:54- 5):

As u onverskillig word teenoor u taal, dan is u ook onverskillig teenoor u voorouers en ewe¨ens teenoor u Bybel, en naderhand ook teenoor u godsdiens, ja, selfs word u dan teenoor u nasionaliteit onverskillig. Staan tog vas by die taal. . . Laat ons nie tevergeefs op u bou dat u u taal liefhet as ’n taal wat vir u dierbaar is nie.

Die grootste leuen van die narratief is moontlik die aangepaste Kuyperi- aanse teologie wat Godgeskape sosiale sfere voorstaan. Terwyl voorstaanders van apartheid dikwels voorgegee het dat dit om aparte dog gelyke ontwikkeling van rasgroepe gaan, het dit in werklikheid slegs een groep bevoordeel. Diederichs en Meyer se aandrang daarop dat Afrikanernasionalisme gaan om die onbaatsugtige dien van God het in werklikheid afgestuur op die selfsugtige verheerliking van die Afrikaner bo alle ander groeperinge in Suid-Afrika. Die antroposentriese Humanisme wat hulle verafsku het, het ironies genoeg veel meer in gemeen gehad met hul eie oortuigings as wat hulle dalk ooit kon droom. Duisende Suid-Afrikaners wat tot vandag in haglike omstandighede lewe, is ’n onheilspellende herinnering aan hierdie selfsug.

Nie alle Afrikaners is deur die homogene identiteit meegesleur nie. Die Afrikaanse letterkunde alleen is vol voorbeelde van verset teen die aparthei- dsbeleid en name soos Beyers Naud´e en Van Zyl Slabbert tower allermins nasionalistiese prentjies op. ’n Sprekende voorbeeld van iemand wat deur die nasionalistiese narratief kon sien, is ook Alberts (1956:87), wat die volgende oor Afrikanernasionaliste te sˆe gehad het:

Die geslepe skurk weet dat die volk geleer is om te glo, en enigiets sal glo as dit maar net vir hulle vertel word. Hy ontwerp dan lang stringe leuens wat hy met onbeskaamdheid in die pers en oor die radio uitbassuin. Die onopgevoede gepeupel, wat van kleins af geleer is om leuens te glo, net te glo, en nooit self ondersoek in te stel nie, eet alles vir soetkoek op.

Sulke kritici was egter in die minderheid en dikwels opgesluit in akademiese ivoortorings. Op grondvlak het die meerderheid van Afrikaners wat onder die narratief grootgeword het dit van kindsbeen af geassimileer. Die feit dat die narratief ’n groot godsdienstige komponent bevat en in kerke en skole aangeleer is, dui des te meer op die omvattendheid daarvan.