• No results found

Uit die korpus blyk dit dat die Afrikaanse blogosfeer bestaan uit ’n versameling blogs wat grootliks die nasionalistiese narratief ondermyn. Slegs ’n klein minderheid vind nog aanklank by die identiteit wat deur die nasionaliste van die vorige eeu ontwerp is.

In die voorafgaande afdelings van hierdie hoofstuk is geen spesifieke Afrikaneridentiteite bespreek nie, omdat geen enkele, oorkoepelende definisie daarvoor by 723 bloggers te vinde was nie. Al wat met sekerheid afgelei kon word, is dat die meerderheid inskrywings wat die begrip Afrikaner bevat, geskryf is deur individue wat hulself as Afrikaners beskou. Wat hierdie identiteit egter vir hulle beteken, is uiteenlopend. Die standpunte van ’n blogger soos Oopkop, wat oor die inhoud van die identiteit wonder en beslis nie die nasionalistiese narratief aanhang nie (2007), is tekenend hiervan:

Ek voel soms half ongemaklik omdat daar so ’n stereotipe aan Afrikanerwees gebonde is en ek weet dat ek nie heeltemal daarby inpas nie. Maar wie definieer wat ’n Afrikaner nou eintlik is? Wanneer gaan mense agterkom dat Afrikaners nie almal rassiste is wat velskoene en voortrekkerkappies dra en boeremusiek luister en perde ry (en soms afval E.T) nie?

Die opmerking dat Afrikaners nie almal aan ’n stereotipe voldoen nie, gepaard met die vraag oor wie die identiteit se inhoud bepaal, gee outomaties te kenne dat Afrikaner-nasionalisme nie meer deug in ’n moderne Suid-Afrikaanse konteks nie. Die afkeer aan ’n stereotipe is dikwels te vinde by die minderheid wat wel oor Afrikanerskap nadink. Duskant is byvoorbeeld nie altoos positief oor die korporatiewe plaasvervangers vir die leemtes van ou simbole nie (2007a):

Wat is dit wat van ons Afrikaners maak? Wat is ons Volksbesit vandag? Is dit die Genl. De La Rey wat Bok vir ons geskep het? Is dit die klippies-en-kola trademark? Is dit die feit dat ons selfs al op Wikipedia ’n slegte naam gekry het onder die inskrywing sokkie? Di´e vrae beteken egter nie dat bloggers noodwendig dink die begrip “Afrikaner” is oud-modies en verdoem tot uitsterwing nie. Een van die pioniers

van die eerste groeitydperk van die Afrikaanse blogosfeer, die Pienk Zuit, voel homself deel van die identiteit, al besorg dit hom soms hoofbrekens (2006):

Ek haat dit om ’n Afrikaner te wees as dit mense laat aanneem ek is ’n rassis, maar ek voel tog deel van die Afrikaner kultuur en die geskiedenis van die Afrikaner is deel van my geskiedenis (sleg en goed) en daarom is ek trots om een te wees.

Hoewel hy nie nasionalisties oor die geskiedenis skryf nie, eien hy dit tog in totaliteit vir homself toe. Soos Oopkop (en moontlik ook Duskant ) is hy skynbaar nie te opgewonde daaroor om as ’n konserwatiewe “boer” getipeer te word nie.

Nie alle bloggers is natuurlik so nadenkend oor hul identiteit nie. Teenoor die bepeinsinge van laasgenoemde drie bloggers, is daar byvoorbeeld ook die bruusk, dog ongedefinieerde identiteitsverklaring van ’n blogger soos Vullis- blikke (2009), wat bloot meen: “Ek is ’n hardkoppige afrikaner, ingewikkeld maar ook eenvoudig. Deal with it.”

Ook diegene wat hulself ni´e as Afrikaners definieer nie, voer verskillende redes hiervoor aan. Papegaaislaai kom spitsvondig tot di´e slotsom (2009a): “So, behalwe vir ’n paar testikels en die sporadiese enkele horing, is ek seker nie veel van ’n Afrikaner nie”, terwyl HansJurgens sy vervreemding van die identiteit veelseggender verwoord (2009):

Afrikaander wel. Maar ’n Afrikaner? Wat is dit?

My identiteit wat Andries Treurnicht en Eugene Terreblanche destyds in die tagtigerjare gekaap, gesteel en vir hulself toege¨eien het, en my lewenslank vervreem het? Nee, dankie, hou verby. Die enigste etiket wat om myself sal hang is die van Afrikaanse, of Afrikaanse Moedertaalspreker.

HansJurgens doen wat verskeie Afrikaanssprekendes n´a 1994 gedoen het en waarop baie deelnemers aan die Skraap-sensus gedui het – hy behou Afrikaans as deel van sy identiteit, maar verwerp die begrip “Afrikaner”, omdat dit vir hom vermoedelik onherroeplik verbind geraak het met idees waarmee hy nie wil assosieer nie. Op hierdie manier stem sy mening ooreen met di´e van Nag Hinks (2009), wat ook die identiteit afsweer, maar in plaas van Afrikaans fokus op die kontinent Afrika en rasgelykheid om vir homself ’n nuwe identiteit te skep:

Nee, ek is (soos Ruda [Landman]) nie anti-afrikaans nie. Net anti Afrikaner. Van vandag af wil ek eerder bekend maak dat ek van Afrika afkomstig is. Dat ek in ’n diverse, multi-kulturele land bly waar vryheid aan almal gegun word. En, natuurlik dat ek myself nie verhewe sien bo enige iemand anders van enige ander ras nie.

Nie een se standpunte stel dit egter so duidelik soos KoningCoenie s’n dat hulle klaar is met Afrikaneridentiteit nie:

Ek is wit en ek is ’n Afrikaan nie ’n Afrikaner nie, ’n flipen Afrikaan.Spel dit uit, skryf dit neer en gaan soek dit in die woorde boek.

Enige poging om ’n sintese te skep uit hierdie eiesinnige, unieke idees sal die nuanses van die inskrywings onreg aandoen, soos dit die 97 antwoorde van die sensus self reeds oorvereenvoudig het. Twee deelnemers aan die sensus het byvoorbeeld bogemiddelde lang antwoorde verskaf op wat ’n Afrikaner is – een in mini-essay vorm, die ander in amper digterlike taal (sien Addendum B). Die omsit van hierdie antwoorde in afgebakende veranderlikes het inderdaad nuttige inligting verskaf, maar in die proses het ander inligting verlore gaan, soos in die geval van hierdie antwoord:

[’n Afrikaner is iemand] wat wit is en Afrikaans as huistaal het. Iemand wat in suidelike Afrika grootgeword het, maar nie noodwendig meer daar woon nie, want hy kan nie saamlewe met onbevoegdheid, korrupsie en plein dom-astrantheid nie. ’n Harde, intelligente mens wat nie kak vat van kabouters nie.

Na afloop van die verwerking is die blog geklassifiseer in die sensusverander- likes Europees, Afrikaans en Afrika, maar gaan die eiesoortige beskrywing van ’n “intelligente mens wat nie kak vat van kabouters nie” heeltemal verlore. Die woorde, wat onder andere ’n aanhaling uit ’n Breytenbach-gedig is en dui op parallelle wat die deelnemer vermoedelik met die huidige regering trek, staan voor die paradoks dat dit nutteloos sal wees vir ’n geheelbeeld (omdat dit so eiesoortig is dat dit ’n statistiese anomalie verteenwoordig), maar terselftertyd ook uiters waardevol is, omdat dit die eerlike antwoord van ’n unieke individu

met ’n eiesoortige siening is. Dit is immers individue wat identiteite moet aanvaar of nie.

Enige poging tot die kwantifisering van identiteit lei dus noodwendig tot oorvereenvoudiging, wat ironies genoeg die sonde is waaraan die skeppers van die nasionalistiese narratief skuldig was.

Hierin lˆe die hart van dit wat hierdie studie uiteindelik ontdek.

Die uiteensetting van Afrikaneridentiteit in hoofstuk twee en die naspeuring van Afrikaneridentiteit aan die hand van ’n nasionalistiese identiteit in hierdie hoofstuk kon moontlik die verwagting skep dat daar ’n nuwe antwoord is op die vraag oor wat ’n Afrikaner is en dat bloggers dit gevind het. Steekproewe uit die korpus toon egter aan dat bloggers nie ’n uniforme antwoord het nie. Die konsep van ’n Afrikaner is immers geskep in ’n tydperk toe ’n monolitiese identiteit kardinaal was vir die voortbestaan van Afrikaners, terwyl so ’n benadering nie in ’n multikulturele Suid-Afrika en ’n geglobaliseerde konteks sal deug nie.

Dat daar nie ’n enkele antwoord is nie, beteken natuurlik nie daar is geen Afrikaners nie. Waarop dit wel dui, is dat Afrikaneridentiteit in die blogosfeer, soos ’n postmoderne narratief, gefragmenteerd, vol unieke kruisverwysings en sonder ’n klinkklare betekenis is.