• No results found

Lyding as deelnemende lyding van God

4.3 DIE INKARNERENDE BETROKKENHEID VAN DIE SEUN

4.3.3 Lyding as deelnemende lyding van God

McWilliams (2006:359) redeneer – op voetspoor van Moltmann – dat God saam met mense ly en hulle nie alleen is nie. Daar word saamgestem dat dit natuurlik ʼn troos is om so daaraan te dink, maar lyding per se is tog betekenisloos. God se lyding saam met mense het tog ook ʼn doelwit om mense te vorm en vernuwe. Die feit dat God saam ly, moet eerder gesien word as ʼn aanmoediging van God dat Hy saam met lydendes gaan en dat hulle die moed mag hê om die lyding sinvol te hanteer – soos McWilliams dan ook beweer dat gelowiges mag weet hulle is nie alleen nie.

Yancey (1990:156) meen dat menslike lyding betekenisloos en bar bly behalwe as ons weet dat God simpatie met ons het. In Jesus weet ons Hy het. Ons sien dit in Sy deelnemende lyding, maar ook in die opstandingsgeloof: “Faith means believing in advance what will only make sense in reverse” (Yancey 1990:15). Hierdie lewe-van-vorentoe-terug-leef het tog die implikasie dat die huidige een of ander vorm van sin en betekenis het. Dit is nie leeg nie, want daar is ʼn begeleidende – en begelydende – God saam met die persoon wat ly. Daar is dus Iemand wat ondersteun, maar dieselfde Een gee ook rigting en krag. Albei waarhede

het betekenis: die lydende is nie alleen nie en die lyding sal vrugte oplewer. Daarom het die een wat ly die moed om te lewe ten spyte van omstandighede van ellende en pyn.

Die uitsprake van Jesus oor die mossies en die hare op ons kop (Mt 10:29-31; Lk 12:6-7) is in die geskiedenis as tekste gebruik om te motiveer dat God lyding bewerk. Die teendeel is waar, sê König (2009:151). Dit is tekste wat nie wil verklaar dat God iets doen nie, behalwe om ons nood en swaarkry raak te sien. As Hy mossies sien val en hare tel, dan weet Hy van ons. Mense is nie alleen in hulle nood nie. As hy vir mossies en hare omgee, sal Hy ook vir sy kinders omgee. Die feit dat mense nie alleen ly nie, blyk dus ʼn algemene antwoord op lydingsgebeure te wees. Die God wat saam met sy kinders ly, is dus ʼn belangrike waarheid om lyding te verwerk. Dit word aanvaar dat God se nabyheid en betrokkenheid vir die verhoudingsmens waarde het, maar lyding sonder impetus en betekenis bly ʼn leë en bruiklose gebeure.

Daarom word geredeneer dat die inkarnasie van God met gelowiges in lyding ʼn verdere doel het. Daar kan nie ontken word dat “our being able to associate our illness, at both social and personal level, with a causal system gives a sense of control that seems to make their destructive outcomes less terrible” (Hauerwas 1990:72). Mense – wat teleologies geskep is – kan nie anders as om na sin en betekenis te vra nie. Dan vind hulle in hierdie telos ʼn sin van kontrole en vastigheid.

Louw (2000:49) meen dat Christelike geloof met identifikasie en nie met mag, werk nie. God het ons lief en gee om vir ons in lyding. Hy tree egter nie van buite op nie, maar kies die pad om van binne deur die kruis van Jesus sy verbondsgenade te vertoon: “Ek wil vir jou ʼn God wees.” Op dié manier wys God dat Hy nie met dwang werk nie, maar met sy betroubaarheid van die kruis versoek Hy ons gewillige samewerking om transformerend met lyding om te gaan. God werk nie met gewelddadige dwang nie, maar met liefdevolle drang. Die inkarnasie is dus God se uitnodiging aan mense om Hom in lyding te vertrou en saam te werk sodat die beeld van God as dienaar tot sy reg kan kom. Lyding is daarom ʼn plek waar God saam met mense wil beweeg om hulle lewenspotensiaal te bereik. Die lydende God is dus Een wat ly en lei. Die inkarnasie is gevolglik ʼn vindingryke plan om in ons pyn en lyding saam met ons te ly sodat ons oortuig kan word om saam met Hom die lyding te benut tot lewensgroei.

Hierdie saamly van God met mense vra ʼn reaksie van die lydende persoon. Dit is die geloof om saam met God – deur die voorbeeld van Jesus – op die weg of manier van die kruis te loop en dit gee “... courage to become” (Hall 1996:127). Dit beteken identifisering met Jesus.

kan word nie, maar dat dit nie alleen gedoen word nie. Daar is ʼn Ondersteuner en Begeleier. Christendom is nie melancholie nie. Dit is om te aanvaar dat ʼn lewe van nie-deelname aan lyding ʼn onmenslike bestaan is omdat deelname aan lyding essensieel deel van die goedheid van die skepping is (vgl. Hall 1996:127-133). Die sonde van passiwiteit en diensloosheid is hier ter sprake. Dit maak ontevrede met gemaksug en die mens doen hiermee afstand van die self. Dit vra die moed tot opoffering, eensaamheid, jukdra en volgelingskap. Dit is ʼn uitnodiging tot ware lewe van diens. Dit is daarom ʼn oproep wat vrywillig en met vreugde aanvaar word. Dit is geloofsvertroue in die Here as Gewer van lewe en die opsê van alle eie pogings om lewe te probeer besit.

Die geloofsreaksie op die inkarnerende oortuigingskrag van Jesus Christus op die pad van lyding is nie net ʼn lewenservaring en -groei ter wille van die self nie. As identifisering met God, wat mens geword het ter wille van mense, roep dit ook op tot ʼn bestaan ter wille van ander. Die meelewende lyding van God met ons lyding oortuig om ook soos Hy deur lyding te oorwin. Daarom kan die Christelike geloof bely: “Ek glo in die gemeenskap van die gelowiges.” Die gemeenskap ly ook saam volgens 1 Korintiërs 12-14. As een lid ly, ly die ander saam.

Louw (2000:65) gebruik die term van Moltman dat net lyding kan lyding oorwin. Dit wys op die lyding van die kruis wat oorwinning aandui. ʼn Teologie van die kruis beteken dus dat die mens se lyding ander se lyding help oorwin. Wanneer ek opstaan en my persoonlike lyding gebruik, kan dit ander help om oorwinning te vind, want mense ly dan nie net saam met God nie, maar ook saam met mekaar.

Daar is reeds aangedui dat lyding integraal deel van die skepping is en Hall (1996:116) sluit hierby aan: “God suffers because God would be with us, and suffering is our condition.” Dan kan die identifisering van God met mense nie anders as deur die Seun se lyding nie. Die lydingsweg is dus ʼn logiese manier van inkarnasie. Vir menslike respons – as identifikasie – beteken dit dan dat “… “[I]n Love’s service only the wounded soldiers can serve” (Hall 1996:117). Die lydendes behoort dus ander lydendes te soek en hulle lyding te deel – dit is die begin van transformasie na heelheid en vreugde vir die een wat lyding deel én die een wat ontvang.

Jesus se eenwording met die mens het Hom kennis gegee van die mens se omstandighede – soos die belewenis van honger (Mk 2:23-28). Wat hier belangrik is, is die feit dat sy menslike ervarings Hom in solidariteit met mense se wêreld bring (Kysar 1991:38). Die lyding wat ʼn persoon deurgaan, bring hom dus in kontak met ander mense. Een mens word deel van ʼn ander se wêreld en kan identifiseer of solidêr wees.

Hauerwas (1990:84) praat van “suffering service”. In Romeine 5 vind ons dat ons moet roem of selfs moet verbly in verdrukkings. Dit blyk dat lyding vir die vroeë Christene deel van die lewe was en iets wat hulle in gehoorsaamheid aan Jesus moes deurleef. Dit het nie hulle geloof in Christus laat wankel nie. Die lyding het bevestig dat hulle deur die doop in Jesus se kruis ingelyf is. Hulle geloof het hulle laat vasstaan in vervolging en teenspoed. Lyding was nie ʼn metafisiese probleem wat oplossings moes vind nie, maar was ʼn praktiese uitdaging tot ʼn gemeenskaplike reaksie. Enige betroubare weergawe van die Christelike lewe kan nie lyding uitsluit as ʼn integrale deel van lewe nie (Hauerwas 1990:85). ʼn Gemeenskaplike reaksie dui op ʼn lyding vir mekaar. Christene deel hulle bestaanslyding as manier van lewe met mekaar. Soos God in Jesus ʼn mekaar tussen Hom met mense kom soek het, moet die Christen by wyse van identifikasie met hierdie inkarnerende handeling ook mekaar se laste dra.

Om op te som: God se lyding saam met mense verskaf veel moed en oortuiging om deur lyding steeds voluit as mens te leef. Maar dit is meer as dit. Daarom sê Hauerwas (1990:89): om maar net te ly omdat dit deel van geskape lewe is, is nie deel van die Christelike boodskap nie. Om dit geduldig te dra – veral vir die voordeel van ander – is deel van die Christelike lewe. Die kruis van Jesus is die beginsel hiervan en daarom is pyn nie manipulasie om aandag van ander te kry nie. God het dus nie inkarnerend deur die Seun as deel van lewe kom ly nie, maar sy lyding was ter wille van mense. Daarom kan lyding nooit onafhanklik en sonder rigting bestaan nie. Dit word gesien in die feit dat lyding inherent ʼn pynlike saak bly.