• No results found

Diettrich Bonhoeffer

2.4 ENKELE BESKOUINGE VAN DIE MENS AS DIENAAR

2.4.1 Diettrich Bonhoeffer

Slegs Bonhoeffer se klassieke werk – die sogenaamde The cost of discipleship – word bespreek omdat dit spesifiek oor diens gaan. Dit is ook ʼn werk wat die wêreld van sy tyd kragdadig beïnvloed het (Vanden Berg 2009:337). Dit bring die praktyk en diensbaarheid van Christenskap na vore. Bonhoeffer se persoonlike lewe staan ook uit as een van diens. Die wyse waarop hy ervarings verwerk het “... in an earnest combination of Christian discipleship and political engagement” (Klausnitzer 2006:155) wys daarop dat hy nie sy probleme ontvlug het nie, maar teruggekeer het na Hitler se Duitsland om die lyding daar in die gesig te staar. “Bonhoeffer’s return stands out as an act of profound moral courage, incarnational discipleship, and ... also reminds us that God’s goals are larger than preserving our comforts, that sometimes God calls us to be wittnesses during dark times, even if the price is our lives” (Gushee 1995:30). Hierdie uitleef van Christenskap maak hom – en sy beskrywings van menswees – materiaal wat toegepas kan word op die punt wat hierdie verhandeling wil maak.

Die ruggraat waaraan Bonhoeffer se sienings hang, is die nou-reeds-klassieke-uitspraak dat genade nie goedkoop is nie. Die genadige werking van Jesus het dus etiese keuse- implikasies vir die beeld van God in mense se lewens – anders is dit waar dat diegene wat Jesus se genade aangeneem het net hulleself bedrieg (Bonhoeffer 1995:51). Slegs as die waarhede van die Woord van God gelééf word, kom egte lewe na vore. Die persoon wat in ʼn spieël kyk, sien wat fout is en iets daaraan doen, sal gelukkige mens wees (Jk 1:23-25). Bekering wat lei na diensbare lewe aan God en naaste bring geluk. Regverdiging deur genade moet dus ʼn vormende rol op lewe hê (Vanden Berg 2009:341). Vir die geestelike berader en Christelike leier beteken dit dat hy self ʼn heilige en skoon morele lewe behoort te lei. Vir die persoon wat hulp kom vra, beteken dit dat sy lewensomstandighede heiligend op sy lewe kan inwerk (Sorum 2004:478).

Die voorbeeld van Jesus word voorgehou as die model of norm vir die Christelike diens. Jesus word die ideaal omdat Hy nie slegs praat nie, maar met sy liggaam ons laste kom dra. Die hele mensdom is deur die genade van God in die liggaam van Christus opgeneem en voor God gestel (Bonhoeffer 1995:237). Hieruit word afgelei dat hierdie liggaam van Christus – die gelowiges – nou hierdie voorbeeld van hulle Meester voortsit deur met hulle lewe en lyding ander se lewens te inkarneer en voor God te bring (Vosloo 2006:28-29). Die gelowige gebruik sy lewenservarings om ander te verstaan en soos hulle te word. “The members also suffer in a vicarious representative way (Vosloo 2006:30). In sy bestaan as ʼn meersame wese ly die mens saam met ander omdat hy self ʼn lydende is. Soos Jesus een geword het met mense, moet gelowiges ander soek wat dieselfde deurgaan as hy en so in ander mense se lewe intree en hulle deur sy eie lewensomstandighede – wat met syne inkarneer en resoneer – begelei na nuwe lewe. Daar is dus ʼn sosiale verantwoordelikheid en roeping wat met lewenservarings gepaard gaan, naamlik om dit met ander te deel. Hulle moet as’t ware spontaan deur die liefde van Jesus na die ander – wat in dieselfde situasie as hulle is, of was – gedring word.

Maar diens is nie ʼn wetties-afdwingbare aksie nie. Die motief van diens is altyd altruïstiese diens. “The genuine work of love is always a hidden work” (Bonhoeffer 1995:159). Daar kan geen genesing uit diens wees as die “eie ek” nog ʼn motief is nie. Dit is juis selfgerigtheid wat omgekeer moet word ten einde dienaar te wees. Die vreemde inhoud van die genesing deur diens is dat dit juis nie gedoen word om die self te bevoordeel nie. Slegs dan het dit genesende waarde.

gehoorsaamheid. Luther moes die klooster verlaat en teruggaan na die wêreld (Bonhoeffer 1995:48). Alhoewel die verwerking van die lewe ook soms tye van stilte en hermeneuse vra, is dit die uitbeweeg na die wêreld – met sy probleme – waar die sin van ware Christelike lewe ontdek word. By wyse van spreke moet ’n mens jou “klooster” van nadenke verlaat en uitgaan na die wêreld. Die mens is ʼn verhoudingswese wat impak vir God op mense en die wêreld behoort te maak. Dit is die kern van die mens se bestaan.

Diensbaarheid is ook ʼn vorm van protes teen lyding, pyn en ongeregtigheid. Die Christen se roeping word geheilig as hy in radikale protes teen die wêreld leef (Bonhoeffer 1995:49). Christelike optrede het dus ʼn doel en sosiale intensie (Vanden Berg 2009:337). As Jesus mense roep om Hom te dien, vra dit ʼn toegespitsheid op die wêreld om die wêreld in te dring en ʼn beter plek te maak – selfs teen sekere vorme van onderdrukkende bestaan in. En die persoon wat gely het, is die regte een om protesterend te leef. Hierdie protes is ook ʼn eskatologiese leef in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Dit is ʼn protes wat teen die kultuur van die dag ingaan en daarmee wys op ʼn ewige bestaan wat eendag sal aanbreek. Alhoewel diens beide ʼn opdrag en roeping is, is die dissipelskap wat Jesus vra ʼn vrywillige keuse. “Nobody can be forced, nobody can even be expected to come” (Bonhoeffer 1995:87). ʼn Persoon moet dus gereed wees om sy pyn en krisisse vrywillig te gebruik en aan te wend in die Koninkryk van God. Dit kan ʼn tyd neem voordat die pastorale proses die dienaar of dissipel by hierdie punt bring.

Aan die ander kant van vrywilligheid lê die lewe van mense van God wat etiese verantwoordelikheid besit. Die Christen leef in die wêreld met die opdrag: “oorwin die kwaad deur die goeie” (Bonhoeffer 1995:263). Die kwaad in die gelowige se lewe moet dus aangewend word om die goeie te bring. Dis tegelyk die keuse en opdrag van elke mens om nie in sy belewenisse vas te val nie, maar vorentoe te beweeg deur die slegte te gebruik om die goeie te laat gebeur (Rm 8:28). Alle gebeure – ook teenspoed en lyding – kan kreatief omskep word tot diens aan God, self, naaste en wêreld.

Om dissipel en dienaar te wees, is gewoon die uitlewing van die kernbeeld van God. God is ʼn Gewer en daarom gee sy navolgers ook. Dit is gesond om te gee, want “[E]arthly things are given to be used, not collected.” “If he stores it up as a permanent possession, he spoils not only the gift, but himself as well, for he sets his heart on his accumulated wealth, and makes it a barrier between himself and God” (Bonhoeffer 1995:175). Dit is soos die manna in die woestyn. As dit opgegaar word, word dit sleg. God verwag dat gawes benut moet word.

Dit beteken dat ongedeelde lewenservarings die waarde daarvan sowel as die ontvanger tot skade kom. Wanneer die lewensgoedere wat ons uit God se hand ontvang, soos persoonlikheid, ervarings en geskiedenis, vir selfverryking gebruik word, raak dit sleg. Dit was nooit die bedoeling dat die mens dinge vir homself ontvang het nie, maar dat dit ten behae van ander ontvang word. Dit is hoekom die gelowiges van die nuwe kerk aangemoedig word om eerder te gee as om te wil ontvang – dit is die gelukkiger of saliger lewe (Hd 20:35).

Hierdie diens is gawe en opdrag in een. Dit lyk na teenpole, maar die een komplementeer die ander. “Christ calls, the disciple follows: that is grace and commandment in one. ‘I will walk at liberty, for I seek thy commandments’ (Ps. 119.45)” (Bonhoeffer 1995:59). Dit is ʼn opdrag wat gewillig uitgevoer word. Dit is liefde wat dring. Bonhoeffer (1995:87) noem dit die “ ... law of the cross”. Diens is dus nie ʼn optrede as en soos die mens daarna voel nie. Die kruisevangelie dwing dienaars uit na die nood van ander. Die liefdesgebod dring dus na die medemens.

Die gevaar van die groot klem wat Bonhoeffer op die etiese aspek van diens plaas, is dat die teologiese kant skade kan ly en die gelowige iets doen en nie (teologies) verstaan nie (Vanden Berg 2009:339). Tog is dit nie Bonhoeffer se bedoeling nie. Alhoewel die diens etiese dimensies het, is dit nie ʼn wettiese soort diens wat onnadenkend nagevolg word nie. Dit is iets wat aan ʼn Persoon en persone gedoen word. Inteendeel, dit is die direkte teenoorgestelde van legalistiese diens. Dit is om in verbondenheid met Jesus Christus alleen te leef. Hierdie diens word nie deur ʼn program bepaal nie. Dit is die navolging van Jesus alleen (Bonhoeffer 1995:59). Die klem op die etiese aspekte van dissipelskap weerhou van “[A] retreat into a purely ideal discipleship of Christ independant of the affiliation to the visible structure is an illusion” (Klausnitzer 2006:161). Bybelse beginsels wat nie in die praktyk voete vind nie, is dus om ʼn leuen te leef. Daarom is die model van Jesus – wat sy lewe afgelê het – ʼn korrektief op enige berading wat in filosofie of praatjies verval.

Die diens van dissipelskap gaan teen die selfbejammerende styl in wat pyn en probleme as verskonings gebruik om nie volledig diensbaar te wees nie. Bonhoeffer gebruik die ryk jongman as voorbeeld as hy daarop wys dat die jongman se diens in morele kennis bestaan het. Jesus stel nie belang in morele vraagstukke nie, maar in die jong persoon self (Bonhoeffer 1995:73). Wanneer Jesus dus navolging vra – selfs al is dit die aflê van verkeerde denke en dinge – stel Hy belang in gesonde en vervullende menswees. Diensbare lewe lê vir Bonhoeffer op die vlak van karaktervorming (Vanden Berg 2009:345). Diens vorm jou dus na wie jy werklik in God is en kan word. Dit lei na ʼn lewe van

selfontplooiing tot sinvolle bestaan. Om alles te los en Jesus te volg, sal mens dus die lewe laat vind (Mt 9:16).

Hierdie unieke selfontplooiing kan bereik word as die persoon se lewensomstandighede hermeneuties ontleed word. Opstand teen die gebeure van die lewe bring nie onplooiing nie, maar vasgevallenheid. Die totale oorgawe en vertroue in die hand van God in en oor ons lewens bring benutting en groei. Die enigste manier om die slegte te oorwin is om dit te laat hardloop tot sy krag uit is. Dit word reggekry as die slegte nie teenstand kry nie. Teenstand is soos petrol op vuur. Dit is deur geduldige volharding dat die slegte oorwin word (Bonhoeffer 1995:141). Die gebruikmaking van die lewensprobleme en -krisisse neem die angel daaruit. Daar is nie ʼn ander pad na vreugdevolle lewe nie. Die navolging van diens aan die Skepper en Voleinder van lewe is om soos agter een te loop wat die pad en bestemming ken – dit is sorgvry en ontspanne omdat ek nie self in beheer is nie. Daar word gemeen dat die uitspraak “meer as oorwinnaars” (Rm 8:37) in hierdie verband verstaan kan word. Die slegte word nie fisies oorwin nie, dit verdwyn nie, maar deur dit as energiegewende impetus tot lewensgroei te benut, word daaroor geheers. Dit is méér as oorwinning.

Omdat Jesus dié model vir ware lewe is, is dit van belang dat die gebeure van die lewe iets is wat ons moet aanvaar en diensbaar gemaak moet word. Jesus bid dat die Vader die beker van lyding verby sal laat gaan. Die Vader hoor én verhoor Sy gebed – die beker sal inderdaad verbygaan, maar slegs deur dit te drink. Dit is die oorwinning oor lyding (Bonhoeffer 1995:92). Mense moet weer leer om hulle kruise te dra as ʼn vorm van diens aan God en mekaar – eerder as om dit te ontvlug. Dit kan verdiepende verhoudings tot gevolg hê. In ʼn tegniese wêreld – waar die internet en ander kommunikasie ons die diepte van verhoudings ontneem het – moet die beeld van God as “the suffering God” weer sy plek vind. Dit kan slegs gebeur as die navolgers van Jesus beeld word van hierdie God wat genoem word: “God is a God who bears” (Simpson 2006:419-422).

Hierdie diensbaarheid kan selfs kwalitatiewe invloed hê op ons verhouding met daardie mense wat ons vyande noem. “After all, when we love them they are no longer our enemies” (Bonhoeffer 1995:159). Die gebruikmaking van lyding tot diensbare liefde aan die “vyand” wat dit juis veroorsaak, kan dus vrede bring. Dit vra na ʼn diepere en volwasse vlak van hantering van die pyn deur mense veroorsaak: om God te dank dat medemense se seermaak my karakter vorm, heiliger en bruikbaarder maak. Dit is die uitdaging vir pastorale beraders om hierdie gesindheid oor lewe te fasiliteer.

Die gelowige word ʼn verteenwoordiger en lasdraer van ander met sy lewenservarings. Soos Jesus namens ander geleef, gely en gesterf het, moet die Christen-dissipel namens ander sy gebeure gebruik tot heil van ander. Elke daad wat Jesus gedoen het, het hy namens die mense gedoen. Dit is hoekom Hy die tweede Adam genoem word (1 Kor 15:45) (Bonhoeffer 1995:238). Deur ons roeping teenoor ander te aanvaar en uit te leef, bring nuwe genade. Laat ons Bonhoeffer parafraseer en praat van “rich grace”, sê Simpson (2006:427), wanneer ons op voetspoor van die nagmaalsimbool mekaar se laste dra. Daarom bly die vraag oor ons lewe – met al sy ryke inhoud van ervaring: “Are we still of any use? Where in the flat world will our place-sharing, bearing God place you?” (Simpson 2006:427).

Die liggaam van Christus as ekklēsia speel ʼn kritiese rol in Bonhoeffer se diens (Vosloo 2006:23). Alhoewel die individu die roeping ontvang, word dit uitgeleef in die teenwoordigheid van baie, want die mens as beeld van die meersamige God bestaan in ʼn liggaam. Hierdie liggaam of kerklike gemeenskap wys gewoon na die gemeente (Sorum 2004:472) en daarom is die gemeente eerstens die speelveld vir diens. In die Christelike lewe is die individuele dissipel en die liggaam onskeibaar aan mekaar verbind. Die laaste opdrag aan Petrus was om die skape van Jesus op te pas, skryf Bonhoeffer (1995:255). Die opdrag aan Petrus om op te pas en te versorg konstitueer dus die nuwe mens in Christus. Maar dit wys ook op die belangrike rol wat die geloofsgemeenskap in diens speel. Alhoewel alle mense by goeie dade baat vind, is die medegelowiges die eerste verantwoordelikheid (Gl 6:10).

Bonhoeffer se beskrywing van diens as iets wat nie goedkoop is nie, het ook beeldvormende implikasies vir die Woord van God in berading. Daar moet verwag word dat egte en Woordbegronde teologie “... transforms as it informs. Without the task of transformation in mind, theology becomes just another intellectual pursuit with dubios ends. With the task of transformation in mind, however, theology has the potential for helping people conform more closely to the image of Christ and follow more fully Christ’s radical call to discipleship” (Vanden Berg 2009:348). Wanneer met mense oor hulle lewens in gesprek gegaan word, moet doelmatig daartoe gewerk word om hulle denke te verander sodat hulle beeld van Jesus sal word (Rm 12:1). Die dissipel dink nie meer die dinge van die wêreld nie, maar die dinge daarbo (Kol 3:1-2). Dit veroorsaak ander vrugte in die lewe van gelowige volgelinge (Bonhoeffer 1995:220). Dit bring ʼn bekeringsbreuk met die wêreldse maniere waarop die lewe hanteer word. Daarom is hierdie lewe van diens radikaal anders as die lewe van die wêreld. Mense van God gebruik lyding en groei in en deur dit. Deur te aanvaar dat ʼn gelowige anders as die wêreld is, verwerk hy anders aan sy lewenservarings: daar is nie plek vir bitterheid, woede, opstand, ensovoorts nie.

Diens aan Christus en hoe Hy dit voorskryf, bevry van die slawerny van eie denke en idees. Die mens kan ontspan van die eie ek en leef in Jesus se hand. Gelukkig is diegene wat nie meer uitgelewer is aan die tirannie van hulle eie idees en berekeninge nie (Bonhoeffer 1995:205). Diens bevry ook van ʼn verslawing aan die wêreld. Die gierige mens soek oorheersing en mag, maar word uiteindelik die slaaf van die dinge waarop hy sy hart plaas (Bonhoeffer 1995:283).

Hierdie diens skep ʼn belewenis van kommerloosheid oor die lewe. Angstigheid is die karaktertrek van die heidene, want hulle vertrou op hulle eie krag (Bonhoeffer 1995:180). Gelowige dissipels leef dus kommerloos omdat hulle die God van die lewe vertrou en sy koninkryk allereers soek (Mt 6:30-33).

Bonhoeffer aanvaar ook dat lewe in wortel eskatologies is: “There is only one question of paramount importance in the Christian life, and that is, how shall we survive the last judgment? And because we shall be judged according to our own works, it is vitally important that we shall be trained to do good works” (Bonhoeffer 1995:296). Bonhoeffer bring deugdelike dade hier in verband met die ewige lewe – soos die berader ook behoort te doen. Goeie dade van diens speel ʼn rol by die ewige oordeel. Dit beteken nie dat goeie dade redding bring nie, maar ʼn diensbare lewe is bewys van redding. Dit bring sekerheid en vrede oor die ewige lewe wanneer ʼn persoon diensbaar lewe omdat dit redding bevestig. Die erns waarmee God se Woord gedien word, het implikasies by die tweede koms van Jesus en die finale oordeel. Hier is die kritieke vraag: Het Jesus óns geken? (Bonhoeffer 1995:195). Die skeiding en toets vind daagliks plaas in die wyse waarop dissipels hulle nood, lyding, vervolging en lewensaanslae verwerk ... die keuse is reaksie en opstand of diensbaarheid en dissipelskap. Gelowiges moet dus rekening hou daarmee dat Jesus weer kom en dat die gebeure in die gelowige se lewe vormend op die ewigheid inwerk. Alle diens aan God het ʼn eskatologiese kern en behoort fasiliterend op dissipelskap in te werk. Die Christen se lewe behoort daarop te wys dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, dat dit van verbygaande aard is en dat die tyd kort is (Bonhoeffer 1995:294). Diens met die oog op die ewige oordeel verlos dus van ʼn ongesonde aardsheid wat hierdie lewe te ernstig neem. Hierdie gedagte van goeie werke aan die einde sal gelowige dissipels dus motiveer om alles te gebruik om God te eer. Wanneer ons ons hele lewe as offer tot goeie werke gebruik, kan dit vervulling en sekerheid bring om te weet dat die dienaar God se waarderende woorde sal aanhoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg ...” (Mt 25:21). “We shall be judged according to our works – this is why we are exhorted to do good works” (Bonhoeffer 1995:295).

Diensbare lewe in alle lewensomstandighede is die gevolg van ʼn verhouding en navolging van ʼn Persoon: God het Sy Seun gestuur – dit is waar genesing en gesonde lewe lê. Dit is nie genoeg om ʼn nuwe filosofie of beter godsdiens te hê nie. ʼn Mens het vir mense gekom (Bonhoeffer 1995:300). Wie ʼn persoonlike verhouding met Jesus soek en daarin leef, sal ware lewe vind: “Such grace is costly because it calls us to follow, and it is grace because it calls us to follow Jesus Christ. It is costly because it costs a man his life, and it is grace because it gives a man the only true life” (Bonhoeffer 1995:45).