• No results found

3.5 DIENS, GENESING EN GESONDE LEWE IN DIE WERKE VAN HENRI J M.

3.5.1 Geestelike lewe in ‘n sekulêre wêreld

3.5.1.1 Geliefdes

Die kinders van God is sy geliefdes. Hierdie status leer ons van liefde en skep dus potensiaal vir die liefde van God om ons diensbare mense te maak. Daar is baie negatiewe stemme wat vanuit die wêreld op ons inwerk. Die grootste gevaar vir gesonde lewe is nie sukses, populariteit of mag is nie, maar selfverwerping (Nouwen 1992:27). Die aanvaarding dat gelowiges God se geliefdes is, is dus ʼn belangrike stap in gesonde lewe of genesing na gesondheid. Dit gee gelowiges ʼn beeld om na op te lewe. Dit is ʼn status wat ons reeds het, maar dit moet ook aangeneem en geleef word (Nouwen 1992:38). Geliefde van God is

familie van God en help dus om die beeld van ons Vader te wees – mense wat geliefd is en daarom liefhet en omgee.

Maar dit is meer as om ʼn status te hê. Die mens moet word wat hy is. “Becoming the Beloved means letting the truth of our Belovedness become enfleshed in everything we think, say or do” (Nouwen 1992:39). Dit is die etiese kant van menswees. Geloof moet geleef word. Ons wees-funksies moet bepalend vir ons lewe word.

Die Gees van God se liefdeswerking is verantwoordelik om hierdie lewe as geliefde te laat realiseer. Die lewe van die geliefdes kan met vier woorde beskryf word: “taken, blessed, broken and given” (Nouwen 1992:41).

3.5.1.2 Geneem

“To become the Beloved we, first of all, have to claim that we are taken” (Nouwen 1992:43). Hieruit word afgelei dat Johannes 1:12 ʼn basis en voorwaarde vir gesonde lewe vorm. Almal wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy kinders van God gemaak. Natuurlik is dit God wat neem en maak, maar daar is ook ʼn aksie waar die mens Jesus aanneem as die lig (Jh 1:9). Dan is die mens se status kind van God – ʼn geliefde van die Vader. Die persoon wat Jesus aanneem, kan dus aanvaar dat God nie vir hom “Nee” gesê het nie (Jh 3:36) en daarom deur God geneem is. Dit maak hom ʼn geliefde van die Vader. In die verhaal van die verlore seun begin sy genesing toe hy die stem van sy vader hoor en besluit om terug te gaan om sy kindskap weer op te neem – om weer ʼn geliefde te word (Nouwen 1979:48). Om terug te keer na God sodat Hy ons kan terugneem, is dus die eerste stap op pad na ʼn lewe van diensbaarheid. Hierdie verhouding sal in baie gevalle eers tot stand moet kom deur op die stem van die Vader te wys wat terugroep.

Aan die basis van geneem, lê die betekenis van uitgekies. Dit beteken dat die geliefde ʼn spesiale persoon is wat eenkant geplaas is (Nouwen 1992:44). Die wyse waarop die geliefde hierdie uitverkorenheid uitleef, is deur ʼn geestelike worsteling op drie maniere (Nouwen 1992:49).

Eerstens moet die wêreld ontmasker word (Nouwen 1992:49). Hieronder word verstaan dat die wêreld sekere leefwyses voorhou wat aantreklik voorkom, maar uiteindelik die dood beteken. In die studie is gewys waartoe die wêreld mense trek. Pastoraat sal hierdie stemme moet blootstel.

As jy vir Nouwen sou vra wat ware godsdiens beteken, sou sy antwoord wees: “Living with Jesus at the center” (O’Laughlin 2005:35). En hierdie Christus se voorbeeld is ʼn afwaartse weg. Dit is eers wanneer Jesus aan die kruis sterf dat ons sien hoe lief het God die mens (O’Laughlin 2005:111). Die wêreld se stemme wat roep na rykdom, mag, roem en bevrediging is dus nie die pad na ware lewe nie. Die diensbare pad na God, mekaar en die wêreld is die voorbeeld van Jesus vir ware lewe.

Tweedens moet ons kyk na mense en plekke waar ons uitverkorenheid bevestig word (Nouwen 1992:49). Die meersame bestaan van die mens bevestig dat ons deel van ʼn groep geliefdes is wat anders as die wêreld is. Uitverkore apostels met ʼn lewensdoel.

Die geneemdes is kerk, sê Nouwen: “... whenever we seperate our belief in God from our belief in the church, we become unbelievers. God has given us the Church as the place where God becomes God-with-us” (O’Lauglin 2005:42). Dit is ook hier saam as gelowiges waar ons ons pyn en vreugdes as kwesbares deel en seën ervaar (O’Laughlin 2005:42). Ons help mekaar, maar beweeg ook saam uit.

Daarom kan ons nie goeie nuus op ons eie bring nie. Jesus stuur twee-twee dissipels uit om te gaan bedien (Nouwen 1989:40). Nouwen noem dat dit moeilik is om alleen diens te lewer. Hy het ook later in sy bediening baie keer met ʼn vennoot bediening gedoen (Nouwen 1989:40).

Derdens moet uitverkorenheid gevier word. Dit word gevier deur dade van dankbaarheid: “Gratitude is the most fruitful way of deepening your consciousness that you are not an ‘accident’, but a divine choice” (Nouwen 1992:50). Dankbaarheid – en nie die wet nie – is die motivering vir die gelowige se diens.

Niks kan die beeld van God uit die mens wegneem nie. Toe God die mens na sy beeld geskep het, was sy woorde oor die mens dat dit “baie goed” was (Nouwen 1994:51). Om hierdie goeie ingeskapenheid dankbaar uit te lewe en te geniet is dus die weg na gesonde bestaan.

3.5.1.3 Geseënd

As geliefdes is die kinders van God ook geseënd. Nouwen (1992:59) gebruik die stem van God by die doop van Jesus as simbool hiervan: “Jy is My geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My” (Mt 3:17; Mrk 1:11). Hy noem dat Jesus, soos Abraham en Sara, nooit hierdie

intieme kennis van uitverkorenheid in hulle diensbaarheid vergeet het nie. Daarom het hulle dus ook hulleself gesien as ʼn seën vir ander.

Die wyses waarop hierdie geseënde en uitverkore lewe geleef word, is deur gebed en die nabyheid van God (Nouwen 1992:61-63).

Gebed is ʼn plek waar die stem van geseëndheid en uitgestuurdheid gehoor word. God seën dus met gawes, persoonlikheid, lewensverloop en geskiedenis. In gebed kom die gelowige in die teenwoordigheid van God en word hierdie sake in dankbaarheid ontdek. Maar in gebed word tegelyk die roeping van God tot gestuurdheid gehoor (“Wie kan Ek stuur?”) en gee die mens antwoord (“Hier is ek. Stuur my!”) (Js 6:8).

Om te leef vir die huidige oomblik was vir Nouwen ʼn prioriteit (Ford 2002:30). Daar is vandag ʼn tendens om te leef asof die ware lewe later aanbreek. Dit maak dit baie moeilik – indien nie onmoontlik nie – om gemeenskap te skep (O’Laughlin 2005:64) en goeie verhoudings te leef. Die lewe wat Nouwen voorstaan – en ʼn lewe van diens begrond dit – is ʼn soort carpe diem, gryp die dag, lewe. En die rede is dat God se hand seën uitdeel.

In die teenwoordigheid van God word die geliefde geseën en “[T]he blessed one always blesses” (Nouwen 1992:67).

Wanneer in teenwoordigheid van God en mense teologiese refleksie oor die lewe gedoen word, word insiggewende antwoorde gevind (Nouwen 1989:68). Dit beteken ook dat hierdie antwoorde gedeel moet word.

3.5.1.4 Gebroke

Die geseëndheid moet nie met ʼn voorspoed- of welvaartsgodsdiens verwar word nie. Seën is die totale lewenspektrum van belewenisse uit God se voorsienende hand. Dit is soos die ou Gesang gelowiges laat sing het: “God weet of voor of teëspoed die beste is vir ons gemoed.”

In gebedsteenwoordigheid van God kom die geliefde onder die indruk van sy gebrokenheid. Maar “[O]ur sufferings and pains are not simply bothersome interruptions of our lives; rather, they touch us in our uniqueness and our most intimate individuality” (Nouwen 1992:71). Dit is dus ʼn unieke geseëndheid van elke mens waarmee hy sy uitverkorenheid in dankbaarheidsdade uitleef.

Daarom word dit hanteer deur dit eerstens te bevriend (Nouwen 1992:75-77).

Die afleiding is dat die eerste stap vir genesing nie is om van pyn weg te stap nie, maar ʼn tree daarnatoe te gee. Dit behoort omarm te word aangesien dit nie ʼn struikelblok vir vreugde en vrede (wat ons begeer) is nie, maar eerder ʼn manier daartoe.

Terwyl hy tussen ʼn klomp mense bedien wat gestrem is, herken en erken hy sy gebrokenheid van sug na erkenning as sou hy soos ʼn sirkusarties wees wat hoog op ʼn tou loop en vir applous wag as hy nie val nie. Daar is dus altyd die versoeking om iets skouspelagtigs te doen en erkenning te kry (Nouwen 1989:37). Die versoeking na eer en erkenning bly ʼn probleem in diensbare lewe. Die pastoraat moet probeer om mense hiervan te laat afsien voor ware diensbaarheid en gepaardgaande lewe gevind kan word.

Tweedens moet gebrokenheid as seën gesien word (Nouwen 1992:78-79).

Ons pyn is baie keer so vreeslik omdat ons dit as ʼn vloek sien. Dit moet onder die vloek uitgehaal en onder seën gesit word. Wat as onhanteerbaar gesien word, word draaglik en selfs ʼn seën as dit as ʼn uitdaging tot nuwe lewe gesien word. Nouwen wys dus direk hier op die bruikbare momente van probleme en pyn. Die hele lewe moet benut en geleef word. Nie net die goeie tye nie.

Gesonde mense slaag daarin om deur en in alles van die lewe ʼn teleologiese roeping te ontdek. Nouwen illustreer dit met sy lewe self. Hy is ʼn priester wat seksueel gay georiënteerd was (Ford 2002:xv). Hierdie seksuele oriëntasie ontdek hy op merkwaardig vroeë ouderdom. Hy benut hierdie lewensituasie en het dit klaarblyklik gesien as ʼn betekenisvolle rigting in sy lewe dat hy eenkant gesit is deur God om ʼn priester te word (Ford 2002 73-74) – wat selibaat sou leef. Die roeping laat hom dus bo sy persoonlike omstandighede uitstyg. Hy meld in ʼn onderhoud met Philip Roderick: “I am absolutely convinced that every human being who honestly asks God to give them a vocation will get it” (Roderick 2007:17).

Dit is nie maklik om lewe met ander te deel nie, want die gee van liefde kan ook seermaak. Om liefde te gee is ʼn gevaarlike uitdaging, want liefde kan verwerp word en die gewer kan teleurstelling beleef. Maar geen mens kan hierdie seer ontsnap nie. As liefdeswesens is ons elkeen aan hierdie gebrokenheid blootgestel. Daarom moet aanvaar word dat “[T]he only place outside of Heaven where you can be perfectly safe from the danger of love is Hell” (Nouwen 2001:26). Jesus se liefde word daagliks verwerp, maar dit laat Hom nie ophou liefhê nie.

3.5.1.5 Gegee

Die verstaan van hierdie konsep word verduidelik met: “A happy life is a life for others. That truth, however, is usually discovered when we are confronted with our brokenness” (Nouwen 1992:87). Verder: “Our brokenness opened us to a deeper way of sharing our lives and offering each other hope” (Nouwen 1992:88). Daar is twee maniere om dit te doen:

Eerstens: Ons lewe is ʼn gawe om te gee. Ons het unieke talente en gawes om onsself te gee (Nouwen 1992:90).

ʼn Mens kan nie in solidariteit met God leef en nie solidêr met mense wees nie; dit is essensieel dieselfde saak (Roderick 2007:23). Die afleiding hier is: om beeld van God te wees veronderstel dus om betroubare afbeelding te wees van iets anders. En hierdie iets anders is ʼn God wat gee. Dit vra nie groot dinge nie. Alle diens begin klein en word dan groter (Roderick 2007:26). Hierdie uitlewing van liefde definieer die mens – nie intellek of denke nie (O’Laughlin 2005:124).

Ware liefde vir Jesus beteken gestuurdheid na die skape – soos die opdrag aan Petrus (Nouwen 1989:40). Gesonde menswees is dus ʼn uitwaartse beweging – weg van jouself. Wanneer Nouwen (1979:68, 73) na Rembrandt se Die Terugkeer van die Verlore Seun kyk, sien hy – as teenpool van die vader se oop arms – die gebalde vuiste van die oudste seun. Dit dui op ʼn lewe wat nie wil gee nie, maar wat wil beheer en vashou. Dit maak hóm die verlore seun, want hy beleef woede, vreugdeloosheid en isolasie. Sy hande is toe en vasgeklem. Die vraag is of die oudste seun ook huis toe kan kom? Is dit moontlik dat hy ook – soos sy vader – kan gee en fees kan vier? Die antwoord is die antwoord van Jesus op die vraag van Nikodemus (Jh 3) of ʼn mens weer gebore kan word: “You must be born from above” (Nouwen 1979:76). Met God is enigiets dus moontlik.

In die vyftigerjare maak Nouwen ʼn verrassende skuif in sy lewe wat in ʼn sekere sin sy lewe van diens definieer. Hy bedank ʼn goeie werk as professor op die kruin van sy loopbaan en gaan woon permanent – sonder betaling – in ʼn inrigting vir persone wat gestremd is (Ford 2002:xiv). Hy dien dus nie net akademies en teoreties nie. Hy is bereid om sy hande vuil te maak deur diens. Hy word ʼn lewende stuk teologie (Ford 2002:113) – soos Jesus van sy dissipels verwag om geleefde geloof te vertoon.

Hierdie priesterlike betrokkenheid by mense boekstaaf hy in een van sy publikasies Adam – God’s beloved: “Each of us ... has been made whole somewhere; it has been our common experience” (O’Laughlin 2005:125). Daarom het elkeen ʼn gawe om te deel.

Wanneer ons gee, gee ons saam met ander. Deur onsself vir mekaar te gee, stry ons saam teen die donker magte van die lewe (Nouwen 2001:6).

Tweedens word die dood ʼn gawe om onsself te gee (Nouwen 1992:92). Om dood te gaan, is die suiwerste vorm van ʼn gawe. Dit word ʼn plek waar ons lewe onthou word as ʼn geskenk van God aan ons. Dan kan ons sê: “Yes, there is such a thing as a good death” (Nouwen 1992:94). Wie diensbaar lewe, laat iets na om te onthou en die dood word dan iets om my diens as voorbeeld na te laat. Selfs my dood word dan ʼn vorm van diens.

Die vraag oor dood is nie wat ek nog voor die dood kan doen nie, maar hoe kan ek leef sodat ek na my dood nog vrug kan dra (O’Laughlin 2005:149). As ons hier leef met die gedagte dat ons weet ons is op pad huis toe, leef ons soos mense met ʼn doel hier op aarde, maar ons weet ons is hier vir ʼn beperkte tyd. As ons klaar hier gewerk het, gaan ons terug om te rus van ons werk (O’Laughlin 2005:167). En uiteindelik kan ons begrawe word sodat ons begrafnis soos ons lewens is. Soos Nouwen oor sy begrafnis versoek: “... keep it very simple, very prayerful, and very joyful” (O’Laughlin 2005:163).

Dood is ook die finale genesing (Nouwen 2001:108). Wanneer hierdie siening op dood na vore kom, bring dit selfs die moontlikheid dat my eie dood en dié van ander gevier kan word. 3.5.1.6 Keuses

Om hierdie lewe van geliefdes van die Vader te leef, vra enkele etiese en praktiese keuses: Die pyn en lyding is ononderhandelbaar. Maar ons het ʼn keuse: Hoe leef ons daarmee saam? Ons word geroep om die Heilige Gees in hierdie donker oomblikke van lewe te ontdek. Een van die sleutels om lewe te kies, hang saam met die keuse om nie te rebelleer nie, maar die Heilige Gees se uitnodiging tot ʼn groter dans te aanvaar (Ps 30:11) (Nouwen 2001:30). Om dus met die Gees in ʼn “gebedsdans” te gaan beteken ons hoef nie stil te staan by ons plekke van rou nie, maar aan te beweeg na ʼn nuwe lewe.

As jy regtig in hierdie sekulêre wêreld wil leef, moet aanvaar word dat die bron van lewe nie die wêreld is nie, maar dat die geliefdes gestuurdes is (Nouwen 1992:105) en dat beide vreugde en lyding deel is van die reis om geestelike vervulling te vind (Nouwen 1992:108).

Die gesonde lewe gee dus op elke punt ʼn keuse van “Ja” of “Nee” om ons ware identiteit as geliefdes van die Vader uit te leef (Nouwen 1992:107). Daar is dus ʼn regte of verkeerde manier om op lewensomstandighede te reageer. Om passief te wees is ʼn “Nee” en daarom ʼn ongesonde manier om lewe te hanteer.

Om “Nee” te leef is fatalisme en baie ongesond, want “... it leads us to resist healing” (Nouwen 2001:50-51). ʼn Aktiewe antwoord op die vrae van die lewe skep dus potensiaal om gesond te word. As ons negatief leef, word ons vasgevang in ʼn mismoedigheid dat niks gedoen kan word nie. Dit is dus ʼn hooplose toestand wat kan lei tot depressie, wanhoop en selfs selfmoord. Dit is ʼn teken van ongeloof dat God enigiets kan doen. Om diensbaar te leef, is dus om met hoop te lewe. Hoop dat God in en deur my worsteling en probeerslae met pyn iets daaraan kan doen.

Dit is wanneer mense hulle gebrokenheid as deel van die holistiese lewe ook voluit benut, dat genesing plaasvind. Dit is nie iets waarvoor weggehardloop moet word nie. Inteendeel, “[T]he way out of our loss and hurt is in and through” (Nouwen 2001:24). Slegs hulle wat hulle pyn in die oë kan kyk, staan ʼn kans om nuwe lewe te ontdek. Pyn en swaarkry is dus nie iets wat as lewensverlies afgeskryf moet word nie. Dit moet as deel van lewe gesien word, ondersoek word en geleef word.

Daar kan selfs vreugde versteek wees in die donker grot van die swaarkry (O’Laughlin 2005:134). Dit is soos die Grand Canyon. ʼn Diep snit in ons bestaan, maar ʼn plek van skoonheid en selfverstaan (Nouwen 1979:84).

Om onvoorwaardelik te gee, is nie maklik nie. Terwyl hy in Duitsland is om ʼn uitgewer te sien, woon hy ʼn sirkus-vertoning van die vlieënde Rodleighs by – sirkusartieste op die trapesium uit Suid-Afrika. Hierin sien hy ʼn metafoor van sy lewe waar hy hoog wil vlieg om applous te kry omdat hy nie val nie. Hy besef dat hy stry teen die motief om bekend en suksesvol te wees (O’Laughlin 2005:139). Hy sien hierdie selfsug as ʼn teken van onsekerheid met die self wat mens ongelukkig maak. Hy waarsku teen hierdie gesindheid as hy sê dat baie mense godsdienstige lewe soek, maar die meeste van hulle wil eintlik net beter voel oor hulleself (Roderick 2007:46).

3.5.2 Gewonde genesers

Henri J. M. Nouwen beskryf in The Wounded Healer die mens en doen sekere wyses van genesing aan die hand.

Alhoewel die boek in 1979 alreeds verskyn het, bly dit relevant omdat sy beskrywing van die mens ooreenstem met die beskrywing van die postmoderne mens – wat hy by name noem (Nouwen 1979:11). Die mens wat hy beskryf, is die jongmens van daardie tyd en hy voorspel wat hy meen in die toekoms – vandag – gaan plaasvind. Hy noem die mens wat hy beskryf “Nuclear man” en genesing noem hy “liberation and freedom” (Nouwen 1979:5). In tabelvorm lyk sy beskrywing van lewe, verkeerde uitleef daarvan en strategie vir genesing as volg:

NUCLEAR MAN

DISLOCATED WORLD ROOTLESS GENERATION HOPELESS MAN Historical dislocation Inward generation Impersonal milieu Fragmented ideology Generation without fathers Fear of death Search for new immortality Convulsive generation Fear of life LIBERATION/FREEDOM

Mystical way Minister – articulator Personal response

Revolutionary way Compassion Waiting in life

Christian way Minister – contemplative Waiting in death Bogenoemde word nou beskryf.

Die nuclear man leef in ʼn wêreld wat ontwrig/dislocated is (Nouwen 1979:7-8). Die ontwrigting het op drie plekke plaasgevind:

1. Historiese ontwrigting/dislocation (Nouwen 1979:8-9). Daar bestaan nie kontinuïteit tussen verlede en hede – wat nodig is vir voortgaande lewe – nie. Ook die postmoderne mens en tegno-sekularis ontken die verlede en tradisie – wat ʼn breuk met die geskiedenis veroorsaak. Die mens weet nie meer waar hy vandaan kom, of waarheen hy gaan nie.

2. Gefragmenteerde/fragmented ideologie (Nouwen 1979:9-12). Hierdie mens het geen geheelbeeld nie. Gevolgtrekking: daar is postmoderne tendense soos om nie die geheel te sien nie, leef vir die oomblik, glo alles en is skepties teenoor godsdiens – al integreer hy fragmente daarvan. Vir die tegno-sekularis bestaan geen beginsels nie. 3. Soeke na nuwe onsterflikheid/immortality (Nouwen 1979:12-15). Hy kyk nie meer