• No results found

Genesing in beoefening van geregtigheid

3.4 DIE AARD VAN DIENS AS GENESING

3.4.4 Mens is mede-werker

3.4.4.3 Genesing in beoefening van geregtigheid

Hall (2000:416) is van mening dat die mens van die post-Christendom nie vatbaar is wanneer oor sonde en die regverdigheid van die God se oordeel gepraat word nie. Wat hierdie mens vra, is ’n God wat solidêr met mense is – die Een wat reserweloos “met ons” is. Die probleem vir die mens van vandag is: God seën nie reserweloos nie. Lewe vind binne grense plaas.

Die Ou Testamentiese konsep vir gesonde bestaan word uitgedruk in die woord shalōm (Wilkinson 1980:4). Die grondbetekenis van dié woord is vrede. Dit word ook meermale met vrede vertaal, maar hierdie term wil baie meer beskryf as die afwesigheid van onvrede. Hy benoem die inhoud van die woord as “completeness, welfare, soundness, prosperity, well- being, wholeness.” Die begrippe dui op geestelike kwaliteite ten spyte van omstandighede – eerder as opsigtelike voorspoed.

Wat egter opvallend van hierdie term is, is dat dit verbind word met ʼn sekere soort leefwyse (Wilkinson 1980:5). Die kernbetekenis van shalōm word gevind in Numeri 6:24 e.v. (die Aäronitiese seën). Shalōm is ʼn geskenk van God in die vorm van seën en kan slegs in God se teenwoordigheid ervaar word. Die algemene siening van die Ou Testament is dat daar nie ware shalōm vir ʼn onregverdige leefwyse is nie (Js 48:22, 57:21 en 59:8). God sluit met sy volk ʼn verbond van shalōm wat vir hulle ʼn lewe van vrede sal verseker (Nm 25:12; Js 54:10; Jr 32:40; Esg 34:25, 37:26; Ml 2:5). Ware shalōm kom dus van God en ʼn heel lewe kan slegs gevind word wanneer in ʼn gehoorsame verhouding met God getree word.

Vrede in die Nuwe Testament se inhoud is afgelei uit die Ou Testamentiese shalōm (vgl. Brown 1976:776-783). Jesus is die shalōm. In Jesus het die Koninkryk van God naby gekom en die volheid van ware lewe aangebreek – soos deur Jesus in Johannes 10:10 aangekondig. Daar moet egter daarop gelet word dat die voorafgaande vers (Jh 10:9) wys op die beeld dat Jesus die hek vir die skape is. Wie deur Hom in- en uitgaan vind lewe. Die goeie Herder lei Sy skape – wat Hom volg – dus na ʼn shalōm of koninkrykslewe. Dit wys op ʼn lewe van geregtigheid soos in die Psalms beskryf – onder andere Psalm 23.

Brueggeman (2006:16-17) voel ook dat ʼn belangrike woord vir gesonde lewe in die Nuwe Testament eirēnē is wat vrede beteken. Hy stel dit pertinent dat dit veral toegepas word op die vrede van gedagtes en verstand. Dit is daardie soort vrede wat volg op die regte verhouding tussen God en mens, asook mens en mens (Jh 14:27, 16:33; Rm 8:6 en veral Flp 4:7). Die vrede wat die verstand te bowe gaan, sal volg op dade van diens aan God en medemens. Daar is dus ʼn innerlike rustigheid wat die verstand te bowe gaan wanneer die verhouding met God en naaste reg hanteer word: “The result of such constant Christian practice is stated in the words, And the God of peace will be with you” (Hendriksen 1977:200).

Christene word vrede-makers genoem. Dit is nie uitsprake wat teen ʼn muur gehang word nie. Gelowiges moet deur diensbaarheid ʼn sekere lewenstyl volg om vrede te oes. Die betekenis van hierdie vrede is: “Shalom, the Hebrew word for ‘peace,’ has expansive connotations. It means harmony, wholeness, and right relationship with God, others, self and earth” (Arends 2008:69).

ʼn Belangrike aspek van vrede en diens vind ons in Filippense 4:4-7 wat Hendriksen (1977:192-201) beskryf as die geheim van ware seën en hoe om dit te verkry. Twee sake is hier van belang.

 Eerstens is die vrede wat alle verstand te bowe gaan deel van lewe in Christus, en dus word afgelei dat Jesus die vrede gee. Die vrede word hier ook verbind aan blydskap.

 Tweedens is die etiese kant van hierdie vrede opsigtelik as gesê word dat sekere dinge “proper action” vra sodat God van vrede met die doener sal wees.

Daar is dus vrede by God te vinde wanneer sekere morele en waardige aksies gepraktiseer word. Nie net die vrede van God sal met jou wees nie, maar ook die God van vrede. Dit kom neer op die aktiewe soeke na daardie lewe wat beeld van God vergestalt.

Capps (1987:19-20) trek ʼn direkte verband tussen die beoefening van deugde en gesonde lewe. Daar is doodsondes van narsisme wat lewe vernietig. Wanneer sekere Christelike deugde aangekweek en beoefen word, sal genesing intree en daarom praat hy van “saving virtues”. Die antwoord of geneesmiddel is om die Jona-kompleks te oorwin (Capps 1993:160). Jona het onttrek. Die mens van vandag onttrek hom van probleme om hom en “slaap” soos Jona deur die storms van die lewe. Die geneesmiddel word gevind in die optredes van die vrou wat Jesus se voete gesalf het (Lk 7:36-50) en Jesus wat sy

19:26-27). Die genesing lê daarin dat Jesus hierdie take van diens positief bevestig en dit sin en betekenis gee (Capps 1993:162-167). ʼn Lewe met deugde – wat deur God bevestig kan word – hou dus genesing en gesondheid in. Om só te leef dat Jesus “Mooi so goeie en getroue dienskneg” (Mt 25:19-23; Lk 19:15-19) kan sê, bring ʼn vervulde lewe. Hierdie twee tekste staan in die konteks van die oordeel aan die einde van die tyd en hou selfs eskatologiese betekenis en sin in. Sou dieselfde bevestiging van diensbare werke in die pastorale gesprek deur die pastor aangemoedig en bevestig word, sal genesing van dienslose lewe kan plaasvind (Pembroke 2004:170).

Gedurende hierdie hoofstuk is male sonder tal gestel dat die gesonde lewe uit God se hand kom. Daarom is dit logies dat die verhouding diens en genesing ook ʼn etiese bestaan het. Die mens kan nie slegs sola gracia leef nie, maar moet ook oorgaan in ʼn lewe van sola fide. So word “... actualistic anthropology” geleef (Greggs 2010:501, 504).

Dit bring die karakter van ʼn heilige en perfekte lewe ter sprake. Die naam van God moet geleef word (Heyns 1982:471) – as beeld van God – en om gesond te wees is om die Here, wat Redder is, te ken, lief te hê en Hom te volg. Dit vra ernstige toewyding om op die lewensweg – die juiste weg – te wandel en die gebooie van Jesus te gehoorsaam. Gesonde lewe in die Ou Testament hang ten nouste saam met gehoorsaamheid aan God se wet, want dit word eksplisiet in die Ou Testament geleer in verse soos Eksodus 19:5; Deuteronomium 11:27; 1 Samuel 12:14; Psalm 199:165; Jeremia 7:23, 42:6 en Sagaria 6:15 (Wilkinson 1980:6).

Die persoon wat God se ontwerp vir die lewe vertrou kan voluit leef. Dit is ʼn eenvoudige en rustige lewe omdat gefokus word op God se wet en ordonnansies en nie baie angstige planne word gemaak nie. O’Collins (2007:52) stel dit as volg: “The Ten Commandments sum up various duties towards God and neighbour (Exod. 20:2-17; Deut. 5:6-21; Lev. 19:1- 37). The Deuteronomic version, in particular, goes on to insist that obedience to these commandments will bring real welfare and rich blessings (Deut. 6:1-3). The divine commandments spell out the conditions for human well-being, ...” Daar is dus ʼn regte en verkeerde manier van leef. Die Woord van die Here is die norm. Die mens wat dit in verbondenheid met God kies, genereer lewe.

ʼn Mens wat dus in die regte verhouding met God leef, kan aanspraak maak op ʼn gesonde lewe (Js 32:17). Maar ook regverdigheid tussen mense en ʼn lewe van vrede gaan hand aan hand (Ps 72:7; 85:10; Js 48:18; Ml 2:6). Die soeke na geregtigheid is ook ʼn soeke na lewe (Spr 11:4, 19, 28, 30). Dit word geïllustreer deur die lewens van Enog (Gn 5:22), Noag (Gn

6:9) en Josef (Gn 39:2, 21, 23); terwyl Abraham (Gn 12:4, 15:6, 17:23, 18:19, 22:16-18) die grootste voorbeeld hiervan is (Wilkinson 1980:7).

Wanneer mense dus mense dien en in geregtigheid leef, skep dit goeie verhoudings – wat opsigself lewensruimte skep. Dit is soos Abraham wat seën omdat hy geseën is. Wanneer daar nie goeie verhoudings is nie, kom die teendeel van shalōm die lewe in. Cloud (1992:62-68) noem simptome van mense wat nie goeie verhoudings in stand hou nie: depressie, sinloosheid, gevoel van nutteloosheid en skuld, verslawing, verkeerde denke, leegheid, hartseer, vrees vir intimiteit, gevoelens van onrealiteit, paniek, opstand, oormatige omgee en fantasie. Dit is toestande wat anti-shalōm en -koninkryk is.

Die verband tussen diens en geseënde lewe het ook ʼn negatiewe en veroordelende konnotasie. Om “Nee” te sê vir diens aan God en naaste is gevaarlik, want daar word by die nood van die naaste verbygegaan. God kan sy seën in vloek verander. Voorbeelde hiervan is Farao wat weier om die volk te laat trek (Eks 3-5), Dawid wat sy naaste se vrou uitbuit (2 Sam 12), Agab wat Nabot se wingerd afneem (1 Kon 21) en Nebukadneser wat nie voor God wil buig nie (Dn 4) (vgl. Brueggeman 2006:21-32).

Daarom is die taak van pastorale sorg om mense se moeilikste ervarings – wat aanleiding tot emosie gee – in ʼn objektiewe perspektief te plaas sodat die betekenis daarvan ontdek kan word. Daardeur kan lyding oorgaan tot aanbidding (Harold 2006:215).

Hierdie genesing deur etiese bestaan is egter voorwaardelik. “The Spiritual Disciplines are intended for our good. They are meant to bring the abundance of God into our lives. It is possible, however, to turn them into another set of soul-killing laws. Law-bound disciplines breathe death. Jesus teaches us that we must go beyond the righteousness of the scribes and the Pharisees (Matt. 5:20)” (Foster 1993:9). Diens is en bly liefdesdiens aan God en naaste wat gevolg van gesonde verhoudings is.