• No results found

Lyding as deel van die skepping

4.2 DIE TRANSENDENTE OPTREDE VAN DIE VADER IN LYDING

4.2.1 Lyding as deel van die skepping

Lyding (as uitdaging) was deel van die geskape werklikheid, sê Hall (1986:56). Daar was eensaamheid (Adam was alleen), grense (mense kon nie alles doen wat hulle begeer nie),

die tuin van Eden voor die sondeval. Die oorspronklike skepping was dus nie ʼn plek sonder uitdagings waarop gereageer moes word nie.

Die lewe van medeskeppende wese (as “creative co-creator”) aan worsteling gee daarom aanleiding tot ware menswees en vra van die beeldgeskape mens ʼn lewe van intelligente en kreatiewe verantwoordelikheid op die roepingsgebeure van die skepping – wat deur God tot lewensvorming gestel is. In hierdie verband stem ewolusie-denke en skeppingsteologie ooreen, naamlik dat worsteling met lyding ʼn positiewe saak is wat gesonde lewe voortbring en dat dit ʼn intensie van die Skepper was om dit as sodanig te doen (Hall 1996:60). Woorde in die skeppingsverhaal wat hierdie visie begrond, is: beelddraer, heers, naamgewing, vrugbare lewe, bewoon en (veral) bewerk.

Lyding was deel van die eerste lewe, maar die verskil tussen voor en na die sondeval is dat die mens nou die lyding alleen moet dra (Hicks 2006:114-117). Hicks verklaar die rol van die sondeval as sou dit aanleiding gee daartoe dat lyding nou nie meer natuurlik en gesond is nie. Die skepping se uitdagings het oorgegaan in pynlike gebeure. Omdat die mens ʼn verhoudingswese is, het die sonde sy verhouding met God versteur. Nou moet die lyding die mens juis na God dryf sodat lyding hierdie verhouding kan herstel en die mens genesing vind. Dit vra na ʼn bekering tot ʼn liefdevolle Vader wat versorg en ondersteun. Die prentjie wat hier na vore kom, is die verhaal van die verlore seun wat moes terugkeer na sy pa toe hy in die “lydingsgebeure van die varkhok” onthou hoe sy pa se huis lyk (Lk 15:11-24). Dit is nie dat daar nie strukture of werk in die vaderhuis was nie, maar die sonde van bandeloosheid het hom by die varkhok gebring en dit het hom teruggedring na sy pa. Dit lyk op die oog af of beweer word dat lyding reeds deel van lewe vóór die sondeval was. Hierdie studie wil nie so ver gaan om dit klinkklaar te stel nie, aangesien dit die hele teologie van die sondeval in gedrang sou bring. Maar daar is genoeg om af te lei dat God – selfs vóór die sondeval – die mens aan uitdagings onderwerp het om hom diensbare mens te maak. Die saak van lyding as deel van die skepping staan so sterk dat saam met Hall (1986:57) gesê wil word: “What I am contending is that there are, in fact, forms of suffering which belong, in God’s intention, to the human condition.”

Om lyding as deel van die pre-sondeval te begrond sou ʼn weerspreking van die term lyding wees. Per definisie is lyding pynlike gebeure. Om van pyn voor die sondeval te praat, maak God ʼn Outeur van pynlike gebeure. Daarom word gekies om van uitdagings of diens voor die sondeval te praat. Dit is hierdie studie se standpunt dat God ʼn wetmatigheid daargestel het wat die mens in staat stel om deur gebruikmaking van uitdagings ʼn lewe te bou.

Die hantering van lyding in die Nuwe Tetament ondersteun dit. Lyding was nie ʼn metafisiese probleem wat opgelos moet word nie, maar eerder ʼn praktiese uitdaging wat ʼn reaksie vra (Hauerwas 1991:51). Selfs die Christene – as die herstelde beeld van God – het dus lyding nie as lewensvreemd gesien nie, maar met ʼn verantwoordelike en altruïstiese geloofsantwoord daarop gereageer.

Uit die aard van lyding moes daaroor lering gegee word omdat gelowiges na die sin daarvan gevra het, maar die ondertoon bly reaksie en nie passiewe weerstand of rebellerende optrede nie. In Hebreërs 12:5-6 word gewys op ʼn God wat tugtig wie Hy liefhet. Dit dui op ʼn positiewe handeling omdat God dit aan sy geliefdes doen. Daarom vra Hebreërs 12:25 dat gelowiges ag sal slaan op hierdie Goddelike spreke. Ook Jakobus 1:2-4 laat klink hierdie positiewe gesindheid jeens beproewings as hy dit aan vreugde verbind. Die vreugde lê in die feit dat beproewings ʼn positiewe doel het, naamlik die opbou van die gelowige.

Hauerwas (1990:83) wys op die merkwaardige van Israel dat hulle nie die donkerte van hulle godsdienstige lewens verban of ontken het nie, maar hulle het dit aangegryp as “...the very stuff of new life. Indeed, Israel seems to know that new life comes from nowhere else.” Die voorbeeld van Israel wys dus dat lyding as ʼn deel van lewe gesien is. God is dus nie bevraagteken nie, maar is gesien as die Een wat deur lyding ʼn verantwoordelike roepingsbestaan fasiliteer – soms selfs deur ʼn klag. Daarom behoort lyding ʼn transendente handeling te wees wat in die lewe geïntegreer word om kreatief nuwe lewe te skep as die medeskeppers van lewe. Dit sal moontlik ʼn herdefiniëring van wat lewe is in die pastorale gesprek benodig.

Kushner het baie bruikbare sienings van lyding, maar skep soms ʼn prentjie van God wat nie aanvaar kan word nie. Hy meen dat God Iemand is wat selfs vergewe moet word omdat Hy nie ʼn perfekte wêreld gemaak het nie (Kushner 1992:173). Daarom kan Kushner (1992:151) sê: “Fate, not God, sends us the problem.” Kushner skep dus ʼn mag – noodlot – naas God en wanneer noodlot dinge bewerk, skep dit ʼn donker kant van God Self waarmee nie saamgestem kan word nie. Wat ten regte deur hom gestel word, is dat God in lyding help en bystaan. Daar is dus ʼn Transendente se hulp wat lyding sin gee.

Hierdie studie kies eerder vir ʼn God wat lyding as deel van die werklikheid op ʼn voorsienende wyse gebruik sodat gesonde menslike lewe daaruit kan vloei en teen ʼn God Wie se handelinge deur fatalistiese gebeure medebepaal word. Lyding en uitdagings in die lewe is dus deel van God se liefdevolle handelinge van onderhouding (Heidelbergse Kategismus Sondag 10 vraag en antwoord 27, 28). Die Kategismus wil nie die oorsprong van teëspoed

van die Kategismus se bewysgrond van Romeine 8:28 en 29 word gewaag om af te lei dat selfs die mens se eie onverantwoordelikheid – wat tot teenspoed lei – deur God gebruik kan word om alles ten goede te laat werk.

Die vraag na die oorsprong van lyding bly egter bestaan. Bartholomew (2008:99, 242) – sonder om die oorsprong te verklaar – meen dat God juis voorsien deur ʼn sekere vorm van ewekansigheid in die skepping te plaas. Dit is wanneer die mens sy vrye wil gebruik om sy wil met God s’n te pas dat God se doel bereik word. Die lewe is dus nie volledig gepredestineer nie, maar lewe word geskep waar ʼn afwagtende God en skeppende mens mekaar ontmoet. Dit beteken nie dat God risiko’s neem nie, want alles vind binne die raamwerk van sekere wetmatighede plaas (Bartholomew 2008:135, 223). Lewe is dus meer vloeibaar as wat deur die geskiedenis aangevoer is, maar bly egter die werk van God – bygestaan deur mense (wat ook deur God gewil is om kreatief te bestaan).

Hierdie transendente betrokkenheid van God by die lyding van mense is belangrik aangesien mense in moedeloosheid sal verval, sou God nie die gebeure kon beheer nie. Polkinghorne en Beale (2009:34) noem dat daar ʼn perfekte balans tussen “lawfulness and randomness” bestaan sodat wesens met vrye wil kan kies, maar nie uitgelewer is aan omstandighede nie. Hulle vergelyk die gebeure op aarde met ʼn Grootmeester wat skaak speel en uiteindelik sal oorwin, maar die teenstanders kan intelligente skuiwe maak.

O’Brien (2009:408) werk met teïstiese ewolusie en noem dat pyn en lyding nodig is vir ʼn ewolusionerende proses aangesien dit hoër vorms van bestaan daarstel. Hy meen dat ʼn perfekte skepping sonder pyn nie ʼn werklikheid was nie en vra vir ʼn herinterpretasie van die Genesisverhale. Een van die herinterpretasies is dat skepping nie afgehandel is nie, maar deur pyn en lyding voortgaan. “Theistic evolution views God’s providence as creatio continua (continuing creation) where the gradual emerging/unfolding of the universe is dependent on God as its source as creation continues towards completion and perfection” (O’Brien 2009:410). Die lyding kry dus nie ʼn selfstandige bestaan nie, maar het steeds transendente of Goddelike bestuur nodig om na beter lewe te lei.

Die saak van intelligente ontwerp (Intelligent Design) dui daarop dat lyding ʼn katalisator tot nuwe lewe is. “The human mind is fascinated by design” (Du Toit 2007:298). Selfs skynbare lukrake gebeure word deur die mens se brein as doelmatig gesien. Daarom is die siening van sommige wetenskaplikes dat die skepping deur toeval verder ontwikkel nie korrek nie, want die hele skepping funksioneer vanuit ontwerp en alles het ʼn intrinsieke doelmatigheid (Du Toit 2007:299). Hieruit word afgelei dat die mens dus deur die doelmatige proses van menslike pyn en lyding gefassineer sal wees. Hy sal dus byna outomaties en intrinsiek na

die doel van lyding soek. Dit is hoe hy geskep is. Die Intelligente Ontwerp Beweging (ID movement) wil ʼn ontwerper agter alles bewys. Du Toit (2007:309) wys op JF Haught wat verklaar dat die Ontwerper die God van die Christendom is. Die Christelike God het dus die mens so geskep dat hy vanuit sy natuur die pyn en lyding teleologies sal verwerk. Dit wil nie God as Outeur van lyding voorstel nie, maar wil wys op die betrokke teenwoordigheid van die Ontwerper-God wat alles ten goede laat meewerk (Rm 8:28). Daar is dus nie sprake van ʼn Skepper wat geskep het en dan die skepping aan homself oorlaat om ewolusionêr op sy eie te groei nie. Die aanname dat sommige lyding sonder sin en betekenis is, word ook hiermee ontken omdat dit die beginsel van teleologie van menswees ontken.

Die volgende afleiding oor lyding wil dus gestel word: Lyding – as uitdaging – is dus deel van menslike lewe en kan tot nuwe lewe lei. Lyding is dus bruikbaar vir die vorming van die beeld van God in die mens.