• No results found

Groep ‘n Laaste deel van die saad het wel in baie goeie grond geval en het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer (Markus 4:8) Jesus se interpretasie hierop in Markus 4:20 verwys na mense wat positief

DISSIPELSKAP: UITDAGING VIR DIE KERK SUID-AFRIKAANSE KONTEKSTUELE VERKENNING

4. Groep ‘n Laaste deel van die saad het wel in baie goeie grond geval en het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer (Markus 4:8) Jesus se interpretasie hierop in Markus 4:20 verwys na mense wat positief

gereageer het op Jesus en die evangelie en veel vrug van die geloof opgelewer het. Hierdie groep is die naamlose individue wat wissel van hooggeplaastes (Markus 5:22-23) tot persone uit laer stande (Markus 10:46-52), mense uit die Jodedom (Markus 1:40-45) en uit die Heidendom (Markus 7:25-30), manne (Markus 8:22-26) en vroue (Markus 5:25-34). Die samebindende faktor van hierdie individue, is hulle geloof en die feit dat Jesus hulle lewe verander het (Markus 2:5, 5:34, 36; 10:52). Hierdie geloof in Jesus word deur Tolbert soos volg beskryf: “a faith that drives away fear and empowers healing. The fruits are not only a return to the created wholeness of their being but also the active and sucsessful preaching ot the Word to others.” (Mark 1:45, 2:12, 5:19-20 1991:81).

Bonhoeffer (1964:231), is van mening dat geloofsgehoorsaamheid die volgende aspekte vervat: “…a life of continuous certainity in things not seen, and of total security in the love of God. Faith is the essence of all true discipleship”. Tolbert verklaar verder: “those healed do not desire honor, fame, power or glory; instead, they mostly arise anonymously out of the crowds, often act unconventionally (Mark 527-28; 7:27-30; 10:47-48), and than go their way, proclaiming the gospel to others” (1991:81). Na hierdie groep word verwys as volg: “this productive response to the Word”.

Volgens Tolbert (1991:82), is Jesus Christus, die sentrale karakter in die Markus-evangelie. Behalwe in twee gedeeltes in die evangelie, naamlik: die dood van Johannes die Doper (Markus 6:14-29) en sy eie dood en begrafnis (Markus 15:40 – 16:8), is Jesus sentraal in elke deel in die Markus-evangelie. Jesus is die Evangelie. Jesus het nie net alleen die nodige voorskrifte en voorwaardes gestel vir navolging aan God die Vader nie, maar daardeur het Hy die voorbeeld (deur vervolging, lyding en die kruis) vir al sy navolgers gestel, in afwagting dat die Koninkryk van God finaal sou inbreek in die bestaanswerklikheid van destyds. For Mark, Jesus is the divine Son who is sent out by God to bring the message of the coming near of God’s Kingdom”, aldus Mary-Ann Tolbert (1991:82).

Met in agneming van die verskillende sienings en standpunte van die genoemde geleerdes (bo vermeld), is Markus se doel met sy evangelie om nadruk te plaas op Jesus Christus, die Messias, sy lewe en optrede, maar ook die feit dat dit die kerk oproep tot ware navolging en dissipelskap van Jesus Christus.

3. 2. Gevolgtrekking

Rhoads (1988:83-93) neem bekering as die vertrekpunt ten opsigte van ware dissipelskap. Eers wanneer daar ‘n ‘n bewustelike besef kom wie Jesus is (Christologie), word ‘n groter appèl tot die kerk en Christene gerig tot ware dissipelskap en navolging. Tolbert verklaar dat bekering opgevolg moet word met karakter- en integriteitsbou van die gelowige in die vergestalting van ware dissipelskap. Karakterbou en integriteit word gevorm deur ‘n voortdurende transformering, sê Rhoads. Dit sal egter nie ‘n maklike proses wees nie, want die Markus-evangelie wys ons daarop dat dit kruisdra en selfverloëning vereis. En by hierdie punt ervaar mense gewoontlik ‘n geloofskrisis ( Markus 8:35-38). In hierdie geval is op ‘n ander plek in hierdie studie uitvoerig gewys op Tolbert (1991) se standpunt ten opsigte van die verskillende response van mense op Jesus en die evangelie.

Hierdie verskillende response plaas die kerk vierkantig voor ‘n geloofskrisis en veral voor ‘n keuse- making tussen theologia crucis (teologie van die kruis) en theologia gloriae (teologie van verheerliking), met ander woorde: “om die dinge van God te bedink of die dinge van mense” (Markus 8:33) en “…vir My en die evangelie” (Markus 8:35). David Rhoads wys ons met reg op hierdie duidelike onderskeiding tussen theologia crucis en theologia gloriae (Markus 8:33) in sy verklaring van die negatiewe en positiewe karaktertrekke en standaarde rondom dissipelskap en navolging. Positiewe response lei volgens Rhoads tot (vocatio) diens (Markus 8:38) in die wêreld, met ander woorde, om Jesus na te volg en na te leef in al die samelewingsverbande. Breytenbach (1992:32-33) wys op sy beurt na die missionêre aard en ekumenisiteit van die kerk in die wêreld, as logiese uitvloeisel tot ware dissipelskap.

3. 3. Vertrekpunte vir Christelike karakterbou.

Stephen Fowl & Gregory Jones (1991) verklaar dat die kerk ‘n morele en teologiese beoordelingsraamwerk moet ontwikkel om vanuit die evangelie van Jesus Christus, geloofwaardige onderskeiding te maak waaraan die kontemporêre en alledaagse lewe gemeet moet word. Om dit te kan doen, benodig Christene die nodige vorming en transformering van karakter en daarmee saam ook ‘n nuwe stel veranderde gewoontes, norme en waardes. So ‘n proses se vertrekpunt word gevind in:

3. 3. 1. ’n Lewe voor God (Coram Dei).

Gustafson (1961:4) maak ‘n onderskeiding ten opsigte van die rol wat die evangelie in die Christelike lewe inneem, naamlik: “a revealed morality and a revealed reality”. “A revealed morality” behels dat die Bybel die finale bron vorm waaruit fenominale en lewensbelangrike besluite geneem kan word, veral na aanleiding van sekere bestaande wette, gebooie, voorskrifte en persepsies in die evangelie self. “A revealed reality” behels dat die Bybel nie as finale bron gebruik kan word om sekere besluite te neem nie, aangesien daarin geen bindende morele wette en gebooie gevind kan word nie. Eerder behoort die sosiale konteks as basis gebruik te word ten opsigte van bepaalde besluitneming. Daar is egter ook ander geleerdes wat beweer dat die Bybel nie voorskriftelik moet wees in besluitnemings of die bepaling van finale antwoord vir morele reëls, beginsels, waardes en norme nie, maar dat dit eerder net as verwysing / bron gebruik moet word om lig te werp op die sosiale- en historiese konteks van die destydse lesers.

Gustafson (1961:8-12) maak ook nog ‘n verdere onderskeid tussen ‘n sosiale gemeenskap en ‘n Christelike gemeenskap. Volgens hom is die Christelike gemeenskap “a community that creating human relatedness which is a consequence of the impact of Jesus”. Die evangelie is volgens hom die gesag en norm vir die Christelike gemeenskap. Die lewe van die kerk word gevorm en gereguleer deur die verkondiging en interpretasie van die evangelie. Jesus en die evangelie is norm, en bepaal die standaard en kwaliteit van die geloof. Die praktiese uitlewing van die geloofsverhouding en die aanbidding van die kerk word deur Jesus en die evangelie bepaal.

Die evangelie is nie net bepalend en vormgewend ten opsigte vir die kerk nie; dit vertel ons wie Jesus is (Markus 8:27-29) en hóé ons as kerk in verhouding met Jesus en die evangelie moet leef. Die evangelie help gelowiges en die kerk om geloofwaardig voor God te leef (Coram Dei) in die lig van die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

Christene word immers in die Bybel opgeroep om in die wêreld en in die geskiedenis verantwoordelik te lewe voor die aangesig van God, dit wil sê Coram Dei, verklaar Koopman & Vosloo (2002:82). Die evangelie is vir die kerk die enigste maatstaf vir die vorming van waardes en moraliteit. Dit bepaal ook die belydenisgrondslag en bied die teologiese insigte vir die lewenswandel aan die kerk in die gewone alledaagse lewe.

Koopman & Vosloo (2002:122) waarsku egter die kerk om nie die Bybel te lees in ‘n ‘n private, individualistiese en afstandelike sfeer nie. Om hierdie rede bepleit Fowl & Jones (Reading in communion 1991) vir ‘n omgang met die Bybel wat dit bevry van die aannames van ‘n individualistiese verbruikerskultuur. Die moreel-transformerende krag van Bybellees word immers versluier as die kerk nie die aannames van sekere modernistiese interpretasies van die evangelie uitdaag nie. Die Bybel kan ook maklik ‘n geslote wêreld word waarin ons as individu ons eie stem terugvind. Op hierdie wyse lees ons dan maklik die Bybel vír ons, maar hoor dit moeiliker as ‘n woord wat téén onsself ingaan. Ons moet toelaat dat die evangelie van Jesus Christus ons uitdaag, die evangelie moet ook vir óns bevraagteken. Op hierdie wyse ontwikkel die kerk die openheid om te hoor, en vanuit dié hoor te leef. Die evangelie is ‘n boek wat nie vra om net gelees of gehoor te word nie, maar om bowenal gehoorsaam uitgeleef te word.

3. 3. 2. Die kerk moet met wysheid die evangelie lees, hoor en leer om sodoende in staat te wees om geloofwaardig voor God te kan leef.

Om ‘n Christen te wees, beteken om as ‘n nuwe mens te lééf (2 Korintiërs 5:17), met ‘n nuwe identiteit en om ‘n nuwe wêreld tot stand te bring. Hierdie nuwe wêreld staan in teenstelling met die huidige vervalle wêreld waarin integriteit en geloofwaardigheid ‘n probleem geword het. Die kerk moet die draer wees van hierdie nuwe wêreld. Om dit te kan wees, moet Christene “geleer” (Markus 8:31) word om gestalte te gee aan hierdie nuwe wêreld.

Die sondige wêreld met sy gewoontes moet afgeleer word, maar ook dit wat verkeerd is aan die ou wêreld, moet gediagnoseer word om te verstaan waarom dit korrup en verkeerd is. Onderskeidingsvermoë is dus onontbeerlik om te verstaan wat die wil van God vir die kerk is, vir die hede en die toekoms. Ons sou in hierdie verband ook die woord “wysheid” kon gebruik. Fowl & Jones (1991:32-33) sê dit is ‘n lewenslange leerproses om hierdie onderskeidingsvermoë te ontwikkel, en vra ook vir afsondering (”separate space”). Die belangrikheid van “ruimtes” word benadruk, want in hierdie “ruimtes” word mense se uitkyk of visie geslyp en gevorm om reg te kan onderskei (Matteus 6:22). In hierdie vorming van die onderskeidingsvermoë speel die kerk of geloofsgemeenskap ‘n deurslaggewende rol.

Nog ‘n doel met die afsondering is om die karakter as dissipel van Jesus Christus te vorm. Die kerk se karakter en lewe moet ‘n ooreenkoms vertoon met die van Jesus en die evangelie. Fowl & Jones verklaar: “A well formed character is crucial to a Christian’s ability to live faithfully in the various contexts in which they find themselves” (1991:25).

Die Christelike gemeenskap is die konteks waar Christene leer om die evangelie te verstaan; die konteks waar die evangelie lewens transformeer en waar Christene geleer word om hul lewe in te rig volgens die evangelie. Die evangelie is die “kanon” waardeur morele beoordeling geskied ten einde met integriteit en geloofwaardig voor God te leef as verantwoordelike Christenmense en as burgers van die samelewing. Diegene wie se lewe nie verander is nie of gevorm en getransformeer is deur die evangelie nie, is dikwels nie in staat om geloofwaardig te kan lewe of om Skrifgefundeerde keuses te maak wat eties en moreel korrek is nie. Aan die anderkant is dit nie heeltemal korrek om aan te neem dat net bekeerde mense, wie se karakter deur die evangelie gevorm en getransformeer is, altyd in staat is om die Skrif reg te verstaan, korrek uit te leef en uit te voer nie. Daar is voortdurend ander invloede uit die konteks, kultuur, sondige geaardheid, politieke- en ekonomiese aanwysers, verandering in sosiale omstandighede wat kan inwerk op bekeerde mense se skrifverstaan en skrifuitlewing. Dit is wat ons tans ervaar met en in die integriteitloosheid van die een-en-twintigste-eeuse kerk as gevolg van die invloede van die modernistiese denke en postmodenistiese strominge.

Die kerk, moet mede-gelowiges help om die dinge te kan onderskei wat ons morele beoordeling ondermyn en die frustrasie wat die uitleef van ‘n lewe voor God verhinder. Hóé die kerk in die wêreld gaan leef, is die gevolg van hul Bybelinterpretasie. Die Bybel verskaf die boodskap vir die kerk in sy stryd om geloofwaardig voor God te leef. Christelike karakter kan nie gekoop word of aangehang word na goeddunke nie, maar word verkry deur dissipline, lering, toerusting, skoling in woord en daad vanuit die kanon van die kerk, die evangelie van Jesus Christus. Met die kennis van Jesus en die evangelie behoort Christene ook die wêreld (wat in verset is téén God, wat ook deel is van die skepping van God, waarnatoe Jesus gestuur is) te kan beoordeel. Die wêreld is die plek waar sosiale, politieke en ekonomiese konflikte en teenstrydighede voorkom. In die Westerse wêreld word gepraat van individualisme, rasionalisme, bestuursvermoë, modernisme, postmodernisme, materialisme, burokrasie, politieke diskursiewe praktyke, ensovoorts. As kerk bestaan en leef ons in hierdie wêreld. Die konteks moet gediagnoseer en analiseer word, en die bevindings moet voortdurend aan die evangelie getoets word.

Die wêreld kan nie vir die kerk die aanwyser wees van moralisering, waardebepaling en etiek nie. Die kerk se primêre taak is om die wêreld te analiseer en te diagnoseer ten einde geloofwaardig te lewe voor God in die lig van die evangelie. Die kerk beoordeel nie net die wêreld en die samelewing nie, maar ook hulleself, veral met betrekking tot die wyse waarop die kerk as verantwoordelike burgers lewe en wandel in die wêreld. Kerke is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Die wêreld lees Christene in hul lewenswandel en daag hulle uit om ‘n verskil te wees. James McClendon sê: “The line between church and world passes right through each Christian’s heart” (1991:47). Die wêreld het ‘n geweldige impak en effek op die lewe van Christene en die kerk. Die kerk moet dus waaksaam wees vir die gevaar van kompromieë, aangetrokkenheid en wêreldgesindheid. Die kerk behoort ‘n alternatiewe lewe en wandel na te hou vir die wêreld. Die kerk behoort sy lewe, waardes en praktyke voortdurend krities aan dié van die wêreld en ander Christelike gemeenskappe te evalueer. Hierdie transformasie en verandering behoort ‘n lewenslange proses te wees onder leiding van die Heilige Gees.

3. 3. 3. Christene moet leer om mense met karakter te wees.

Die kerk kan so maklik vasgevang word in historiese debatte ten opsigte van die betekenis en bedoelings van die Skrif vir die destydse en huidige konteks. Die vroeë kerk het probeer om vir hulle metafore te formuleer en analogieë op te stel om die verband te lê tussen hulle eietydse konteks en hulle “kanon” sodat hulle daaglikse lewe daarvolgens ingerig kan word. Daar is vandag in die een-en- twintigste-eeuse kerk ‘n dringende behoefte om in ‘n taal, metafoor en kategorie te praat en te preek, waardeur Christene gehelp kan word om te leef as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is; mense wat in Christus Jesus se dood gedoop is en wat dood is vir die sonde. Die kerk word uitgedaag om die evangelie te verklaar in die lig van die spesifieke konteks en situasie waarin Christene hulle daagliks bevind. Op hierdie wyse kan Christene geleer en gehelp word om mense van karakter te wees, sodoende kan die Christelike gemeenskap en die kerklike lewe herstel word.

Één groot aanklag teen die kerk is die gebrek aan pathos. Kerke het volgens Robert Bellah (1985:71- 75) “lifestyle enclaves” geword, met ander woorde, plekke wat deur mense besoek word, as gevolg van die ideale en ambisies wat hulle met mekaar deel, maar waar die beginsels en oorspronklike kerklike gemeenskap ontbreek.

Die bestudering en lees van die evangelie en ander kerklike tradisies bring mense bymekaar uit; daarom behoort dit die één gemeenskaplike fokus te wees van alle gelowiges en nie net van enkele onderskeie beroepe, motiewe, belangstellings of groepperings nie.

Daar is baie mense wat die genade van God buite die kerk probeer vind en tevrede is met ‘n vlak dissipelskap en navolging bo ‘n Geesvervulde lewe, wat binne die kerk opgebou kan word. Diesulkes vrees om by ‘n kerk aan te sluit, want die kerklike byeenkomste ontaard dikwels in blote kulturele refleksies van individue of sekere kollektiewe groeperinge.

3. 3. 4. Hernieude karakter-bekering vir kerke en Christene.

Na aanleiding van Jakobus 4:4: “Weet julle nie…dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is?” behoort kerke en Christene ‘n hernieude karakter-bekering te ondergaan. Dit geskied ondermeer soos volg:

3. 3. 4. 1. Deur die vervanging van één lewenswyse, naamlik die van die wêreld met dié van Jesus en die evangelie.

Jakobus karakteriseer die gesigte van, wêreldliefde soos volg: rusie en twis onderling, selfsugtige begeertes wat binne-in die mens woed, bittere jaloesie op iemand anders se besittings wat tot rusie en bakleiery en helaas tot moord lei (Jakobus 4:1-3). Dit alles openbaar nie hemelse wysheid van bo nie, want wysheid van bo is sonder bybedoelings, vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg. Dié tipe wysheid bring jou in die regte verhouding met God en dit kan gebruik word om vrede te maak. Daarteenoor staan die aardse, sinlike en demoniese wysheid wat vol naywer en selfsug, wanorde en allerhande gemene dade is (Jakobus 3:13-18).

Die wêreld word volgens Johnson (1985:166) beskryf as: “a system of untramelled desire and arrogance”. Vir die kerk en Christene is ‘n terugdraai en ommekeer nodig, met ander woorde ‘n

re-oriëntasie van ‘n mens se hele bestaan tot God en ‘n wegdraai van die dinge wat die mens van God skei. In hierdie verband praat Rhoads (1988:83-93) van bekering en werklike transformasie. Om vriend van die wêreld te wees, beteken vir Jakobus ‘n vyand van God. Dit beteken om dinge te doen op die wyse waarop die wêreld dit doen en om jou identiteit te definieer en te omskryf in wêreldse terme.

Dis om opgeneem te word in ‘n verkeerde perspektief van dinge en gevange gehou te wees in ‘n duiwelse houvas en magsgreep. Selfsugtige begeertes lei tot morele blindheid. Dit kategoriseer die mens in terme van wie jy is en na aanleiding van wat jy besit. Dit veroorsaak sondige kompetisie met andere in materiële dinge soos besittings en bates.

Die “SELF” staan in die middelpunt van die lewe. Hierdie tipe lewenstyl lei tot uitsluiting, eliminering en marginalisering van andere en die self. So ‘n lewenstyl ondermyn ook die groei en vitaliteit van die kerk en mede-gelowiges. As die kerk geloofwaardige dissipels van Jesus Christus wil wees, is dit absoluut nodig dat die standaarde en karakter van die wêreld verwerp en verruil moet word en is ‘n bekering tot Jesus en die evangelie van absolute belang. Die enigste alternatief is om soos Abraham, ‘n vriend van God te wees (Jakobus 2:23). Die kerk se lewe, optrede en wandel moet dien as respons en getuienis van ‘n vriendskapsverhouding met God. Christene kan en mag nie dubbelhartige mense wees nie.

Die proses om van die wêreld na Jesus en die evangelie in woord en daad te bekeer, vereis ‘n lewenslange proses, vol van toewyding en volgehoue deursettingsvermoë. Hierin vervul die Christelike gemeenskap ‘n sentrale rol. Die Christelike gemeenskap moet gelowiges help om ‘n vriend van God te word en te bly. Dit gebeur alreeds by die doop in die Naam van die Drie-Enige God dat mense in die liggaam van Christus opgeneem word. “If we are to become faithful disciples, we need to reject the standards of the “world” and reorient our life toward God. We must refuse to allow the standards of the “world” to define our lives and our communities”, verklaar Fowl & Jones (1991:69).

3. 3. 4. 2. Deur die beoefening van gasvryheid (hospitality).

Koopman & Vosloo (2002:101) is van mening dat die kerk ‘n besondere rol kan speel vir morele oriëntasie as daar meer gasvryheid in die kerk, maar veral in die gesprekvoering sou wees. By gasvryheid gaan dit oor die oopheid / openheid vir die ander en andersheid – vir die vreemdeling en die vervreemde. Die eie siening of standpunt moet nie gasvryheid beperk en gesprekvoering stol in die kerk nie, maar ‘n openheid moet gekweek en ontwikkel word om by andere te leer, om saam met