• No results found

In hoofstuk 2 word ‘n uitgebreide eksegeties en teologiese verkenning gedoen ten opsigte van Markus 8:27-9:1 wat die hart of klimaks in die Markus-evangelie vorm, veral met betrekking tot

dissipelskap. Na Petrus se belydenis oor Jesus as die Messias (8:29) kom Jesus se identiteit gaandeweg op die spel. Jesus se roeping word nou duidelik na vore gebring deur Homself. ‘n Nuwe fase begin waarin Jesus sy dissipels leer oor sy lydensweg en die implikasies wat dit mag inhou vir almal wat Hom wil navolg. Drie teksgroepe of perikope gaan spesifiek ondersoek word, naamlik:

2. 1. Markus 8:27-30: Die belydenis van Petrus.

Hierdie teks is vir die skrywer van absolute belang om die probleem van dissipelskap te help aanspreek. Die teks se vertrekpunt begin by die identiteit van wie Jesus is. Diegene wat hulle verbind aan hierdie belydenis van die identiteit van Jesus Christus, verbind hulle daarmee ook saam aan die weg van ware dissipelskap. Hierdie weg vra van sodanige volgelinge ‘n bepaalde lewenstyl wat uitstaan in karakter en integriteit en anders is as die lewenstyl van diegene wat nie vir Jesus wil navolg nie.

Die verdere belang van hierdie teks word gevind in die feit dat dit ‘n antwoord kan bied op die probleem van dissipelskap in die kerk van die een-en-twintigste eeu. Dit daag die kerk uit tot ‘n besliste keuse en belydenis oor Jesus. Hierdie teologiese oortuiging loop uit op ‘n lewenstyl wat dissipelskap heet. Dissipelskap vra prysgawe. Hierdie prysgawe loop weer uit op die skeiding van ‘n keuse: “die dinge wat God wil hê en “die dinge wat mense wil hê” (Markus 8:33).

2. 2. Markus 8:31-33: Jesus kondig vir die eerste keer sy dood en opstanding aan.

Vir die skrywer is hierdie verse van belang vir die studie oor dissipelskap omdat hierdie verse die kern, die hart, vorm in die verhaal. Die grootste uitdaging in hierdie verse is dat die navolger van Christus dieselfde weg van lyding en vervolging soos Jesus kan ervaar, indien hulle die keuse uitoefen om Jesus na te volg. Jesus “leer” die dissipels oor die onafwendbaarheid van sy lyding en dood aan die kruis. In hierdie verse val die lig baie skerp ook op die implikasies wat Jesus se lydensweg vir die dissipels sal inhou. Die gedeelte maak ook melding van Petrus se reaksie op Jesus se lydensweg-aankondiging. Dit is ‘n duidelike aanduiding van die misverstand en die gebrekkige insig oor Jesus se messiaanskap. Die spanning tussen die twee sienings of denkstrome op die reaksie op die lydensweg word deur Markus aan die lig gebring, naamlik: ”om te dink aan wat mense wil hê” (vers 33c) en “aan wat God wil hê” (vers 33b).

Volgens die skrywer verteenwoordig Petrus se reaksie op die lydensweg-aankondiging van Jesus, dié van baie Christene in die kerk van die een-en-twintigste eeu. ‘n Keuse vir Christus vra ‘n lewenstyl wat prysgawe vra. Indien die navolger van Christus nie die totale koste vooraf bereken het nie, kan dit lei tot ‘n integriteits-en karakterprobleem by Christene, wat immers die probleem is in die kerk van die een-en-twintigste eeu. Hierdie integriteits-en karakterprobleem van baie Christene het gelei tot die moraliteitskrisis en die verbrokkeling van die morele basis in Suid-Afrika. Die verskillende gedaantes van hierdie moraliteitskrisis in Suid-Afrika word ontvou op alle terreine van ons menslike bestaan. Dissipelskap vra ‘n prysgawe wat onberekenbaar vir die navolger van Christus is.

2. 3. Markus 8:34 - 9:1: Voorwaardes en eise om Jesus te volg en vermelding van die eindoordeel.

Die prysgawe vir dissipelskap word in hierdie verse uitgespel en verduidelik. Twee belangrike voorwaardes vir dissipelskap word genoem, naamlik “seflverloëning” (vers 34) en “kruis opneem” (vers 34). Christologie en pastoraat kom ook sterk in hierdie verse na vore. Markus wil deur hierdie verse die kerk van die een-en-twintigste eeu sterk pastoraal bemoedig, dat die lyding wat verbonde is aan dissipelskap, verbygaan en beperk is, aangesien die Koninkryk van God met krag sal deurbreek.

Volharding skep ‘n nuwe geloofwaardigheid en integriteit in die wêreld. Deur hierdie verse probeer die skrywer wys op die verskil tussen diegene wat ‘n theologia gloriae verkies, naamlik eie-belang, selfliefde, behoud van eie lewe, met ander woorde, die uiterste waartoe postmodernisme in staat is, en die theologia crucis, naamlik besittings en werk opgee, familie verlaat, leefwyse prysgee ter wille van Jesus en die verkondiging van die evangelie aan alle mense (Mark.8:35).

Bonhoeffer (1964:233-234) verklaar: “…our love for Jesus must be so unhesitatingly first that our love for those who are nearest and dearest to us is as hatred in comparison. No one can have equal claims to our loyalty and allegiance with Jesus Christ. There can be no compromise and no conditional surrender.” Jesus en die evangelie bied antwoorde vir die politiese, ekonomiese en die sosiaal- maatskaplike terreine van die menslike bestaan. Die kerk se totale lewe behoort ‘n antwoord van Jesus en die evangelie aan God en die medemens te wees. Dit kan alleen gebeur wanneer Christene bevry word van die modernistiese selfgenoegsaamheid en die postmoderniese lewensgevoel. Die antwoord daarop vir die skrywer is dat die kerk in die een-en-twintigste eeu sy teologiese oortuiging sal herontdek in Jesus Christus en die evangelie en dat hierdie ontdekking ook sal lei tot ‘n veranderde lewenstyl by die Christene, naamlik dissipelskap. Op hierdie wyse sal daar morele herstel in Suid- Afrika kan kom.

3.In hoofstuk 3 poog die skrywer om die leser bloot te stel aan ‘n Suid-Afrikaanse kontekstuele verkenning waarin die uitdaging vir die kerk gevind word, met betrekking tot dissipelskap. Die skrywer wys in hierdie afdeling op die spanning tussen die twee tipes van kerkwees en dissipelskap wat ook deur al die eeue gefunksioneer het, naamlik : “…want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (Markus 8:33).

Hier word veral gewys op die bydraes van Richard Niebuhr: (Christ and Culture 1951), Søren Kierkegaard se stryd met die “massas” ( in Smit 1992:98), David Rhoads: (The Challenge of Diversity 1996:83-94) en Mary-Ann Tolbert: (“Sowing the Gospel” in Kingsbury 1991:71-80).

Die afdeling word afgesluit om die dringendheid te beklemtoon dat die kerk weer sal moet nadink oor die teologiese basis van sy lewenstyl, ten einde dit in lyn te bring met Jesus en die evangelie sowel as met die lewenstyl wat ware dissipelskap heet. Die kerk word opgeroep om verantwoordelike Bybelinterpretasie te doen met betrekking tot dissipelskap. Vir hierdie studie word ook verwys na die werk van Stephen Fowl & Gregory Jones ( Reading in communion. 1991). Daardeur sal die skrywer poog om die refleksie aan te toon op die verhouding tussen Teologie, Christologie (belydenis) en Etiek (lewenswandel). Verskillende belangrike aspekte sal aandag geniet, onder andere die regte lees, hoor en verstaan van die evangelie ten einde met integriteit en geloofwaardigheid te kan leef in die wêreld en wat dit beteken om mense met integriteit en karakter te wees.

HOOFSTUK 1.

MARKUS-EVANGELIE: ‘N HISTORIESE-, KRITIESE- EN LITERÊRE