• No results found

2.7 PIDGIN, KREOOLSE EN JARGON

2.7.4 Kreoolse

Daar is groot verskille wat betref ’n enkelsoortige linguistiese definisie van ’n kreools, wat Mühlhäusler (1986:6) in die volgende drie oorwegings saamvat:

1. creoles are regarded as mixed languages typically associated with cultural and often racial mixture;

2. creoles are defined as pidgin languages (second languages) that have become the first language of a new generation of speakers;

3. creoles are reflections of a natural bioprogram for human language which is activated in cases of imperfect language transmission.

Singh (2000:13) definieer ’n kreools as soortgelyk aan die tweede oorweging, soos Mühlhäusler dit in die bostaande definisie uiteensit: ’n kreools is ’n pidgin wat as ’n eerstetaal aangeneem word deur mense wat in ’n pidginsprekende gemeenskap is en wanneer die taal steeds linguisties en sosiaal evoleer (vgl. Bickerton, 1981:2). Die werksdefinisie lui soos volg: ʼn kreools is ’n pidgin wat op ’n klienvoorstelling nader aan die teikentaal as aan die moedertaal lê en as gevolg van meer gestabiliseerde kenmerke as ’n pidgin, deur mense binne ʼn pidginsprekende gemeenskap, as moedertaal aangeneem word (De Wet, 1993:172, 186; De Wet, 1996:168, Mühlhäusler, 1986:6, Oxford dictionaries, 2014, Singh, 2000:13).

Binne ’n gemeenskap wat ’n kreools praat, word onderskeid getref tussen ’n superstraat en ’n substraat wat te make het met die ontwikkeling en vestiging van ’n uitgebreide pidgin tot ’n kreools. ’n Superstraattaal word beskou as die taal van die sosiaal- en ekonomiesdominante groep wat ook in koloniale of ander sosiaal onderdrukte omstandighede gewoonlik op die taal van die kolonialiste dui. Hierdie superstraattaal vorm die leksikale basis van ’n pidgin of ʼn kreools en word om hierdie rede ook die “lexifier language” genoem. ’n Substraattaal verwys op

56

sy beurt na die eerstetaal van die sosiaal- en ekonomies gesubordineerde bevolkingsgroepsprekers (Kouwenberg & Singler, 2008:27; Singh, 2000:3).

Aangesien die sprekers van die superstraattaal vroeër dikwels Europese slawehandelaars was en hul eie taal met ATM’s gebruik het, moes die ATM’s by hierdie Europese taal aanpas ongeag die sosiale afstand en ook vyandigheid tussen die twee sprekergroepe (Singh, 2000:3-4). Sprekers wat deel uitmaak van die substraatsprekersgroep het ook dikwels verskillende tale gepraat en moes met mekaar oor die weg kom, wat tot gevolg gehad het dat ’n hulptaal gevorm is, sodat hierdie groep sprekers van verskillende tale mekaar kon verstaan (Singh, 2000:4). Hierdie hulptaalsisteem word ’n jargon genoem, maar wanneer dit meer stabiel is, ’n pidgin (Singh, 2000:4). Vir kreoolse om te ontstaan, moet die pidgin op verskeie vlakke uitbrei, maar ’n pidgin moet ook as ’n moedertaal aangeneem word (Singh, 2000:7). Die eerste generasie van ’n uitgebreide pidginsprekende gemeenskap wat dié taal as ’n moedertaal aanneem, is kreoolssprekers (Singh, 2000:7).

Die ontwikkelingspad van ’n kreools is belangrik aangesien dit die belangrikheid van konteks aandui wat as verduideliking dien vir sommige van die alternatiewe funksies van SwA en in watter lig hierdie funksies beskou moet word. Die duidelike sosiale verskille tussen sprekers van die superstraattaal en dié van die substraattaal dui op die moontlikheid dat wanneer ’n superstraattaalspreker, in hierdie geval die AM, SwA napraat, die ATM hierdie verskynsel moontlik as spottend of affronterend kan ervaar. ’n Mens sou kon redeneer dat Afrikaans slegs die superstraattaal voor 1994 was en dit daarom nie meer ’n relevante oorweging is nie, maar Jansen (2010) lig uit dat die handhawing van verhoudings tussen AM’s en ATM’s beïnvloed kan word deur wat hy “knowledge in the blood” noem. Hierdie “kennis” en dus ook ervaring of ’n gevoel van vyandigheid wat deur politiese of ander bande meegebring is, word deur geslagte onderhou en is om hierdie rede steeds in die hede ’n relevante oorweging (Jansen, 2010). Tydens Hewitt (1986) se studie oor die verhouding tussen swart en wit adolessente in ’n stedelike omgewing, bepaal hy die impak wat die kreools London Jamaican, wat deur swart Londenaars gebruik word, op die taal en kultuur van jong wit sprekers het. Hewitt (1986) tref hier onderskeid tussen “wit” sprekers en “swart” sprekers aangesien hierdie onderskeid van toepassing is op die spesifieke geval wat hy bestudeer. Hierdie studie toon ooreenstemmende eienskappe met die bestudering van die napraat van SwA deur AM’s. Tydens sy studie bevind hy dat die wit jeug soms van kreoolse woorde onder mekaar gebruik maak (Hewitt, 1986:127). Die swart kreoolssprekers beskou hierdie verskynsel nie as affronterend nie aangesien die kreoolse woorde geïntegreerd is in die algemene taalgebruik van die jeug (Hewitt, 1986:162- 170). Hewitt (1986) se studie dui daarop dat die moontlikheid wel bestaan dat die gebruik van kreoolse of pidgin-woorde tussen sprekers wat dit nie noodwendig hoef te gebruik nie, op taalintegrasie van verskillende tale dui en/of bydra tot taalvariëteit (vgl. 2.6.3).

57

Sprekers gebruik nie die taal om mekaar op enige manier te benadeel nie aangesien die gebruik van ʼn kreools deur wit sprekers bloot die resultaat van taalkontak is en dus die vermenging van taal tot gevolg het (Hewitt, 1986:126-128, 134). Bogenoemde gevolgtrekking dui daarop dat die gebruik van pidgin of kreools deur wit sprekers ’n natuurlike verskynsel kan wees en nie noodwendig ’n verskynsel wat met opset gebruik word om pidgin- of kreoolssprekers in ʼn negatiewe lig te stel nie. Buiten hierdie verskynsel, kan wit sprekers wel ʼn kreools of ʼn pidgin in verskillende kontekste aanwend om bepaalde funksies te vervul (Hewitt, 1986:135).

Ochs (1993:287) beskryf soortgelyke prosesse as deel daarvan om ’n sosiale identiteit te skep: “social identity (is) a cover term for a range of social personae, including social statuses, roles, positions, relationships, and institutional and other relevant community identities one may attempt to claim or assign in the course of social life.” Wanneer ’n spreker só ’n spesifieke identiteitsrol aanneem, kan dit weer met toneelspel geassosieer word wat aan ’n spreker die geleentheid gee om ’n spesifieke identiteit na te boots. Hierdie gebruiksfunksie sluit by jargon aan wat onder meer as ’n meertalige idiolek (“multilingual idiolect”) beskou kan word wat op die samestellingsformaat van ’n individu se jargon dui (Mühlhäusler, 1986:5, vgl. 2.7.5).

Sprekers gebruik soms kreoolse taalvorme juis om die funksie vir die sterk stereotipes aangaande ʼn kreools tot hul voordeel te gebruik deur die funksie van hierdie stereotipe tot hul voordeel te kan benut, bv. om “macho” voor te kom. Die individu assosieer hom met die kultuur wat kreools gebruik of neem kreools aan om sodoende ’n spesifiek geselekteerde vorm van identiteit vir hom-/haar te bewerkstellig. Kreoolse kan meer as een funksie vervul en verskillende funksies kan selfs op ’n gegewe oomblik oorvleuel (Hewitt, 1986:142). Na aanleiding van hierdie eienskappe van ʼn kreools, moet die moontlikheid van meer as een funksie en ook meer as een funksie wat terselfdertyd vervul word, by die alternatiewe funksie van SwA oorweeg word.

Die sosiale strukture van die gemeenskap waarbinne die fenomeen bestudeer word, is belangrik aangesien hierdie strukture weer die rol wat ras en klas speel, beïnvloed (Hewitt, 1986:149). Die verhouding tussen rasse en klasse het ’n invloed op die moontlike funksies wat die gebruik van pidgin tussen AM’s vervul. Hierdie verhouding kan grotendeels aandui of die funksies negatief of positief is, wat weer deur sosio-historiese en histories-politiese faktore beïnvloed word (Chick, 1995:239). Taal word óf met opset gebruik om ’n bepaalde funksie te bereik óf dit is ’n integrale deel van ’n spreker se uitdrukkingsvermoë (Hewitt, 1986:149). Benewens die elemente van kreools wat onbewus in taal geïmplementeer word, bestaan die gebruik van kreools onder wit sprekers uit twee dele, naamlik die strategiese, kompeterende deel wat meer verskuil lê en ook die gedeelte wat sigbaar is en direk met die kulturele gedeelte

58

te make het (Hewitt, 1986:149). Om hierdie rede word kreools as ’n stilistiese middel binne ’n beperkte stel funksies gebruik (Hewitt, 1986:149).

Bepaalde funksies van pidgins kan ook moontlik in die volgende twee subkomponente verdeel word: ’n pidgin kan strategies aangewend word om ’n bepaalde uitkoms of reaksie by die interne en eksterne ontvangers te genereer, of dit kan as middel gebruik word om ’n bepaalde identiteit te skep of te vestig. Weereens is dit belangrik om die moontlikheid van ’n kombinasie tydens die implementering van Hewitt (1986:149) se twee gebruiksdoeleindes betreffende kreools en/of pidgin, in gedagte te hou.

Al gebruik iemand ’n kreools of pidgin om ’n ander te affronteer of te intimideer, dui dit steeds op ’n vorm van identiteitsvestiging. Taal is ten nouste verbind aan ’n bepaalde etniese groep en behels dat bepaalde eienskappe deur die groep se lede gedeel en van geslag tot geslag “oorgeërf” word (Matsuo, 2009:57, 60; Kotzé, 1996:154). Matsuo (2009:66) verduidelik dat die verskil tussen twee tale op grond van grammatikale reëls of leksikale elemente of deur die klanksisteem bepaal word. Volgens hom kan hierdie verhouding soos volg uitgebeeld word:

Fig. 2.3: Skema om die basiese verhouding tussen twee tale of dialekte voor te stel. Aangepas

uit Matsuo (2009:66).

Bogenoemde kan daarom as voorstelling van en op die verskil tussen Afrikaans en ’n Afrikataal toegepas word. Op grond van wat bekend is rakende SwA as ’n pidgin, sou ’n mens SwA as voortspruitend uit hierdie oorvleuelende gedeelte tussen die twee tale kon plaas (Matras, 2009:277; vgl. 2.7.2, 2.9.1, 2.9.3). SwA word as niestandaardvariëteit van Afrikaans bestempel en lê dus “nader” aan Afrikaans as aan ’n Afrikataal. Dit is tóg interessant dat hierdie variëteit eerder aan ATM’s toegeken word as aan AM’s.

59

ʼn Kwessie rakende taaleienaarskap kan ontstaan: Kan die sprekers van ʼn taalvariëteit, of die sprekers van die standaardtaal waaruit die variëteit ontstaan het, eerder op die taalvariëteit aanspraak maak, of speel die selftoeëiening en/of toeskrywing van die eienaarskap van ʼn taalvariëteit die oorwegende rol? Verdere studie in hierdie verband is nodig. Die antwoord op hierdie vrae sou ʼn invloed op ATM’s se reaksie kon hê wanneer AM’s SwA napraat wat weer ʼn invloed kan hê op die funksie waarvoor AM’s SwA sou napraat. Gedeelde of gemeenskaplike “eienaarskap” van SwA waaroor ’n AM en ATM’s oor SwA beskik, mag ’n bydraende faktor wees wat die dinamiese aard van die alternatiewe funksie van SwA betref.

Waar kreoolse gebruik kan word om veral die kontekstuele faktore en kwessies te belig, soortgelyk aan dié van ʼn pidgin, dien die begrip “jargon” verduidelikingsmoontlikhede aan die alternatiewe funksies van SwA.