• No results found

Die napraat van SwA is, in sy uniekheid, nie alleenlik pidgin of jargon nie. Die eerste vlak van verskil tussen ʼn pidgin en jargon kan per definisie aangedui word (vgl. 2.7.2 & 2.7.5). Die begrippe, pidgin en jargon, word in hierdie studie as aanvullend tot mekaar hanteer om die alternatiewe funksie van SwA vas te stel (vgl. 2.7.2). Die napraat van SwA is nog nie behoorlik beskryf nie en dien as veld vir verdere studie.

Nog ʼn rede waarom die bestudeerde fenomeen nie slegs as ’n suiwer jargon hanteer kan word nie, is dat jargon grotendeels uit enkelbegrippe bestaan en nie noodwendig oor ’n reeds bestaande taalstruktuur beskik nie (Nash, 1993:4). Die napraat van SwA is ook die napraat van taal wat meer elemente behels as slegs die leen of skep van ʼn aantal losstaande begrippe. ʼn AM gebruik wel heel moontlik elemente van GpA wanneer hy/sy SwA napraat. Dus word SwA in hierdie studie as ’n pidgin hanteer wat, deur die napraat van SwA, op ʼn spesifieke oomblik ten opsigte van funksie met die funksies van jargon ooreenstem. Die begrippe ‘jargon’ en ‘pidgin’ loop nou saam. ‘Jargon’ en ‘lingua franca’ is selfs vroeër jare as die beskrywende begrippe vir ’n pidgin gebruik, voor die begrip ‘pidgin’ gemunt is (Winford, 2003:268).

Om so akkuraat moontlik die alternatiewe funksies van SwA te bepaal word hierdie twee terme, naamlik pidgin en jargon, gesamentlik gebruik. Die funksies van pidgin sou meer gelykstaande aan die funksies van SwA kon wees en die funksies van jargon meer gelykstaande aan die napraat van SwA. Aangesien die pidgin, naamlik SwA, tydens die napraat van SwA deur sprekers van dieselfde taal gebruik word, moet beide pidgin en jargon se funksies gebruik word om die alternatiewe funksies van SwA te bepaal.

Die moontlikheid dat misverstande tussen sprekers kan ontstaan en ’n funksie om hierdie rede ongeslaagd is omdat ’n verkeerde interpretasie gemaak is, moet nie uitgeskakel word nie. Die doel wat die sender voor oë gehad het deur met die interne ontvanger SwA na te praat, mag deur die eksterne ontvanger (dus die ontvanger wat indirek die boodskap ontvang), verkeerd

63

interpreteer word. Byvoorbeeld, die sender praat SwA na in ’n informele situasie met die doel om humor in ’n saak aan te dui. Die interne ontvanger ervaar dit dalk so en dus het die sender in sy/haar doel geslaag, maar nie volkome nie. In die geval waar ’n eksterne ontvanger betrokke is (dus ’n persoon wat nie direk by die gesprek betrokke is nie), kan dit moontlik vir hom of haar anders voorkom, byvoorbeeld dat die sender met opset die niestandaardvariëteit bespot en dus ook die sprekers van SwA. Die oorsaak van hierdie miskommunikasie is geskoei op sosiale verhoudings uit ’n historiese konteks wat, te midde van veranderde omstandighede, steeds van geslag tot geslag onderhou word.

Die alternatiewe funksies van SwA word om hierdie rede in die bedoelde funksie en die

waargenome funksie ingedeel. Hierdie twee funksies korreleer wanneer die waargenome

funksie en die bedoelde funksie ooreenstem, maar kan ook verskil, byvoorbeeld ’n AM kan SwA napraat met die doel om ’n humoristiese element aan sy/haar spraak te verleen, maar die ATM, hetsy as interne of eksterne ontvanger, kan hierdie funksie anders interpreteer, wat die AM dan in ’n negatiewe lig stel. Die waargenome funksie is dan om te affronteer, teenoor die bedoelde funksie wat oorspronklik humor sou wees.

In die volgende afdeling word die funksies van pidgin en jargon bespreek om sodoende die alternatiewe funksie van SwA te bepaal.

2.8.2 Funksies van pidgin en jargon

2.8.2.1 Moontlike funksies van die bestudeerde fenomeen

Funksie binne taal kan op twee oorhoofse maniere benader word. Funksie kan direk met die interne vorm en struktuur van taal verbind word teenoor die verbintenis tussen funksie en taal in praktyk (Fries et al., 2002:1-2; Halliday, 1973; Newmeyer, 1998). Tydens hierdie studie word funksie soos vanuit die tweede, praktykgerigte benadering gevolg.

Rupp (2013:13-22) dui die volgende funksies en kenmerke aan van die studentepidgin wat deur Ghanese studente gebruik word: dié studentepidgin word gebruik as ’n ingroep-taal. Binne ’n groep kan dit ook die geselekteerde identiteit en solidariteit van die groep versterk (Rupp, 2013:14, 20). Die groep wat hierdie taal besig, onderskei hulle op hierdie wyse van ander groepe wat nie die pidgin kan praat nie (Rupp, 2013:20). Hierdie funksies stem heel moontlik ooreen met die funksies van SwA wanneer AM’s dit napraat. Soos AM’s het hierdie Ghanese studente nie nodig om die studentepidgin te praat nie aangesien hulle van dieselfde etniese groep afkomstig is en selfs nog ander tale ook magtig is (Rupp, 2013:14). Die gebruik van dié variëteit het daarom ’n aanvullende funksie tot individue se taalrepertoire.

64

In Jurgen Jaspers (2004:1) se tesis ondersoek hy die gedrag waaraan die Marokkaanse jeug hulle soms skuldig maak deur te spot en te ondermyn deur middel van hul taalgebruik. Hierdie verskynsel word genoem: om jouself “belachelijk te doen”. Hy bestempel die verskynsel onder meer as ’n vorm van toneelspel. Alhoewel dit nog nie vasgestel is of die fenomeen wat in hierdie studie voorkom uitsluitlik ten doel het om te bespot of te ondermyn of selfs ’n gemengde funksie vervul nie, kan dit beslis ook die ooreenkomstige element van toneelspel behels, aangesien die taalgebruiker buite sy of haar karakter of taalgrense optree en dié van ’n ander taalgebruiker aanneem. Die oorspronklike funksies van so ’n pidgin is om as kommunikasiemedium tussen moedertaalsprekers van verskillende tale en as moontlike handelstaal te dien (Akmajian et al., 2010:294; De Wet, 1996:81 Singh, 2000:2). De Wet (1996:85) verwys ook na die onderskeie taalfunksies soos deur Mühlhäusler (1986:81-82) uiteengesit.

Aangesien pidgins dikwels as ‘funksioneel gereduseerd’ beskou word, neem Mühlhäusler (1986:81-82) die funksies van taal en plaas dit in ’n volgorde soos dit uitbrei tydens die ontwikkelingsproses van ’n pidgin:

proposisioneel/referensieel: die inhoud van die boodskap, die inligting wat uitgeruil word

direktief: om aktiwiteit te bewerkstellig en sodoende iets gedoen te kry, om ander te manipuleer

integrerend: om sosiale bande te stig, die gebruik van taal as aanduider van groepsidentiteit

ekspressief: om gevoelens uit te druk teenoor die boodskap of die gespreksgenote

faties: om kommunikasiekanale oop te hou of rituele daar te stel

metalinguisties: om taal te gebruik om taal te bespreek

poëties: om kreatief met die taal om te gaan

65

Aangesien die funksies aan die ontwikkeling van ’n pidgin gebonde is, is dit nodig om die weg van die ontwikkeling van ’n pidgin aan te dui, asook sommige van hul ander gebruiksname (Mühlhäusler, 1986:5):

jargon pre-pidgin, meertalige idiolek, sekondêre hibried

stabiele pidgin pidgin, basilektiese pidgin, tersiêre hibried

uitgebreide pidgin uitgebreide pidgin

kreools

Fig. 2.4: Uiteensetting om die pad van ontwikkeling van ’n pidgin aan te dui asook die

soortgelyke gebruiksname

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ’n pidgin gewoonlik ’n bykomstige taal is en enige nuwe funksies wat dit vervul in verhouding tot die funksionele gebruik van ’n spreker se eerstetaal, beskou moet word. Die gebruik van ’n jargon, ’n taal wat vir proposisionele en heuristiese funksies gebruik word, het ’n geringe effek op ’n spreker se omgangstaal (vernacular) en word daarom as aanvullend tot ’n taal gebruik (Mühlhäusler, 1986:84). Hierteenoor word ’n pidgin met uitgebreide funksies en struktuur nie slegs as aanvullend tot ’n eerstetaal gebruik nie; dit vervang naderhand die eerstetaal (Mühlhäusler, 1986:4).

Met Mühlhäusler (1986:4, 84) se oorweging van ’n jargon en ’n pidgin wat as aanvullend en later vervangend van ’n eerstetaal gebruik kan word in gedagte, kan die volgende geantisipeer word tydens die empiriese ondersoek: Indien ’n jargon as aanvullend tot iemand se taal gebruik word, of slegs by ’n eerstetaal gevoeg word, is dit moontlik dat AM’s wat SwA napraat dit slegs doen ter uitbreiding van hul individuele taalrepertoire. Indien dit die geval is, word die pidgin, SwA, gebruik om die funksie van jargon te vervul. Van daar ook die sinoniem van ’n jargon, naamlik “meertalige idiolek”.

66 2.8.3 Jargon

Die volgende teoretiese begrippe is deur Mühlhäusler (1986:5) geselekteer as sinonieme van jargon en dui inherent die oorhoofse funksies van jargon aan:

1. Vaktaal/pre-pidgin 2. meertalige idiolek

3. Groepstaal/inklusiwiteit en eksklusiwiteit 4. Voorloper van pidgin/intertaal

Jargon kan op grond van die funksies wat dit vervul in afdelings verdeel of georganiseer word, naamlik die jargon wat as voorloper van ’n pidgin dien, maar ook die jargon wat spesifiek gebruik word met die funksie om inklusiwiteit en eksklusiwiteit aan te dui. Die stelling dat die napraat van SwA ’n pidgin is wat gebruik word om die funksie van jargon te vervul, sou dan op funksie 2 en 3, naamlik ’n idiolektiese, meertalige toevoeging of inklusiwiteit en eksklusiwiteit van toepassing kon wees.

2.9 SWARTAFRIKAANS EN GEPIDGINISEERDE AFRIKAANS