• No results found

Afrikaans as magstaal

2.9 SWARTAFRIKAANS EN GEPIDGINISEERDE AFRIKAANS

2.9.4 Sosio-historiese konteks

2.9.4.1 Afrikaans as magstaal

Taal en politiek speel ’n groot rol in hoe mense die doel van ’n gesprek verwerk en vertolk aangesien politiek deel uitmaak van mense se direkte konteks en dus ook verwysingsraamwerk. Die politiek van ’n land en in hierdie geval, van Suid-Afrika, dien as deel van die burgers van ʼn land se sogenaamde “kollektiewe geheue”. Du Plessis en Du Plessis (1987:ix) verwys in die tyd van hul studie na die “gepolitiseerdheid van die Suid-Afrikaanse samelewing.” Die invloed van die politiek van Suid-Afrika tydens apartheid en Afrikaans, kom duidelik na vore.

Verder beskryf Du Plessis en Du Plessis (1987:xiv) taal as “’n sosiale bron wat gemanipuleer kan word om mense polities te mobiliseer.” Taal en politiek hou dus direk verband met mekaar, wat weer kan deursypel na mense se verbintenis met ’n spesifieke taal. Afrikanernasionalisme het meegebring dat Afrikaans die taal van die onderdrukker geword het, met die gevolg dat dit ook ’n uitwerking op die sekondêre gebruikers van Afrikaans het (Du Plessis & Du Plessis, 1987:14; Steyn, 2014:313-318; 389-393). Hierdie konnotasie kan maklik lei tot veralgemening en stereotipering, wat AM’s tydens die napraat van SwA selfs doelbewus as basis kan gebruik, om sodoende ʼn bepaalde boodskap oor te dra of seker te maak dat die ontvanger die boodskap op ʼn bepaalde manier interpreteer.

75

Die wrywing wat jare terug tussen AM’s en alle andertaliges, veral ATM’s, ontstaan het, word die bepaler van die spreker se bedoeling met die napraat van SwA en ook van die ontvanger se interpretasie van die boodskap (Jansen, 2010). Dit is belangrik om kennis te neem dat Afrikaans eers na 1948 meer in gebruik geneem is en vroeër in ’n groot stryd met Engels gewikkel was (Barkhuizen & De Klerk, 2012:279-280). Die draai teen Afrikaans as “magstaal” het in 1976 begin plaasvind deurdat skoolkinders van Soweto teen Afrikaans as onderrigtaal in opstand gekom het (Barkhuizen & De Klerk, 2012:280). Sedert 1994 staan Afrikaans gelyk aan en maak dit deel uit van die elf amptelike landstale (Barkhuizen & De Klerk, 2012:280).

Die intensiteit van die taalsituasie in Suid-Afrika in die 1980’s, word duidelik uitgebeeld in die enkele punte soos geselekteer uit ’n referaat wat AP Brink (1988:24) geskryf het. Hierdie referaat is saamgestel rakende Afrikaans en bevryding, en dien as voorbeeld van politieke stoornisse, verskille en die gevolg hiervan op ’n taal soos Afrikaans. “Dit is ’n apartheid van die denke om te redeneer dat ’n taal (of enigiets anders) “op sy eie” kan bestaan of “op sy eie” ondersoek of geëvalueer kan word.” (Brink, 1988:24.) Taal dien as ’n poging om die self as individu en as deel van ’n gemeenskap te verstaan en te definieer (Brink, 1988:24). Teks verkeer in gesprek met konteks, die verlede en die hede, en kan nie as losstaande van ’n spreker gesien word nie (Brink, 1988:24).

Toe Europa Suid-Afrika as hul eie opgeëis het, is onderskeid getref tussen “Afrika-inwoners” en “Europese inwoners” (Brink, 1988:25). Brink (1988:25) verwys na hierdie onderskeid as “nie net ’n ‘onskuldige’ teenoorstelling van Europa en Afrika nie, maar ’n gelade onderskeid” aangesien die situasie lojaliteit kan eis teenoor óf die een óf die ander. Verder vestig Brink die aandag op die begrip “Afrikaner” wat nie na iemand met suiwer Europese of Afrika-bloed verwys nie, maar wel na iemand van gemengde bloed (Brink, 1988:26), met die gevolg dat Afrikaners tóg ’n kollektiewe onbewuste het wat weer in taal beslag vind (Brink, 1988:26).

“Ons verkeer in die ironiese situasie dat wat vandag gepropageer word as ‘alternatiewe Afrikaans’ in werklikheid die essensiële Afrikaans is: dit is die establishment se taal – Apartaans, soos dit al genoem is – wat van die spoor af is, wat gerelegeer behoort te word tot die alternatiewe.” Webb (1992:9) verwys verder na die verdelende mag van taal in Suid-Afrika, veral na afloop van die apartheidsera. Afrikaans het ’n sterk simbool van Afrikanernasionalisme geword (Webb, 1992:9). Verder is ’n verband gelê tussen die landstale en die regeringsideologie van hierdie tyd: “Aan die een kant het die Afrikaner se sterk assosiasie met apartheid meegebring dat Afrikaans gestigmatiseer geraak het. Afrikaans word tans in bepaalde belangrike kringe gesien as die simbool van manipulasie, diskriminasie en wit bevoordeling.” (Webb, 1992:9.) Weens die noue verband wat tussen taal, kultuur en bepaalde groepe bestaan, kan taal maklik as manipulerende en diskriminerende middel aangewend word (Webb, 1992:10- 11).

76

Steyn verduidelik dat opstande wat in die sewentigerjare teen Afrikaans as skooltaal plaasgevind het, by swart mense tot ʼn “verskerping van anti-wit gevoelens” gelei het wat weer ʼn “groter wantroue en bitterheid” tot gevolg gehad het (Steyn, 1988:297). Volgens Steyn is die posisie van Afrikaans, gevolglik, ernstig geraak (Steyn, 1988:296). By vooruitskouing oor wat na apartheid met die taalsituasie en spesifiek Afrikaans gaan gebeur, bied Van Rensburg (1992:184) ʼn positiewer blik op dié saak: Een van die vereistes wat demokrasie meebring, behels dat al die tale van Suid-Afrika, as meertalige land, as gelyk beskou word. Op grond van dié benadering, voorspel Van Rensburg (1992:184) dat die tale wat groot hoeveelhede niemoedertaal-sprekers kan akkommodeer, ʼn nuwe funksie gelykstaande aan dié van ʼn lingua franca sou kon verkry. In retrospeksie wil dit voorkom of Afrikaans reeds só ʼn funksie gehad het en steeds het, deur middel van die variëteite SwA en GpA (vgl.2.9.4).

Volgens Van Rensburg (1992:184) sou demokrasie ook kon meebring dat onnodige verskille tussen gestandaardiseerde en ongestandaardiseerde variëteite van ʼn taal verminder word. Sodoende kan sprekers van verskillende dialekte en variëteite “gesamentlike nuttigheid vir die onderling verskillende variëteite” vind waaraan verskillende sprekers met vrymoedigheid kan deelneem (Van Rensburg, 1992:184). Juis as gevolg van die veranderde politiese en taalsituasie in Suid-Afrika, is dit moontlik dat byvoorbeeld AM’s met groter vrymoedigheid ʼn niestandaardvariëteit soos SwA kan napraat en as deel van hul daaglikse omgangstaal kan implementeer.