• No results found

GEVOLGTREKKINGS EN OPSOMMING

In document Alternatiewe funksies van Swartafrikaans (pagina 135-139)

HOOFSTUK 3: EMPIRIESE ONDERSOEK

3.7 GEVOLGTREKKINGS EN OPSOMMING

Ter ondersteuning van stereotipering en stigmatisering as moontlike rede, word die gebruik van GpA teenoor ’n spreker van ’n ander taal soms as medium gebruik om met opset ’n neerhalende effek op die aangesprokene te bewerkstellig. Die persoon word byna geobjektiveer. Daarom kan hierdie neerhalendheid wat binne ʼn geval waar ʼn AM pidgintaal op neerhalende wyse teenoor ʼn ATM gebruik, moontlik oorspoel na die nabootsing van SwA tussen sprekers van dieselfde taal. Dit is moontlik dat stereotipering ’n rol speel, maar dit is ook moontlik dat ’n ander taal, of die naboots van ’n variëteit ter afwisseling en uiteindelik aanvullend tot die taal van die sprekers gebruik kan word.

Die meerderheid respondente het nie die vrymoedigheid om SwA in die teenwoordigheid van ’n swart persoon na te praat nie. Hulle wil nie die persoon affronteer nie. Hulle is bewus van die sensitiwiteit oor die saak, wend dit as hulpmiddel aan, maar slegs in geborge kringe waar die kans skraal is dat ’n Afrikataal-spreker dit sal hoor.

Humor kan betrekking hê op die napraat van SwA self, die sprekers van hierdie variëteit of net aangesien die “ongewone” in ’n maat of die individu se taal na vore kom. Humor moet daarom in kontekstuele lig gelees word. Binne hierdie bepaalde konteks van die napraat van SwA, sou humor eerder op ʼn soort spot kon dui. Die belangrikheid moet wel uitgewys word dat humor nie slegs in hierdie moontlike “negatiewe lig” oorweeg moet word nie, maar dat dit moontlik ook positief gebruik kan word wanneerm AM”s, SwA napraat byvoorbeeld om groepsdinamiek te bevorder.

Al die moontlike funksies van die napraat van SwA moet ook in die moontlikheid van kombinasie beskou word. Hierdie funksies loop dikwels hand-aan-hand. Bepaalde funksies geniet wel prioriteit bo die volgende, afhangend van die konteks. Gelykheid, medemenslikheid en respek is faktore wat in berekening gebring word wanneer besluit word of die variëteit in die teenwoordigheid van ATM’s nagepraat word. Deur nie in die teenwoordigheid van ATM’s SwA na te praat nie, word voorgehou as regverdiging daarvoor dat hierdie variëteit wél gebruik word. Daar is ʼn moontlikheid dat kontak tussen verskillende variëteite as onderafdeling van taalkontak beskou kan word.

133

Sprekers gebruik die napraat van SwA om sodoende ’n meer akkurate voorstelling van ’n situasie waarin ’n individu SwA gebruik het, uit te beeld. Dit wil voorkom of politici ook dikwels deurloop, maar in hierdie geval met BSAE. ’n Magsverhouding dui in hierdie geval op die verhouding tussen die spreker van SwA en die spreker van Gepidginiseerde Afrikaans. Dikwels word gepidginiseerde Afrikaans en SwA gebruik waar ’n werkgewer (AM) met ’n werknemer (gewoonlik ATM) praat. Tydens die empiriese ondersoek word voorbeelde gegee van waar die tipiese magsverhouding met hierdie niestandaard-variëteite, omgekeer word. Die eerste voorbeeld is dié waar die werkgewer se dogter en hul huishulp, beide Afrikaans moedertaalsprekers, met mekaar SwA napraat. Verder word ’n situasie beskryf waarin die respondent en dié se vriende van ’n kuierplek af kom en swart polisiebeamptes hul van die pad aftrek. Die respondent se vriende wat agter in die motor gesit het, was dronk en het SwA nagepraat met die polisiebeamptes. Die respondent het groot angs beleef aangesien sy besef het dat sulke gedrag negatiewe gevolge kan hê. Die AM was in hierdie geval die verleë een in die betrokke magsverhouding.

Mühlhäusler (1986:5) verwys na multilinguistiese idiolek as ʼn alternatiewe term vir jargon aangesien jargon, as voorloper van pidgin, van individu tot individu kan verskil. (Vgl. Ook Mühlhäusler 1986:135-137; vgl. 2.7.4). Hierdie benaming kan ook moontlik as oorkoepelende term gebruik word vir die napraat van SwA deur AM’s. Die rede hiervoor is dat AM’s SwA napraat uit ’n multilinguistiese agtergrond. Hierdie invloed van ʼn multilinguistiese agtergrond bring mee dat verskillende tale en variëteite betrek word by die napraat van SwA en kan van individu tot individu verskil. Dit wil sê dat hierdie verskynsel tóg ook eienskappe van die voorloper van ’n pidgin, dus van jargon, bevat. Die samestelling van die napraat van die vaster pidgin-vorm, naamlik SwA, kan meer struktuur en ooreenkoms aan die napraat van SwA bied. Die fenomeen lê dus moontlik êrens tussen ’n jargon en ’n pidgin en toon ook moontlik ooreenkomstige funksies van beide “elemente”. By die oorweging van ʼn meer spesifieke naam vir die napraat van SwA, sou die term, multilinguistiese idiolek tóg van toepassing kon wees op die napraat van SwA.

Dit is ook ’n idiolek wat in ’n multilinguistiese situasie gebruik word. In hierdie geval is daar geen nodigheid om SwA te praat nie aangesien die sprekers dieselfde taal kan praat, naamlik Afrikaans. Die aard van die gebruik van SwA deur AM’s is nie multilinguisties in die sin dat die direk betrokke partye verskillende tale gebruik en mekaar sodoende moet probeer verstaan nie. Die multilinguistiese gedeelte van hierdie beskrywingsterm kom eerder in by die gebruik/napraat van verskillende variëteite van Afrikaans, naamlik StA en die napraat van die niestandaard- variëteit van Afrikaans, SwA. Daar moet tog ooreenstemmende faktore in beide se multilinguistiese “idiolek” teenwoordig wees sodat hulle mekaar kan verstaan. Die “pidgin”- gedeelte kom in by ’n baie groter hoeveelheid gestruktureerde elemente wat wél meer vas en

134

gevestig is, as ’n “gewone” multilinguistiese idiolek wat op die jargon-fase as voorloper tot ’n pidgin geskoei is. Hierdie struktuur word gebied deur SwA se “algemene” struktuur. ’n Mens sou kon redeneer dat SwA dus die fondament lê waarop die AM’s, met variasie, voortbou wanneer hulle SwA napraat, aandik of net onseker is oor wat die werklike SwA-alternatief sou wees. Een van die kodes wat deurlopend na vore kom, is inklusiwiteit. Hierdie kode is in hierdie geval tweeledig van aard: inklusiwiteit dui enersyds op die situasie waarin SwA deur AM’s gebruik word, met ander woorde grotendeels slegs binne sosiale kringe waar die respondent veilig voel, soos byvoorbeeld binne ’n vriendekring of ’n gesin. Andersyds verwys inklusiwiteit na die effek wat bewerkstellig word, naamlik eksklusiwiteit. Lede wat nie deel van hierdie sosiale groep uitmaak nie, word opnuut uitgesluit. Met ander woorde, die napraat van SwA deur AM’s word eerstens as ’n jargon-taal binne ’n veilige sosiale groep aangewend aangesien inklusiwiteit reeds teenwoordig is. Sodoende word hierdie reeds bestaande inklusiwiteit ook in stand gehou. Die gevolg van hierdie inklusiwiteit, is eksklusiwiteit met betrekking tot mede-AM-sprekers, of ATM’s. Daar is nie genoeg bewyse in die data om die doelbewuste uitsluiting van ander AM- sprekers te bevestig nie. Die uitsluiting van ATM’s kom wel voor, maar in ’n besonder geringe mate.

In sommige gevalle het die respondente redes verstrek waarom mense versigtig is om hierdie variëteit buite ’n veilige sosiale kring te gebruik, veral in die fokusgroep se geval, waar een van die respondente ’n spesifieke voorval herroep (vgl. kode 10) Hier is ’n interessante verskynsel wat die verandering in magsverhouding betref. In die teoretiese bespreking (Vgl. 2.3.4 & 2.9.5) word die klem gelê op apartheid in Suid-Afrika en hoe dit ’n effek het op hoe SwA hanteer is en ook moontlik hanteer kan word wanneer AM’s SwA kan napraat. In die situasie wat die respondent skets, word die situasie omgekeer, naamlik dat die AM’s versigtig is om SwA te gebruik, aangesien ATM’s in die magsposisie staan.

135

Fig. 3.4: Skema om die instandhouding van stereotipering aan te dui teen die agtergrond van

die historiese en politiese agtergrond van Suid-Afrika.

Chick (1995:238) bied ’n skema aan waarin die negatiewe siklus van sosiaalgekonstrueerde diskriminasie aangetoon word. Hiermee saam word in Figuur 3.1 hierbo, ’n skema aangebied wat die instandhouding van stereotipering aandui teen die agtergrond van die historiese en politiese agtergrond van Suid-Afrika. Hierdie skema is belangrik aangesien die polities- historiese konteks van Suid-Afrika ʼn groot invloed het op die aard van en die persepsies rakende die alternatiewe funksies van SwA.

In hoofstuk 4 word hierdie studie saamgevat deur te verwys na wat reeds bespreek is: die relevante teorie tot hierdie studie, hoe die empiriese studie behartig is en ook die gevolgtrekking van hierdie studie.

136

In document Alternatiewe funksies van Swartafrikaans (pagina 135-139)