• No results found

SwA as niestandaardvariëteit van Afrikaans kan deel uitmaak van die individu se taalrepertoire aangesien SwA en GpA reeds sogenaamde filiale van Afrikaans is. Die ATM is, hierteenoor, die spreker wat ook eienaarskap van hierdie variëteit kan eis aangesien hy/sy die eintlike “spreker” van SwA is. Op hierdie manier speel die mate van identiteit en vereenselwiging met die bepaalde niestandaardvariëteit ’n groot rol by die interpretasie en dus ook die geslaagdheid van die funksie (vgl. 2.4.2; 2.5.2; 2.7.4). Die alternatiewe funksie van SwA verkry outomaties ’n nuwe betekenis in die lig daarvan dat die verskil in eienaarskap van hierdie niestandaardvariëteit se hoof bepalende faktor in die politieke konteks lê wat vroeër in Suid- Afrika ’n rol gespeel het (vgl. 2.9.4). Die wyse waarop die historiese politieke konteks van Suid- Afrika na die hedendaagse politieke konteks verander het, moet ook tydens hierdie studie in gedagte gehou word. Die sensitiwiteit wat deur die konteks veroorsaak en meegebring word wanneer SwA deur AM’s nagepraat word, kan tot verdere probleme tussen ATM’s en AM’s lei.

Een van die oorsake van sensitiwiteit wanneer AM’s SwA napraat, is die direkte assosiasie wat tussen ’n bepaalde taalvariëteit en ’n spesifieke etniese groep gemaak word, hetsy deur die groep self of deur ’n ander groep. Wanneer hierdie variëteit dan deur een etniese groep in ’n ligte trant of spottenderwys gebruik word, is dit vir die etniese groep van wie die taal of variëteit wat met hul geassosieer word, nagepraat word, moontlik om geaffronteerd te voel. Die etniese

81

groep wat met opset die taal of variëteit van die ander etniese groep napraat, of dit spottenderwys gebruik, dui ook sodoende die definitiewe verskil tussen die twee groepe aan. In hierdie geval word die definitiewe verskil tussen StA en die “gebroke” SwA versterk wanneer AM’s SwA napraat.

Die alternatiewe funksie van SwA as pidgin kan in teenstelling met die vry “regime” ná apartheid gebruik word, of juis ’n goeie spieëlbeeld wees van hoe sake positief verander het, afhangend van die doel waarmee die spreker SwA gebruik. Vermenging tussen rasse kan vryer gebruik of misbruik van mekaar se taal meebring. AM’s kan SwA, wat eie is aan ATM’s, gebruik as aanvullend tot AM’s se taalrepertoire. Hierteenoor kan AM’s, SwA misbruik om ATM’s doelbewus te affronteer. Taal kan op hierdie manier rassisme aandui (vgl. Alves, 2009). Ferris

et al. (2013:382) definieer rassisme as: “... discrimination or prejudice directed at a person

based on the belief that members of different ‘races’ possess inherited attributes which make them superior or inferior.” Rasse is vroeër in Suid-Afrika onder meer ook volgens taal geklassifiseer (Ferris et al., 2013:381). As gevolg van die apartheidsisteem het mense al hoe meer bewus geraak van verskille tussen rasgroepe en die status wat aan so ’n groep toegeskryf is, wat weer tot rassisme kon lei (Ferris et al., 2013:381). Dit is moontlik dat die effek van apartheid tot hedendaagse rassisme met behulp van taal, kan lei.

Ntshangase (2002:407) se verduideliking van taal is direk van toepassing op die napraat van SwA deur AM’s wat eintlik as nie-gebruikers beskou word: “Languages are not abstract entities but important social and historical phenomena which bind, and sometimes reflect cleavages within, communities. Thus, Iscamtho reflects an urban identity and, at the same time, the social barriers between its users and non-users...” SwA kan ’n samebindende rol tussen die gebruikers van SwA self en die nie-gebruikers speel, of SwA kan skeiding meebring. Die moontlikheid bestaan immers ook wel dat AM’s SwA napraat om sodoende ’n mate van solidariteit tussen AM’s en ATM’s te probeer bewerkstellig. Die geslaagdheid hang wel suiwer af van die ATM se interpretasie wanneer ’n AM SwA napraat. Die geslaagdheid van die alternatiewe funksie van SwA hang af van die mate waarin die bedoelde en die waargenome funksie ooreenstem. Die geskiedenis van Suid-Afrika wat as verwysingsraamwerk dien, speel ’n prominente rol by die geslaagdheid van die funksie.

Die fenomeen wat ondersoek word, is ’n produk en aanduider van verskil:

 deur SwA na te praat toon die AM eksklusiwiteit van ’n etniese groep aan,

 die vestiging van identiteit en daarom ook die verskil tussen die individu wat SwA napraat en die individu wat dit nie napraat nie,

 ooreenkoms tussen individue wat wél SwA napraat wat weer lei tot die eksklusiwiteit van die betrokke individue binne ’n groep,

82

 die moontlikheid van “welsprekendheid” aangesien die akkurate napraat van ’n taal of variëteit ook as uitdaging beskou kan word,

 die aantoon van verskil wat die formaliteit van ’n saak of omstandigheid betref, en

 variasie in die individu se eie taalrepertoire.

Die gebruik van taal met ’n afbrekende bedoeling kan moontlik ’n inherente beskermingsmetode van die self of eie identiteit vorm. Aangesien die individu ’n bepaalde taal of variëteit as voorstelling van sy/haar identiteit beskou, is dit moontlik dat die individu, wanneer hierdie taal of variëteit deur ’n lid van ’n ander etniese groep nagepraat word, hulle direk vereenselwig met die fenomeen (Jansen, 2010; Kotzé, 1996:154-155). Om hierdie rede is die individu en daarom ook die groep met die ooreenkomstige eienskappe sensitief vir die rede vir die gebruik of napraat van die groep se taal of variëteit (Jansen, 2010; Kotzé, 1996:154-155). Wanneer SwA deur ’n AM nagepraat word, moet die “positiewe” moontlikheid van gebruik nie uitgeskakel word nie. Indien ’n AM, SwA bloot as aanvullend tot sy of haar taalrepertoire gebruik, kan dit ook ’n metode wees om ’n bepaalde identiteit vas te stel deur hom of haar met behulp van taalgebruik van ander te onderskei. In beide bogenoemde gevalle sal die spreker ook van inklusiwiteit en/of eksklusiwiteit gebruik maak om sy/haar identiteit uit te beeld.

’n Pidgin word soms ’n hulptaal of “auxiliary language” genoem aangesien dit die kommunikasie in moeilike omstandighede vergemaklik met hulp of bystand. ’n Pidgin beskik oor ’n linguistiese struktuur, alhoewel dit dikwels uit ’n sisteem ontstaan wat linguisties en sosiaal onstabiel is, naamlik ’n jargon (Mühlhäusler, 1986:147; Singh, 2000:2). Dit is moontlik dat wanneer SwA tussen AM’s gebruik word, SwA se pidginfunksies na jargonfunksies verander. Die rede hiervoor kan lê in die konteksverskuiwing van noodgedwonge kommunikasie na sosiaal- spesifieke kommunikasie (Singh, 2000:2). Die napraat van SwA kan byna, net soos ’n pidgin, ook as ’n “hulptaal” beskryf word, maar ook nie in die gewone sin van die woord nie. Soos reeds genoem, dien ’n hulptaal as kruk om kommunikasie, in hierdie geval tussen ’n ATM en ’n AM, te vergemaklik. Die hulpverlening skuif na ’n “hulptaal” met meer pragmaties gedrewe funksies (vgl. 2.3).

Volgens Sebba (1997:16) is daar in wese geen behoefte tussen sprekers wat dieselfde taal of ’n variëteit van ’n taal gebruik, om ’n ander taal tussen mekaar te gebruik nie: “Clearly, two people who both speak one language or dialect – or even different dialects of the same language – have no essential need for any other language in order to communicate with each other. It is only when a common first language is lacking that people necessarily have to find other strategies in order to communicate”. ’n Pidgin kan ook as sosiaal neutraal beskou word: “Pidgins may also have a social advantage, in that because they are no-one’s native language, ‘all speakers are equal’ – there are no native speakers with a ‘superior’ knowledge of the

83

language. Pidgins may therefore be seen as socially neutral, even though they may also have low status.” (Sebba, 1997:17). Hierdie stellings bevraagteken ook die benaming GpA.

Beide hierdie stellings skiet tekort wanneer die napraat van SwA deur AM’s in oorweging geneem word. Sebba (1997) se eerste stelling lê slegs klem op noodsaaklike funksies wat ’n pidgin vervul. Die alternatiewe funksies wat ’n pidgin vervul wanneer twee sprekers van dieselfde taal ’n pidgin gebruik, word inherent uitgeskakel of beskou as minder essensieel. Hierdie alternatiewe funksies dui daarop dat ’n pidgin moontlik meer dinamies van aard is as wat in die literatuur te kenne gegee word. Die alternatiewe funksies van SwA is noodsaaklik vir effektiewe kommunikasie vir die sprekers wat hierdie pidgin napraat. Al is die doel met die napraat van SwA negatief of positief, verkies die sprekers hierdie niestandaardvariëteit aangesien die sprekers hierdie vorm heel waarskynlik op die gegewe oomblik as die mees akkuraat beskrywende opsie geselekteer het uit sy of haar individuele taalrepertoire. Die doel waarmee ’n AM SwA napraat, is daarom nie dat die AM noodwendig genoodsaak is om hierdie niestandaardvariëteit te gebruik nie, maar dat die gebruik daarvan goeie en akkurate moontlikhede bied om die oorhoofse kommunikatiewe funksie te bereik.

In hierdie hoofstuk is die moontlikheid dat ’n pidgin verskuif na dié ooreenkomstig ’n jargon se funksies verduidelik. Wanneer ’n AM SwA napraat, kan dit wees om onder meer inklusiwiteit binne ’n sosiale groep te vestig; sodoende ook eksklusiwiteit buite hierdie groep. Hierdie funksies stem direk ooreen met dié van ’n jargon. Die moontlikheid dat die alternatiewe funksies van SwA ook dikwels gelyktydig ingespan kan word om meer as een doelwit tegelykertyd te bereik moet tydens die empiriese ondersoek in gedagte gehou word.

Pidgins en kreoolse is dikwels meer sosiaal gelaai as wat dit mag voorkom weens die konteks waarbinne ’n pidgin en ’n kreools ontstaan (vgl. 2.7.2, 2.7.4). Om hierdie rede en ook die omstandighede waarbinne SwA ontstaan het, is mense moontlik meer ingestel op en sensitief oor die gebruik van SwA, veral deur sprekers van die superstraattaal, naamlik Afrikaans. “All speakers are equal” (Sebba 1997:17) moet eerder ruimte maak vir: “All speakers are equal, but sometimes perceived as unequal. This perception of equality depends on the context within which the pidgin language is used and with the function that it is to fulfil, borne in mind”.