• No results found

HOOFSTUK 2 DIE GEBRUIK VAN OUTOBIOGRAFIESE TEKSTE AS BRONNE VIR

2.5 ONDERSOEKE NA VROEË AFRIKAANS-NEDERLANDSE OUTOBIOGRA-

2.5.1 Beperkende histories taalkundige benadering tot vroeë tekste

2.5.1.4 Kontak en botsing met ander tale

Die werk van Hesseling, Franken (en later Valkhoff) sorteer onder die kreolistebenadering. Dié taalkundiges oorweeg die moontlikheid dat die taal van die slawe en die Khoekhoen die grootste rol in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het (Den Besten, 1986:189-193; 1987:67-68). Volgens Nienaber is taalbotsing, spesifiek die invloed van krom-Portugees in die slawemond op die Europese taal, die aspek wat die meeste aandag onder vroeë taalkundiges geniet (Nienaber, 1934:42, 44).

Hesseling (1897) meen kontak en botsing met ander tale lei tot die onstaan van Afrikaans. Hy begin met die argivale ondersoek van vroeë Afrikaans-Nederlandse geskrifte wat later meer sistematies deur Franken, Van Oordt en Scholtz aangepak word (Ponelis, 1994:96). Om sy hipotese oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans te staaf, verwys hy na Van Riebeeck se Dagverhaal, die manifes van Estienne Barbier, Kaapse reisverhale (Wikar, Sparrman, Thunberg en Kolbe), H.A. van Rheede se verslag en amptelike Kaapse stukke. Hesseling word as die

wetenskaplike ontginner van die Afrikaanse taalstudie of die grondlegger van die Afrikaanse historiese taalkunde beskou (Bosman, 1928:132; Van der Merwe, 1968:24; Ponelis, 1993:69). Sy

Het Afrikaansch kan as die werklike beginpunt van die Afrikaanse taalkunde beskou word en het

vir die eerste keer Afrikaans prominent onder die aandag van Europese taalgeleerdes gebring (Ponelis, 1996:96; Van der Merwe, 1968:24).

Hesseling (1923:5) neem in sy hipotese vanselfsprekend aan dat Afrikaans uit ʼn Amsterdamse

variasie ontstaan het – die Hollands van die eenvoudige burgers van die sewentiende eeu. Die

snelle ontwikkeling van Afrikaans is te danke aan taalkontak met Maleis-Portugees, ʼn mengeltaal wat volgens Hesseling in die eerste vyftig jaar van die bestaan van die Kolonie “zeer algemeen” in gebruik was, ʼn belangrike seemanstaal en die hoofkommunikasietaal tussen slawe. Hy beskou die nou kontak tussen wit en bruin en die aanraking met Maleis-Portugees as die hooffaktor in die totstandkoming van die Afrikaanse taal (Hesseling, 1923:vii, 24, 32). Al was die omstandighede gunstig vir die totstandkoming van ʼn kreoolse taal, het daar nié ʼn kreoolse taal

ontstaan nie. Hy beskryf Afrikaans as ‘Nederlands wat halfpad bly staan het op die weg om

kreools te word’ (Hesseling, 1923:128). Die invloed van huisgodsdiens en die Statenbijbel, die aankoms van Hollandse vroue en die wit mense se kleurbewustheid tree as remmende faktore in

die proses van taalvermenging op (Hesseling, 1923:59-63).26

Franken (1953) bevorder die studie oor die ontwikkeling van Afrikaans deur sy intensiewe argivale ondersoek na twee hooftipes bronne uit die Kaapse Argief in Kaapstad. Enersyds die taalgebruik van slawe en Khoekhoen, en andersyds die taalgebruik van ongeletterde boere en veldkornette. Hy analiseer kriminele prosesstukke (1672-1772), die briefie van die leerlooier Jean de Pre (2 September 1671), boerebriewe (1775-1825), veldkornetbriewe (1812-1814) en ʼn fragment uit die dagboek van Johanna Duminy (1797) om sy standpunt oor die ontstaan van Afrikaans te stel en Hesseling teen te staan (Franken, 1953:41, 94, 152, 169, 175, 179, 188). Franken skenk ook aandag aan die taalvorme in Wikar se joernaal (1779), Teenstra se brief (1825) en Boniface se geskrifte (1830-1832).

Franken argumenteer dat Hesseling te veel klem plaas op die aktiewe gebruik van Maleis- Portugees deur die wit koloniste (Ponelis, 1993:70; Franken, 1953:9). Franken gaan van die standpunt uit dat die wit mense nie die lingua franca van die slawe oorgeneem het nie – dit is die slaaf wat die taal van die Europeër oorgeneem het en verbrou het. Op grond van die daaglikse, intieme verkeer tussen wit mense en slawe kan die krom-Hollands van die slaaf waarskynlik as

26 Hesseling se ondersteuners was P.J. du Toit (1905), J. Verdam (1902), F. Schonken (1908),

die “korrupterende” invloed op die taal van die Kolonis beskou word. Die slaaf het die taal gewysig en die kolonis het dit by hom oorgeneem. By gebrek aan ʼn normerende onderwysstelsel, is die gebroke taal deur die volwassenes algemeen gangbaar gemaak (Franken 1953:18-19, 25,95 en Scholtz, 1963:275). Op grond van sy argivale navorsing en analise van vroeë bronne verklaar Franken dat die sogenaamde kleurling/gekleurde (aanvanklik gebruik hy die woord “slaaf”) se Afrikaans in die loop van ʼn paar eeue die beskaafde spreek- en skryftaal van die Afrikaanse volk geword het (1953:189,194, 202-203).

Ponelis (1993) gebruik as bronne die dokumente van vreemdelinge wat die Kaap besoek het, VOC-materiaal wat in formele Nederlands geskryf is, asook die gepubliseerde en ongepubliseerde bronne van die Kaapse Taalargief vir ’n uitgebreide sosiohistoriese en linguistiese ondersoek. Hy beskou Van Oordt se versameling as die belangrikste vroeë historiese

Afrikaanse korpus (Ponelis, 1993:72). Syns insiens is die geskrifte van die

veldwagters/veldwagmeesters egter die belangrikste bron van Afrikaans-Nederlandse tekste (1993:45).

Ponelis beskou Afrikaans nie as ʼn sameraapsel van verskillende vroeë Nederlandse dialekte nie (Ponelis, 1994:226-227). Die Amsterdamse dialek is veral van belang omdat baie VOC- amptenare en koloniste uit die stad en die provinsie Holland stam. Afrikaans het nie uit Standaardnederlands ontwikkel nie. Die VOC-amptenare aan die Kaap het gekultiveerde of Standaardnederlands veral as skryftaal aangewend; verder was ʼn hegte sosiale struktuur in die vorm van ʼn sterk kerklike of skoolsisteem afwesig om Standaardnederlands blywend in die Kolonie te vestig (Ponelis, 1993:25, 122; 1999:3).

Die vroeë Kaapse samelewing is aan meertaligheid gekenmerk. Die belangrikste beïnvloedende tale aan die Kaap was Maleis, Portugees en Khoekhoen. Hollands is tot Afrikaans-Nederlands omgebuig deur taalbeïnvloeding en kreolisering (Ponelis, 1994:222, 224). Vreemdelinge van “allerlei pigment en taal” se taalgebruik het tot die redusering van taalvorme gelei (Ponelis, 1999:5, 7, 10-11). Dit kan nie bewys word, soos deur Hesseling aangevoer, dat Maleis-Portugees die algemene omgangstaal tydens die vestiging was nie (Ponelis, 1994:226). In die verband verwys Ponelis na Van Rheede se 1685-verslag waarin hy meld dat die slawekinders in die slawelosie gemaklik Nederlands gepraat het – nie Maleis of Portugees nie. Dit, meen Ponelis, is die vroegste getuienis dat Afrikaans-Nederlands as voertaal die oorhand gekry het (Ponelis, 1999:9; 1993:25-27). Die mag van die VOC en die redelike homogene kerngroep Nederlandssprekende mans moet in dié verband in ag geneem word (Ponelis, 1994:225). Roberge (1994) onderneem ʼn gedetailleerde vergelyking van die Trekkerleier Louis Tregardt se 1823-brief aan die Grahamstadse Heemraad en sy dagboek van 1836 tot 1838 (Roberge, 1994:156). Hy verwys ook na bepaalde taalverskynsels uit die Duminy-dagboek en die

veldwagtersbriewe (Roberge, 1994:61-63; Roberge, 2000:91-92, 95). Roberge (1999:93) meen dat dit belangrik is om databronne volgens tekstipe te ontleed. Syns insiens is die vroeë databronne waaroor Afrikaans beskik baie beperk, heterogeen en fragmentaries (Roberge, 1999:94). Roberge meen die konvensionele interpretasie van die taalgebruik in die Kaapse Taalargief-dokumente en die Tregard-dagboek behoort tersyde gestel te word (Roberge, 1999:99).

Roberge meen Afrikaans kan verbind word met die populêre streeksdialekte wat in Amsterdam en ander sewentiende-eeuse Hollandse stedelike gebiede ontstaan het as gevolg van die toestroming van vlugtelinge uit Frans- en Duitssprekende gebiede na Nederland (Roberge, 1999:87; 2002:79). Hy sluit by Hesseling aan in sy veronderstelling dat Afrikaans gevorm is in sosiohistoriese toestande wat kenmerkend is van die geskiedenis van kreoolse tale (2003:15). Hy beskou Afrikaans egter nie as ʼn ware kreoolse taal nie (Roberge, 1994:13). Aan die Kaap dra Europeërs hulle taal aan hulle kinders oor; terselfdertyd het hulle eie en hulle kinders se intieme kontak met die slawebevolking aan die Kaap daartoe gelei dat eienskappe van die Kaaps- Nederlandse Pidgin in hulle taal geïnkorporeer is (Roberge, 1999:91; 2002:91). Die slawe en Khoekhoen was die agente van taalverandering aan die Kaap waar twee linguistiese strome, die een ontwikkeld en die ander besig om te ontwikkel, mekaar ontmoet en tot verandering gelei het. Linguistiese konvergensie het tussen die onderskeie bevolkings- en sosiale groepe aan die Kaap plaasgevind (Roberge, 1999:106, 168; 2002:99).

Deumert (2004) bestudeer die standaardisering van Afrikaans binne die raamwerk van die sosiohistoriese linguistiek. Sy beskou Afrikaans as die enigste taal met ʼn pidgin- of kreoolse afkoms wat ten volle gestandaardiseer is, en wat daarin geslaag het om sy leksikografiese bron in alle domeine te vervang (2004:1). Op grond van die voortgesette variasie in die historiese rekord meen sy dat Afrikaans stadiger ontwikkel het as wat baie historiese taalkundiges veronderstel. ʼn Verskeidenheid invloede en historiese, kulturele en sosio-ekonomiese toestande van die sewentiende tot die negentiende eeu het die taal gevorm. Afrikaans was voor die standaardisering daarvan in die vroeë twintigste eeu steeds besig om te ontwikkel (2004:9, 19, 41). Deumert sluit by Roberge aan: in haar linguistiese en sosiolinguistiese analise beklemtoon sy die rol wat die vroeë, intense taalkontak en taalkonflik tussen die Europeërs, die Khoekhoen en die slawe in die 200 jaar van Afrikaans se vorming gespeel het (2004:8, 42).

Deumert (2004) se sosiolinguistiese ondersoek fokus op Afrikaans-Nederlandse tekste en die sosiale netwerke van skrywers uit die laat negentiende tot vroeë twintigste eeu. Haar historiese korpus, Corpus of Cape Dutch Correspondence, bestaan uit 350 ongepubliseerde, persoonlike briewe, kennisgewings van afsterwe en die 1903-stemlys en uittreksels uit een dagboek. Die diachroniese dekking strek vanaf 1880 tot 1922 (Deumert, 2004:8, 87-88). Hierdie korpus verskil

van Van Oordt s’n in die opsig dat sy korpus uit half-amptelike briewe en verslae bestaan het (Deumert, 2004:101). Só berig skrywers in dié korpus oor hulle eie of ander se gesondheid:

(40) en hoewel de liewe kind nu niet zo wel is, maar in bed met pijn in de linker zijde ... (Anna De Vries, 11/06/1906) (Deumert, 2004:169).

(41) ik heef nu tog een brief van Edmund Smith uit Barkley gekregen, het gaan met hem en Martha reg goed, ook met Johan en Barend gaat het reg goed ... (B.J. Brümmer, 07/12/1901) (Deumert, 2004:256).

(42) zyn kenders zen gesontheid ... (B.J. Brümmer, 14/10/1904) (Deumert, 2004:214).

Sy stel ook ʼn briewekorpus saam (1923 tot 1924), die sogenaamde Nanny-Letters (Deumert, 2007:222). Deumert se navorsing beklemtoon die waarde daarvan om briewe op ʼn ander manier te ontleed. Hoewel Deumert se tekstuele analise heelwat meer gesofistikeerd is as dié van haar voorgangers, vorm haar werk deel van ʼn tradisie in die Afrikaanse historiese taalkunde wat tot by Franken teruggevoer kan word (Ponelis, 2000:95). Die samestelling van persoonlike korrespondensie uit ʼn spesifieke periode uit die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans in ʼn korpus is seldsaam.

2.5.1.5 Samevatting

Uit die bostaande bespreking van die wyse waarop Afrikaans-Nederlandse databronne aangewend is, blyk navorsers se benadering tot die databronne en die aard van dié bronne. Die ondersoeke deur die genoemde taalkundiges fokus op die linguistiese eienskappe van sewentiende- tot negentiende-eeuse Afrikaans-Nederlandse databronne met die doel om die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans te bepaal. Historiese taalkundiges wou meer te wete kom van die onderliggende spreektaal van die periode; daarom hulle benadering om ou argiefdokumente aan deeglike teksontleding te onderwerp. Franken, Scholtz en ander navorsers het konkrete voorbeelde van vroeë Kaapse taalgebruik ontleed, en uit die skrywers se foute interpretasies gemaak. Daar is dus gevolgtrekkings oor taalgebruik gemaak. Die vroegste historiese taalkundiges, soos Kloeke en ander, het bloot teorieë oor die ontstaan van Afrikaans opgestel sonder om diepgaande taalkundige teksontledings van die databronne te maak (Conradie, 1986:82, 88).

Verder blyk dit dat vroeë navorsers Afrikaans-Nederlandse databronne bloot as instrument ingespan het om hulle eie teorieë oor die ontstaan van Afrikaans te beklemtoon, en ander navorsers se teorieë teen te staan. Die ondersoek na die genre-spesifieke eienskappe van die tekste het agterweë gebly (Conradie, 1980:25).

Die aard en waarde van die data wat ondersoek is, stel bepaalde beperkings. Die vroeë databronne blyk té uiteenlopend, té fragmentaries, té diglossies, en ontoeganklik te wees (Roberge, 1994a:153). Verder belemmer die gebrekkige skryfstyl van die vroeë Kaapse skrywers die interpretasie van gegewens (Scholtz, 1963:38).

Soos onder Afdeling 2.4.1 vermeld, ondersoek navorsers die linguistiese eienskappe in ʼn verskeidenheid tekstipes. Navorsers wend, benewens ander tekstipes, die vroeë en latere briewe (veldwagmeestersbriewe, persoonlike briewe, briewe oor sakeaangeleenthede) as instrument aan om ʼn bepaalde linguistiese doel te bereik. Die ondersoek na die konvensionele tekseienskappe van die outobiografiese dokumente, spesifiek die persoonlike briewe van Afrikaans-Nederlandse briefskrywers van die sewentiende tot vroeg twintigste eeu, is nagelaat. Navorsers se eensydige aanwending van ou brontekste werk beperkend in op ons kennis van hoe briefskrywers hier te lande aan epistolêre konvensies voldoen het, en hoe hulle oor hulle gesondheid berig het.

2.5.2 ANDERSOORTIGE ONDERSOEKE VAN VROEËRE OUTOBIOGRAFIESE