• No results found

HOOFSTUK 3 BUITETALIGE FAKTORE

4.3 BESKRYWING VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG-KORPUS

Volgens Dossena en Del Lungo Camiciotti (2012:11) is korpora belangrik vir historiese taalstudies, en die Anglo-Boereoorlog-Korpus val onder hierdie kategorie.

Daar bestaan ʼn onderskeid tussen algemene korpora en gespesialiseerde korpora. Algemene korpora bestaan uit geskrewe of gesproke data, of beide, en is saamgestel uit baie verskillende tekstipes sodat die korpus die taal of taalvariëteit wat dit behoort te verteenwoordig maksimaal verteenwoordig (Hunston, 2002:14; McEnery et al., 2006:15). Gespesialiseerde korpora wend ’n poging aan om verteenwoordigend van ʼn gegewe domein of ʼn genre (tekstipe) te wees (McEnery

et al., 2006:15; Hunston, 2002:14).

Die eentalige, genrespesifieke korpus wat in hierdie studie gebruik gaan word, bestaan uit epistolêre geskrifte, oftewel briewe. Briewe is ʼn boeiende tekstipe (Dossena & Del Lungo Camiciotti, 2012:11), en die hedendaagse navorser behoort die dokument en sy inhoud met respek te hanteer, aangesien hy/sy daardeur toegang kry tot ʼn ander mens se leefwêreld (Dossena, 2012:28). Martineau (2013:145) beskou familiebriewe as ʼn “frosted window to past communication” wat met ander groot historiese sosiolinguistiese korpora vergelyk moet word.

Martineau beskou geskrewe dokumente uit die verlede dus nié as swak data nie.60

Die taalkundige wat korrespondensie bestudeer, behoort sekerheid te hê oor die soort dokument

wat hy/sy ondersoek: oorspronklike manuskripte, kopieë of ʼn konsep. Kopieë bevat dikwels

tekstuele veranderinge, soos swak spelling of grammatikale foute wat deur nasate van die skrywer gekorrigeer is (Dossena, 2012:21-22). Die korpus vir dié studie is saamgestel uit die oorspronklike manuskripte van laat negentiende- en vroeë twintigste-eeuse Afrikaans- Nederlandse epistolêre geskrifte wat gedurende en kort ná die Anglo-Boereoorlog geskryf is. Die laat negentiende en vroeë twintigste eeu was ʼn era van groot sosiopolitieke omwentelinge in Suid-Afrika. Die diachroniese dekking van dié korpus is beperk tot die jare 1899 tot 1903, dit wil sê vanaf die uitbreek van die oorlog tot die jaar ná die oorlog toe oorlewendes hulle wedervaringe

60 Swak data verwys na die gebrek aan kontemporêre orale bronne uit die verlede (Martineau, 2013:129).

Martineau (2013:145) verskil van Labov (1994:11) wat meen dat data wat per ongeluk oorleef het, ʼn onvoorspelbare reeks historiese ongelukke is. Labov (1994:10) meen die vernaamste pluspunt van historiese linguistiek is te vinde in die vermoë daarvan om talle linguistiese veranderinge oor lang periodes na te spoor. Die data wat in sekere opsigte so waardevol is, is egter in ander opsigte verarm. Die taalvorme in sodanige manuskripte verskil van die streekstaal van die skrywers, en weerspieël pogings om ʼn normatiewe dialek weer te gee eerder as enige spreker se huistaal. Daarom, meen Labov (1994:11), kan historiese linguistiek beskryf word as die kuns om swak data so goed as moontlik aan te wend. In hiérdie studie weet ons min van die sosiale posisie van die skrywers van die Anglo- Boereoorlog-Korpus. Hierdie tekortkoming maak die Anglo-Boereoorlog-Korpus egter nie minder

tydens die oorlog aan familie en bekendes gekommunikeer het of steeds met geliefdes in Britsbeheerde kampe gekorrespondeer het.

Die rede vir die keuse van die databronne is die rykdom manuskripte uit dié era wat die ekstreme toestande tydens die oorlog oorleef het, en in Suid-Afrikaanse argiewe versamel is. Die korpus is so ontwerp dat dit slegs persoonlike epistolêre geskrifte bevat. ʼn Belangrike kriterium in die keuse van die briewe betrek die skrywers van die briewe: manlike en vroulike burgers van die laat negentiende-eeuse Boererepublieke en die Kaapkolonie wat minder of meer geletterde mense was. Al die briewe deur ʼn spesifieke skrywer wat in die argiewe beskikbaar is, is nie getik nie, aangesien daarop gekonsentreer is om eerder ʼn wyer seleksie skrywers by die korpus in te sluit. Dit is voordelig om hierdie korpus te ondersoek, aangesien die databronne baie toeganklik is: Dit is nie fragmentaries nie, terwyl dit terselfdertyd ook homogeen is wat tekstipe betref. Die taalgebruik in die epistolêre geskrifte dateer uit ʼn diglossiese situasie waar kinders op skool in

Nederlands onderrig ontvang het, terwyl hulle omgangstaal Afrikaans was.61 Dit is verder

voordelig dat die skrywers van die geskrifte hulself identifiseer; gevolglik is die geslag van die

briefskrywer aan ons bekend.62 Ten spyte van die duidelike lae geletterdheidsvlak van die

meerderheid van die briefskrywers is die skryfstyl van die briefskrywers nie só gebrekkig van aard dat ʼn mens nie die strekking van hulle geskrifte kan volg nie. Dit is veral van belang dat die skrywers van die geskrifte merendeels gewone, elementêr geskoolde burgerlikes van die twee Boererepublieke en die Britsbeheerde Kaapkolonie was. Aangesien die geskrifte deur sogenaamd histories onbelangrike mense geskryf is, is die manuskripte nie gepubliseer nie, en is dit vry van redaksionele versorging. Die geskrifte bied as ’t ware ʼn venster op die werklike leefstyl van die skrywers.

Hierdie korpus verskil van Van Oordt se korpus: Die databronne bestaan uit privaat materiaal wat ʼn informele skryfstyl weerspieël. Van Oordt se korpus (61 471 woorde) bestaan merendeels uit halfamptelike verslae en briewe (Deumert, 2004:101). ʼn Oorlog tree as katalisator vir die skep van die epistolêre geskrifte in die Anglo-Boereoorlog-Korpus op, tog stem dié korpus nogal ooreen met Deumert se korpus: die Corpus of Cape Dutch Correspondence beslaan 101 737 woorde uit persoonlike briewe, privaat memoires en ʼn dagboek (Deumert, 2004: 87).

61 Soos in Hoofstuk 3 aangedui, het sommige negentiende-eeuse burgers van die twee Boererepublieke

verkies dat hulle kinders in Engels onderrig moes word.

62 Soos in Hoofstukke 2 en 3 aangedui, speel die geslag van die skrywer ʼn beduidende rol in sy/haar

skryfvaardigheid. Manlike persone het meer toegang tot geskooldheid gehad, en dus meer geleenthede om aan hulle skryfvaardigheid te slyp. ʼn Mens moet ook in ag neem dat die meerderheid seuns/jongmans ná skool nie in ʼn beroep gestaan het waar hulle heeldag geskryf het nie. Slegs in twee van die briewe in die Anglo-Boereoorlog-Korpus kon die geslag van die skrywers nie bepaal word nie.

Hierdie korpus se epistolêre geskrifte verskil ook van die briewe wat deur Nienaber en Raidt ondersoek is. Die briewe deur Joseph De Lima en Boniface (1830’s), Meurant (vanaf die 1840’s) en Cooper (middel 1860’s) en Jantje Eenvoudig (1834 tot 1881) is pseudonieme, fiktiewe briewe met sosiopolitieke oogmerke. Dié tekste loods deur middel van spot en ironie persoonlike aanvalle op belangrike politieke, godsdienstige en kulturele figure (Deumert, 2004:49-51).

Hierdie studie ondersoek die wyse waarop mense in die laat negentiende eeu oor hulle gesondheid berig het as spesifieke onderdeel van hulle algemene skryfvaardigheid en vermoë om effektief te kommunikeer. Die nosie van gesondheid word op die voorgrond gestel deur die uitkringende uitwerking van oorlog. Die skrywers het dikwels met behulp van formulaïese woordreekse oor hulle gesondheid verslag gedoen. Volgens Wray (2002:19-20) is daar twee basiese metodes waarop ʼn mens formulaïese reekse kan versamel: eerstens deur ʼn eksperiment, vraelys of ander empiriese metode om die produksie van formulaïese reekse as data te teiken. Tweedens deur algemene of spesifieke linguistiese materiaal te versamel, en vaste kriteria te gebruik om bepaalde woordreekse uit te lig; dus die isolasie van formulaïese reekse uit standaard-datastelle (Wray, 2002:20). Hierdie studie volg die tweede metode, naamlik die versameling van spesifieke linguistiese materiaal.

Hierdie databronne is verkry deur besoeke aan die argief van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en die Nasionale Letterkundige Museum in Bloemfontein sowel as aan die

Nasionale Argief in Pretoria.63 Met behulp van afdrukke of geskandeerde kopieë van die

handgeskrewe epistolêre geskrifte is die manuskripte in elektroniese kopieë omgeskakel. Klippi (2013:110) benadruk dat goeie transkripsies insigte in ʼn bepaalde oomblik van taalgeskiedenis bied. Volgens Dossena (2012:24) behoort taalkundiges uiters akkuraat te werk te gaan met die transkripsie (en analise) van die linguistiese vlak van die tekste, en behoort transkripsies teen die oorspronklike dokumente geproeflees te word. Die briewe in dié korpus is almal in Word- dokumente getranskribeer. Die transkripsiemetode het dit ten doel gehad om die inhoud en taalgebruik van die oorspronklike tekste so getrou moontlik weer te gee. Die einde van reëls of woorde wat aan die einde van reëls afgekap is, is nie aangedui nie; nuwe paragrawe is wel aangedui. Die getranskribeerde tekste is daarna volledig teen die oorspronklike manuskripte gekontroleer.

63 Enkele briewe in die korpus behoort aan die privaat versameling van die Ferreira-familie (hier en elders

Wanneer die navorser die taalgebruik in epistolêre geskrifte ondersoek, behoort hy/sy, volgens Dossena (2012:15), vas te stel of die geskrif oor outografiese status beskik. Mense met ʼn lae vlak van geskooldheid het in die verlede dikwels ander persone gevra om die brief namens hulle te skryf. Betreffende die briewe in die Anglo-Boereoorlog-Korpus is dit nie moontlik om te bepaal of ander persone namens die skrywers geskryf het nie; gevolglik word aanvaar dat die geskrifte wel

oor outografiese status beskik.64

Die korpus bestaan uit 256 epistolêre geskrifte wat deur 129 persone geskryf is. Die korpus bestaan uit 108 066 ortografiese eenhede. Twee buitetalige aspekte van variasie wat met hierdie korpus in ag geneem kan word, is die geslag en ouderdom van die skrywers. Geslag is belangrik betreffende die groter geleentheid tot skoling wat aan seuns gebied is, en die geleentheid om groter skryfvaardigheid aan te leer. In die korpus word mans en vroue redelik gelyk verteenwoordig met 66 manlike en 61 vroulike skrywers en twee briewe waarvan die geslag van

die skrywers nie geïdentifiseer kon word nie.65 Die briewe is meestal deur volwasse mans en

vroue geskryf. In enkele van die briewe in die korpus verskyn ʼn naskrif met ʼn boodskap deur ʼn jong kind. Die korpus bevat enkele briewe deur bekende persone soos Deneys Reitz, Gustav

Preller en Rocco de Villiers.66 Drie van die briewe is deur predikante geskryf. Daar is gevalle waar

die inhoud en uitdrukkingswyse van die skrywer dit duidelik maak dat hy/sy ʼn kind of jongmens is: so meld Johanna Diederichs dat sy in ʼn kampskool is en leer Engels praat:

64 Pretorius (1991:133) meld wel dat ongeletterde burgers gedurende hulle kommandodiens geletterde

burgers gevra het om namens hulle briewe huis toe te skryf.

65 In baie historiese korpora word vroue onderverteenwoordig. In die Anglo-Boereoorlog-Korpus word die

skrywende vrou goed verteenwoordig; dus ʼn pluspunt vir die data in dié studie.

66 Rocco de Villiers was ’n lid van president M.T. Steyn se onmiddellike staf. Hy is by Reitz gevange

geneem en as krygsgevangene oorsee gestuur. Ander bekendes, soos Dietlof van Warmelo en sy suster Johanna, se briewe is nie in die korpus opgeneem nie, aangesien hulle, soos hulle Nederlandse ouers, in suiwer Nederlands gekommunikeer het.

Tabel 4.1: Basiese eksterne feite rakende die ABO-Korpus

Skrywers Aantal skrywers Aantal briewe Ortografiese eenhede

Manlik 66 148 59 440

Vroulik 61 106 47 996

Geslag onbekend 2 2 630

Totaal 129 256 108 066

Dié sinchroniese korpus is nie ʼn veeldoelige korpus nie. Veel eerder is hier sprake van ʼn gespesialiseerde korpus wat geografies gedifferensieerd is: die korpus is saamgestel uit die briewe van laat negentiende-eeuse en vroeg twintigste-eeuse, wit, Afrikaanssprekende burgers van die Kaapkolonie, Oranjevrijstaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek in ʼn era toe Afrikaans nog nie sterk as skryftaal gevestig was nie. Die korpus bestaan uit egodokumente wat lig werp op die daaglikse lewe van gewone mense uit die verlede. Dit is mense wat verplig was om deel te word van die skryfkultuur weens die katastrofiese omstandighede waarin hulle hul bevind het; net soos Gaston B. in Klippi (2013:114) se studie. Elspaß (2012:47) verklaar dat, in die historiese sosiolinguistiek, tekste nie as geïsoleerde linguistiese data in ʼn sosiohistoriese vakuum bestudeer behoort te word nie. Dié tekste is uitdrukkings wat in ʼn spesifieke periode vir ʼn spesifieke doel binne ʼn spesifieke historiese konteks deur mense met ʼn spesifieke agtergrond geskep is. Dit gaan oor ʼn spesifieke kommunikasiesituasie (Elspaß, 2012:47) ‒ in hierdie geval die sosiopolitieke situasie wat deur die Anglo-Boereoorlog meegebring is. Hierdie egodokumente beeld die skrywende individu uit as verteenwoordigend van die hele gemeenskap, ook van die swyers, dié

wat gesterf het (Malan & Van Vuuren, 2006:186).67

Te midde van die oorlogsrumoer in die stryd tussen Boer en Brit is persoonlike briewe geskryf aan ʼn bepaalde teikengehoor, naamlik gesins- en familielede, vriende, geestelikes en selfs onbekende persone wat om noodleniging genader is. Die belangrikste kommunikatiewe funksie van die korrespondensie was om te midde van die oorlogsituasie familiebande te onderhou en

67 Van Heyningen (1999:23) meen ’n unieke eienskap van die Anglo-Boereoorlog is die verskynsel dat

mans én vroue die pen opgeneem het. Boerevroue en Engelssprekende vroue het om verskeie redes die pen opgeneem. Eerstens was die vroue, veral die Boervroue, bewus dat hulle ’n belangrike geskiedkundige gebeure beleef en wou daarom hulle wedervaringe neerpen. Tweedens het isolasie baie vroue genoop om die pen op te neem (Van Heyningen, 1999:24). Om te skryf, het nie net orde aan hulle verplukte lewe gebied nie; dit het hulle ook binne die sentrum van gebeure geplaas, en hulle help vasklou aan hulle identiteit (Van Heyningen, 1999:25).

familienuus oor te dra, veral betreffende die fisieke welstand van skrywer en ontvanger, en hulle

geliefdes en bekendes.68

Tydens die stellingkrygsfase (vóór die besetting van Bloemfontein en Pretoria) korrespondeer vroue (op dorpe en plase) en hulle manlike familielede op kommando met mekaar. Gedurende die guerrillafase (ná die besetting van die hoofstede) korrespondeer vroue (baie uit die konsentrasiekampe) en hulle mans, pa’s, broers en vriende op kommando en in oorsese interneringskampe waarheen hulle gedeporteer is. Van die briewe in die Anglo-Boereoorlog- Korpus is nie op burgers se plase of in die Britsbeheerde kampe geskryf nie: So skryf onder andere Maggie Malan uit die Wellington Seminarium (OM4815/19), ʼn gewonde burger skryf uit

die hospitaal in Pietermaritzburg voordat hy oorsee gestuur is (OM4456/6), ʼn

terdoodveroordeelde jongman skryf uit die tronk op Aliwal-Noord aan sy ma en broer (OM4485/2), John MacRae skryf van Roodewal naby Kroonstad van waar hy die pos beheer (OM1239/1). Ná die vredesluiting op 31 Mei 1902 duur die korrespondensie uit die Britsbeheerde kampe voort, aangesien baie vroue en mans nie toegelaat is of in staat was om onmiddellik huiswaarts te keer nie. In briewe wat in 1903 geskryf is, bied die skrywers ʼn agternaperspektief op die oorlogsgebeure en hulle belewing daarvan, of hulle probeer kontak behou met geliefdes wat hulle plaaslik of oorsee steeds in Britsbeheerde kampe bevind het. Die briewe toon ʼn “horisontale intertekstuele verband” (Fairclough se terminologie) as gevolg daarvan dat daar ʼn verwantskap bestaan het tussen ʼn teks/brief en die tekste/briewe wat dit voorafgegaan het of daarop volg (Chiavetta, 2012:92).

Die briewe in die Anglo-Boereoorlog-Korpus is “aandenkings” uit die oorlogsjare; dit is tekste wat die oorlog oorleef het. Een van die aspekte wat in gedagte gehou behoort te word rakende die keuse van briewe uit die Anglo-Boereoorlog, is dat dit baie moeilik is om biografiese inligting omtrent die briefskrywers op te spoor. Alhoewel die korrespondensie op sigself as waardevolle bronne van persoonlike narratiewe dien (Dossena, 2012:17), is daar in die meeste gevalle min of geen biografiese inligting oor die skrywers beskikbaar nie. Min is bekend rakende die gewone sosiolinguistiese veranderlikes: ouderdom, sosiale status, professionele en opvoedkundige agtergrond, woonplek, en die sosiale netwerke waaraan die deelnemers behoort het (Cantos, 2012:103). Die taalkundige se taak om die taalvorme in die dokumente te bestudeer, word

68 Dikwels dra die brief die droewige stemming van die skrywer oor ná die dood van ʼn geliefde op die

slagveld of in die konsentrasiekamp. Volgens ’n laat negentiende-eeuse Nederlandse etiketboek mag die afsender slegs ’n brief skryf wanneer hy of sy in ’n goeie bui is: “Wanneer men zijn gedachten en gevoelens mede wil deelen, dan vermijde men het zooveel mogelijk te schrijven als men in droevige stemming verkeert” (Ruberg, 2005:91). Die etiketboek swyg egter oor wat in ʼn oorlogsituasie van die

bemoeilik, aangesien hy/sy oor geen inligting rakende die skrywers se opvoeding, geletterdheidsvlakke, familiebetrekkinge en sosiale netwerke beskik nie. Al wat die taalkundige tot sy/haar beskikking het, is die linguisties gekonstrueerde sosiale rol van die deelnemer (Dossena, 2012:17). Die skrapse sosiale profiele omtrent die skrywers bied ʼn uitdaging in die sin dat die opvoedkundige en sosiale agtergrond van die skrywers nie, soos Marquilhas (2012:36) voorstel, in ʼn demografiese databasies gestoor kan word nie. Gevolglik moet ʼn mens dié kontekstuele inligting uit die epistolêre geskrifte self aflei (sover dit moontlik en wetenskaplik is) in die lig van die feit dat persoonlike briewe aan die navorsers die moontlikheid bied om sosiale informasie uit die agtergrond van die outeurs of uit tekstuele wenke te rekonstrueer (Cantos, 2012:103). Tamošiūnaitė (2013:232-233) stel voor dat, indien min biografiese inligting beskikbaar is, ʼn mens behoort te let op die skrywer se blootstelling aan skryf: Hoe span die skrywer formele skryfeienskappe soos leesteken- en hooflettergebruik in? Spel die skrywer foneties of morfologies? Waar breek hy/sy sy/haar woordgrense af?

Indien ʼn mens die vlak van die skrywers van die Anglo-Boereoorlog-Korpus se epistolêre geletterdheid wil bepaal, behoort jy volgens Whyman (2009:9, 76) aandag te skenk aan die materiële en intellektuele aspekte van hulle korrespondensie. Vir die doel van die korpusbeskrywing is die materiële aspekte soos die uitleg, aanwending van epistolêre

konvensies, spelling en leestekengebruik van belang.69

Dossena en Del Lungo Camiciotti (2012:2) meen korrespondente wend ’n poging aan om twee

kontrasterende behoeftes te berde te bring: aan die een kant wil die skrywer uitdrukking gee aan intimiteit en samehorigheid; aan die ander kant bestaan die behoefte om ʼn sosiaal aanvaarbare teks te skep. Uit die Anglo-Boereoorlog-Korpus blyk dat die skrywers ʼn poging aangewend het om bostaande behoeftes te bevredig. Hulle deel hulle oorlogservaringe met mekaar, en wend ’n poging aan om ʼn sosiaal aanvaarbare teks te skep. In die oorgrote meerderheid briewe wend die skrywers ’n poging aan om getrou te bly aan epistolêre konvensies rakende die aanwending van die “vaste tekstuele superstruktuur” (Brownlees, 2012:130 se term) bestaande uit ʼn opening, liggaam, afsluiting en die daarmee gepaardgaande wit spasies.

Die briewe word in die eerste persoon in ʼn informele toon aangebied. Daar is nie pogings om deftig te skryf nie; dit gaan bloot oor die weergee van noodsaaklike nuus oor die skrywer en sy/haar gesin se welstand en omstandighede. Die skrywers se handskrif is leesbaar (alhoewel nie altyd netjies nie, en soms moeilik ontsyferbaar weens die gebruik van potlood, en ink wat na weerskante van die bladsy deurslaan). Kyk ʼn mens na handskrif, vind jy die interessante

69 Die intellektuele aspekte van briewe sluit in: inhoud, taalgebruik, oorspronklikheid en die ontwikkeling

verskynsel dat sommige van die elementêr geskoolde skrywers hulle bes probeer om ʼn uiters netjiese dokument in netjiese, egalige skrif en presiese spasiëring tussen die woorde aan te bied. Die volgende brief is ʼn sprekende voorbeeld hiervan:

Figuur 4.2: Lenie du Plessis se netjiese epistolêre geskrif (OM4327/11)

Aan die ander kant kom dit voor asof sommige van die goed geskoolde skrywers nie fokus op die aanbieding van ʼn pynlik netjiese geskrif nie: Hulle is gemaklik met skryf en fokus eerder op die inhoud van die dokument, soos die brief deur Deneys Reitz:

Figuur 4.3: Deneys Reitz se brief aan sy ma (NALN574/10)

Rakende die navolging van spelkonvensies blyk die skrywers se pogings om te voldoen aan die standaard waaraan hulle tydens hulle minimale onderrigtyd blootgestel is. Die morfologiese eenhede is duidelik identifiseerbaar. Van die skrywers gebruik -ei in plaas van -ie, byvoorbeeld in “leiwe” en “leifhebbende”, en “moit“ in plaas van “moet”. Heelwat skrywers skryf -ü in plaas van

-u. Sommige skrywers is konsekwent in die foutiewe spelkonvensies wat hulle navolg. Ander se

fonetiese spelling dui daarop dat die skrywer skryf soos hy/sy praat:

(1) Wij zijn nog alen wel door de zegen des Heeren en ons hoopen om van u het zelfde