• No results found

HOOFSTUK 3 BUITETALIGE FAKTORE

4.4 ANGLO-BOEREOORLOG-KORPUS: ANALISE

Die doel met hierdie studie is om te bepaal hoe laat negentiende- en vroeg twintigste-eeuse skrywers gedurende die Anglo-Boereoorlog oor hulle gesondheid rapporteer het. Met dié ondersoek wil bepaal word hoe gevarieerd die idees is wat skrywers oor gesondheid aanbied. Druk skrywers die beriggewing oor gesondheid in patroonmatige, formuleagtige taal of in kreatiewe taalgebruik uit? Indien die skrywers formuleagtige taal aanwend, hoe frekwent wend hulle dié formulerings aan, en tot watter mate slaag hulle daarin om op dié patroonmatige taalgebruik uit te brei? Watter tipes formules word meer frekwent deur mans of vroulike skrywers aangewend in hulle poging om suksesvol te kommunikeer?

In Hoofstuk 2 is ʼn uiteensetting van die eienskappe van gesondheidsformules aan die hand van Europese navorsing weergegee. Die eerste stap in die analise van die Anglo-Boereoorlog-Korpus was om die wyse waarop mense in die laat negentiende en vroeë twintigste eeu oor hulle gesondheid gerapporteer het, te probeer identifiseer deur ʼn twintigtal tekste met die hand te merk op soek na spesifieke patroonmatighede. Op dié wyse is bevind dat die skrywers bepaalde herhalende idees gebruik om oor hulle eie en geliefdes se gesondheid te rapporteer of navraag te doen oor die fisieke welstand van die ontvanger van die epistolêre geskrif. Deur die seleksie databronne eers met die hand te ondersoek, kon die idees van die skrywers en die trefwoorde

wat help om daardie spesifieke idee oor gesondheid te verwoord, geïdentifiseer en volgens betekenis en trefwoorde gegroepeer word.

Indien ʼn skrywer byvoorbeeld berig dat hy/sy “gezond en frisch” is, is dit ʼn aanduiding dat hy/sy in uitstekende gesondheid verkeer. Alle formulerings wat as sodanig welstand rapporteer, kan in ʼn kategorie saamgegroepeer word. Kenmerkend van dié formulerings is dan die kerngegewe dat

dit met die skrywer se gesondheid baie goed gaan. So ʼn kategorie kan uitdrukking vind in

formuleagtige segswyses soos in voorbeeld (6) of in oorspronkliker segswyses soos in

voorbeeld (7). Aan die anderkant kan skrywers vermeld dat ʼn geliefde gesterf het. Hierdie

formulerings kan deel uitmaak van ʼn kategorie waarin op die totale afwesigheid van gesondheid gefokus word. Binne dié kategorie kan skrywers patroonmatige, formuleagtige taalgebruik, soos in voorbeeld (8) aanwend om oor dood te rapporteer, of kreatiewer formuleer, soos in voorbeeld

(9):

(6) Nellie Venter is ook vrisch (OM1184/1).

(7) dat ik hier ben in omstandigheden geheel naar mijn zin en door Gods goedheid zoo gezond ben als 'n visch (NA A246).

(8) Twee van Jan Moolman ze kinders zijn dood (NA A1361).

(9) Dat de Hemelsche vader onze lieve Lenie ook uit ons midden weggeroepen heeft (OM3056/5).

Uit die aanvanklike analise blyk dit dat skrywers implisiete en eksplisiete dank aan God betuig vir die welstand waarin hulle verkeer. Soms doen ʼn skrywer ’n beroep op God om die gesondheid van ’n geliefde te bewaar of herstel. Sodanige uitdrukkings is indirek met gesondheid gemoeid, en kan onder ʼn aparte kategorie gegroepeer word waarin formuleagtige taalgebruik, soos in

voorbeeld (10), voorkom of oorspronkliker segswyses soos in voorbeeld (11) waarin die skrywer

die begeerte uitspreek om die ontvanger in gesondheid te mag ontmoet:

(10) Heeden is ons nog allen wel Door Gods goed heid (OM5890/43).

(11) mijne harte wens en ook mijn bede zij Steeds voor u moge de Lieve Here u en mij spare dat wij elkander ook weder Spoedeg kunne ont moeten met gezondhijd (OM4848/39).

Aangesien die burgers van die Boererepublieke baie afhanklik was van hulle diere, en veral perde as rydiere in die krygsarena, blyk die idees oor die fisieke welstand van diere ʼn moontlike kategorie te veronderstel. Die rapportering oor ’n dier se gesondheid is egter ’n geheel ander entiteit; daarom word dit nie verder bespreek nie. Voorbeelde hiervan is:

(12) Mama met KolBooi gaan het weer eens weinig beter (OM6354/30). (13) Onze paarden zyn zeer mager en slecht (PV1).

Wanneer bepaal is watter herhalende idees hulle oor gesondheid gekommunikeer het, kan die

idees in semanties-tematiese kategorieë verdeel en gekodeer word. Een so ʼn hoofgroep

betekeniskategorie het te doen met die manifestering van welstand. Daaronder sorteer verskillende idees oor gesondheid, soos dat dit met die spreker of leser uitstekend of goed gaan

of dat hy/sy nog gesond is. ʼn Tweede hoofgroepering van idees oor gesondheid het te doen met ʼn verandering in die toestand van die persoon, byvoorbeeld dat dit beter gaan of dat die toestand onveranderlik is. ʼn Derde groep hoofidees het te doen met die ellendige toestand waarin die persoon verkeer deurdat hy/sy net-net nog lewe, of glad nie gesond is nie of dood is. Uiteindelik is nege betekeniskategorieë geïdentifiseer wat by die betekenis van elk van die drie hoofgroepe aansluit. Die nege betekeniskategorieë bevat almal gesondheidsmeldings wat op ʼn glyskaal van uitstekende gesondheid tot dood gegroepeer kan word.

Verder is bevind dat daar bepaalde kontekste is wat met die hoofidees verbind, byvoorbeeld die vermelding van die bron van gesondheid. Alhoewel dié vermeldings nie direkte idees oor gesondheid weergee nie, verbind dit met die nege betekeniskategorieë oor gesondheid en word dit in die tekste voor of na die idee oor gesondheid gevind.

Nadat bepaal is watter hoofidees (en subkategorieë van dié idees) die skrywers oor gesondheid wou rapporteer, is die Anglo-Boereoorlog-Korpus in plain.txt-dokumente omgeskakel en die hoofidees en subkategorieë in die databronne konsekwent gekodeer. Dié proses om bepaalde kodes aan elke soort gesondheidsmelding toe te ken, is met die hand gedoen. In ʼn teks is die uitstekende welstand van die skrywer byvoorbeeld met die kode <s1> gemerk, soos in voorbeeld

(14). Daar is deurlopend aan die kodes verfyn wanneer gevind is dat daar sprake is van

nuanseverskille binne ʼn bepaalde kategorie. Formulerings met byvoorbeeld die kode <s2sub1> maak deel uit van ʼn subkategorie, en fokus daarop dat dit met die persoon goed gaan, maar nie noodwendig meer oor uitstekende gesondheid beskik nie, soos in voorbeeld (15) geïllustreer:

(14) <s1>Ons is allen vris wordt net vet</s1> (OM6354/23).

(15) <s2sub1>Met Hannie en Wilhelmina gaat het ook goed</s2sub1> (OM5592/17).

Deur die kodeerwerk saam met ʼn assistent aan te pak is ʼn poging aangewend om hierdie

omvangryke taak so noukeurig moontlik af te handel. Die navorser en haar assistent kon oor die kodering van gesondheidsmeldings redeneer en saam oor die gepaste kode besluit. Om betroubaarheid te verseker, is konsekwent binne elke tipe kode gekontroleer. (Dieselfde proses is ook gevolg met die idees wat met die kontekste verband hou.) Die doel met die gedetailleerde kodering was om met behulp van Scott se WordSmith spesifieke patroonmatighede binne elke betekeniskategorie op te spoor. Deur die kodes uit WordSmith te onttrek, kan die data vir hulle spesifieke formuleringseienskappe ontleed word. So kan met behulp van WordSmith se kollokasiefunksie bepaal word hóé gevarieerd skrywers bepaalde idees oor gesondheid

rapporteer, sowel as hoe frekwent bepaalde patroonmatige segswyses aangewend word.71 Dit is

veral die laefrekwensiegebruik van bepaalde gesondheidsmeldings wat in terme van die doelstellings van hierdie studie van wesenlike belang is. Sodanige segswyses wyk af van die norm wat vir die skrywers in hulle (meer) dikwels kortstondige skoolloopbaan of tuis gemodelleer is (soos in Hoofstuk 3 bespreek).

Uit die voorlopige analise blyk dat skrywers verder uitbrei deur een tipe formule met ʼn tweede te kombineer. Hierdie soort uitbreiding is veral van toepassing op die erkenning van die bron van gesondheid waar die rapportering oor gesondheid met die bron van welstand kombineer. Dit is veral die frases waar die skrywers God se gawes (soos “Door Gods goedheid”) erken wat sintakties baie buigsaam is. Dié brokstukke formuleagtige taal kan voor, in die middel of agter aan die gesondheidsmelding gelas word, en is nuttige instrumente om die skrywer se prosesseringslading te verlig.

Skrywers kombineer ook ander formuleagtige formulerings met formuleagtige

gesondheidsmeldings, naamlik dié wat met die transaksionele handeling gepaardgaan (soos “ik sit my neder om u mijn welstand te schrijven”) en dié wat die skrywer se ingesteldheid of wense weergee (soos “Ik ben zeer verblijd om te zien dat het met u wel gaan”). ʼn Verdere stel kodes is gebruik om hierdie formules in die data te kodeer, soos geïllustreer in voorbeelde (16) en (17). Aan hierdie kombinasies van primêre en ondergeskikte gesondheidsmeldings sal ook in die analise aandag geskenk word.

(16) maar ik hoop Spoedeg weder al mijn kragte te hebben <b1> door de Goed hijd des heren </b1> (OM4848/41).

(17) my lieve kint <s4> ik neem de pen om ü mijn welstant te doen weten </s4> (OM3667/4).

In die analise van skrywers se leksikale diversiteit word gesteun op begrippe soos konstruksie en skema. Hierdie terme kom uit die konstruksiegrammatika wat vervolgens nader toegelig word. ʼn Konstruksie is ʼn eenheid van kennis oor taal (Hilpert, s.a.:17). Konstruksies is ʼn afparing/samevoeging van taalkundige vorm/struktuur en betekenis. Die vorm van ʼn konstruksie kan met verskillende soorte taalkundig relevante inligting (sintakties, morfologies of fonologies) geassosieer word (Boas, 2013:234; Croft, 2004:247). Konvensionele betekenis (of funksie) assosieer met die semantiese, pragmatiese en diskoers-funksionele eienskappe van die

71 Kollokasies verwys na woorde wat geneig is om saam met ’n bepaalde teikenwoord voor te kom.

Frekwensiedata verwys na hoe gereeld ’n bepaalde patroon in verhouding tot ander patrone voorkom (Biber et al., 1998:8).

samevoeging (Boas, 2013:234). Volgens konstruksiegrammatika weet sprekers iets van ʼn taal as

hulle konstruksies ken (Hilpert, s.a.:8).72 Goldberg (2003) postuleer dat die totaliteit van ons kennis

oor taal deur ʼn netwerk van konstruksies vasgelê word (Traugott & Trousdale, 2013:8). Alles wat sprekers weet oor woorde, sintaktiese patrone, idiome, oor dit wat mense sê en dit wat hulle bedoel, moet herrangskik word as kennis van konstruksies (Hilpert, s.a.:8).

ʼn Belangrike begrip in konstruksiegrammatika is dat konstruksies skematisiteit in hulle vorm- en betekenisvoorstellings vertoon. Dit wissel van mees skematies of abstrak tot mees substantief (“substantive”), soos individuele items of idiome (Traugott & Trousdale 2013: 13-17). Skemas is abstrakte, semanties algemene groepe konstruksies. Die skematisiteit van ʼn taalkundige

konstruksie is gemoeid met die mate waarin dit meer algemene patrone oor ʼn reeks van meer

spesifieke konstruksies oorneem (Traugott & Trousdale, 2013:14). Gewone taal is deurspek met idiomatiese uitdrukkings waarvan die vorme en betekenisse onvoorspelbaar is indien dit vergelyk word met die gewone woordeboekbetekenis en sintaktiese reëls van die elemente wat in die konstruksie gekombineer word (Hilpert, s.a.:11). Idiomatiese uitdrukkings kan gesien word as skemas met gleuwe (stelle woorde wat in ʼn bepaalde volgorde gerangskik is) wat met bepaalde elemente gevul kan word, maar nie met ander nie (Hilpert, s.a.:13). ʼn “Gleuf” verwys na verwys na ʼn spesifieke posisie binne die vaste volgordepatroon. In die analise van die skemakomplekse binne elk van die nege betekeniskategorieë en die drie kontekste word in hierdie studie die skema, die formule en daarna moontlike uitbreidings ondersoek.

In hierdie analise dui hoofletters op ’n skematiese veralgemening, terwyl klein letters ’n spesifieke leksikale (vaste) item aandui, byvoorbeeld: PERSOON is TEMPOREEL VNW. PLEK

dood/oorlede KWALIFIKASIE.

Ook die patroonmatige, formuleagtige uitdrukkings is volgens dié konvensies geformuleer, byvoorbeeld: PERSOON is dood. Indien geen formule in die analise van ʼn bepaalde segswyse aangedui is nie, dui dit daarop dat skrywers dié segswyse van die begin af op meer uitgebreide wyse gebruik.

Sprekers se kennis van soorte grammatikale eenhede stel hulle in staat om te weet watter eenheid in ʼn konstruksie pas (Hilpert, s.a.:14). Sprekers weet hoe om idiomatiese uitdrukkings produktief te gebruik om kreatiewe uitdrukkings voort te bring (Hilpert, s.a.:13), byvoorbeeld met behulp van leksikale variasie en variasie in grammatikale vorme. In dié studie word dus ondersoek ingestel na die soort uitbreidingstrategieë wat skrywers aanwend in hulle pogings om kreatiewer

te formuleer. Tipes uitbreidingstrategieë wat in hierdie analise ondersoek en waarvan die frekwensies bepaal kan word, is eerstens basiese uitbreiding in die vorm van bywoordelike bepalings. Onervare skrywers kan bloot ʼn tyd- of plekbepaler invoeg en op dié wyse op die formuleagtige segswyses waarmee hulle vertroud is, uitbrei. Tweedens kan die leksikale variasie op formuleagtige uitdrukkings ondersoek word. Derdens kan bepaal word of skrywers daarin slaag om inligting sintakties in te bed. Vaardiger skrywers sal met behulp van neweskikking en onderskikking die gesondheidsmelding in ʼn omvattender formulering kan inbed.

4.5

SAMEVATTING

Die korpuslinguistiek is uiters geskik vir historiese taalkundige ondersoeke waar die outentieke taalgebruik in databronne, soos die epistolêre geskrifte in die Anglo-Boereoorlog-Korpus, ondersoek kan word. Hierdie studie gebruik die korpusgebaseerde benadering as instrument om nuwe insigte omtrent ʼn vroeëre era van Afrikaans-Nederlandse taalgebruik te verwerf. Die aanwending van ʼn korpusgebaseerde analise sal tot nuwe insigte omtrent Afrikaans-Nederlands (vóór die standaardisering van Afrikaans) lei, te wete nuwe perspektiewe oor hoe skrywers in die Anglo-Boereoorlog oor hulle gesondheid gerapporteer het. As ʼn betroubare gids tot die sistematiese analise van taalgebruik sal die korpuslinguistiek in hierdie studie toegang bied tot insigte oor hoe skrywers van epistolêre geskrifte bepaalde patroonmatige woordreekse ingespan het om oor hulle gesondheid te berig. Terselfdertyd kan insig verwerf word oor hoe frekwent hulle daarin geslaag het om van sodanige vaste, formuleagtige woordreekse af te wyk deur middel van kreatiewe uitdrukkings.

In die volgende hoofstuk word aandag geskenk aan die bewoording (die afhanklike veranderlike) wat skrywers in hulle formulering van gesondheidsmelding gebruik om te bepaal tot watter mate skrywers aan bepaalde patrone gebonde is, en watter graad van variasie voorkom. In dié analise van die leksikale diversiteit word ondersoek ingestel na die mate waarin skrywers daarin slaag om met behulp van bepaalde uitbreidingstrategieë op formuleagtige uitdrukkings uit te brei in ʼn poging om meer kreatief te skryf. Met behulp van dié analise wil bepaal word of die skrywers van die Anglo-Boereoorlog-Korpus kreatiewe segswyses kon formuleer om oor gesondheid te berig. Met dié analise wil ondersoek ingestel word na die soort gesondheidsmeldings wat die skrywers aangewend het, hoe frekwent dit aangewend is sowel as die funksie daarvan.

HOOFSTUK 5