• No results found

HOOFSTUK 3 BUITETALIGE FAKTORE

3.4 DIE ANGLO-BOEREOORLOG: DIE SOSIO-MAATSKAPLIKE KONTEKS WAT

3.4.4 Die stryd om oorlewing in die konsentrasiekampe

In hierdie onderafdeling word aandag geskenk aan die beweegredes van die Britse millitêre om die nievegtende burgerlikes in konsentrasiekampe saam te hok, en aan die toestande in die kampe. Die persoonlike briewe wat uit en na die konsentrasiekampe geskryf is, wemel van inligting wat gevra en uitgeruil word oor die gesondheid van bekendes en geliefdes.

Stanley (2004:208) merk op dat briewe altyd in die teenwoordige tyd geskryf is: nie wat die werkwoordvorme betref nie, maar omdat dit soos foto’s is wat die oomblik verteenwoordig waarin dit geskep is. Vir die historikus en die taalkundige het daar gelukkig heelwat sulke “foto’s” in die vorm van private korrespondensie behoue gebly. Hierdie egodokumente is aanvanklik op die

plase en dorpe en die kommando’s en later uit die konsentrasiekampe geskryf. In teenstelling

met die burgers in oorsese krygsgevangekampe wat baie tyd tot hulle beskikking gehad het om lywige dagboeke en herinneringsgeskrifte op te stel, het die vroue in die konsentrasiekampe ʼn stryd om oorlewing gevoer. Hulle moes water oor ʼn groot afstand aandra, vuurmaakhout soek, in lang rye staan om hulle daaglikse rantsoen te ontvang, voedsel voorberei, hulle gesonde en siek (meer dikwels sterwende) kinders versorg. Daar was derhalwe oor die algemeen nie veel tyd of hulpmiddele (soos skryfpapier, penne, ink en skryftafels) vir die vroue om aan lang, beskrywende geskrifte te bestee nie.

Met die aanvang van die stryd in Oktober 1899 het die Boere in die laaste maande van 1899 die Britse leër gevoelige slae toegedien, soos by Modderrivier, Stormberg en Magersfontein (Giliomee & Mbenga, 2007:212). Die meeste Boerevroue, hulle kinders en bejaarde familielede, het met die uitbreek van die oorlog op die plase agtergebly om die boerderybedrywighede voort te sit. Ander vroue het na nabygeleë dorpe getrek uit vrees vir naburige swart groepe of as gevolg

van ʼn gebrek aan lewensmiddele (Pretorius, 2012:245).50

Toe die Britse opperbevel aan die begin van 1901 besef dat die oorlog nie militêr beslis kon word nie (as gevolg van die Boere se guerrillastryd vanaf Maart 1900), het die Britse leër ʼn drieledige aksieplan van stapel gestuur: eerstens, die oprigting van blokhuise om die mobiliteit van die guerrillavegters aan bande te lê; tweedens, die organisering van mobiele Britse dryfjagte om die Boerekommando’s te elimineer, en derdens, die implementering van die verskroeideaardebeleid waarvolgens plaashuise en gesaaides verbrand, lewende hawe vernietig en nievegtende

50 Onder die leierskap van Kitchener is sowat 30 000 plaashuise afgebrand, en tot 40 dorpe in die twee

Boeregesinne en Afrikane per voet, per ossewa of per beestrok na konsentrasiekampe

weggevoer is (Pretorius, 1991:14; Scott, 2007:63).51

Me. E.N. Steenberg beskryf die optrede van die Engelse soldate met hulle aankoms op hulle plaas:

wij waren bevreesd toen de Engelschen naar Witpoort uittrokken ...

Zij waren als honden toen zij bij ons kwamen, zij namen al ons voedsel, en brood van ons. Zij gaven ons een uur tijd om klaar te maken om naar M’burg te vertrekken. Op reis ging het voorspoedig naar het dorp. Hier moesten wij voor meer dan een maand op de wagens wonen zonder zeilen (OM4123/46, 30/09/1902).

Een na die ander brief beskryf die ontbering wat die vroue en kinders in hierdie proses moes ondergaan. Bettie Roos van die Middelburgkamp meld hoe hulle met geweld uit hulle huise verwyder is en vir agt dae op oop waens na die konsentrasiekamp vervoer is (17/11/1902, OM4123/45). Johannes Olivier beskryf hoe hulle met hulle aankoms by die Middelburgkamp op

één hoop af geladen is waarna hulle vir verskeie dae in ʼn draat kamp moes vertoef alvorens hulle

beveel is om die eed van neutraliteit af te lê (OM4123/40).

Annie de Wet vertel hoe hulle op open spoorweg wagens van Middelburgkamp na Jacobskamp in Natal vervoer is, en hoe hulle op weg daarheen in die hittigste son vir ʼn halwe dag by ʼn stasie moes oorstaan (OM4123/39). Lettie Diederichs in die Springfontein Junction-kamp vertel dat sy siek geword het as gevolg van die nat weer op pad na die kamp (OM4150/49). Petro Jacobs verklaar dat hulle veilig by die Oranjerivier Stasie aangekom het nadat hulle “een zeer warme dag en bittere koude nacht en een open troks door gestaan te hebben” (OM4848/20, 25/08/1901). J.J. ODwijer bied in haar brief, gedateer 17 Oktober 1903, die volgende agternaperspektief op die ontberinge wat hulle op weg na die konsentrasiekamp moes deurmaak:

wij zyn van Charolin weggenomen op den 19den Mei 1901 en zijn te Middilburg gekomen op den 22ste Mei het was een zeer kouden nacht. En ons was vreeselyk dorst daar ons den geheelen dag niets ge had heef om te gebruik. Daar moet ons in de open troks heel nacht gezit het zonder een kombaars of kos in de koude winters nacht tot den volgende morgen toen werdt ons weggevoer van het station naar den kamp (OM4123/42).

In die kampe moes die vroue in ekstreme omstandighede ʼn stryd om oorlewing voer en saamleef met die laaste tonele wat hulle op hulle plase gade geslaan het: Die bevel deur Engelse offisiere om binne minder as tien minute alles bymekaar te kry wat hulle met hulle wou saamneem. Die steel en plundering van al hulle huisware. Die uitwissing van al hulle werf- en ander plaasdiere.

51 Rakende die besluit om die verskroeideaardebeleid te implementeer, skryf Kitchener in ʼn memorandum

gedateer 21 Desember 1900 aan sy offisiere: “... is the removal of all men women and children, and natives from the Districts which the enemy’s bands persistently occupy. This course has been pointed out by surrendered Burghers, who are anxious to finish the war, as the most effective method of limiting the endurance or the Guerillas ...” (Stroud, 2014:6).

Die finale blik op hulle huis: “When we left the house they had poured paraffin oil all over it and the other houses in the place, and had set fire to them and burned them with all they contained” (Hobhouse, 1902:275).

Teen 29 November 1900, toe Roberts die militêre bevel aan Kitchener oorhandig het, het daar reeds nege konsentrasiekampe regoor die land bestaan. Die meerderheid van die sogenaamde “protected Government laagers” was in die Oranjevrijstaat en die ZAR (Pakenham, 1979:522- 523; Scott, 2007:70). Teen 1901 was daar 34 konsentrasiekampe vir wit mense met ongeveer 110 000 inwoners (Pretorius, 2012:246).

Kitchener het op 21 Desember 1900 in ʼn vertroulike memorandum aangedui hoe die burgerlike superintendente van die kampe onderskeid moes tref tussen die “refugees” en die ‘undesirables’ (Spies, 1977:183):

The women and children brought in should be kept near the railway for supply purposes, and should be divided into two categories: 1st Refugees, and the families of neutrals, non-combatants and

surrendered burghers. 2nd. Those whose husbands, fathers or sons are on commando. The

preference in accommodation, etc., should of course, be given to the first class. The Ordinance shall supply the necessary tents and the District Commissioner will look after the food on the scale now in use.

Die normale kamprantsoen waarop kategorie 1-kampbewoners moes oorleef, was ʼn hongerdieet wat tot ondervoeding en hongerdood gelei het. Die rampspoedige toestande is vererger deur die besluit om vleislose rantsoene aan die kategorie 2-families, die sogenaamde “undesirables”, te gee (Scott, 2007:166). Die weerhouding van kos in die konsentrasiekampstelsel is deur die Britse senior leierskap as ʼn wapen teen weerlose senior burgers, vroue en kinders ingespan (Scott, 2007:90). Annie de Wet van die Jacobskamp in Natal (OM4123/39) vertel hoe hulle dikwels ʼn halwe dag sonder voedsel moes deurbring, aangesien hulle rantsoen onvoldoende was.

Die toestande in die konsentrasiekampe was haglik. Die nievegtende burgers van die twee Boererepublieke is hier aan onmenslike lewensomstandighede onderwerp. Behalwe vir die gebrek aan ʼn gesonde voedingsprogram, was die sanitêre geriewe, die verblyfreëlings, die ligging van die kampe, die blootstelling aan uiterste weersomstandighede, die kwelling oor die welstand van geliefdes (op kommando, in krygsgevangekampe, en in ander konsentrasiekampe) alles bydraende faktore om die gesondheid van die bejaardes, vroue en kinders in die kampe te knak. Een bron van frustrasie vir vroue was die realiteit dat die opvoedingstaak van die seuns en dogters nou op húl skouers gerus het. Me. M. du Toit vra haar man se voorbede omrede Giel “zeer ongehoorzaam word” (OM5592/14). Maria Pretorius kla in ʼn brief aan haar pa: “Koos en Willem is verschrikkelijk ongehoorzaam hulle luister naar geen een” (OM5747/4, 10/10/1901).

ʼn Ander bron van kommer was die nuus dat die vroue se mans en ander manlike familielede na oorsese Britsbeheerde kampe gerepatrieer sou word. Daarmee verbandhoudend is die frustrasies oor briewe wat nie by die geliefdes uitkom nie. Petro Jacobs skryf aan haar pa:

het is ons natuurlyk bitter hard dat gy zoo ver van ons gezonden zyt (OM4848/20, 25/08/1901). Ach! Pa ons voel zoo neerslagtig en te leurgestel dat pa zoo min brieven van ons ont vang geloof my ons schryf geregeld elk week soms tot 4 brieven in een week (OM4848/22, 29/04/1902).

Behalwe al die daaglikse sleurwerkies om liggaam en siel aan mekaar te hou, het die vroue dae en nagte aan die versorging van hulle siek kinders en bejaardes bestee. Anna Jacobs se Mita, Poppie en Tinkie is almal so siek dat sy die vorige nag geen slaap ingekry het nie. Nou is dit al laat, en die siek kinders hinder haar so dat sy nie verder met haar man kan korrespondeer nie (OM4848/6, 23/10/1901). Me. G. Pretorius se dogters Lenie, Mattie, Maria en Mattie én seuns was almal gelyktydig siek: “ik heef laats te nag tussen 7 kinders rond ge Zit Zeg lie ver: rond gekruip om te dokter en te help en ik Zelf hoest Zonder op hou” (OM5747/3, 15/10/1901). Die burgerlike kampsuperintendente was nie voorbereid op die duisende hawelose burgers wat gedwonge huisvesting in die kampe moes vind nie. Ook nie op die voortdurende instroming van

nuwe kampbewoners nie.52 Tussen agt en tien mense moes ʼn tent deel. Die tente was te naby

aan mekaar. Die meerderheid kampbewoners moes op die kaal grond slaap – sommige het ʼn

matras gehad en die gelukkiges ʼn bed (Scott, 2007:107, 125, 141).53 Al die kampe het mank

gegaan aan die voorsiening van basiese lewensmiddele: beddens, komberse, klerasie,

medisyne, boumateriaal (vir ablusiegeriewe, kookgeriewe en hospitale) – middele benodig vir ʼn

sanitêre, gesonde kampstelsel (Scott, 2007:165).54

Maggie Brink skryf op 14 Januarie 1901 uit die Howickkamp oor die gebrek aan ordentlike kookgeriewe. Hulle vind dit swaar om buite te kook aangesien hulle “een klein gaatje in het grond” het waarin hulle vuur maak (OM5848/23). In ʼn latere brief gedateer 28 April 1901 meld sy dat

hulle begin het om klippe aan te dra om “een stove te bouwen” bestaande uit ʼn platform en

ingemesselde paraffienblikke sodat hulle nie langer op die grond hoef te kook nie (OM5848/28).

52 Die instroming van kampbewoners by die Middelburgkamp (Transvaal) dien as voorbeeld: Die

inwonertal van die kamp het van die einde van April 1901 tot die einde van Junie 1901 eksponensieel vermeerder: Einde April: 1 292 persone. Einde Mei: 6 673 persone. Einde Junie: 7 425 persone. ʼn Toename van 6 133 persone binne twee maande (Scott, 2007:115).

53 Verskeie verslae meld byvoorbeeld dat in die Irenekamp te Pretoria baie kampbewoners ʼn jaar nadat

die kamp opgerig is, steeds op die grond geslaap het (Scott, 2007:145).

54 So vra Helena Jacobs in die konsentrasiekamp te Oranjerivierstasie in haar brief gedateer November

1901 aan ’n weldoener om vir haar en die kinders by haar klere en skoene te stuur, aangesien hul “waarlyk Behoeftig ben” (OM3970/1).

Al die “ingekomennen” (Mattie Pretorius se term, OM5747/13) moes in rye staan om hulle skrapse rantsoene te ontvang, en self hulle hout en steenkool aandra wanneer dit wel beskikbaar was (OM4123/39 en OM5890/43). Die vroue het daagliks ʼn stryd gevoer om water by hulle tente uit te kry. Hulle moes dit in “vreeselyke zware emmers” van die waterkar aandra (Maggie Brink, OM5848/23). Mattie Pretorius skryf op 13 Desember 1901 uit die Bloemfonteinkamp aan haar pa dat dit baie warm is en die water skaars. Sy kla dat dit onmoontlik is om met een emmer water per dag uit te kom as daar ses of sewe mense is wat daarvan gebruik moet maak. Daarom gaan staan sy by die pomp in ʼn ry: “Het is hard om van 8 tot 4 uur in zulk een zon voor 1 of 2 emmers water te staan, ... Ik heb zelf laatste nacht tot 11 uur by de pomp gestaan” (OM5747/11). Emily Hobhouse het op 27 November 1900 in die Kaap aangekom met die doel om konsentrasiekampe die land oor te besoek en ʼn plan van noodleniging daar te stel. Na ʼn besoek aan die Bloemfonteinse kamp aan die einde van Januarie 1901, kom sy tot die gevolgtrekking dat die inwoners van die kamp van die mees basies lewensbenodigdhede verstoke was. Oor die lewe in die konsentrasiekamp het sy die volgende opgemerk (Hobhouse, 1902:114-117):

The shelter was totally insufficient. When the 8, 10 or 12 persons who occupied a bell-tent were all packed into it, either to escape from the fiercenes of the sun or dust or rain storms, there was no room to move, and the atmosphere was indescribable, even with duly lifted flaps. There was no soap provided. The water supplied would not go round. No kartels or matresses were to be had. Those, and they were the majority, who could not buy these things must go without. Fuel was scanty, and had at that time to be cut by the people from the green scrub on the kopjes.

In Januarie 1901 was daar 1 800 kampbewoners in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp. Toe Hobhouse na enkele weke waarin sy ander kampe besoek het, na Bloemfontein terugkeer, was sy geskok oor die agteruitgang in die kamp en onder die bewoners (Hobhouse, 1902:122):

The population had doubled, and had swamped the effect of improvements which could not keep pace with the numbers to be accommodated. Sickness was increasing, and the aspect of the people was forlorn in the extreme. Disease and death were stamped upon their faces. Many whom I had left hale and hearty, full in figure and face, had undergone such a change that I could not recognise them. I realised how camp life under these imperfect conditions was telling upon them, and no impartial observer could have failed to see what must ensue ...

Behalwe die nadelige kampmilieu het twee ander faktore siekte en dood onder die kampbewoners vermenigvuldig: Eerstens was die burgers van die twee Boererepublieke gewoond aan ʼn dieet ryk aan vars vleis, groente en vrugte. Die hongerdieet waaraan hulle in die kampe blootgestel was, het bestaan uit meel, geen vleis nie of vleis van bedenklike gehalte, en min of geen groente nie (Scott, 2007:156). Me. M. du Toit skryf op onderskeidelik 3 en 13 Februarie 1902 aan haar

man oor die swak gehalte van die groente en gebrek aan vrugte: “pampoenen die wy nooit

gebruikt hebben moest wy hier kopen voor 1 Shilling per stuk (OM5529/15); en “... vruchten ... in de kamp is het schaars als hier nog komt dan is het duur en slecht” (OM5592/16).

Tweedens was die wydverspreide, landelik geïsoleerde bevolking nie immuun teen hoogs aansteeklike virussiektes soos masels nie (Scott, 2007:123). Die vernaamste “slagters” van die

nievegtende burgerlikes in die kampe was masels, longontsteking en brongitis (sekondêre gevolge van masels), diarree en disenterie (ook sekondêre gevolge van masels), ingewandskoors (buiktifus) en marasme (die uittering van die liggaam) (Scott, 2007:121).

Die stryd en smart weens siekte en dood vorm die kern van die inhoud van die briewe deur vroue in die konsentrasiekampe. Me. M. du Toit skryf aan haar man dat Nelie Strydom nou kinderloos is, aangesien sy al vyf haar kinders aan die dood afgestaan het. Terselfdertyd meld sy dat Betta Gordon dood is, en haar kinders wees gelaat (OM5592/16, 13/02/1902). Anna Jacobs in die Oranjerivier Stasiekamp skryf aan haar man Dirkie:

Ik heef gister een brief gekryg van klyn Pietje van zyl, zy schryf met Pa gaan het een wynig beter en zuster hannie is ook uiters elendig ven dag heef ma van Lettie een brief ge kryg zy schryf haar klyn dochterje is ook dood en Hylie zen 2 kinders al twee (OM4848/6, 23/10/1901).

Die vroue meld in hulle briewe inflammasie, masels, witseerkeel, maagaandoenings en tifuskoors:

mij teedergeliefde dogterkie ... in de auderdom van 13 dagen hare ziekte was van twee dagen aan de inflimazie (A.E. Barnard in die Bethuliekamp, OM6713/1, 23/09/1901).

De koorts regeer nu weder en dan is de masels ook nog hier (M. du Toit, OM5592/13, 02/11/1901). die mense sterf hier veel aan die mazels, die wut zeer keel is ook hier uit ge breek (Anna Jacobs te Oranjerivier Stasiekamp, (OM4848/7, 02/11/1901).

onze maagen plaag ons vreeslyk banja van dat ons hier zyn de menschen sterf ook viel aan hun maag en ook ander ziektes (Lettie van Niekerk in die Bloemfonteinkamp, OM4848/1, 02/09/1901). Nu moet ik weder met de trureghied begin om u te melden dat al twee ons geliefd kendertjes siek is en die dokter zeg dat het types koors is (Anna Landman in die Harrismithkamp, OM6545/3, 03/01/1902).

Sowat 60% van die totale sterftesyfer in die oorlog was burgerlikes – die oorsaak van hulle dood was nie koeëls nie, dit was masels (Low-Beer et al., 2004:223-225). In die maande Junie tot Augustus 1901 sterf 1 463 burgerlikes in die konsentrasiekampe in die Oranjevrijstaat. In sy verslag van Augustus 1901 skryf kaptein Trollope, Hoofsuperintendent van die konsentrasiekampe in die Oranjerivierkolonie, die hoë sterftesyfer toe aan die maselepidemie gevolg deur longontsteking; die gebrek aan behoorlike kleding en kos van nuwe inkomelinge op pad na die kamp, die abnormale koue weer, en die “carelessness and indifference of mothers in looking after their children” (Stroud, 2014:147).

Trollope het ʼn poging aangewend om die toestande in die kampe in ʼn “gunstiger” lig te stel, onder andere deur die Boerevroue vir die hoë kindersterftesyfer te blameer: “It must be borne in mind that the death rate among Boer children always has been high, even when living in their own

homes, and this chiefly on account of the mothers taking so little care of their children” (Stroud,

2014:148).55 Vir die Afrikanervrou was dit “... een Heilig plig voor een ware moeder om haar kind

Zel ven te ver plegen” (G. Pretorius in die Bloemfonteinkamp, OM5747/3, 15/10/1901).

Dit was vir die Afrikanervrou bitter om haar kinders te sien kwyn en hulle dan aan die sorg van die kamphospitale af te gee. Weens die daaglikse sterfte van kinders in dié hospitale het die vroue nie vertroue in die mediese personeel gehad nie. Siek kinders is egter uit die tente kom haal en na die kamphospitaal geneem, volgens me. Anna Landman in die Harrismithkamp (OM6545/3). Moeders het nie in al die kampe vrye toegang tot die kamphospitale gehad nie: me. Anna Jacobs in die Oranjerivier Stasiekamp meld dat sy twee maal per dag vir Mita in die hospitaal mag besoek (OM4848/7). Me. A.M. de Jager van die Middelburgkamp (OM4123/43) meld dat moeders nie

toegelaat is om hulle sterwende kinders te sien nie.56

Die kombinasie van doelbewuste verhongering en swak immuniteit sou die weg baan vir die dood van derduisende mense in die Britse kampstelsel. Scott (2007:118) meld dat 27 927 wit mense gesterf het. Volgens Reynolds (2007:180) se beraming het by die 34 000 wit mense alleen op

pad na of in die konsentrasiekampe omgekom.57