• No results found

Hoofstuk 4: Derde beweging: Die klank van stilte 4.1 Inleiding: Algemene beskouing van stilte

4.7 Stilte en God

4.7.1.1 Die große Stille

Hierdie beskrywing roep die dokumentêr, Die große Stille, wat in 2009 by die Nasionale Kunstefees te Grahamstad vertoon was na vore. Dit beeld die daaglike lewe van die Cartusiese monnike van die Grande Chartreuse klooster, geleë in die Franse Alpe, uit16. Soos die titel van die dokumentêr aandui, word die beeldmateriaal in sowat 3 ure van stilte vertoon. Heelwat fliekgangers het tydens die vertoning uitgestap, wat die indruk geskep het dat hulle ongemaklik met die stilte en afwesigheid van verbale dialoog was. Hier is ‘n besliste ooreenkoms te merk, wat gelykstaande aan die ongemak wat konsertgangers destyds tydens die debuut van John Cage se werk, 4’33”, gehad het.

Die religieuse orde waarop die dokumentêr, Die große Stille, gebaseer is, bestaan reeds vanaf 1084 nC. Soos vermeld is daar in hierdie dokumentêr ‘n afwesigheid van verbale dialoog. Tog is dit wat binne die bestek van hierdie drie ure gebeur, werklik meer as wat woorde sou kon beskryf. Midde hierdie stilte, beleef die kyker wêrelde op wêrelde vol boodskappe. Dit is Picard wat dit onoortreflik stel: “Silence is not visible, and yet its existence is clearly apparent” (Picard 1948:187). Hy skryf ook dat stilte die verste grense oorskry en tog is dit so naby dat ‘n mens dit konkreet kan voel soos wat jy jou eie liggaam voel. Lewensgebeure kan nie noodwendig altyd met woorde beskryf word nie; dog is dit defnitief en onmiskenbaar. Hy beskryf stilte as voor die handliggend en vergelyk dit met ander basiese verskynsels soos liefde, lojaliteit, die dood en die lewe self. Tog bestaan dit voor al hierdie genoemde fenomene en is stilte terselfde tyd ook in al hierdie verskynsels aanwesig. Stilte is die eersgeborene van alle basiese verskynsels - liefde, lojaliteit, en die dood; daar is meer stilte as woorde in hierdie lewensgebeure, meer van die onsigbare as die sigbare teenwoordig.

Indien daar verbale dialoog in die dokumentêr Die große Stille, aanwesig sou wees, het dit heel moontlik ‘n gekondisioneerde uitkoms namens die kyker bepaal. Die kondisionering van denke word dikwels deur woorde bepaal en beperk as te ware die kreatiwiteit rakende visuele inhoud. Hier, waar daar ‘n afwesigheid van woorde in die

78

draaiboek is, sou kykers onderskeidelik honderde woorde, gedagtes en ervarings deur die klank van stilte kon beleef - merkwaardig. Met ander woorde in die gedagtegang van fliekgangers wat uit die teater gestap het, was daar soveel meer ‘lewensteks’ as wat verbale dialoog sou weergee. In die deursnee NGK erediens is dit hoofsaaklik gesproke woord en verbale kommunikasie wat aan die orde is. Lidmate word dus in die erediens blootgestel en moontlik oor ‘n tydperk gekondisioneer om nie noodwendig meer te ervaar of te beleef as bloot net die inhoud wat die liturg oordra nie. Stilte kan dus verruiming in die op weg wees met God, vir lidmate bewerk.

Picard verpersonifiseer stilte wanner hy skryf: “When two people are conversing with one another, however, a third is always present: Silence is listening” (Picard 1948:25). Dit is as te ware die ‘asem van 'n gesprek’, soos Picard dit stel. Dit is nie bloot net woorde wat in ‘n bepaalde ruimte gespreek word tussen twee gespreksgenote nie, maar die konstruering van die inhoud kom van ver, van die plek waar stilte luister. Dit gee aan woorde nuwe volheid. Dit is asof die derde persoon, Stilte, die gewer van woorde is. Die luisteraar ontvang dus meer as wat die aanvanklike spreker se vermoeë is om te gee. Aan die einde van gesprekke sou ‘n mens kon vind dat dit stilte was, wat gepraat het. Die konkrete gespreksgenote het dus ook in die proses, aanhoorders van

stilte geword (Picard 1948:25). Ook Dauenhauer verwys na “the Silence of Intimates”.

Hiermee is sy bedoeling ook dat stilte altyd deel vorm van intieme gesprekke: “The utterance engaged in among intimates is oriented to and finds its place in the silence in which the intimates abide” (Dauenhauer 1982:17). Hierdie bydrae van Picard en Dauenhauer bied ‘n verstaan van moontlikhede binne die litrugie waar, woorde nie altyd alles kan of hoef te beskryf nie, maar dat Stilte self kan praat, ook in die intiemste momente. Die ‘Stil en Sterk-tipe’ sou dan self ook kon baat by hierdie Stilte wat veel groter as die van hul eie is. Thatcher gee ‘n aanduiding dat hierdie soort beweging slegs moontlik sal kan wees as die omvorming van maskuliniteitsmerkers aan die voorbeeld van Christus gemeet en gekonstrueer word. Waar mag en gesag, soos ook met stilte aan God behoort en die mens hieraan gehoorsaam is (Thatcher 2011:146). Dit is ook wat die dokumentêr Die große Stille ten diepste laat weerklink. Naas die lewe van die monnike in die klooster, is daar ‘n veel dieper boodskap, die boodskap wat getuig van die mens se wesensbestaan midde God se stille teenwoordigheid. Dit

79

is die Die große Stille. Die grootse stille God wat altyd teenwoordig is en in wie se ruimte die mens lewe.

Dit bring die besef dat wanneer ons as gelowiges vir God in gebed aanspreek, daar dikwels gebruik gemaak word van een van Sy spesifieke name, soos God van Vrede en Raadsman. Hiermee verklaar die bidder per implikasie dat Hy die hoofbron van hierdie aanspreekvorms is. Byvoorbeeld, as Hy aanspreek word as die God van Wysheid, is Hy dus wysheid en is hy midde hierdie wysheid. Indien een van God se eienskappe, stilte is, dan mag Hy ook aanspreek word as die God van Stilte. Hierin lê die wete dat Hy binne hierdie stilte, ook die bidder kan ontmoet.