• No results found

Hoofstuk 5: Finale Beweging: ‘n Herwaardering van stilte binne die liturgie van die NGK

5.2 Goddelike ruimtes, ook binne die liturgie

Cilliers beskryf in sy werk, A space for Grace (2015a), die legio ruimtes waarin die mensdom hulself vandag bevind. Vanselfsprekend ook midde God se ruimte, of eerder binne die ruimtes wat aan God behoort.

Cilliers skryf as volg hieroor: “All (inner and outer) spaces are pregnant with presence. (The whole of) life is holy” (2015a:40). Hy konstitueer sy stelling deur te verduidelik dat Jesus Christus tog self op aarde mens geword het, die Gees van God ook in vlees en bloed. Daarom is dit dus moontlik dat elke plek, of eerder ruimte bied die moontlikheid om God te ontmoet (2015a:40). Tog word God nie in en deur ruimtes vasgevang nie, “God is ‘n God wat aan die beweeg is” (Cilliers 2015b). “God moves within the realms of culture, cosmos and the dynamics of human relationships. God is the God of the tabernacle, the tent of transit, not the gravity of granite” (Cilliers 2015b:14).

In vele Bybelse gebeure vind daar ontmoetings tussen God en die mens plaas. Soos Cilliers dit stel; in hierdie Goddelike ruimtes is dit selde dat karakters neutraal sou kon bly (2015:12&13). Wanneer die mens in hierdie heilige ruimtes beweeg, verander dit die menslike ingesteldheid, perspektiewe en verwagtings. In 'n fassinerende publikasie, Silence: A Christian History (MacCulloch, 2013), ondersoek MacCulloch

89

die verskynsel van stilte in die Christelike tradisie oor twee millennia wat strek van voor-Christelike tot kontemporêre tye. Hierin wys hy uit dat daar stiltes in die kern van alle godsdienstige ervarings lê, en hoe dit 'n diepgaande uitwerking op die ontvouing van die geskiedenis van die Christendom speel.

Hansen (2014) verduidelik, soos MacCulloch ook, dat die meerderheid van die verwysings na stilte in die Ou Testament as redelik negatiewe beoordeel kan word. Dit dien gewoonlik in die vorm van God se straf, of as verdoemenis. Daar is wel, soos Hansen dit stel, 'n "minderheidsverslag oor stilte” aanwesig. Laasgenoemde sou na voorbeelde verwys soos die rustige stilte van die Sabbat; die lyding van die stil Kneg van Deutero-Jesaja; 'n spesiale tyd vir stilte om oop te wees vir wysheid volgens Prediker; in stilte kan 'n mens die wonders van God aanskou (Job 37:14).

Die majesteit van God se werke word in verband gebring met stilte; en soms beveel God ook stilte (Psalms 4:4 ; Psalm 46, 10). Ook in die Nuwe Testament, vind ons hierdie "minderheidsverslag” van stilte. Hier sou daar gedink word aan Jesus se verhoor, sy wroeging, sy eensame afsondering en sy alleen gebed in die tuin van Getsemane. Wanneer Jesus in die woestyn versoek word en natuurlik, die grootste Christelike stilte van alle tye - die stilte rondom Christus se opstanding.

As gereformeerdes word die erediens en inkleding van die liturgie op die Woord van God geskoei, soos ook in hoofstuk 3 deur die onderskeie modaliteite aangetoon is. Daarom is stilte nie heeltemal vreemd aan die NGK se gereformeerde spiritualiteit nie (Bosman 1998:3). Bosman meen dat ‘n dieper verstaan van stilte en die rol wat dit in die liturgie kan speel, sal bydra tot die vestiging van byvoorbeeld ‘n liturgie van versoening. Hy argumenteer verder dat die vestiging van sulke liturgieë en ‘n geïntegreerde spiritualiteit, sou een manier kon wees waarop die NGK positief kan reageer in die konteks van post-apartheid Suid-Afrika. Prakties stel hy dit as volg: “‘n Kerk se liturgie is ‘n uitdrukking van die kerk se spiritualiteit” en “ ‘n Kerk se spiritualiteit (en daarom die liturgie), kan nie losgemaak word van die konteks waarin die kerk in die wêreld bestaan nie” (1998:7). Dit is van kardinale belang vir die ondersoek van hierdie studie, met die genderlens van die stiller WAM, om ook te kyk hoe stilte in die liturgie funksioneer, en hoe daar ‘n herwaardering hiervoor gekweek kan word. Lidmate soos die ‘Stil en Sterk-tipe’ sou by laasgenoemde kon aanklank vind as ‘n kommunikatiewe ruimte midde God se groter ruimte.

90

Nie die Ou of Nuwe Testament dui rigiede voorskriftelike vorme van hoe die liturgie daarna moet uitsien, aan nie (Vos & Pieterse 1997:29). Tog skryf Vos: “ However each generation of believers must interpret the ancient sources and traditions of the Church anew, within the demands of their time, without being unfaithful to the traditions in which a definitive liturgy exists” (Vos 2009:6).

In hoofstuk 4 is reeds aangetoon hoe stilte verstaan kan word. Die vraag is hoe stilte, veral as liturgiese element voorkom?

In hierdie verband gebruik Norman (1990:21) die metafoor van brood, as verduideliking van hoe hy stilte binne die liturgie beskou. Hy verduidelik dat sy verstaan van sakramentele gebruike of handelinge tweeledig is; ‘n uiterlike sigbare teken, maar aan die ander kant ook ‘n innerlik geestelike genade. Soos wat brood iets fisies en tog alledaags is, kan dit spesiale betekenis kry wanneer dit geneem, geseën, gebreek, uitgedeel en geëet word. In geheiligde stiltes binne die liturgie, kan stilte in werklikheid die teenwoordigheid van God wees. “Various types of silence mediate the presence of God, and in such a way that we cannot separate God from the medium of his disclosure to us” (Norman 1990:21). Norman gaan verder deur te argumenteer dat geheiligde stilte, net soos die sakramente nie net ‘n teken is van dit waarna dit verwys nie, maar dat dit inderdaad daardie werklikheid bemiddel.

Bosman brei hierop uit deur te sê dat stilte nie as ‘n derde sakrament beskou moet word nie, maar dat die waarde van stilte in die liturgie op dieselfde manier kan dien as teken van God se teenwoordigheid. Die waarde van stilte in die liturgie lê ook daarin dat dit diegene wat daaraan deelneem se verwysingsraamwerk kan dekonstrueer en weer rekonstrueer in ooreenstemming met die waardes van die evangelie van Jesus Christus (Bosman 2008:73) Hy (Bosman), stel dit as volg: “(Stilte) in die liturgie het dus die potensiaal om ons ‘anders te laat sien’. Dit is ‘n ander alternatiewe ‘sien’ van God en die wêreld. Die liturgie is immers God se werk en stilte bied ‘n spesiale weg aan om God se teenwoordigheid te ervaar en die krag van sy teenwoordigheid in die alledaagse te gaan leef”.

Tog is dit belangrik om te merk dat alle stiltes in die liturgie, nie noodwendig Goddelike stiltes is nie.

91

Wanneer Dauenhauer oor stilte in die liturgie skryf, gebruik hy twee voorbeelde uit die Rooms Katolieke en Kwaker-tradisie. Wat by beide tradisies voorkom is dat stilte tydens rituele gebruike en binne die liturgie die verwagting en afwagting skep dat God binne die ruimte van stilte gaan of kan optree. Daarom word hierdie ruimtes deur die aanbidders (ook in die liturgie) oopgehou (Dauenhauer 1982:19). Cilliers verduidelik dat daar ‘n interessante spanning is, tussen wat bekend staan as die lokatief en nie- lokatiewe modelle van Goddelike teenwoordigheid. Hy dui ook aan dat sommige geleerdes selfs kies vir 'n beskrywing van Goddelike teenwoordigheid as locomotive: daar is 'n heilige sentrum, maar dit beweeg voortdurend tussen die kern en periferie (Cilliers 2015b:15). Ruimtes, ook wat met stilte gevul is, is dus oop vir God se aktiwiteit waarbinne Hyself dit kan en mag inklee. MacCulloch (2013) verwys na hierdie mistieke heilige stilte as volg: “…silence has its own eloquence”. Ook die stem van Noordmans kan hierby gevoeg word wanneer hy sê dat God se teenwoordigheid in ‘n erediens nie afhang van kerkgangers nie. God bly die Outonome, ook wanneer dit by die liturgiese handelinge kom. God is nie noodwendig in alle gebruike en rituele van die liturgie teenwoordig nie (1986:77). Dauenhauer berus hierdie argument van God se outonomiteit in stilte, saam met Picard, wat dit as volg verwoord; “Aan die begin van die skepping, is dit God self wat vanuit die stilte eerste gepraat het” (Picard 1948: 25).