• No results found

FINALE GEVOLGTREKKINGS EN VOORGESTELDE AREAS VIR VERDERE NAVORSING

6.2 GEVOLGTREKKINGS VANUIT HOOFSTUK TWEE

’n Literatuurstudie is omskryf as ’n inleidende hoofstuk om dit wat reeds oor die onderwerp bekend is, te verken. Die literatuurstudie in Hoofstuk 2 is gewy aan die beskrywend-empiriese taak om die vraag, ‘Wat is die effek van verkeerde denke (nie-geesbeheerde denke) in die gelowige se lewe?’ te beantwoord. Die term ‘verkeerde denke’ word in die studie as sinoniem vir denke buite die raamwerk van ’n Geesbeheerde lewe gebruik. Positiewe denke daarenteen word, binne die konteks van ‘n Geesbeheerde lewe, beskou as konstruktief en vol van God se vrede, ten spyte van negatiewe omstandighede, eerder as ooroptimistiese, onrealistiese denke.

Eerstens is die ontwikkelling van pastoraat en pastorale wetenskapsvorming bespreek. Praktiese teologie is die term wat in 1830 deur Schleiermacher gemunt is en sedertdien tot ‘n volwaardige wetenskap ontwikkel het met verskeie benaderings (bv. Biblisties) en modelle (bv. die gemeenskapsmodel) wat daaruit voortgespruit het. Die ontwikkeling van pastorale wetenskap het ’n inherente spanning tussen die vertikale verhouding met God en die horisontale verhouding gebasseer op menslike aspekte. Sodoende het Pastorale sorg ook ontwikkel vanuit verskillende perspektiewe, soos byvoorbeeld Adams se streng noutetiese benadering, teenoor Hiltner se benadering wat hoofsaaklik op psigoterapie gebaseer was. Thurneysen het hierna die fokus weer laat skuif na ’n groter beklemtoning van die Woord. Tacke en Louw het uiteindelik pastorale sorg voorgestel as lewenssorg met ’n fokus op die eskatologiese beloftes. Tans word pastorale modelle gebruik in die poging om ’n balans te vind tussen teologiese besinning gebasseer op die Skrif aan die eenkant en, aan die ander kant, die inagneming van teorië vanuit aanverwante dissiplines. Praktiese teologie is gemoeid met die heling en herstel van die verhouding met God, die self, ander mense en die

158

natuur. Die versorging van die weerlose en die onderrig van die gelowige is twee elemente wat sterk in pastorale sorg na vore kom.

Tweedens is ondersoek hoe denke omskryf kan word en hoe perspektiewe oor denke deur die eeue ontwikkel het. Wat denke en die geestelike dimensie betref, is ondermeer bevind dat wanbegrippe oor God ongesonde verwagtings kan skep. Die individu fokus dikwels op selfverwesenliking en persoonlike geluk, terwyl die fokus inderwaarheid eerder op ‘n intieme verhouding met God moet wees (waaruit daar wel geluk en welsyn mag voortvloei). Op dieselfde manier kan oormatige rigiditeit en moraliteit tot ‘n skeefgetrekte beeld van en verhouding met God lei. Dieselfde geld vir ‘n verdraaide beskouing van God se werke, veral betreffend genesing. Dikwels word die sieke byvoorbeeld blameer dat hy of sy nie “genoeg geloof” het of al hul sondes bely het nie en daarom nie genees word nie. Verkeerde denke oor God veroorsaak dat die “krag van positiewe denke” bloot met die “die krag van geloof” vervang word, dikwels sonder om God se soewereiniteit te erken.

Die verweefdheid van liggaam, siel en gees, maak dit soms moeilik om die invloed van denke op ‘n enkele dimensie te isoleer, maar duidelike voorbeelde van byvoorbeeld die invloed van optimistiese denke uit die mediese wetenskap en die invloed van die selfgesprek, is bespreek. Voortspruitend uit hierdie verweefdheid van die menslike dimensies het, as voorbeeld, die biopsigososiale model ontwikkel. Hiervolgens word die wisselwerking tussen psigologiese, sosiale en kulturele, asook die biochemiese en fisiologiese faktore met betrekking tot siekte in aanmerking geneem. Betekenisvolle bevindinge is hieruit voortvloeiend oor die liggaam-denke verbintenis gemaak. ’n Voorbeeld is dat waar berading saam met medikasie ingespan word, ‘n 20% verhoogde herstel plaasvind as wanneer net medikasie gebruik word. ’n Persoon sou dus kon baat by ’n multi-dissiplinêre benadering waarin die interaksie tussen die liggaamlike (medies), geestelike (pastoraat) en siels- (emosies, wil en denke of psigologiese) dimensies erkenning geniet en aangespreek word. Die verband tussen denke en emosies is baie sterk. So is daar bevind dat daar ’n verband is tussen gesondheidsprobleme wat as gevolg van traumatiese gebeure ontstaan het en die subjektiewe manier waarop die persoon oor die gebeure dink.

Voorts is voorbeelde vanuit ondermeer die kognitiewe terapie rondom die herkonseptualisering van gedagtes om destruktiewe denke soos onlogiese, herhalende of alles-of-niks denke reg te stel, ondersoek. Dit het duidelik geblyk dat denke emosies beïnvloed, wat dan weer gedrag beïnvloed. Denke kan ‘n positiewe, sowel as ‘n negatiewe invloed, op ‘n persoon se welsyn hê. ‘n Voorbeeld is dat emosies, gedagtes, fisiese sensasies en gedrag alles deel van byvoorbeeld depressie vorm. Hartseer is byvoorbeeld, op sigself nie negatief nie. Hartseer kan egter tot depressie aanleiding gee as dit met negatiewe gedagtes gepaardgaan wat spanning, fisiese pyn, moegheid en emosionele wanorde veroorsaak, wat aanleiding kan gee tot ‘n afwaartse, depressiewe spiraal. ‘n Verdere voorbeeld van die verband tussen liggaam, siel en gees

159

is die verband tussen emosies en gedagtes wat baie bepalend van ‘n persoon se binnegesprek op gebeure is en die binnegesprek wat weer gedrag beïnvloed.

Bostaande is enkele voorbeelde uit die hoofstuk om aan te toon dat daar ‘n belangrike verband tussen denke en al die menslike dimensies is waarvan die pastorale berader moet kennis neem. Geestesgesondheid is in die bewussyn van die mens gesetel, maar word dikwels deur afbrekende denkpatrone gekelder.

6.3 GEVOLGTREKKINGS VANUIT HOOFSTUK 3

Hoofstuk 3 het deur middel van ‘n interpretatiewe literatuurstudie ‘n ondersoek na die verwante dissiplines ten opsigte van die vernuwing van denke gedoen.

Met betrekking tot denke en die gees, is vanuit die pastorale dissipline bevind dat die begrippe siel (psuchè), hart (kardia) en denke (nous) afwisselend in die Woord gebruik word as die kern van persoonlike orïentasie en reaksies. Die menslike respons teenoor God is bewustelik: daar word rasioneel op God se genade reageer en bewustelike besluite gemaak om verantwoordelik voor God te leef. Die implikasie vir pastorale sorg is dat denke sentraal in die terapeutiese benadering staan, om verandering teweeg te bring, dit die denke is wat tot ‘bekering’ moet kom.

Dit plaas ook op die pastorale berader die verantwoordelikheid om met sensitiwiteit vas te stel wat die pastorant se geestelike oortuigings en sienings is en of daar verdraaide perspektiewe aanwesig is. Verdraaide geestelike beskouings en ongesonde verhoudinge in en met die kerk, kan tot emosionele verwonding lei en wat byvoorbeeld mag manifesteer in gedrag soos geestelike verslawing. So ‘n verslawing toon selfs ooreenkomste met chemiese verslawings. Geestelike mishandeling kom egter ook in organisasies voor wanneer gelowiges verneder word, of wanneer die leiersfigure se reaksies vrees ontlok, wat toenemende isolasie en magteloosheid tot gevolg het. Die berader sal dus ook hiervoor moet sensitief wees en die persoon tot kritiese, onafhanklike denke moet begelei.

’n Positiewe uitwerking van geloof, is die bevinding dat ’n geestesgesonde persoon konstruktiewe bydraes kan lewer in die sosiale en geestelike gemeenskap. Die bydrae van ’n persoon wat geestelik gesond is, se antwoorde op vrae oor lewenssin en kwessies soos onreg en sy of haar positiewe lewensbeskouing is waardevol.

Betreffend denke en die siel is emosionele reaksies op snellergebeure en die belangrikheid van die binnegesprek rondom die snellergebeure, ondersoek, asook hoe selfleuens die denke beïnvloed. Ook die rol van lewenssin is onder die loep geneem. Leuens wat ‘n persoon aan hom- of haarself kan vertel wat die denke beïnvloed. Voorbeelde van selfleuens is dat hy of sy altyd suksesvol moet wees of gedurig die verontregte slagoffer van omstandighede is.

160

In soverre dit denke en die liggaam betref, speel veral die neurowetenskap ’n belangrike rol. Neurowetenskap behels enige wetenskap wat met die struktuur of funksie van die senustelsel en die brein te doen het en verwys na die brein se vermoë om deur herhalende breinafrigting te verander deur mettertyd nuwe senuselroetes te ontwikkel. ’n Aantal voorbeelde wat vanuit die aanverwante dissiplines na vore gekom het, is byvoorbeeld:

Vanuit die psigiatrie is bevind dat gebalanseerde wisselwerking tussen die denke, brein en verhoudings ’n belangrike driehoek vorm wat ’n persoon se welsyn betref.

Om negatiewe gedagtes te herstruktureer tot meer rasionele en gebalanseerde denke, word aanvaarding en verbintenis (acceptance and commitment therapy (ACT)) as ontlonting van negatiewe gedagtes in gedragsterapie gebruik.

Vanuit die mediese en sielkunde wetenskappe is aangetoon dat misleidende breinboodskappe verslawend kan wees. Hoe meer die persoon die ongesonde gedagte bedink, hoe meer raak die brein daarvan oortuig en reageer op die impuls met ‘n ongesonde of negatiewe reaksie wat tydelike verligting bied en opnuut weer die siklus van misleidende boodskappe, ongemak (impuls of drang), negatiewe reaksie en tydelike verligting tot gevolg het.

Bevindinge rondom neuroplastisiteit het in hierdie hoofstuk duidelik aangetoon hoe denke die brein en dus uiteindelik die welsyn van die persoon, positief of negatief kan beïnvloed. Vir persoonlike welsyn is gebalanseerde wisselwerking tussen die denke, brein en ook verhoudinge met ander persone veral belangrik.

Dit is van groot belang dat die pastorale berader hom of haar vergewis van bevindings uit die aanverwante dissiplines, nie slegs is dit goeie motivering vir pastorante om daarvan kennis te neem nie, maar dit blyk ook dat gelowiges toenemend hulle lewenskwessies op maniere wil oplos wat met hul geloofsoortuigings ooreenstem en hulle dus na pastorale hulp wend wat ingeligheid in hierdie verband verg.