• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE

3.1 INLEIDING

3.4.5 Etiese oorwegings

Maree (2010) definieer etiek as ’n stelsel van morele beginsels en as die erkenning van die reëls en gedrag van ’n bepaalde kultuur of geloof as respek (cf. 1.6). Volgens Maree (2016:44) moet etiese maatreëls toegepas word om die deelnemers se beskerming en welstand te verseker. Volgens Orb et al. (2001:93-96) is dit uiters belangrik dat etiese kwessies aangespreek word in kwalitatiewe navorsing, omdat kwalitatiewe navorsing fokus op die ondersoek, verkenning en beskrywing van mense en hul natuurlike omgewing. Corbin en Strauss (2015) stem saam en beklemtoon ook

die belangrikheid van etiese prosedures wat gevolg moet word, aangesien kwalitatiewe navorsing persoonlike inligting en ervarings bekend maak. In navorsing moet etiese prosedures gevolg word om die geldigheid van die navorsingstudie te verseker. Etiese prosedures is die toepassing van morele reëls en professionele gedragskodes vir die insameling, analise, verslagdoening en die publikasie van inligting oor navorsingsonderwerpe (De Vos et al., 2011) (cf. 1.6). Etiek kan ook gedefinieer word as die morele verantwoordelikheid wat die navorser teenoor die deelnemers het (cf. 1.6).

3.4.5.1 Toestemming om navorsing te doen

Eerstens het mnr. B Monale, Distrik Direkteur van die Dr Kenneth Kaunda streek, toestemming gegee dat navorsing gedoen mag word in skole in die distrik (kyk Bylaag B). Die studie is uitgevoer volgens die etiese vereistes van die navorsingsetiekkomitee van die Noordwes-Universiteit, wat beteken dat die komitee al die relevante dokumente aangaande die navorsing goedgekeur het en daarna aan die navorser ‘n etiese sertifikaat uitgereik het. Die etieknommer van die studie is NWU-00780-18-S2 (kyk Bylaag F vir die etieksertifikaat).

In die lig van bogenoemde stelling is die korrekte etiese prosedures gevolg om toestemming te verkry om die navorsing te doen. Vertroulikheid en privaatheid van deelnemers is gewaarborg deur onder andere ‘n toestemmingsbrief van die skoolhoofde wat as deelnemers in die studie opgetree het te verkry om onderhoude te voer. Verder is onderhoude direk getranskribeer en laastens is die finale produk ook aan die deelnemers beskikbaar gestel.

3.4.5.2 Ingeligte toestemming van deelnemers

Dit was van kritieke belang dat die navorser gedurende die onderhoude ‘n toestemmingsbrief waarin die navorsingsproses verduidelik word aan die deelnemers gee (cf. 1.6.1). Die navorser het die deelnemers versoek om die brief te lees en vrae te vra indien nodig om duidelikheid te kry en ook om die toestemmingsvorm te teken indien hulle bereid was om betrokke te wees by die navorsing. Hierdie stappe is gevolg om die deelnemers in te lig oor die doel van die navorsing en hul rol as deelnemers (Corbin & Strauss, 2015:44). Die deelnemers is daaraan herinner dat hulle enige tyd

kon onttrek van die navorsingsproses en dat hulle nie hierdeur benadeel sou word nie (cf. 1.6.1).

3.4.5.3 Reg op privaatheid en vertroulikheid

Volgens Corbin en Strauss (2015:45) word navorsers versoek om deelnemers se identiteit en die inligting wat hulle verkry te beskerm. Deelnemers se persoonlike inligting, die name van die instellings en enige inligting wat die deelnemers kan blootstel moet as anoniem vertoon word, om hulle privaatheid te beskerm. Wanneer deelnemers dus enige inligting bekend maak, word hul identiteit beskerm.

Die vertroulikheid is duidelik aan die deelnemers verduidelik in die toestemmingsbrief asook hoe dit gehandhaaf sou word. Vertroulikheid beteken dat die inligting wat verkry is van deelnemers nie aan ander mense blootgestel word nie, behalwe aan die owerhede (eksaminators) wat toestemming verleen het vir die studie. Alhoewel die deelnemers aan die navorser bekend is, moet hul identiteit en persoonlike inligting egter steeds privaat gehou word. Nommers is aan die deelnemers toegeken om hul identiteit te beskerm. Volgens Burns (2000) word al die deelnemers se inligting en reaksies wat gedurende die onderhoud gedeel is privaat gehou en die resultate word op ‘n anonieme manier aangebied om te verseker dat die identiteit van die deelnemers beskerm word. Kodes en fiktiewe name word dus gebruik in hierdie geval deur nommers aan die deelnemers toegeken wanneer verwys word na die deelnemers. Data word vir ‘n periode van 7 jaar veilig gestoor waarna dit vernietig word. Deelnemers ontvang terugvoer rakende die resultate (cf. 1.6.3).

3.4.5.4 Beskerming van deelnemers

Volgens Maree (2016:300) is dit noodsaaklik dat ‘n navorser die beskerming van deelnemers verseker en hulle van fisiese en sielkundige skade vrywaar. Een van die belangrikste eienskappe van etiek volgens Orb et al. (2001:93-96) is om uitbuiting en misbruik van deelnemers te voorkom. Die navorser moes toesien dat deelnemers nie blootgestel word aan enige onnodige fisiese of sielkundige skade nie (Leedy & Ormrod, 2010) (cf. 1.6.2). Tydens die studie het die navorser daarna gestreef om eerlik, respekvol en simpatiek teenoor alle deelnemers te wees. Indien die deelnemer emosioneel geword het tydens die onderhoud, kon die navorser die deelnemer na

professionele hulp verwys het. Die navorser se kontakbesonderhede is aan die deelnemers verskaf indien hulle enige vrae of probleme gehad het met betrekking tot die navorsing. Indien die deelnemers op enige tydstip gedurende die studie wou onttrek, kon hulle, sonder enige gevolge (Corbin & Strauss, 2015:44). Laastens is die deelnemers se beskerming verseker deur die navorsingsdata te genereer in ‘n omgewing waarin hulle gemaklik gevoel het. Met hierdie studie is amper al die onderhoude gevoer in die skoolhoof se kantoor waar hulle gemaklik gevoel het en daar privaatheid was.

Etiek word as hoë waarde geag vir deelnemers, veral in kwalitatiewe navorsing waar daar mense as deelnemers betrokke was (cf. 1.6.2).

3.5 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die navorsingsontwerp en metodologie bespreek. Die navorsingsontwerp en metodologie het die persepsies van skoolhoofde aangaande gesondheidsgeletterdheid in die Dr Kenneth Kaunda distrik in die Noordwesprovinsie ondersoek. Die individuele onderhoude wat gebruik is om data te genereer en die data-analise is bespreek. Die kwalitatiewe metodologie het effektief geblyk deurdat dit ryk data gelewer het. Voorts is doelgerigte steekproefneming ook toegepas om die perfekte deelnemers te kies, wie se bydraes die navorser gehelp het om die navorsingsvrae te beantwoord. Die hoofstuk is afgesluit met die etiese oorwegings wat by die uitvoering van die navorsing in ag geneem is. In die volgende hoofstuk word die data ontleed en bespreek. Hoofstuk 4 gee ‘n uiteensetting van die manier waarop die data versamel, gekodeer, in temas en kategorieë gegroepeer, dan geanaliseer en uiteindelik geïnterpreteer is.

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE EN BESPREKING