• No results found

Die rol van die skool in die samelewing volgens die skoolhoof

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE EN BESPREKING

4.3 ANALISERING EN INTERPRETASIE VAN DIE DATA

4.3.1 Die rol van die skool in die samelewing volgens die skoolhoof

Die eerste tema dui aan dat die deelnemers, wat almal skoolhoofde is en dus aan die stuur staan van die skole waar hulle betrokke is, van mening was dat die grootste verantwoordelik van die skool is om leerders te leer en toe te rus met die nodige kennis en vaardighede. Die opinies van die deelnemers het veral gefokus op die holistiese ontwikkeling van ‘n kind, daarom behoort die skool die leerders op sport- skolastiese- asook kulturele vlak te help ontwikkel.

Ses uit die agt deelnemers het gesê die rol van die skool is om leerders op te voed en toe te rus met kennis en vaardighede. Die volgende aanhalings uit die deelnemers se response illustreer hierdie tema:

“….opvoeding speel ‘n belangrike rol daar om gesondheid te bevorder. Ons moet ons se kinders leer en opvoed….” (D1:37)

“….without the school you cannot have educated people in our country…” (D3:15) “…..die kind word blootgestel aan buitemuurse aktiwiteite buite kurrikulere aktiwiteite, sport kultuur, hys in ‘n inter sosiale gemeenskap by die skool so dit leer

hom om inter sosiale vaardighede te ontwikkel….” (D6:14,15,16)

Die tweede tema behels dat daar ook verwys word na die skool as ‘n tweede huis vir baie leerders. Twee van die agt deelnemers het dit ‘n paar keer genoem.

“…..jy kan ‘n verskil maak, want ek het ontdek dat kinders in ‘n jaar se tyd vir my pa sê en uh dan leer hulle van jou af hulle kyk heeltyd na jou gedrag….” (D1: 19,20) “…..ons sit in ‘n mooi gebied ons skool is mooi en ons probeer die skool so mooi laat lyk vir die kind jy kan ons toilets gaan kyk dis netjies en higiënies dis skoon, want hulle kry dit nie by die huis nie en hulle kry dit hier en hy voel dis sy huis…”

(D7:129-131)

Die derde tema wat na vore gekom het was om vir leerders respek aan te leer. Vyf uit die agt deelnemers het tydens onderhoude die belangrikheid daarvan vir die samelewing beklemtoon.

“…..ons dissiplinêre stelsel fokus ons op die waardes van die…van die kinders soos respek, integriteit, hardwerkendheid…daar kan jy sien is respek, die volgende maand is uitnemendheid, eerlikheid uhm hardwerkendheid, orde en dissipline…..”

(D6:21-23)

“…..ons leer hom die normes en waardes as jy sien my skool is vol norms en waardes en uh laat hy weet wat is respek….” (D7:17,18)

Nog ‘n belangrike tema wat na vore gekom het was dat die skool as ‘n gemeenskapsentrum dien in die samelewing. Vyf deelnemers het daarna verwys in hul onderhoude.

“….the school hall must be used by die community as a community hall…” (D2:16) “…vandag word ‘n skool die sentrum van die gemeenskap…” (D4:14,15)

Laastens het voorbereiding as deel van die skool se rol na vore gekom. Twee deelnemers het voorbereiding as deel van die skool se rol gesien. Die skool het ten doel om leerders voor te berei vir die wêreld daarbuite met al sy verantwoordelikhede.

“….jeug wat na ons skool toe gestuur word op so mate op te lei dat hy in die gemeenskap kan aanpas en dat hy kan buite toe gaan en as ‘n volwassene sy plek

kan volstaan in die lewe dat hy hier kan uitstap….”(D7:15,16)

Uit die voorafgaande inligting wat uit die onderhoude verkry is, word bevestig dat die skoolhoof verantwoordelik is vir die holistiese ontwikkeling van ‘n kind, daarom moet die skool die leerders op ‘n sport-, skolastiese asook kulturele vlak help ontwikkel. Skole speel ‘n belangrike rol in die algemene verbetering van hul gemeenskappe en dien ook as ‘n belangrike platform vir die verbetering van kinders se welsyn (Lynch, 2015:89; Morrison, 2012:255) (cf. 2.6). Vir hierdie rede word skole regoor die wêreld erken as die perfekte instellings vir gesondheidsbevordering (Dooris & Barry, 2013:14). So te sê al die deelnemers se response stem ooreen met die literatuur, naamlik dat opvoeding en leer, dissipline, norme en waardes, sosiale vaardighede, sportvaardighede en die belangrikheid van Lewensoriëntering aan leerders geleer moet word by die skool (Jacobs, 2011) (cf. 2.3; 2.6). Die skool het dus ’n baie groot verantwoordelikheid om leerders se fondasie goed te lê en sodoende al die nodige

kennis, vaardighede en lewenstyl aan hulle oor te dra om hul gesondheid te bevorder. Mense wat beter toegang gehad het tot skoolopvoeding en geletterdheid ontvang het, het ‘n meer holistiese benadering tot die lewe (Whitman & Aldinger, 2009).

Buiten vir die leerder se huis en familiekonteks, spandeer leerders die meeste van hul tyd by die skool, wat ʼn invloed op hul gesondheid en welsyn in die algemeen het (James, 2010). Dit is duidelik uit die onderhoude met die skoolhoofde dat leerders bemagtig behoort te word met inligting, kennis en vaardighede om verantwoordelike keuses te maak wat tot voordeel van hul gesondheid is. Kwaliteit onderwys en die rol wat skoolhoofde speel om gesondheidsgeletterdheid te bevorder is ‘n voorvereiste vir lewensverryking, groei, bemagtiging, voorkoming, beskerming en verbetering van die individu. Volgens Zareipour et al. (2017) (cf. 2.7) is daar baie probleme soos armoede, losbandigheid, enkelouer-families en geweld wat in skole voorkom wat die rol van die skool baie belangrik maak. Derhalwe is die skool een van die min instansies wat leerders kan help om voldoende onderwys en opvoeding te kan bekom. Daar is ‘n noue verband tussen gesondheid en onderwys (Whitman & Aldinger, 2009). Gesonde kinders bereik beter opvoedkundige uitkomste wat op ‘n latere stadium in hul lewe verband hou met beter gesondheid (WGO, 1999; Weybright et al., 2017) (cf. 2.6). Skole is die beste plek waar leerders blootstelling kan kry aan die bevordering van gesondheidsgeletterdheid. Die skool verskaf basiese inligting aan leerders oor gesondheid deur gesondheidspraktisyns te nader om na kinders se gesondheid om te sien. Die skoolhoof kan ook woordvoerders van buite inbring om met leerders te praat oor gesondheid en die bevordering daarvan (cf. 2.5.2.1; 2.5.2.5). Vir kinders om gesondheidsgeletterdheid te ontwikkel, moet hulle vaardighede aanleer en bemagtig word om die regte aksies te neem. Skole word regoor die wêreld erken as instellings vir gesondheidsbevordering (Mittelmark, 2007; WGO, 1986) (cf. 2.6). Skole speel ʼn belangrike rol in die bevordering van gesondheid, veral deur leerders se gesondheidsvaardigheid, gedrag en akademiese prestasies te verbeter (Mukamana & Johri, 2016) (cf. 2.6). Volgens Croghan (2007) kan skole gesien word op twee maniere (cf. 2.6). Eerstens word dit gesien as ‘n voorbereidingsarea vir die lewe in terme van opvoedkundige leer, begrip van sosiale norme en kontekste van die individue binne daardie samelewing en om kinders te onderrig oor die verwagtinge en sosiale norme van gemeenskapsdeelname. Tweedens kan skole gesien word as ‘n beroepsplek, ‘n plek waar mens werk. Daarom is onderwys sentraal in die ontwikkeling

van jongmense. Dit berei hulle voor vir die wêreld van werk en vir die lewe (Panday et

al., 2009) (cf. 2.6).

Verder het skoolhoofde ook genoem dat die skool sentraal staan in die gemeenskap. Dit beteken die skool moet die gemeenskap dien. Die skool moet die gemeenskap betrek in aktiwiteite en die skool se hekke moet altyd oop staan vir die gemeenskap, sodat kinders én grootmense baat kan vind by die skool. As die gemeenskap weet die skool is ‘n anker in die gemeenskap, sal meer mense saamwerk om die skool te beskerm en om die leerders in die skool te beskerm en te help. Die skool moet die gemeenskap ondersteun. Die gemeenskap se deelname om gesondheid in skole te bevorder word aanbeveel in die gesondheidsbevorderende skoolraamwerk, reeds omdat meeste van die skool se uitdagings en siektes ‘n refleksie van die gemeenskap is (Kwatubana, 2014; WGO, 1996) (cf. 2.7). Die meerderheid van individue in die gemeenskap is op een of ander manier verbonde aan die skool, hetsy as ouers of voogde of as leerders self. Baie van die ouers of voogde is verder betrokke by skole deur te dien op die SBL, deur kos te maak vir leerders van die voedingskemaprogram, deur badkamers en klasse skoon te maak en deur tuinwerk te doen. Die maak van ‘n groentetuin word byvoorbeeld beskou as een van die maniere om ‘n verhouding met die gemeenskap te bou (Department of Health and Ageing, 2004). Volgens die WGO (1999:8) word ’n gesondheidsbevorderende skool gedefinieer as “a place where all

members of the school community work together to provide students with integrated and positive experiences and structures which promote and protect their health”. ʼn

Belangrike fokus van ʼn gesondheidsbevorderende skool is dat dit ʼn benadering is waar die hele skoolgemeenskap saamwerk om die gesondheid van die leerders, personeel en die gemeenskap ten beste te dien. Die sienings van die skoolhoofde in die onderskeie skole ten opsigte van die rol van die skool is dat, veral in ‘n land met soveel ongelykhede in die samelewing, die skool ‘n ideale plek is waar leerders kan ontwikkel, groei en hul potensiaal bereik en daarom is dit belangrik dat skoolhoofde gesonde leeromgewings by hul skole vestig.