• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE

3.1 INLEIDING

3.4.2 Data-insameling metodes

Tydens die kwalitatiewe data-insamelingsproses is die navorser die primêre instument (Joubert et al., 2016:112). Daar is ook ‘n paar beginsels ter sprake by ‘n kwalitatiewe data-insamelingsplan. In die eerste plek moet daar gebruik gemaak word van algemene en toepaslike vrae vir deelnemers. Vervolgens word net ‘n beperkte hoeveelheid deelnemers gebruik om inligting te versamel. Verder word ‘n verskeidenheid tipes data wat mekaar komplementeer versamel, soos byvoorbeeld dokumente en oudiovisuele materiaal, onderhoude en waarneming. Vir die doel van hierdie studie is die volgende navorsingsmetodes gevolg:

3.4.2.1 Seleksie van deelnemers

Die navorsing is in die Dr Kenneth Kaunda distrik in die Noordwesprovinsie gedoen. Daar is gebruik gemaak van ‘n doelbewuste steekproefmetode, waar daar onderhoude gevoer is met agt skoolhoofde van agt skole,wat die populasie van die studie uitmaak (cf. 1.5.4.2). Die skole is só geselekteer dat kwantiel 1-5 skole ingesluit is in die seleksie om te verseker dat data uit verskillende kontekste verkry kon word. Kwantiel 1-3 skole verwys na skole wat nie skoolgelde vra nie, maar wat befonds word deur die DBE (SASA, 1996). Kwantiel 4 en 5 skole is dus nie ‘geen-fooi’-skole nie. Doelbewuste steekproefneming word gebruik in sekere situasies waar ’n spesifieke doel voor oë is (Maree, 2010). In hierdie geval was die spesifieke doel om die geletterdheid van die skoolhoof rakende gesondheid te bepaal. Doelbewuste steekproefneming kan ook kriteriageoriënteerde steekproefneming genoem word (Bertram & Christiansen, 2014) (cf. 1.5.4.2). Maree (2010:200) staaf dat kwalitatiewe navorsing meer geneig is om diepgaande antwoorde te verskaf oor die komplekse aard van menslike probleme en denke. Kwalitatiewe navorsing berus daarop om die deelnemers se kennis, persepsies, ervarings en oortuigings as bron van inligting te gebruik (Joubert et al., 2016). Die skole wat vir hierdie studie gebruik is, is openbare sekondêre skole omdat daar ooglopend ’n groter verskeidenheid van skoolhoofde werksaam is, naamlik manlik en vroulik met verskillende kulture, kwalifikasies en agtergronde (cf. 1.5.4.2). Volgens Joubert et al. (2016:112) is die dataversadigingstadium in die kwalitatiewe navorsing ook baie belangrik. Hierdie stadium verwys na die punt waar die insameling van data voldoende is, met ander woorde dit is nie nodig om nog deelnemers by die studie te betrek nie, omdat die insameling van meer data waarskynlik nie nuwe idees en insigte na vore sal bring nie. Die datagenerering word nou na aanleiding van ‘n verskeidenheid navorsingsmetodes bespreek.

3.4.2.2 Semi-gestruktureerde individuele onderhoud

Van der Westhuizen (2007:87) definieer onderhoude as ʼn tweerigtinggesprek waarin die onderhoudvoerder die deelnemer vrae vra om data in te samel en om meer te leer oor die idees, oortuigings, sienings, opinies en gedrag van die deelnemer. Hierteenoor beskryf Joubert et al. (2016:113) ‘n onderhoud as ‘n gesprek met ‘n doel en ‘n struktuur. Semi-gestruktureerde onderhoude is gevoer met al die deelnemers van hierdie studie. Semi-gestruktureerde onderhoude word deur Maree (2010) gedefinieer

as onderhoude wat gewoonlik vereis dat die deelnemer ’n stel voorafbepaalde vrae beantwoord en dit maak ook voorsiening vir die ondersoek en verduideliking van antwoorde (cf. 1.5.5). Volgens Joubert et al. (2016:113) behoort deelnemers tydens semi-gestruktureerde onderhoude grondige kennis te hê oor die onderwerp waaroor die studie handel en daarom kan deelnemers maklik en spontaan antwoord. As navorser behoort daar gelet te word op die antwoorde van deelnemers sodat nuwe ontluikende ondersoeklyne geïdentifiseer kan word en duidelikheid verkry kan word oor wat direk verband hou met die verskynsel wat bestudeer word. Hierdie onderhoude is gelei deur die navorser en daar is gebruik gemaak van oop-einde vrae (cf. 1.5.5). Oop-einde vrae stel die navorser in staat om diep in die ervarings, kennis en sieninge van die deelnemers te grawe (Turner, 2010:754-760). Dit laat die deelnemers toe om oor die onderwerp in hul eie woorde te praat (Leedy & Ormrod, 2010). Die onderhoude is opgeneem met ‘n bandopnemer, met die deelnemers se toestemming (cf. 1.5.5). ‘n Semi-gestruktureerde onderhoud kan vanaf 30 minute en langer duur. Semi-gestruktureerde individuele onderhoude is gevoer met sekondêre skoolhoofde in die Dr Kenneth Kaunda distrik om hul persepsie rondom gesondheidsgeletterdheid en die bevordering daarvan te verken.

3.4.2.3 Waarnemings en veldnotas

Waarneming is - soos die naam aandui - ‘n metode van data-insameling, waar die navorser inligting deur sy of haar sintuie opmerk en waarneem (Seabi, 2012:91). Waarneming word al in sosiale navorsing as ’n navorsingsinstrument vir baie lank erken (Joubert et al., 2016). Veldnotas word volgens Greeff (2005:298) beskryf as die navorser se interpretasie tydens die onderhoude en is van kardinale belang om die onderhoudsproses te verken asook om dataverlies te verminder. Volgens Leedy en Ormrod (2010:45) verskaf semi-gestruktureerde individuele onderhoude met deelnemers die stukke van die legkaart, maar die waarnemings word gebruik om hierdie stukke bymekaar te pas. Die doel van waarneming is dus om ‘n volledige beskrywing van die deelnemer se gedrag in ‘n natuurlike omgewing te bied (Joubert

et al., 2016). Tydens onderhoude met skoolhoofde kon die navorser informeel

waarneem en veldnotas maak om te bepaal of deelnemers soortgelyke of verskillende ervarings gehad het oor gesondheidsgeletterdheid asook hul rol ten opsigte van gesondheidsbevordering en hoe hulle dit implementeer. Volgens Joubert et al. (2016)

stel die waarnemingsproses die navorser in staat om die werklikheid te sien, te hoor en te beleef soos wat die deelnemers dit doen. Die waarnemingsproses, volgens Joubert et al. (2016), het ook sy voordele en nadele vir die navorser. Die voordeel verbonde aan waarneming is die eerstehandse inligting wat die navorser verkry. Die nadeel is dat die navorser soos ‘n buitestander, moontlik vreemd en onnatuurlik, mag voel en lyk.

Daar is gebruik gemaak van ‘n ongestruktureerde waarnemingsproses. Volgens Leedy en Ormrod (2010) beteken ongestruktureerd vryvloeiend en buigsaam.

By die aanvang van ‘n projek is dit belangrik dat ‘n navorser ‘n navorsingsjoernaal of dagboek byderhand het waarin hy of sy rekord hou van al die aktiwiteite wat op daardie stadium en in die toekoms plaasvind (Corbin & Strauss, 2015:36). Veldnotas word tydens waarneming gebruik om data op te teken en dit sluit alles in wat die navorser sien en hoor (Joubert et al., 2016:116). Veldnotas is beskrywings van die navorser se refleksie rakende gesprekke, onderhoude, oomblikke van verwarring, intuïsie en stimulasie van nuwe idees gedurende die studie (Joubert et al., 2016) (cf. 1.5.5). Die veldnotas behoort dus gedetailleerd, akkuraat en uitgebreid te wees (Joubert et al., 2016:116). Volgens Joubert et al. (2016) word die navorser voorsien van die geleentheid om duidelikheid oor deelnemers se gedagtes te verkry deur veldnotas te maak. Die integrasie van veldnotas en waarnemings vorm deel van kristallisasie, wat bydra tot die betroubaarheid van die navorsing (Maree, 2010). Vier hierdie rede het die navorser van ‘n joernaal gebruik gemaak om terugvoering te gee oor skoolhoofde se houdings, gedrag, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal tydens onderhoude asook die deelnemers se omgewing.