• No results found

Die wisselwerking tussen die teksgebruiker-karakter en ander karakters

5.4 Put your heart under your feet and walk as storiewêreld wat moontlike subwêrelde

5.4.3 Die karakters in Put your heart under your feet and walk

5.4.3.1 Die wisselwerking tussen die teksgebruiker-karakter en ander karakters

Hierdie hoofstuk het tot op hede die teksgebruiker-karakter voorgestel as vehicle vir die skepping van verdere subwêrelde Die huidige bespreking sal ʼn wegspringpunt bied vir die teoretisering van hoe die teksgebruiker-karakter as vehicle moontlike subwêrelde konstrueer met betrekking tot hul blootstelling aan die karakterdimensies van die kunstenaar, kunswerke, en verskillende manifestasies van Elu.

Soos reeds elders bespreek, voer Margolin (2007:71) aan dat ʼn karakter verwys na enige entiteit wat bestaan binne die storiewêreld of in enige van die storiewêreld se subdomeine. Hierdie subdomeine verwys na die oortuigings, wense, intensies en verbeeldings van een of meer van die karakters óf selfs sekondêre ingebedde wêrelde geprojekteer deur stories waaraan die karakters blootgestel word. Met behulp van narratiwiteit (in besonder beliggaamde ervaring) en metalepsis word die teksgebruiker een so ʼn karakter wat in wisselwerking kan tree met die gesuggereerde en/of werklike karakters in die bepaalde (storie)wêreld(e). Hierdie wisselwerking tussen karakters word ʼn kernaspek in die raamwerk van moontlike wêrelde-teorie.

Die belangrikheid van die voorgenoemde word opgehaal in die wyse waarop karakters in fiktiewe wêrelde die vermoë het om moontlike wêrelde te projekteer (McHale, 1987:34). Dit sou in die konteks van Put your heart under your feet... and walk se storiewêreld as moontlike wêreld beteken dat karakters in die eiesoortige storiewêreld moontlike wêrelde kan konstrueer – ‘moontlike wêrelde binne ʼn moontlike wêreld’. Pavel (1986) verwys na hierdie ‘moontlike wêrelde binne moontlike wêrelde’ as narratiewe domeine (kyk ook McHale, 1987:34). Hierdie studie sluit veral aan by Eco (1984:246) se formulering van ‘moontlike wêrelde binne moontlike wêrelde’ deur dit te definieer as subwêrelde. Hierdie sogenaamde subwêrelde roteer rondom die ontologiese middelpunt wat binne die intra- fiktiewe domein van die storiewêreld geleë is (Ryan, 2006b:649). Daarom kan subwêrelde

beskou word as klein ‘sonnestelsels’ wat die ontologiese sentrum (naamlik die sogenaamde storiewêreld as moontlike wêreld) omring.

Dié subwêrelde word gevorm in die private heelal van die storiewêreldkarakter (vgl. Ryan, 2012). Wat hiermee bedoel word, is dat elke subwêreld gekonstrueer word deur ʼn storiewêreldkarakter se kognisies. Dié kognisies spruit vanuit en word beïnvloed deur die ontologiese middelpunt wat in die fiktiewe domein die karakter se werklike wêreld is. In Put

your heart under your feet... and walk word die subwêrelde dus gekonstrueer vanuit die

karakters se denke oor die storiewêreld en die elemente (soos ander karakters) wat in die storiewêreld gesitueer is.

Ryan (2006b:649) verduidelik dat elk van hierdie subwêrelde gesentreer word rondom sy eie epistemiese137 wêreld. Hierdie epistemiese wêreld huisves die karakter se beskouing

van die wêreld waarin hul geplaas is. Daarom word die werklike wêreld (van die karakter) en die karakter se subjektiewe persepsie van die private wêrelde van ander karakters ook ingesluit in hierdie epistemiese wêreld. Dié epistemiese wêreld word vanuit die karakter se oogpunt hul werklike wêreld. Daar kan aangevoer word dat die epistemiese wêreld van die teksgebruiker-karakter ʼn potensiële onakkurate beeld van die werklike wêreld binne die narratiewe heelal kan wees (kyk Ryan, 1991a:649). Hierdie studie se postklassieke benadering tot narratief verwerp egter die idee dat daar slegs een moontlike konseptualisering van die storiewêreld is, en bevorder die idee dat die wêreldskepping vrye teuels kan geniet en ʼn pluraliteit van moontlikhede bied. Dié gedagtegang sluit aan by Hoofstuk Drie (afdeling 3.3) se bespreking van narratiwiteit. Put your heart under your feet...

and walk is nie noodwendig ʼn narratief nie, maar beskik wel oor narratiwiteit (dit kan ʼn

narratiewe reaksie inspireer). Die installasie is dus nie ʼn ‘legkaart’ wat opgelos moet word nie, maar eerder ʼn konstruksiekis wat met sy elemente vrye en verbeeldingryke spel inspireer. Met verwysing hierna argumenteer ek dat elke karakter se epistemiese wêreld ewewaardig is in die narratiewe heelal.

Hierdie subwêrelde kom dus tot gestalte in die karakter se kognitiewe domein in die vorm van oortuigings, wense, vrese, spekulasies, hipotetiese denke, drome, fantasieë en vertelde en/of verbeelde verhale (Ryan, 2014). Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie konstrukte nie blote satelliete is van die storiewêreld nie, maar volledige heelalle wat bereik kan word deur middel van karakters wat hersentreer of ʼn proses van beliggaamde ervaring ondergaan (kyk Ryan, 1991b:119). Aangesien die karakter hierdie subwêrelde saam hul dra soos hul beweeg, is hul altyd in die middelpunt van hul perseptuele plek. Hul is daarom nie net in die subwêreld nie, maar ook deel van die subwêreld. Die karakter as medium word daarom ook ʼn komplekse sekwensie van herposisionerings, soos wat die karakter beweeg tussen die verskillende ontologiese domeine (metalepsis).

Ryan (1991a:649) voer aan dat kognisies soos drome, hallusinasies, fantasieë en fiktiewe stories op rekursiewe wyse verdere model wêrelde inbed, wat onder oorweging na ʼn spieëlproses sou lei wat ʼn eindelose herhaling tot gevolg sou hê. Dit is as gevolg hiervan dat ek die kognitiewe representasies, soos voorgestel in die epistemiese wêreld van die karakter, verkort en aanpas, sodat dit toepaslik is in die vier hoeke van my uiteindelike argument. Die kognisies wat ek onder die loep gaan neem sluit in spekulasies (met vrese en wense as onderafdelings), fantasieë, hipotetiese denke, en verbeelde verhale in verhale. Elk van hierdie kognisies sal verbind word aan ʼn unieke karakterdimensie ten einde aan te dui hoe die teksgebruiker-karakter se wisselwerking met ander karakters moontlike subwêrelde skep (met verwysing na narratiwiteit en metalepsis waar toepaslik). Na afloop van hierdie bespreking sal ek ondersoek op welke wyse die teksgebruiker-karakter in Put

your heart under your feet... and walk se storiewêreld verdere subwêrelde konstrueer met

betrekking tot die kunstenaar (Cohen) as performatiewe semiotiese medium en karakter.

5.4.3.2 Die teksgebruiker-karakter se spekulerende kognisies met betrekking tot