• No results found

HOOFSTUK 6: RESULTATE EN BESPREKING

6.3 Kwalitatiewe bevindings: temas en sub-temas uit die data analise

6.3.3 Die waarde en status van Liggaamlike Opvoeding

Daar moet vermeld word dat al die deelnemers reeds op die eerste dag van die indiens-opleidingprogram positiewe persepsies van Liggaamlike Opvoeding gehad het en die vak as waardevol geag het. In die verband het die meerderheid van die deelnemers

die gesondheidsvoordele van Liggaamlike Opvoeding genoem en ʼn aantal deelnemers het die belangrikheid daarvan vir leerders se waardes, sosiale en emosionele ontwikkeling beklemtoon. Die response op die vraag na die impak van die indiens-opleidingprogram op die deelnemers se persepsie van die vak op die laaste dag van die program was oor die algemeen positief, met enkele deelnemers wat laat blyk het dat die program hulle persepsie van die waarde van die vak nog meer versterk het.

“. . . Made me see the value of PE and how important our work is, and how big influence we can have on the children and their lives . . .”

“. . . It’s made me realise that PE is a crucial aspect of children’s lives and needs to be taken more seriously . . .”

Dit blyk dat die deelnemers se persepsie van die waarde van Liggaamlike Opvoeding na afloop van die indiens-opleidingprogram verder verryk was aangesien hulle veel meer voordele en waardes van die vak op die laaste dag genoem het, as met die aanvang van die progam. Aspekte van die waarde van Liggaamlike Opvoeding wat op die laaste dag genoem was, behels onder andere dat die vak belangrik is vir die holistiese ontwikkeling van die leerders, vir die bevordering van lewenslange deelname aan fisieke aktiwiteit en die bevordering van akademiese prestasie.

“. . . I now realize how actually important it really is. And how important me, teaching certain things are. Really. Because if I don’t teach it to them, they’re not

gonna be taught . . .”

Met betrekking tot die status van die vak, het verskeie deelnemers aangedui dat daar onderswysers in hulle skole was wat dink dat Liggaamlike Opvoeding nie ʼn ware skoolvak is nie.

“. . . And the other barrier is just the academic staff. Most of them don’t recognise Phys Ed as a single subject . . .”

Verder het ʼn deelnemer beweer dat ouers ook nie ondersteunend was nie en dat sommige ouers van mening is dat die onderwyser nie weet waarvan hy/sy praat nie en ook leerders wat beweer dat die onderwyser nie weet wat hy/sy doen nie.

“. . . ek ondervind baie keer die ouers het ʼn probleem veral as dit by kinders kom uhm hulle . . . sal sommer sê die juffrou weet nie waarvan sy praat nie . . .” ʼn Deelnemer was van mening dat die departement nie ondersteuning bied, en dat

kennis in die departement ontbreek om Liggaamlike Opvoeding te implementeer. “. . . Ek dink die . . . Ons moet begin by die mense wat by Distrik is . . . En hulle

meer leer hoe die die vak werk want hulle is baie meer Life Orientation georiënteerd en wanneer dit by die praktiese vakke kom soos Phys Ed, het . . . Volgens my dis net my opinie nie regtig daai kennis wat hulle kan oordra nie, so

ons moet eintlik weer bo begin . . .”

Die oorgrote meerderheid van die deelnemers was van mening dat die doel en waarde van Liggaamlike Opvoeding aan leerders, ouers en ander onderwysers verduidelik moet word. Die deelnemers besef ook die verband tussen fisieke aktiwiteit, klaswerk en konsentrasie en dat betekenis van hierdie verband aan leerders verduidelik moet word.

“. . . om beter te dink en jy slaap ook sommer beter en ʼn mens voel net sommer beter . . .”

Die hoë vlakke van motivering en selfvertroue van die deelnemers na afloop van die indiens-opleidingprogram, wat blyk uit hulle response en wat reeds in die voorafgaande gedeelte (6.2.2) bespreek was, is moontlik verwant aan hulle algemene persepsie dat Liggaamlike Opvoeding waardevol en selfs noodsaaklik is. Volgens Morgan en Hansen (2008b:380) en Aelterman et al. (2013:74), moet Liggaamlike Opvoeding onderwysers, binne die raamwerk van die SDT, die vak as waardevol en belangrik ag om leeruitkomste en gesondheid te bevorder, ten einde die behoefte aan hierdie persepsie te bevredig en intrinsiek gemotiveerd te wees om die vak effektief aan te bied.

Die status van Liggaamlike Opvoeding in die literatuur is breedvoerig in Hoofstuk 2 bespreek. Deur na die status van ʼn vak te verwys moet daar eers na die waarde van die vak gekyk word. Liggaamlike Opvoeding toon ʼn positiewe uitwerking op leerders, mits die vak korrek deur opgeleide onderwysers aangebied word (Du Toit et al., 2007:241; Van Deventer, 2012:154; Edginton et al., 2014:31). In ooreenstemming met die literatuur, het die deelnemers aangedui dat ander akademiese onderwysers nie Liggaamlike Opvoeding as ʼn “ware vak” sien nie en dat hierdie siening as ʼn hindernis deur Liggaamlike Opvoeding onderwysers ervaar word. Volgens Van der Merwe (2011:98), word Liggaamlike Opvoeding dikwels deur die publiek as ʼn mors van tyd en geld beskou. Christodoulou (2011:4) beweer dat Liggaamlike Opvoeding onderwysers dikwels deur mede-onderwysers en leerders as “speeltyd”toesighouers beskou word en dat hulle

werk nie ernstig opgeneem kan word nie, omdat Liggaamlike Opvoeding net daaroor gaan om ʼn “fluitjie te blaas”. (Sien p. 26).

Volgens een deelnemer was daar nie ondersteuning van die departement se kant af om onderwysers te help met Liggaamlike Opvoeding onderrig nie, en het die departement nie meer die nodige kennis oor hoe om Liggaamlike Opvoeding te implementeer nie. Op regeringsvlak is dit die Departement van Basiese Onderwys se verantwoordelikheid om toe te sien dat Liggaamlike Opvoeding sy noodsaaklike plek in die land se skoolkurrikulum beklee (Van der Merwe, 2011:26).