• No results found

HOOFSTUK 1: INLEIDING, PROBLEEMSTELLING EN DOELSTELLINGS

1.5. Navorsingsmetodologie

1.5.6 Data-insameling

1.5.6.1 Data-insamelingsmetodes 1.5.6.1.1 Vraelyste

Al die deelnemers in die program het 'n vraelys (Addendum A en C) ontvang op die eerste en die laaste dag van die opleidingprogram. Die doel van die vraelys op die eerste dag (Addendum A) was om basislyninligting te vestig en het uit drie afdelings bestaan: die eerste gedeelte het vrae oor agtergrondinligting van al die deelnemers bevat; die tweede afdeling het 'n paar vrae met betrekking tot die gebruik van kurrikulumdokumente en basiese kennis met betrekking tot die Liggaamlike Opvoeding beleid en inhoud bevat; en die derde afdeling het oop- vrae met betrekking tot persepsies van die deelnemers van die hindernisse ten opsigte van die aanbieding van Liggaamlike Opvoeding, persepsies van Liggaamlike Opvoeding en hulle behoeftes met betrekking tot die opleidingprogram bevat.

C) ontvang, wat uit dieselfde oop- vrae oor die persepsies van die onderwysers soos in die eerste vraelys gehandel het, en wat uitgebrei is om oop- vrae met betrekking tot die ervarings van die onderwysers tydens die opleidingprogram in te sluit, sowel as die persepsies van die onderwysers met betrekking tot die effek van die opleidingprogram op hul persepsies van Liggaamlike Opvoeding, asook hulle persepsies van hulle vermoë en bedrewendheid in die onderrig van die vak. Die beperkte kwantitatiewe data wat uit die vraelyste bekom is, word gebruik om die kwalitatiewe data te bevestig.

1.5.6.1.2 Individuele onderhoude

Die navorser, wat opgelei is in onderhoudvoering, het semi-gestruktureerde individuele onderhoude met behulp van ‘n onderhoudskedule (Addendum B), met die deelnemers op die laaste dag van die opleidingsprogram, gevoer. Die vrae in die onderhoude was daarop gerig om die volgende te ondersoek: onderwysers se persepsies of houdings teenoor Liggaamlike Opvoeding, hul ervarings gedurende die opleidingprogram, hulle persepsie van hulle selfvertroue om die vak aan te bied en hoe die opleidingprogram ‘n impak op hul persepsies van Liggaamlike Opvoeding gemaak het. Voorbeelde van vrae in die onderhoudskedule sluit in: “Hoe sien jy die waarde van Liggaamlike Opvoeding?”; “Hoe het jy die Liggaamlike Opvoeding kortkursus ervaar?”; “In jou opinie, watter sessies van die kortkursus was die bruikbaarste vir jou eie aanbieding van Liggaamlike Opvoeding?”; en “Hoe het die kortkursus jou opinie oor die waarde van Liggaamlike Opvoeding vir kinders geaffekteer?”

1.5.6.2 Betroubaarheid en geldigheid

Voor die aanvang van die studie is die onderhoudskedule en vraelys aan kundiges in Liggaamlike Opvoeding gegee word om dit te evalueer en aanpassings is in die skedule en vraelys gemaak op grond van hierdie kundiges se aanbevelings. Die kundiges wat gebruik is, is vier dosente met doktorsgrade in Liggaamlike Opvoeding aan die Noordwes Universiteit. Elk van die kundiges was minstens vyf jaar lank onderwysers in Liggaamlike Opvoeding op skool.

Om die geldigheid van die data met betrekking tot die onderhoude te verhoog, het die navorser in hierdie studie die getranskribeerde data aan die deelnemers gebied om te bevestig; en die opnames is aan ‘n onafhanklike navorser voorgelê wat die transkripsies bekragtig het. Vir die doel van betroubaarheid, is triangulering van die kwalitatiewe data gedoen deur vergelyking van die data uit die individuele onderhoude met die kwalitatiewe data uit die oop- vrae van die vraelys, sowel as die kwantitatiewe data vanuit vrae van die vraelys.

1.5.7 Data-analise

Alle onderhoude is woordeliks getranskribeer. Data vanaf die onderhoude en oop- vrae is volgens die riglyne van Henning (2004), Marshall en Rossman (2006), Wiersema en Jurs (2009), Boudah (2011), Alemu et al. (2015) en Theron (2015) geanaliseer, wat generering van kategorieë en temas insluit, datakodering, skryf van analitiese memo’s en die interpretering van die data. Die kwantitatiewe data van die vraelyste is ontleed met behulp van die Statistica vir Windows rekenaarprogram (StatSoft, 2012). Die beskrywende eienskappe is uitgedruk as gemiddeldes, minimum- en maksimumwaardes, en standaardafwykings.

1.5.8 Prosedure

Die vraelyste is uitgedeel na afloop van die bekendstelling van die opleidingprogram op die eerste dag, en op die laaste dag van die kursus, in 'n lesinglokaal waar al die deelnemers by tafels gesit het en die vraelyste voltooi het. Die navorser was teenwoordig, terwyl die deelnemers die vraelyste voltooi het om enige vrae te beantwoord of enige onduidelikhede met betrekking tot vrae in die vraelys, te verduidelik.

Die individuele onderhoude is op die laaste dag van die opleidingprogram in die kantoor van die navorser gedoen, nadat die deelnemers ingeligte toestemming gegee het. Die onderwysers is ook gevra om verbale toestemming te gee aan die begin van die onderhoud. Alle onderhoude is opgeneem.

1.5.9 Etiese klaring

Die oorkoepelende projek waarvan hierdie studie ‘n onderafdeling is, val onder die Fokusarea Fisieke Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (FASRek) van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, en is reeds deur die navorsingskomitee van hierdie fokusarea goedgekeur as ‘n navorsingsprojek. Hierdie studie is wel aan die etiekkomitee van die Fakulteit Opvoedkunde voorgelê en etiese goedkeuring is aan die projek verleen (NWU-HS-2016-2017).

1.5.9.1 Ingeligte toestemming

Onderwysers wat aansoek gedoen het om vir die indiens-opleidingprogram te registreer, het saam met die registrasievorm ook ‘n ingeligte toestemmingsvorm ontvang wat hulle in kennis gestel het van die navorsingsprojek (Addendum D). Dit is gedoen sodat die deelnemers die informasie en die toestemming vorm in hul eie tyd kon lees voordat hulle die opleidingsprogram bygewoon het.

Op die eerste dag van die opleidingsprogram, is die navorsingsprojek in detail aan al die ingeskrewe onderwysers deur die KLP-kantoor se verteenwoordiger verduidelik, wat as ‘n bemiddelaar opgetree het aangesien sy onafhanklik van die navorsingsprojek was. Die onderwysers is gevra om die ingeligte toestemmingsvorms wat die navorser toestemming gee om die vraelyste en onderhoude se data vir navorsingsdoeleindes te gebruik, te onderteken. Die deelnemers is ook ingelig dat deelname aan die navorsingsprojek vrywillig is en dat hulle nie verplig word om deel te neem nie (Addendum D), te voltooi.

1.5.9.2 Etiese aspekte in die ervaring van die deelnemers

In die opleidingsprogram het die onderwysers teoretiese en praktiese aspekte van die opleiding ervaar wat praktiese sessies soos die onderrig van praktiese vaardighede soos sportvaardighede, motoriese onwikkelingsvaardighede en dansvaardighede ingesluit het. Deelnemers in die opleidingsprogram het ook geleer om fisieke en motoriese fiksheidstoetse te doen. Alhoewel die deelnemers aangemoedig is om van die vaardighede en toetse prakties self te doen, het hulle hierdie aktiwiteite vrywillig gedoen slegs as hul gemaklik daarmee gevoel het, aangesien die primêre doel was om te leer om te onderrig of om hierdie aktiwiteite in hul Liggaamlike Opvoeding klasse toe te pas, en nie om dit self te doen nie. In die geval van die onderhoude, is die deelnemers onder geen druk geplaas om vrae te beantwoord indien hulle nie daarmee gemaklik was nie. Hulle is ook ingelig dat hulle toegelaat sou word om enige tyd vanuit die onderhoude te onttrek as hulle nie meer gemaklik voel om deel te neem nie. Die deelnemers is ook verseker van anonimiteit in die rappportering van die resultate om hulle te beskerm teen enige psigologiese of fisieke skade.

1.5.9.3 Vertroulikheid

Onderwysers wat deelgeneem het aan die onderhoude, is verseker van hul anonimiteit in die rapportering van die navorsingsresultate. Na afloop van die projek, sal al die harde kopieë met data vir vyf jaar in 'n geslote stoorkamer gestoor word wat slegs toeganklik vir die projekleier is, waarna dit vernietig sal word.