• No results found

LITERATUUROORSIG EN TEORETIESE UITEENSETTING 2.1 Inleiding

2.9 Die Gevorderde Onderwyssertifikaat (GOS): Leierskap en Bestuur (2007)

Die GOS: Leierskap en Bestuur is in 2007 in ses provinsies in Suid Afrika geïmplementeer in ‘n poging om die standaarde van onderwys te verbeter deur die kwalifisering van toekomstige prinsipale. Mestry en Singh (2007, in Msila, 2013: 443) beskryf dit soos volg:

“The ACE-SML [School Management and Leadership] is a practise-based part-time programme of study that is aimed at providing management and leadership support through a variety of interactive programmes that improve the students’ practise, professional growth and ethos of leadership […] the programme equips school managers as they constantly learn about various themes in leadership and management”.

In 2007, met die implementering van die GOS-kwalifikasie, het die DvO erkenning gegee aan die noodsaaklikheid van die voorbereiding van prinsipale en aan die feit dat opvoedkundige bestuurs- en leierskapopleiding tot op daardie tydstip nie koste-effektief was, of voldoende resultate gelewer het ter ontwikkeling van leierskapvaardighede nie (Venter, 2008). Volgens Moloi (2007: 470) is daar tot die besef gekom dat bekwame opvoedkundige leiers nodig is om transformasie in die onderwysstel te versnel en om die implementering van beleide te ondersteun, en daardeur skole se standaard van onderrig te verbeter. Om hierdie rede is maatreëls ingestel ooreenkomstig die Suid-Afrikaanse Standaard vir Skoolleierskap (SASSL), waarmee die ontwikkeling van apsirant- prinsipale binne die beleidsraamwerk vir opvoedkundige leierskap en bestuur sou plaasvind (Moloi 2007: 471). Hierdie standaard identifiseer ses gebiede van prinsipaalskap, naamlik:

42

• lei en bestuur die kurrikulum;

• bepaal die rigting en ontwikkeling van die skool; • verseker gehalte en aanspreeklikheid;

• ontwikkel en bemagtig self en ander; • bestuur die skool as ‘n organisasie; • werk saam met en vir die gemeenskap.

Om hierdie standaard te realiseer, is twee hoofelemente in die beleidsraamwerk van opvoedkundige leierskaps- en bestuursontwikkeling geïdentifiseer, naamlik die implementering van ‘n grondvlakkwalifikasie vir prinsipale en die hergradering van die waardebepaling van prinsipale se dienste (Moloi, 2007: 471).

Dit is die bedoeling dat hierdie kwalifikasie aan beginnerprinsipale en hul bestuurspanne die nodige vaardighede en kennis sal verskaf om ná die voltooiing van hierdie deeltydse program (GOS: LS), ‘n skool suksesvol te kan bestuur. Volgens Bush (2011) is daar aanvanklik beplan om hierdie GOS-program ‘n grondvlak kwalifikasie te maak wat as ‘n voorvereiste, vir aanstelling van alle beginnerprinsipale, in Suid-Afrika sou dien. Die GOS-kwalifikasie is uiteindelik in 2015 gestaak, en het DvO nie daarin geslaag om die GOS-kwalifiksie ‘n voorvereiste te maak nie.

Volgens die module uiteensetting van die Understand School Leadership and Governance in the South African Context (DvO 2008) is die doel van die GOS-kwalifikasie “…the development of a corps of education leaders who apply critical understanding, values, knowledge and skills to school leaders and management within the vision of democratic transformation” (DvO, 2008: 7). Hierdie raamwerk word volgens DvO (2008: 5) en Sonnekus (2014) verder uitgebrei tot vyf areas wat ontwikkel word deur die kwalifikasie, en waarop klem gelê word om hierdie doel te bereik:

• verskaf leierskap en bestuursvaardighede om die bestuurspanne van skole in staat te stel om gehalte-onderrig aan elke leerder te verskaf;

• verskaf professionele leierskap, ook in kurrikulumbestuur om sodoende te verseker dat skole gehalte-onderrig, leer en hulpmiddels verskaf om leerderprestasie te verhoog;

• versterk die professionele rol van die hoof deur die bevoegdheidsvlak van die beheerliggaam te verhoog;

• ontwikkel toekomstige prinsipale wat in staat is om krities met enige saak om te gaan en self-refleksiewe praktisyns is; en

• stel toekomstige prinsipale instaat om hul departemente en skole te kan bestuur as leerorganisasies, en om waardes oor te dra wat transformasie in die Suid-Afrikaanse verband ondersteun

Alhoewel bostaande uiteensetting van die doelwitte van die GOS-opleiding ‘n goeie indruk kan skep, meen Sonnekus (2014), word die vraag gestel of die prinsipale ervaar dat hierdie

43

opleiding werklik ‘n verskil maak. Die mate waartoe hierdie stappe in die skole van prinsipale wat die opleiding suksesvol voltooi het, geïmplimenteer word, kan verband hou met die modules wat vir die GOS-kursus voorgehou word (Sonnekus, 2014).

Sonnekus (2014: 47) meen die feit dat die GOS-kursus eenvormig deur die verskillende universiteite aangebied word, met dieselfde voorskrifte en kurrikulum, kan moontlik dui op die regering se poging om eenvormigheid met die kwalifikasie te handhaaf, maar dit kon ook bedoel was om die opleiding van prinsipale moontlik te beheer. Heystek (2007: 500) stel sit soos volg: “…the initiative may be an indication of the importance to the South African government of maintaining power and controle over leadership training for principals”. In hierdie geval kan die strewe na mag moontlik toegeskryf word aan verskeie neoliberale en markgedrewe globale teorieë (Heystek 2007).

Die GOS-kwalifikasie is egter in 2015 deur die DvO gestop omdat DvO en die provinsiale onderwysdepartemente dit nie meer wou befonds nie (Williams 2015: 175). Die program het nie verder sy doel gedien nie, aangesien die doel met hierdie GOS-kwalifikasie was om beginnerprinispale te bemagtig met skoolleierskapsvaardighede en daar beoog is om dit as ‘n grondvlak-leierskapkwalifikasie ‘n vereiste te maak vir aanstelling as prinsipaal in Suid- Afrika, soos in oorsese lande onder andere Engeland, die Verenigde State, Singapoer en Kanada (Williams 2015: 176). Williams (2015: 176) meen dat die generiese, in plaas van ‘n gekontekstualiseerde benadering ten opsigte van leierskap en bestuur, asook ‘n algemene program vir prinsipale, adjunk prinsipale en departementshoofde, problematies was. Selfs prinsipale met 20 jaar ervaring asook kringbestuurders het vir hierdie program ingeskryf. Die implementering van ‘n enkele, algemene en aanvaarbare beleidsdokument oor die rol van die prinsipaal kon die basis gevorm het vir leierskap- en bestuursontwikkeling in dié program. Die feit dat die toelating van individue, tot die program so oop was alhoewel hul rolle by die skool verskil het, het die program nie doelbewus spesifiek gemaak nie; inteendeel, dit het dit moontlik te oop gemaak vir deelname (Williams 2015). Indien die GOS-kwalifikasie in die toekoms vervang word sal hopelik die lesse wat geleer is met die GOS-kwalifikasie reggestel word met die implementering van die nuwe leierskapkwalifikasie.