• No results found

NAVORSINGSONTWERP EN NAVORSINGSMETODOLOGIE 3.1 Inleiding

3.4.2 Bespreking van beleidsdokumente

In Hoofstuk 2 is verskeie beleidsdokumente bespreek as deel van die gevallestudie. Die uitgangspunt word gebruik dat ‘n beleid gesien word as ‘n dokument wat daargestel is om ‘n spesifieke probleem aan te spreek en om oplossing te bied, deur die implementering van sodanige beleid. In hierdie geval is die probleem die uitdagings, probleme en behoeftes wat beginnerprinsipale ervaar met die lei en bestuur van die kurrikulum by hul skole, terwyl gepaste opleiding, voorbereiding en ondersteuning aan hulle, gesien word as ‘n moontlike oplossing. Die Suid Afrikaanse Skolewet (SASW), Die PAM-dokument, Suid Afrikaanse Standaard vir Skoolhoofskap (SASS) van 2005, Suid Afrikaanse Standaard vir Skoolhoofskap (SASS) van 2015 en ander beskikbare literatuur oor prinsipale se verantwoordelikheid as kurrikulumleiers en -bestuurders, is bespreek. Dit het die grondslag gevorm van waar die beginnerprinsipale se ervaring as kurrikulumleiers en -bestuurders ondersoek kan word om vas te stel watter impak hul bestuursvermoeë het op die onderrig en leerproses by hul skole. 3.5 Betroubaarheid en geldigheid van die navorsing

Volgens Kumar (2011:181) verwys betroubaarheid na “…a research tool being consistent and stable and hence, predictable and accurate.” Kumar (2011: 181) sê verder dat daar 4 belangrike komponente ten opsigte van geldigheid en betroubaarheid in kwalitatiewe navorsing voorkom naamlik: “credibility, transferability, dependability and conformability.” McMillian en Schumacher (2010:330) sê geldigheid in kwalitatiewe navorsing: “refers to the degree of congruence between the explanation of phenomena and the realities of the world.” Geldigheid word verder verseker deur gebruik van multimetodestrategieë.

3.5.1 Betroubaarheid

Volgens Yin (2009:45) word betroubaarheid van navorsing bepaal deur die mate waartoe dieselfde resultate verkry word indien ‘n ander navorser dieselfde gevallestudie doen. Dit is egter belangrik om daarop te let dat dieselfde individue gebruik moet word en dieselfde prosedures gevolg word om aan die toets van betroubaarheid te voldoen. Swanborn (2010:36) verwys na die betroubaarheidstoets as die toets van tyd. Alhoewel daar tans, na my wete, nie herhaling van hierdie studie is nie, behoort soortgelyke bevindings en moontlike gevolgtrekkings verkry te word by die herhaling van die navorsing.

Die voorlê van ‘n reeks bewyse mag moontlik, volgens Andrade (2009:50) bydra tot die geloofwaardigheid van die analise, maar dat konstante resultate waarde verleen aan ‘n studie. Om betroubaarheid van die data te bevestig, het ek ‘n volledige transkripsie van die onderhoud aan die prinsipale gestuur om te verseker dat die inligting volledig en akkuraat is. Hulle kry dus die geleentheid om te verifieer dat die transkripsies van hul onderhoude

55

akkuraat en volledig is. Met die terugvoering van die data het van die prinsipale byvoegings gemaak en was daar dus in sommige gevalle verandering in data. Hierdie verandering was nodig, aangesien dit op die navorsingvraag betrekking gehad het.

3.5.2 Geldigheid

Aangesien die geloofwaardigheid van hierdie studie as baie belangrik beskou is, moes ek die betroubaarheid en geldigheid van die studie verseker. Volgens Leedy en Ormrod (2001:103) sal navorsing slegs waardevol wees indien dit die navorser toelaat om betekenisvolle en verdedigbare gevolgtrekking uit die data te maak.

Interne geldigheid fokus op die kousale verhouding waar sekere toestande aanleiding gee tot ander (Andrade 2009). Dit kan waargeneem word in die analisering van data om patrone wat mag voorkom, uit te lig. Andrade (2009:49) verduidelik dat “pattern-matching, by which the researcher compares an observer pattern against a predicted one, is regarded as a valuable tactic for case study analysis, while explaining building is considered as a special type of pattern-matching”. In hierdie studie is patrone gesoek oor die ervaring van beginnerprinsipale na aanleiding van kurrikulumleierskap en –bestuur by hul skole.

Om interne geldigheid te verkry in hierdie studie het ek die onderstaande spesifieke stappe uitgevoer:

• Die beplanning en uitvoer van die veldwerk het oor vier maande gestrek (Februarie 2016 tot Mei 2016);

• Ek het met die respondente gekonsulteer via eposse en telefonies, oor die algehele proses van die onderhoude, om te verseker dat die data uit die onderhoude geldig is; • Ek het die skole besoek om my te vergewis van die omgewing en personeel sodat ek

‘n begrip kon kry van die agtergrond van die skool en gemeenskap; en

• ‘n Literatuuroorsig, getranskribeerde onderhoude met vier beginnerprinsipale en veldnotas is gebruik om die data in te samel.

Deur omvangryke beskrywings van data vanuit ‘n bepaalde konteks te versamel kon ek eksterne geldigheid verseker sodat dit die leser in staat kan stel om vergelykings te tref. Eksterne geldigheid verwys na die mate waarin die bevindinge veralgemeen word. Hierdie soort geldigheid word in die ontwerpfase van die navorsing gebruik vir logiese replisering in veelvoudige gevallestudies (Leedy & Ormrod 2001). Aangesien daar in hierdie studie vier gevalle voorkom, sal eksterne geldigheid wel ‘n rol speel. Voorts kan daar dan op hierdie wyse bepaal word in watter mate die navorsingresultate ook binne ‘n ander verband met ander deelnemers van toepassing gemaak kan word.

56

McMillan en Schumacher (2010:117) se aanbeveling oor navorsingsetiek aan navorsers is om oop en eerlik as moontlik te wees met deelnemers oor alle aspekte van hul studie, terwyl Cohen, Manion & Morris (2011:442) verklaar dat onderhoude ‘n etiese dimensie bevat: “they concern impersonal interaction and produce information about the human condition.” Bogdan en Biklen (2007:48) is weer van mening dat “ethics in research are the principles of right and wrong that a particular group accepts at a particular time” en dat onetiese gedrag een van die ernstigste beskuldigings is wat teen enige navorser ingebring kan word. Bogdan en Biklen (2007:48-49) gaan verder deur te sê dat tradisionele etiese aanduiders te neerkom op twee prominente aspekte, naamlik die ingeligte toestemming van deelnemers en die beskerming teen enige vorm van diskriminasie en skade. Die riglyne word eerstens daar gestel om te verseker dat deelnemers vrywilliglik aan ‘n navorsingsprojek deelneem, volledig ingelig is oor die studie, en kennis dra oor al die verwante risiko’s en verwagtinge. Tweedens verseker die riglyne dat mense nie risiko’s wat moontlik groter as die moontlike voordele uit die studie kan wees blootgestel word nie.

Alderson en Morrow (2004:11, aangehaal in Plowright, 2012:149-150) verduidelik dat etiese gedrag te make het met respek vir deelnemers regdeur die projek, deur die gebruik van ooreengekome standaarde. Dit is belangrik om te let op die bewoording wat hier gebruik word. Die term ‘deelnemers’ dui op die individue, en in dié geval die beginnerprinsipale, wat uitgenooi word om aan die studie deel te neem. Eerder as om na hulle te verwys as subjekte, word die term ‘deelnemers’ gebruik, wat geassosieer word met positiewe eienskappe rakende die manier waarop die navorser die individue benader en verstaan, sowel as die verhouding wat tussen hulle ontwikkel. My mening is dat, met die inagneming van die ooreenstemming oor wat van die deelnemers verwag word en wat die studie gaan behels, die verhouding tussen navorser en deelnemers tot die sukses van die navorsing kan bydra. Yin (2009:73) beveel aan dat die navorser ‘n profiel van bewyse versamel wat staaf dat hy alles moontlik gedoen het om te verseker dat die deelnemers aan die gevallestudie beskerm word, aangesien die navorser in ‘n mate verantwoordelik is vir die deelnemers tydens die studie. ‘n Lys van stappe wat gevolg is om die privaatheid van die deelnemers sowel as die veiligheid van die navorser te bewerkstellig sluit in:

• ingeligte toestemming van alle persone is verkry wat deel uitmaak van die navorsing. • deelnemers is ingelig oor die aard van die studie, sowel as om hulle vrywillige

deelname aan die studie skriftelik te bevestig.

• om die deelnemers te beskerm teen enige benadeling deur misleidende gedrag of die weerhouding van inligting.

• Om die privaatheid en vertroulikheid van die deelnemers te verseker sodat hulle moontlik in die toekoms weer bereid sal wees om aan navorsingsprojekte deel te neem. In die studie word dus slegs na skole en prinsipale verwys as skool en prinsipaal A, B, C en D.

57

Om hierdie rede word streng maatreëls deur die Onderwysdepartement en die Universiteit van Stellenbosch gevolg. By die universiteit word ‘n deeglike en streng etiese proses gevolg om etiese klaring te bekom. Dit sluit in die invul van ‘n lywige voorgeskrewe aanlynvorm waarin die studie beskryf word en waar die navorser verplig word om spesifieke dokumentasie te laai as bewys dat die voorgeskrewe prosesse, soos deur die etiese komitee en kantoor voorgestel, gevolg is. Hierdie vorms en dokumentasies moet deur veskeie panele en komitees goedgekeur word. Die proses poog om te verseker dat navorsing wat deur die universiteit gedoen word geen deelnemende partye oneties behandel nie, of eerder , dat die navorsing op die korrekte manier uitgevoer is. Die Navorsingsetiekkomitee van die universiteit speel hier ‘n prominente rol.

Behalwe die streng etiese prosedures van die Universiteit van Stellenbosch, het die Wes- Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ook ‘n stel verpligte maatreëls wat gevolg moet word voordat daar met veldwerk begin word. Etiese klaring by die Onderwysdepartement vereis dat skriftelike toestemming van die respondente, en in dié geval die beginnerprinsipale, verkry word en by die navorsingsvoorstel aangeheg word. Daarna word hierdie bewyse saam met die volledige navorsingsvoorstel vir goedkeuring ingehandig.