• No results found

In die literatuur word verskillende houdings van ouers aangaande die versorging van die kind met SG genoem. Die eerste reaksie op die nuus dat hulle kind “gestremd” is, word deur Ross en Deverell (2004:36) opgesom as dat die drome en toekomsverwagtings wat ouers vir hul kind gekoester het, verlore is. Gevoelens van rou, skuldgevoel en depressie veroorsaak emosionele verwarring en uitputting. Dit het ’n negatiewe invloed op die hele gesin en tyd is nodig om die nuwe, onbekende situasie te verwerk en aanpassings te maak voordat hulle hierdie kind kan aanvaar (Terra, Cysneiros, Schwartzman, Teixeira, Adira, Cavalheiro, Scorza, & De Albuquerque, 2011:386; Ross & Deverell, 2004:36,37). Die uitwerking wat die wyse van die hantering van die stresfaktore in die versorgingsituasie het, bepaal in ’n groot mate die toekoms van beide die gesin en die kind met SG.

1.8.1 STRESFAKTORE

Die versorgingstaak van die kinders met SG val gewoonlik op die ouers. Die grootste probleme waarmee die ouers sukkel, is onsekerheid oor die kind se spesiale behoeftes, soos hoe om die baba op te tel, te hanteer, te bad en te voed. Dit veroorsaak ’n voortdurende ontwrigting van die gesinsroetine, ’n afname in sosiale aktiwiteite, ’n aanvraag na hulpmiddele en ’n groter finansiële las. Ross en Deverell (2004:69,70) noem verder twee tipes problematiese gedrag by die kind met SG wat ’n negatiewe belewenis van ouerskap skep: onbeheerbare gedrag, soos om onvanpaste dinge te sê of oormatig en op onvanpaste tye te lag of te bloos; en emosionele uitbarstings wat deur die direkte omgewing veroorsaak word.

Die nimmereindigende eise in hierdie veeleisende situasie maak ’n groot impak op versorgers se opgewassenheid en gevolglike stres het ’n negatiewe uitwerking op hulle fisiese en emosionele gesondheid. Met ander woorde die emosionele aanpassing en voortvloeiende stres van albei partye beïnvloed mekaar wedersyds. Wanneer die gestremde kinders stres weens hulle gestremdhede beleef, verhoog dit die stresvlak by

25

die versorgers. Die kinders merk die verhoogde stresvlak op en hul eie stresvlak styg weereens. Hierdie eskalerende kringloop lei daartoe dat die algemene gesondheid van die kinders, sowel as dié van die versorgers, daaronder ly (cf. 1.2.1). Die teendeel is egter ook waar: wanneer die versorgers ’n lae stresvlak handhaaf, bly die stresvlak van die gestremde kinders ook laag en geniet beide partye beter gesondheid.

’n Keerpunt kom vir die gesin wanneer ouers die hulp van professionele persone inroep om die gesin by te staan om al die verwarrende emosies in die aanpassingsproses in konteks te plaas. Die berading wat ouers ontvang, verlig hulle negatiewe gevoelens en hulle, asook hul kind met SG, ervaar dus positiewe emosies en beter fisise en psigologiese gesondheid. Rentinck, Ketelaar, Jongmans & Gorter (2007:161) postuleer dat ouers met ’n hoër vlak van selfbeheer, selfwaarde en ’n groter innerlike psigologiese kragbron, hul ouerskap in ’n positiewe lig sien en begin om op ’n positiewe wyse te bou aan die toekoms van hul kind. Die resultaat van hierdie positiewe lewensbeskouing, met die verrykende gevolge vir die kind met SG, word bespreek onder ‘Serebrale gestremdhede en sukses’ (cf. 1.8).

1.8.2 UITBRANDING: DIE LEWENSKWALITEIT VAN DIE VERSORGERS

Uitbranding word gedefinieer as ’n psigologiese sindroom van uitermatige fisiese en emosionele uitputting, depersonalisasie en verminderde persoonlike prestasie as gevolg van die harde werk wanneer daar in noue kontak met mense met gestremdhede gewerk word (Demirhan, Íçağasıoğlu, Eriman, Tezel, Baklacıoğlu, Haliloğlu & Aras, 2011:23). Navorsingstudies rapporteer dat die versorger van kinders met SG psigologiese probleme ontwikkel omdat hulle sukkel met ’n lae lewenskwaliteit, angstigheid, frustrasie, kommer, skuldgevoelens en ander emosionele probleme (Ones, Yilmas, Cetinkaya & Caglar, 2005:236,237). Volgens beskikbare navorsingsresultate is die rede waarom moeders soms stres ervaar ten opsigte van die versorgingsituasie, dat die vaders dikwels afwesig is en die moeders die probleme alleen die hoof moet bied (Demirhan et al., 2011:22; Terra et al., 2011:387). Verder is die versorger die hele dag in noue kontak met die kinders met SG, wat emosionele uitgeputting en uitbranding veroorsaak (Almberg, Grafström, Kirchbaum, & Winblad, 2000:931-933). Wanneer beide die versorger en die persoon wat versorg word die omvang van hul situasie en behoeftes begryp, vorm hierdie agtergrondkennis ’n basis waarvolgens albei partye hul

26

daaglikse lewe kan struktureer. Die ouers vind veral kennis van die tipe SG wat by haar kind gediagnoseer is belangrik omdat hulle, deur op hoogte te wees van die ernstigheidsgraad van die simptome, die toekomstige pyn- en funksioneringsvlak van hulle kind kan voorspel. Die ouers wil ook voorsiening maak vir hulle kind se toekoms, omdat hulle bekommerd is oor die kind wanneer hulle nie meer daar gaan wees nie (Ross & Deverell, 2004:71,72). Behandeling kan dus vooruit beplan word en die ouers kan die kind help om realistiese mikpunte te stel, terwyl persoonlike en omgewingsfaktore in ag geneem word. Die ouers voel dat hulle op hierdie wyse kontrole/beheer oor die lewensituasie van die kinders wat van hulle afhanklik is, uitoefen. Volgens die bespreking van Karasek se D-C teoretiese raamwerk (cf. 1.2.1), lei die ervaring van kontrole tot die verligting van stres by die ouers. Eers wanneer die versorgers ontspan, is hulle daartoe in staat om met ’n kalm gemoed die kind met SG te help beplan aan ’n gelukkige toekoms.