• No results found

LYS VAN TABELLE

3.6 BESPREKING VAN RESULTATE

Navorsers postuleer dat leerders met SG probleme ten opsigte van intellektuele en kognitiewe funksionering toon (Krigger, 2006). Volgens studies gee die motoriese gestremdhede van hierdie leerders aanleiding tot fonologiese en linguistiese agterstande, wat vererger met ’n verlaagde IK (Straub & Obrzut, 2009). Van Meeteren, Nieuwenhuijsen, De Grund, Stam en Roebroeck (2010) vermeld egter dat alhoewel 23% tot 44% van hierdie leerders leergestremdhede ervaar, hierdie leerders nie noodwendig intellektuele agterstande het nie.

Fonologiese bewustheid word ontwikkel deur die suksesvolle werking van die fonologiese kringloop in die werkgeheue. As gevolg van probleme wat SG leerders ten opsigte van sig, gehoor en spraak ervaar, ontvang die repeteringstoor in die fonologiese kringloop ’n onduidelike beeld, wat nie geprosesseer kan word nie en dus verwerp word. Die fonologiese kringloop word dus by die repeteringstoor onderbreek en fonologiese bewustheid en verdere linguistiese vaardighede kan nie ontwikkel nie. Hierdie agterstand wat leerders met SG ten opsigte van fonologie ervaar, is problematies, aangesien kundiges op taalgebied beweer dat fonologiese bewustheid een van die onontbeerlike basiese vaardighede is vir suksesvolle spelling en lees (Rapp et al., 2007). Spesifieke intervensiestrategieë, nie algemene strategieë nie, moet dus gebruik word vir die onderrig van hierdie leerders om lees- en spellingsvaardighede te ontwikkel. Daarom kan aanvaar word dat SG leerders se probleem met die ontwikkeling van linguistiese vaardighede slegs opgelos kan word deur spesifiek te fokus op die ondersteuning van die fonologiese kringloop.

Met bogenoemde feite as agtergrond, was hierdie studie ondersoekend en eksperimenteel van aard. Ten eerste is gestandaardiseerde en diagnostiese toetse toegepas om die spellingsvaardighede van die ondersoekgroep ten opsigte van Sesothowoorde, te bepaal. Tweedens is die leesvaardighede van Sesothowoorde van die leerders met gestandaardiseerde en diagnostiese toetse bepaal. Beide die gestandaardiseerde en diagnostiese toetse is vir elke graad afsonderlik opgestel, met woorde wat gerangskik is van maklik na moeilik. Derdens het die navorser visueel-perseptuele intervensiestrategieë

32

opgestel met die doel om te bepaal of die lees- en spellingagterstande van die grondslagfase leerders met SG beduidend kan verbeter nadat hulle volgens hierdie visueel-perseptuele intervensiestrategieë onderrig ontvang het. Nagraadse studente in ondersteuningsonderwys is deur die navorser opgelei vir die implementering van hierdie visueel-perseptuele intervensiestrategieë vir die ondersteuning van die lees- en spellingsagterstande van die leerders in die eksperimentele groep.

Verder word uitgebrei oor die persoonlike waarnemings tydens die toepassing van die visueel-perseptuele intervensiestrategieë tydens die ses maande intervensieperiode, ter wille van die diagnostiese waarde daarvan. Die doel van hierdie studie sal ook bespreek en vergelyk word met soortgelyke studies in verband met die fonologiese en taalagterstande ten opsigte van lees en spelling by SG leerders. Daar sal ook uitgebrei word oor die kognitiewe vermoëns en IK van hierdie leerders; en op die resultate van hierdie visueel- perseptuele intervensiestrategieë.

3.6.1 Hipotese 1 en 2: Die lees- en spellingprestasie van leerders met

Serebrale Gestremdhede

Navorsers postuleer dat fonologiese bewustheid ’n groter voorspeller van lees- en spellingsontwikkeling as IK is (Termine et al., 2007). Die dilemma waarin leerders met SG hulle bevind, word deur navorsers uitgewys, wat noem dat die motoriese gestremdhede van hierdie leerders tot fonologiese agterstande aanleiding gee (Straub & Obrzut, 2009). Hoewel die vlak van linguistiese ontwikkeling wel afhang van die IK van ’n leerder, is dit nie vanselfsprekend dat leerders met SG ’n lae intellek het nie (Van Meeteren et al., 2010). Daar is ook ander invloede wat ’n rol speel in die stadige ontwikkeling van die lees- en spellingsvaardighede by SG leerders. Hul linguistiese ontwikkeling word toegeskryf aan die interaksie wat hulle met hul omgewing het, dit wil sê met hul maats en leerkragte, asook hul informele blootstelling aan geskrewe taal. Hierdie interaksie word egter bemoeilik as gevolg van hul motoriese gestremdhede wat daartoe lei dat hulle geïsoleer word. ’n Verdere negatiewe invloed op die lees en spellingsontwikkeling van leerders met SG, is die interaksie tussen hierdie leerders en die onvoldoende kennis en onderrigstrategieë van die

33

leerkragte (Hay et al., 2001), met ’n beperkende uitwerking op die ontwikkeling van fonologiese bewustheid by hierdie leerders. Daarom is navorsing in verband met spesiale intervensiestrategieë vir leerders met SG van groot belang, aangesien hulle as gevolg van hul unieke probleem ten opsigte van die onvoltooide fonologiese kringloop, nie positief reageer op algemene onderriginstruksie nie. Leerkragte moet dus bemagtig word om hierdie leerders se linguistiese agterstand ten opsigte van lees en spelling, te ondersteun.

In hierdie studie is beide lees- en spellingsontwikkeling ingesluit. Resultate van die huidige studie toon soortgelyke positiewe resultate as bestaande studies met leerders met linguistiese agterstande, wat ook probleme met die onvoltooide fonologiese kringloop het en ook intervensie deur dieselfde intervensiestrategieë as wat vir hierdie studie opgestel en getoets is, ontvang het (Tolmie, 2008; Engelbrecht, 2005). Na aanleiding van die argument dat die sig-, gehoor- en spraakgestremdhede van SG leerders tot weinige fonologiese ontwikkeling aanleiding gee en lei tot lees- en spellingsagterstande, sal dit ook van waarde wees om die lees- en spellingsprestasie van SG leerders sónder sig-, gehoor- en spraakgestremdhede, te ondersoek. Die betekenis van hierdie intervensiestrategieë word vervolgens bespreek.

3.6.2 Die betekenis van die visueel-perseptuele intervensiestrategieë

Daar is van ’n kwasi-eksperimentele voortoets-natoetsontwerp gebruik gemaak om die effektiwiteit van die visueel-perseptuele intervensiestrategieë wat vir hierdie studie opgestel is, te bepaal. Hierdie strategieë is spesiaal aangepas vir die onderrig van leerders met SG, om hul foneem-grafeem-ooreenkomste; herkenning en skryf van klankgroepe en lettergrepe; asook die skryf en herkenning van woorde, te ontwikkel.

Resultate in tabel 3 en tabel 5 dui aan dat die meerderheid van die leerders met SG in die navorsingsgroep (eksperimentele en kontrolegroepe) beduidende agterstande ten opsigte van lees en spelling getoon het. Na aanleiding van positiewe resultate in verband met soortgelyke linguistiese agterstande wat in bestaande studies in die literatuur gerapporteer word (Tolmie, 2008; Engelbrecht, 2005; Van Staden, 2003), het die navorser voortgegaan

34

om die visueel-perseptuele intervensiestrategieë te implementeer. Die ondersteuning van die probleem van SG leerders, naamlik dat hulle nie ’n taalbasis in die geheue het waaruit inligting onttrek kan word nie, was die vertrekpunt van die intervensiestrategieë. Die navorser het gehipotetiseer dat deur die vaslegging van foneem-grafeem-ooreenkomste deur middel van hierdie visueel-perseptuele intervensiestrategieë, die linguistiese basis gelê word vir die ontwikkeling van korrekte spelling en woordherkenning (lees). Resultate in tabel 4 en tabel 6 dui daarop dat die hipotese suksesvol bewys is, aangesien die leerders ’n betekenisvolle verbetering getoon het. Daarom behoort hierdie intervensiestrategieë ’n positiewe bydrae te lewer in die onderrig van lees en spelling van SG leerders. Die diagnostiese evaluering en aanbevelings ten opsigte van die visueel- perseptuele intervensiestrategieë, word in die volgende afdeling bespreek.

3.7 DIE DIAGNOSTIESE EVALUERING VAN, EN AANBEVELINGS OOR