• No results found

Die drie kategorieë, naamlik skoolverwante faktore, arbeidsverwante faktore en samelewingsverwante faktore, is volledig in die voorafgaande paragrawe bespreek. Uit elkeen van hierdie kategorieë het ook temas ontwikkel wat gerapporteer is soos wat die deelnemers die effek van leerders se wangedrag op hulle sekuriteit beleef. Uit die analise en rapportering van die data wat tydens individuele en groeponderhoude ingesamel is, het ‟n deurlopende tema, naamlik die psigologiese sekuriteit van die deelnemers na vore getree. Hierdie deurlopende tema word laastens gerapporteer.

Vraag 1.1 van die onderhoudskedule (vergelyk Addendum D) was daarop gemik om te bepaal met watter verwagting of visie vir hul loopbaan die deelnemers die onderwys as professie betree het. Die respons van die deelnemers aan die individuele en groeponderhoud dui op ‟n gemeenskaplike passie en liefde vir kinders. Verskeie deelnemers noem dat onderwys hulle nog altyd na aan die hart gelê het en daarom het hulle geroepe gevoel om die professie te betree. Die motivering vir hul keuse word beskryf as “to be the best teacher and to provide the best education for the learners”. ‟n Ander deelnemer noem dat sy liefde vir kinders en hulle welsyn sy

Hoofstuk 3 120 dryfkrag was om ‟n verskil in die lewens van die leerders te maak. ‟n Groepdeelnemer dui aan “to make a positive impact on somebody’s life”. Een van die deelnemers wou aanvanklik in ‟n wetenskaplike rigting studeer, maar op aandrang van haar pa het sy toe onderwys gaan studeer. Sy noem dat sy nie spyt is dat sy na hom geluister het nie, want die sprankel in die kinders se oë wanneer hulle iets verstaan en bemeester, verskaf vir haar daagliks groot vreugde. Een van die deelnemers noem selfs dat sy algemeenste verwagting die werksbevrediging was wat hy daaruit sou put om daagliks met leerders te werk. Van die deelnemers noem ook die visie om in hulle loopbane na hoër range te vorder.

Die deelnemers ervaar egter oor die algemeen dat daar nie werklik aan hierdie verwagtinge van hulle voldoen is nie. Verskeie faktore soos politiek, ontevredenheid met die werkgewer se hantering van onderwyssake, onbetrokkenheid en negatiewe inmenging aan die kant van die ouers, asook ander faktore wat reeds bespreek is, word deur die deelnemers as hindernisse om hul visie te bereik, beleef. Hierdie faktore, tesame met die wangedrag van die leerders, het die visie van die meeste deelnemers negatief beïnvloed. Baie van die deelnemers beleef dat hulle teleurgesteld in hulle verwagting van die professie is. Een deelnemer druk dit so uit: “aanvanklik was dit lekker om met kinders te werk, maar deesdae voel ek om liewer vroeg af te tree”. Sy noem dat sy die uittartende gedrag en blatante minagting van opvoeders se gesag deur die leerders nie kan hanteer nie. Die beheerliggaamsvoorsitter van skool B noem dat baie opvoeders al vir hom gesê het dat hulle die gedrag van die leerders onhanteerbaar vind en dit sterk oorweeg om liewer te bedank.

Hoewel die meeste van die deelnemers fisies veilig en beskermd voel in hul werkplek, berokken hulle gebrekkige psigologiese sekuriteit groot skade aan hul gesondheid en selfbeeld. Een van die deelnemers noem dat hy nog geen fisiese bedreiging ervaar het nie, maar soos hy dit stel “my psige was geweldig aangeval”. Hy beleef die manier hoe ouers hul kinders in hulle wangedrag ondersteun as ‟n aantasting van opvoeders se selfbeeld. Nog ‟n deelnemer noem dat ouers dikwels nie wil glo dat hulle kinders verkeerd is nie en sal selfs prokureurs kry om hul kinders in dissiplinêre verhore te verdedig. ‟n Voorsitter van die beheerliggaam stem saam dat opvoeders

Hoofstuk 3 121 se fisiese veiligheid nie so erg bedreig word nie, maar dat hulle gereeld sake van verbale teistering wat op opvoeders gerig is, hanteer. Hy noem ‟n geval waar ‟n leerder ‟n opvoeder verbaal aangeval het in die teenwoordigheid van ander leerders. Die leerder het geweier om die opvoeder om verskoning te vra. Die beheerliggaam het tydens die dissiplinêre verhoor ‟n opgeskorte vonnis aan hom opgelê, maar die ouers het besluit om die leerder uit die skool te haal sodat hy nie die vonnis hoef te dien nie.

Dit is kommerwekkend dat bykans al die deelnemers onkunde ten opsigte van wetgewing vir die beskerming van hul veiligheid en sekuriteit toon. Van Kerken (2003:130) wys op die belangrikheid daarvan dat opvoeders hulself van hul regte ten opsigte van sekuriteit moet vergewis. Shaba et al. (2003:13-15) dui aan dat opvoeders moet weet dat daar wetgewing is wat hulle sekuriteit beskerm. Artikel 12 van die Grondwet, 108 van 1996, beskerm onder andere die vryheid en sekuriteit van die persoon. Artikel 12(1)(c) en (d) verskans onderskeidelik die reg om vry te wees van alle vorme van geweld asook die reg om nie op enige manier aan teistering blootgestel te word nie. Hierdie reg geld sekerlik ook vir opvoeders as burgers van die land. Die emosionele teistering wat voortspruit uit die wangedrag van die leerders laat opvoeders onseker en dikwels psigologies onveilig voel.

Nog ‟n deelnemer noem dat die astrante en uitdagende houdings wat leerders teenoor opvoeders openbaar hom erg grief. Hy noem verder dat indien jy toegee aan hierdie uitlokking van die leerders jy die risiko loop om dalk jou werk te verloor. Die inhibering van emosies lei volgens hom tot emosionele opkropping wat verder in stres en depressie kan ontaard. ‟n Sielkundige van die Gemeenskapagent vir Sosiale Navrae (CASE) bevestig dat ‟n groot aantal opvoeders na haar verwys word as gevolg van die traumatiese ervarings waaraan hulle in skole blootgestel word (vergelyk par. 1.4.1). Deelnemer drie steun sterk op die gedragskode van die skool vir sy veiligheid en sekuriteit, omdat hy meen dat ‟n korrek saamgestelde gedragskode sekuriteit vir die opvoeder kan bied.

Die deelnemers beleef nie net die wangedrag van die leerders as ‟n bedreiging van hulle sekuriteit nie. Verskeie van die deelnemers spreek ook hul onsekerheid ten

Hoofstuk 3 122 opsigte van die werkgewer uit. ‟n Deelnemer stel dit dat daar nie meer werklike ondersteuning van die “owerheidsweë” gebied word nie. Volgens hom het die leerders en opvoeders al erge traumatiese ervarings tydens die skêrsteek-episode by sy skool beleef, maar dat die sielkundige ondersteuning deur die departement nie voldoende was nie. Die beheerliggaamsvoorsitter van skool B noem dat daar in die keuse van gepaste straf aan leerders tydens dissiplinêre verhore dikwels sielkundige evaluerings betrokke is, maar dat hierdie ondersteuningsbasis aan die kant van die werkgewer ontbreek.

Deelnemer drie beleef dat werksekerheid ‟n psigologiese faktor is wat sekuriteit van opvoeders bedreig. Sy noem dat die oortolligverklaring van personeel opvoeders onseker laat voel oor hul toekoms in die onderwys. Die feit dat hierdie oortollig- verklaarde opvoeders weg van hul huise en families geplaas kan word, het ‟n sielkundige effek op sulke opvoeders. Sy noem dat die werkgewer ook baie druk op skole plaas om goeie matriekuitslae te lewer. Die tekort aan personeel plaas egter baie druk op opvoeders om aan die vereistes van die werkgewer te voldoen. Graad 12-opvoeders beleef uitermatige stres as gevolg van hierdie eise wat aan hulle gestel word.

Die ondersteuning ten opsigte van beleid wek ontevredenheid by verskeie van die deelnemers. In ‟n voorval waar die skool volgens beleid opgetree het en leerders wat herhaalde kere ‟n spesifieke graad gedruip het toelating geweier het, het die werkgewer, ten spyte van die beleid van die skool, in die guns van die ouers en leerders besluit. Hierdie leerders wat dan ook baie ouer as die normale ouderdom vir die graad is, asook die ouderdom vir verpligte onderwys oorskry, moes hertoegelaat word tot die skool. Deelnemer vier noem dat hierdie ouer leerders hulle nie aan die gesag van opvoeders wil onderwerp nie en dissiplinêre probleme by die skool veroorsaak. Deelnemer een spreek haar vrees uit oor leerders wat net so lank soos opvoeders is. Veral vroulike opvoeders voel psigologies bedreig en sy noem met vrees in haar stem dat “dis eintlik ‟n jong volwasse man wat hier voor jou staan en maklik aggressief kan raak”.

Hoofstuk 3 123 Deelnemer vier sien hierdie optrede van die werkgewer om beleid te ignoreer as politieke manipulering deur die ouers en gemeenskap. Deelnemer drie stem saam dat die politieke situasie in die land die werkgewer manipuleer tot die voordeel van sekere individue. Hierdie deelnemer noem dat sy visie in die onderwys tot stilstand gekom het as gevolg van politiek in die land.

3.12 Samevatting

Dit is duidelik dat baie leerders se sosio-ekonomiese omstandighede ‟n faktor is wat wangedrag bevorder. Dit word bevestig in die literatuur (vergelyk par. 1.2) dat die persoonlike of omgewingsprobleme wat leerders ondervind, dikwels onderliggende redes vir wangedrag is en dat opvoeders die slagoffers van leerders se onderskeie emosies word. Verskeie van die deelnemers toon egter simpatie met leerders wat in hierdie omstandighede moet lewe. Deelnemer twee noem dat die skool vir die leerders ‟n plek moet wees waar hulle veilig en beskermd voel. Ná skool moet baie van hulle weer terugkeer na huise waar daar geen liefde, sekuriteit en beskerming is nie. Die meeste deelnemers beleef dat goeie morele waardes die grondslag vir dissipline lê. Deelnemer drie stel dit dat Christelike, en nie humanistiese waardes, die basis van goeie morele waardes behoort te wees. Deelnemer twee voeg by dat die opvoeding van die kind nie ‟n eenman-taak is nie. Hoe meer mense volgens hom toegewyd en betrokke is by die opvoeding van die kind, hoe beter.

Die wanorde in die samelewing hou direk verband met wanorde wat nou in skole te bespeur is (Anon, 2005a:1-3). Par. 1.2 verwys ook daarna dat die wangedrag van die leerders toegeskryf kan word aan die feit dat sommige ouers nie hulle primêre verantwoordelikheid ten opsigte van hulle kinders nakom nie. Janzen (2005) meen dat die negatiewe houding van ouers die toepassing van dissipline deur opvoeders strem. Dit is duidelik dat die meeste van die deelnemers dink dat die waardes wat in die huis aan die leerders oorgedra word, bepaal hoe hulle hulself in die samelewing sal handhaaf.

Die gevolgtrekking kan vanuit die analise van die empiriese data gemaak word dat opvoeders, ten spyte van geweld in die gemeenskap en die land, wel fisiese veiligheid in hul skole ervaar. Die deelnemers in die Dr. R.S. Mompati-distrik beleef

Hoofstuk 3 124 egter gebrekkige psigologiese sekuriteit as gevolg van faktore soos in die voorafgaande paragrawe gerapporteer is. Dit kan gesien word as ‟n noodkreet waaraan die werkgewer in hierdie streek aandag sal moet skenk.

Hoofstuk 4 125 4 HOOFSTUK 4: BEVINDINGS EN AANBEVELINGS

4.1 Inleiding

Die empiriese ondersoek wat uit die data-analise verkry is, is in die vorige hoofstuk gerapporteer. ‟n Kort oorsig van die verskillende hoofstukke sal vervolgens aangebied word. Daarna sal die bevindings van die studie, asook die aanbevelings wat daaruit spruit, beskryf word.