• No results found

Met verwysing na die oorkoepelende tema, word daar beoog om vanuit ‟n arbeidsregtelike perspektief te bepaal watter persepsies opvoeders het rakende die invloed van leerderwangedrag op hulle sekuriteit. In die empiriese ondersoek is die rol van die werkgewer ten opsigte van die sekuriteit van die deelnemers beklemtoon. Par. 3.10.2 rapporteer aspekte rakende die toepassing van beleid, werksekerheid, ondersteuning, die hantering van politiek in die onderwys, asook kommunikasie tussen die werkgewer en werknemer wat die sekuriteit van die deelnemers bedreig. 4.4.1 Beleid

Wetgewing wat die veiligheid en sekuriteit van opvoeders beskerm en verseker, word in par. 2.2.3 van die literatuur aangedui. Die Handves van Regte verskans in artikel 10 van die Grondwet 108 van 1996 die reg op waardigheid van die persoon. Lyfstraf, wat die waardigheid van die leerders skend, is ‟n vorm van straf wat deur wetgewing verbied word. In par. 3.10.2.1 word die deelnemers se frustrasie ten opsigte van die afskaffing van lyfstraf beskryf. Die bevinding is dat die deelnemers teleurgesteld is in die manier hoe die werkgewer die toepassing van beleid op skoolvlak ondersteun. Die werkgewer het die beleid van ‟n skool geïgnoreer deur te beslis dat ouer leerders weer tot die skool hertoegelaat word. Leerders, sommige selfs een en twintig jaar en ouer, daag volgens die deelnemers die outoriteit van opvoeders uit en veroorsaak dissiplinêre probleme by die skool. Hulle belewenis is dat ouer leerders ‟n bedreiging vir die veiligheid van beide opvoeders en mede-leerders inhou. Die deelnemers

Hoofstuk 4 130 meen dat amptenare van die Departement van Basiese Onderwys in die Dr. R.S. Mompati-distrik hul posisies misbruik om hul gesag op skole af te dwing. In die proses word die leerders en ouers in hul minagting van skoolreëls en beleid deur die werkgewer ondersteun. Hierdie optrede van die werkgewer lei daartoe dat die deelnemers beide fisiese en psigologiese onsekerheid ervaar.

4.4.2 Werkgewer-werknemer-verhouding

Rossouw (2008:13) noem dat daar eerstens ‟n werksverhouding tussen die werkgewer en die werknemer gevestig moet word voordat ‟n arbeidsregtelike verhouding gebind kan word en werknemers aanspraak op sekuriteit in die werksplek kan maak (vergelyk par. 2.3.1). Tydens die empiriese ondersoek het verskeie deelnemers hul mening uitgespreek ten opsigte van die werkgewer se plig om opvoeders se veiligheid en sekuriteit te beskerm en verseker. Die deelnemers sien die werkgewer as die belangrikste verantwoordelike party wat in hulle behoeftes moet voorsien. Die deelnemers sien nie net salarisse as hul grootste behoefte nie. Hulle behoefte is dieper gegrond in hulle gevoel van geborgenheit. Hoewel die deelnemers geen of andersins beperkte fisiese bedreigings beleef, is die bevinding dat die wangedrag van die leerders innerlike vrese by die deelnemers wek wat as psigologiese bedreigings beleef word. Ten spyte van die bestaan van wetgewing (vergelyk par. 2.2) is dit bevind dat die deelnemers onkunde ten opsigte van die toepaslike wette toon. Joubert (2009:10) bevestig dat opvoeders wat geen kennis van wetgewing het nie, maklik oortredings kan begaan. Die bevinding is dat die deelnemers as volg van hierdie onkunde nie daarvan bewus is dat hulle aanspraak op hul fundamentele en arbeidsregte kan maak nie.

4.4.3 Werksekerheid

In die literatuur (par. 1.4.1) is aangedui dat, behalwe vir faktore soos onvoldoende salarisse, verhoogde werkslading en gebrek aan professionele erkenning, werksekerheid nog ‟n faktor is wat bydra tot die gevoel van onsekerheid by opvoeders (Anon, 2005a:15). Die psigologiese sekuriteit van die deelnemers kan verder uitgebrei word na die gebrek aan werksekerheid wat hulle ervaar. Die empiriese ondersoek het aan die lig gebring dat die deelnemers simpatie betoon met

Hoofstuk 4 131 tydelike opvoeders wat onseker is oor hulle toekoms in die onderwys en salarisse wat nie betyds betaal word nie. Ten spyte van hierdie faktore moet tydelike opvoeders, net soos permanente personeel, die wangedrag van die leerders trotseer. In die empiriese ondersoek is verder bevind dat die deelnemers ontevrede is met die onvermoë van die werkgewer om gereeld vakante poste te adverteer. Faktore soos salarisse, tydelike aanstellings, personeeltekorte, oorvol klasse asook die swak dissipline van die leerders lei tot ‟n gebrek aan kwaliteit-werksverrigting en gebrekkige werksbevrediging aan die kant van die deelnemers. Die gevoel van onsekerheid en gebrek aan sekuriteit wat die deelnemers beleef, is gesetel in die werkgewer se onvermoë om sy plig behoorlik te vervul.

4.4.4 Ondersteuning

Die gemeenregtelike pligte van werkgewers word in par. 2.3.4 van die literatuur uiteengesit. Die pligte van die werkgewer sluit onder andere in om die werknemer in diens te neem, om die werknemer te vergoed vir dienste gelewer, om die nodige fasiliteite aan werknemers te voorsien en ook om veilige en gesonde werksomstandighede aan die werknemer te voorsien. In die literatuur (par. 2.3.4) dien die hofsaak Van Deventer v Workmen’s Compensation Commissioner, 1962 (4) SA 28 (T) 31B-C as bevestiging van die werkgewer se plig om die veiligheid van werknemers te verseker. Die plig word verder uitgebrei na die mate van ondersteuning wat die werkgewer aan sy werknemers bied of nie bied nie. Par. 2.2.2 verwys ook verder na die diensvoorwaardes van opvoeders in openbare skole. Dit maak voorsiening vir opvoeders as werknemers van die Departement van Basiese Onderwys om aanspraak te maak op hulle reg op fisiese veiligheid en psigologiese sekuriteit in die werkplek.

Die empiriese ondersoek het egter getoon dat ‟n goeie ondersteuningsbasis aan die kant van die werkgewer ontbreek. Hoewel die deelnemers aangedui het dat hulle nie werklik fisiese bedreigings beleef nie, is bevind dat daar tog ‟n onderlinge vrees vir moontlike gevaarsituasies by hulle bestaan. Die bevinding is dat finansiële ondersteuning aan die kant van die werkgewer kan help om die nodige fisiese fasiliteite by skole op te skerp.

Hoofstuk 4 132 Die feit dat die kurrikulum al vier keer sedert 1998 verander het en die onvoldoende ondersteuning van vakadviseurs, het ‟n negatiewe uitwerking op die gesondheid van die deelnemers. Die deelnemers noem dat die departement min doen om hulle te ondersteun, maar meer druk op opvoeders uitoefen om goeie akademiese resultate te lewer. Die bevinding is dat die deelnemers onder geweldige druk verkeer en met stres en verwante siektetoestande te kampe kry. Volgens die deelnemers bied die werkgewer nie die nodige meganismes wat veral psigologiese sekuriteit kan verseker en bevorder nie.

4.4.5 Wetgewing

Die belangrikste regsdeterminante wat die sekuriteit van opvoeders reguleer, word in die literatuurstudie in hoofstuk 2 uiteengesit. Die Grondwet, arbeids- en onderwyswetgewing bied in verskillende artikels beskerming vir die fundamentele en arbeidsregte van opvoeders. Die Skolewet 84 van 1996 maak onder andere voorsiening vir die bestuur van skole. Dit sluit ook die bestuur van leerders se gedrag in om sodoende opvoeders teen hulle wangedrag te beskerm. Artikel 9(1-4) van die Regulasies vir Veiligheidsmaatreëls by Openbare Skole beveel duidelike riglyne vir veiligheidsmaatreëls by skole aan.

In die empiriese ondersoek is bevind dat bykans al die deelnemers gebrekkige kennis van arbeids- en ander wetgewing toon. Die deelnemers het ‟n vae idee dat daar wel wetgewing bestaan, maar kan nie dié identifiseer wat daarop gerig is om hulle veiligheid en sekuriteit te beskerm en verseker nie. Sommige van die deelnemers het hul onkunde pront-uit as “dom” ten opsigte van wetgewing beskryf. Die bevinding is dat die deelnemers se onkunde hulle kwesbare slagoffers van die wangedrag van die leerders by die skool kan maak. Verskeie outeurs (Van Kerken, 2003:103, Shaba et al., 2003:13-15 en Joubert, 2009:10) waarsku dat opvoeders met geen kennis van onderwysreg maklik buite die raamwerk van wetgewing kan optree. Dit kan aanleiding gee tot dissiplinêre aanklagte en selfs moontlike ontslag tot gevolg hê. Opvoeders wend hulle daarom tot vakbonde vir beskerming van hulle fundamentele en arbeidsregte.

Hoofstuk 4 133 Die bevinding is verder dat kinderregte en die arrogante houding van leerders ‟n groot impak op die psigologiese sekuriteit van die deelnemers het in die sin dat die deelnemers teleurgesteld is in die waardes wat aan kinderregte gekoppel word. Die bevinding is dat etiese waardes plek gemaak het vir humanistiese waardes. Die deelnemers beleef dat waardes soos respek vir dissipline en die gesag van opvoeders nie deur ouers tuis ondersteun word nie. Opvoeders word openlik deur ouers in die teenwoordigheid van hulle kinders bespreek. Dit wek by die leerders die idee dat die gesag van die opvoeders nie belangrik is nie. Hierdie morele waardes word verder beïnvloed deur samelewingsverwante faktore, soos vervolgens bespreek sal word.