• No results found

Bevindings rakende samelewingsverwante faktore

Die waardes wat ouers, leerders en selfs die samelewing aan opvoeding heg, bevorder die persepsie dat opvoeding in die huis en in die skool nie meer as belangrik geag hoef te word nie. Dit word weerspieël in die mate van betrokkenheid, oftewel onbetrokkenheid van sommige ouers in die opvoeding van hulle kinders. 4.5.1 Ouers

In par. 1.2 word die ouers se aandeel in die wanorde wat in die samelewing heers toegeskryf aan die persepsie dat sommige ouers nie hul primêre plig ten opsigte van hulle kinders behoorlik vervul nie. Die empiriese ondersoek het aan die lig gebring dat leerders opstandig en bombasties raak wanneer hulle in konflik met opvoeders en mede-leerders verkeer. Hierdie optrede van die leerders word toegeskryf aan die voorbeeld van hoe ouers met mekaar in die huis kommunikeer en wat deur die kinders as aanvaarbaar in die samelewing uitgebeeld word. Die bevinding is dat leerders nie altyd weet hoe om hulle emosies te hanteer nie, omdat daar niemand is wat hulle kan leer of lei hoe om dit te doen nie.

Die arrogante houding van die leerders word volgens deelnemers aan die empiriese studie aangemoedig deur die onregmatige inmenging van die ouers. Die feit dat ouers opvoeders negatief voor hulle kinders in die huis bespreek, ontwikkel by die leerders die persepsie dat hulle hul nie aan gesag by die skool hoef te onderwerp nie. Die bevinding is dat leerders onder die indruk verkeer dat hulle ouers se geld en

Hoofstuk 4 134 status hulle altyd uit die moeilikheid by die skool sal kry. Die bevinding is verder dat die deelnemers ‟n gevoel van magteloosheid teen die aanslae van beide die ouers en leerders beleef.

Die swak opvoeding van die leerders is ‟n verdere faktor wat bydra tot die gebrekkige psigologiese sekuriteit wat die deelnemers ervaar. Die bevinding is dat etiese waardes soos respek, eerlikheid, gehoorsaamheid en integriteit by leerders ontbreek. Daar is ook bevind dat die ouers ‟n negatiewe beeld van opvoeders na die leerders uitdra. Die idee word by hulle gewek dat hulle nie respek aan opvoeders hoef te toon nie. Dit lei daartoe dat die gesag en professionaliteit van die opvoeder dikwels nie erken en respekteer word nie. Die bevinding is dat die deelnemers weerloos en mismoedig voel teen die aanslae van ouers en leerders en hulle verder psigologies onveilig en bedreig in die werkplek laat voel.

4.5.2 Gesinslewe

In die empiriese ondersoek is vasgestel dat die wangedrag van die leerders definitief ‟n negatiewe uitwerking op die lewens van die deelnemers na ure het. Hoewel die deelnemers weinig of geen fisiese bedreigings beleef nie, is die bevinding dat die wangedrag van die leerders tog hulle gesondheid, persoonlike en sosiale lewens affekteer. Opvoeders beleef spanning in hulle werksplek as gevolg van werksdruk. Hierdie spanning word verder verhoog deur die wangedrag van die leerders. Die deelnemers vind dikwels nie ‟n uitlaatklep by die skool om hulle spanning te ontlaai nie. Gevolglik word die gesin by die huis die slagoffers van hierdie spanning en opgekropte emosies wat ontlaai moet word. Die negatiewe effek van leerderwangedrag vind verder aanslag in die wyse waarop dit gesinsverhoudings beïnvloed. Die emosionele spanning wat opvoeders ervaar, lei daartoe dat die deelnemers voel dat hulle “mislukkings” in die oë van die gemeenskap is. Hulle huldig die mening dat hulle professionaliteit nie erken word nie en voel dat die gemeenskap hulle agter hulle rûe bespreek. Die bevinding is dat hulle psigologies onseker oor hulself voel en hulle gevolglik eerder van sosiale aangeleenthede in die gemeenskap onttrek.

Hoofstuk 4 135 4.5.3 Samelewing

Die morele verval van die samelewing is ‟n faktor wat oorgedra word na die leerders. In sommige gemeenskappe kan hierdie morele verval toegeskryf word aan sosio- ekonomiese omstandighede.

4.5.3.1 Sosio-ekonomiese omstandighede

In par. 1.2 van die literatuur word genoem dat opvoeders elke dag leerders met verskillende leer-, persoonlike en omgewingsprobleme moet onderrig. Hierdie probleme van die leerders is dikwels onderliggende redes vir wangedrag en opvoeders word die slagoffers van leerders se onderskeie emosies. Wanorde in die gemeenskap word verbind met die wanorde wat deesdae in sommige skole te bespeur is (Anon, 2005a:1-3).

Die empiriese ondersoek het onthul dat die sosio-ekonomiese gaping tussen opvoeders en leerders, asook tussen die leerders onderling, ‟n faktor is wat veiligheid by die skool bedreig. Armoede, drank- en dwelmmisbruik, bendebetrokkenheid en misdaad is algemene faktore waaraan leerders reeds vanaf ‟n baie jong ouderdom in laer sosio-ekonomiese gebiede blootgestel word. Die bevinding is dat hierdie swak ekonomiese omstandighede ‟n invloed op die dissipline van leerders het.

Die onverantwoordelikheid van sommige ouers word weerspieël in die feit dat baie ouers hul kinders sonder die toesig van volwassenes in die huis laat woon. Dit wek by die leerders die persepsie dat hulle hul nie aan die gesag van opvoeders of volwassenes hoef te onderwerp nie, omdat hulle self leiding in hul daaglikse voortbestaan neem. Leerders raak soms opstandig en aggressief wanneer hulle in konfliksituasies verkeer, omdat hulle nie weet hoe om hulle emosies te hanteer nie. Die bevinding is dat die deelnemers psigologies onveilig voel, omdat hulle vrees dat die leerders hulle kan aanval.

Die bevinding is verder gebaseer op die deelnemers se gebrekkige sekuriteit wat gegrond is op hulle belewenis van die goeie ekonomiese stand van sommige leerders. Die feit dat leerders roem op die geld en status van hulle ouers wek ‟n gevoel van onsekerheid by die deelnemers. Die effektiewe toepassing van dissipline

Hoofstuk 4 136 word gestrem deur die arrogante houdings wat leerders teenoor opvoeders openbaar. Die deelnemers verkies om eerder versigtig teenoor leerders op te tree, omdat hulle botsings met ouers wil vermy. In die proses word die gesag van die deelnemers deur die arrogansie van leerders asook die status van ouers ondermyn. Die bevinding is dat die ekonomiese omstandighede van die leerders „n faktor is wat daartoe bydra dat die deelnemers soms psigologies onveilig en onseker voel.

4.5.3.2 Negatiewe inmenging en politiek

Die idealisme waarmee opvoeders die professie betree, neem ongelukkig af namate hulle met die werklikheid in skole gekonfronteer word (vergelyk par. 1.1 en 1.2). Le Roux (2009) bevestig dat onderwyservakbonde talle skrywes van lede ontvang wat uit die professie wil bedank as gevolg van geweld en ander toestande in skole. Negatiewe inmenging in skoolsake en ook politiek in die gemeenskap word deur die deelnemers as bedreigings ervaar.

Die deelnemers beleef dat lede van die gemeenskap om eie politieke gewin negatief in sake by die skool inmeng. ‟n Voorbeeld hiervan is dat lede van die gemeenskap leerders wat veel ouer as die norm-ouderdom van die graad is, op die skool afforseer het. Hulle wou by die ouers die persepsie wek dat hulle politieke stand in die gemeenskap voorrang bo die outoriteit van opvoeders geniet. In die proses is die gesag van die opvoeder ten aanskoue van die leerders ondermyn. Dit wek verder by mede-leerders die persepsie dat hierdie optrede van gemeenskapslede aanvaarbaar is en dat hulle deur soortgelyke handelinge resultate kan bereik. In die proses word die dissipline van die skool omvergewerp deur die onverantwoordelike optrede van sogenaamde gemeenskapsleiers. Die ondersoek het ook verder onthul dat werknemers van die Departement van Basiese Onderwys swig voor die politieke siening en manipulasie van gemeenskapslede. Dit wek die idee dat politiek aan die orde van die dag in die funksionering van die Departement van Basiese Onderwys in die streek is. Dit versterk die deelnemers se gevoel van psigologiese onsekerheid wat hulle behoefte om die onderwys as professie te verlaat verder verhoog.

Hoofstuk 4 137 4.5.3.3 Status van die opvoeder

Par. 1.1 van die literatuur dui verder aan dat daar ‟n afname in die moreel van opvoeders bespeur word. Davies (Rademeyer, 2006:1) meen dat die situasie beïnvloed word deur onaangename werksomstandighede, materiële agteruitgang van opvoeders en ook die toenemende gevoel dat alles ‟n futiele poging is. Die verwagtinge en visie waarmee die meeste opvoeders die professie betree, word dus gesmoor en word struikelblokke om hulle missie te bereik (Loock et al., 2006:18). In die empiriese ondersoek het die deelnemers dit bevestig dat die voordele van die professie aanloklik klink, maar dat die werklikheid van die praktyk teleurstellend is. Die gebrekkige respek vir dissipline en gesag vir opvoeders dra verder daartoe by dat die deelnemers se gevoel van onsekerheid toeneem. Die ouers van leerders dra ook by tot die lae status wat die gemeenskap aan die professie koppel. Die feit dat hulle negatiewe aanmerkings van opvoeders in die teenwoordigheid van hulle kinders maak, dra by tot die minagting vir die outoriteit van opvoeders. Die deelnemers beleef dat die moreel van opvoeders verder afgebreek word deur die negatiewe ondersteuning wat ouers aan hulle kinders bied. Dit wek by die deelnemers die gevoel dat opvoeders nie die nodige ondersteuning en waardering van die gemeenskap geniet nie. Dit lei tot lae moreel en werksbevrediging aan die kant van opvoeders, omdat hulle magteloos voel teen die aanvalle van ouers en leerders. Die bevinding is dat die psige van die deelnemers afgetakel word deur hul siening dat hulle aansien en respek in die samelewing verloor het. Dit lei tot sosiale ontrekking wat deur die meeste deelnemers beleef word.