HOOFSTUK 4
DIE EKSTERNE DETERMINANTE WAT
ONDERWYS-VOORSIENING AAN AKADEMIES BEGAAFDE LEERDERS OP
INTERMEDIÊRE SKOOLFASE IN SUID-AFRIKA BEÏNVLOED
4.1
Inleiding
Onderwys in Suid-Afrika het na die 1994-verkiesing ‘n transformasieproses beleef. Die verandering van onderwysbeleide, vernuwing van die kurrikula, rasionalisering van die kurrikula en toename van leerderdiversiteit in die klaskamer is net ‘n paar van die struikelblokke wat gevolglik in skole ervaar word (De Villiers, 2009:3). De Villiers (2009:3) toon dat die transformasie van die vorige na die huidige onderwysbedeling ‘n negatiewe uitwerking op begaafdheidsonderrig gehad het en dat daar tans minimale aandag aan begaafdheidsonderrig geskenk word. Onderwys vir begaafde leerlinge is in ’n treurige toestand en sedert 1994 het dié leerders se unieke behoeftes weinig aandag gekry (Rademeyer, 2013). Hoewel Onderwys Witskrif 6 (Departement van Onderwys, 2001) erkenning verleen aan alle leerderdiversiteit, word daar nie eksplisiet na begaafdheidsonderrig verwys nie. Dit is dus duidelik dat die verandering in regering en die meegaande wysigings in politieke fokusse veranderinge in onderwys in die algemeen en aan onderwys aan akademies begaafde leerders teweeggebring het.
Hierdie hoofstuk bespreek die eksterne determinante wat onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders beïnvloed as deel van die fase van beplanningsanalise van die raamwerk van strategiese onderwysstelselbeplanning (vgl par 1.4.4.2). Hierdie eksterne determinante sluit in die demografie van die akademies begaafde leerders, die ekonomiese omgewing van die akademies begaafde leerders, wetenskap en tegnologie, die rol van politiek in die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders en die medewerkers en mededingers in die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders.
4.2
Eksterne
determinante
wat
onderwysvoorsiening
beïnvloed
Die eksterne faktore van ‘n onderwysstelsel verwys na die kragte en faktore wat van buite af op ‘n onderwysstelsel inwerk om daaraan ‘n bepaalde inhoud te gee (Steyn & Wolhuter, 2012:50-53). Dit verwys ook na die kragte en faktore wat die onderwysbehoeftes van die onderwysbelanghebbende strukture en teikengroep bepaal. Dit beteken dus dat die eksterne determinante te doen het met die fisiese omgewing waarin die teikengroep hulle bevind en hulle onderwysbehoeftes, in die geval akademies begaafde leerders in die intermediêre fase, as lede van die verskillende sosiale strukture waaraan hulle behoort.
Die versameling en integrering van interne determinante en eksterne determinante kan soos in figuur 3.1 voorgestel word.
Interne en eksterne determinante van die onderwysstelsel soos voorgestel deur figuur 3.1 (vgl hoofstuk 3):
Die eksterne determinante wat ‘n invloed op onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders het sal meer breedvoerig in die hoofstuk verduidelik word in die
Wetenskap en Tegnologie: Dit bepaal die onderwysprogramme en kurrikula wat gebruik gaan word in die mini-onderwysstelsel vir akademies begaafde leerders (Steyn et al., 2002:143).
Politiek: Die invloed van politiek en die regering op die onderwysvoor-siening aan akademies begaafde leerders (Steyn et al., 2002:146-147).
Mededingers en Medewerkers: Daar word gekyk na moontlike mede-dingers en medewerkers in die veld van onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders (Steyn & Wolhuter, 2012:53).
4.3
Demografie as eksterne determinant
Demografie verwys na die getal, verspreiding en beweging van die teikengroep. Die vermeerdering in getalle van die teikengroep, die stedelike en plattelandse vestiging van die teikengroep en hoe verstedeliking ‘n rol speel in die getalle van die teikengroep kom in die kollig (Steyn et al., 2002:142).
Ten opsigte van die onderwysvoorsiening vir akademies begaafde leerders is die bevolkingsgetalle in Afrika van belang. In 2011 is daar ‘n sensus in Suid-Afrika gehou. Die resultate ten opsigte van die groei in bevolkingsgetalle en die geslagtelike verspreiding daarvan word soos in figuur 4.2 deur Statistics South Africa (2012) verduidelik.
Figuur 4.1 Bevolking van Suid-Afrika volgens geslag (Statistics South Africa, 2012:9)
Die sensus resultate toon ‘n groei in die bevolking van Suid-Afrika. Daar is ‘n toename van ongeveer 11 miljoen mense vanaf 1996 tot 2011. Die groei in bevolking beteken dat daar ‘n groter behoefte vir gehalte onderwys is en dat daar meer mense is wat van onderwys voorsien moet word. Die aantal leerders in die bevolking, en dus dié van akademies begaafde leerders, het dus beduidend toegeneem.
Soos die groei in bevolkingsgetalle het die groei in aantal huishoudings ook sedert 1996 toegeneem, soos voorgestel in Figuur 4.3.
Manlik Vroulik Suid-Afrika sensus 1996 19520887 21434040 25188791 sensus 2001 21062685 23385737 26581769 sensus 2011 40583573 44819778 51770560 0 10000000 20000000 30000000 40000000 50000000 60000000
Figuur 4.2 Die aantal huishoudings in Suid-Afrika (Statistics South Africa, 2012)
Die statistiek toon duidelik aan dat Gauteng die provinsie met die meeste huishoudings in Suid-Afrika is, alhoewel dit die kleinste provinsie is. Dus is die onderwysvoorsiening wat in Gauteng gelewer moet word die grootste in die land. Meer as 90% van Gauteng word deur stedelike huishoudings verteenwoordig en slegs ‘n klein deel van die provinsie bestaan uit landelike gebiede (Hall, 2010). Dus is die aanvraag na skole baie hoër in die stede en sal dit makliker wees om onderwys aan akademies begaafde leerders te lewer, want die gekonsentreerde aanvraag is digter as in byvoorbeeld die Noord-Kaap waar die verspreiding van huishoudings baie dun is en ‘n groter deel van die provinsie uit landelike gebiede bestaan.
Statistiek uit die sensus toon dat meer as driekwart (79,2%) van die Suid-Afrikaanse bevolking swart Suid-Afrikaners is. Die persentasie blankes as deel van die totale bevolking was in 1996 10,9% en het gedaal tot 8,9% in 2011 (Statistics South Africa, 2012:9-10). Die persentasie Kleurlinge en Indiërs as deel van die totale bevolking het ‘n baie klein groei getoon en hulle verteenwoordig ‘n
Oos-Kaap Vrystaat Gauteng
Kwazulu - Natal Limpopo Mpumal anga Noord -Wes Noord -Kaap Wes -Kaap 1996 1303287 625011 2069512 1689995 909371 669801 591240 218339 983015 2001 1481640 733302 2791270 2117274 1117818 785424 760588 245086 1173304 2007 1586739 802872 3263712 2234129 1215935 940425 822964 264653 1369180 2011 1687385 823316 3909022 2539429 1418102 1075488 1062015 301405 1634000 0 500000 1000000 1500000 2000000 2500000 3000000 3500000 4000000 4500000
klein persentasie van die bevolking. Die persentasie wat die Kleurlingbevolking verteenwoordig is 8,9% en die Indiërbevolking 2,5%. Dus sal die teikengroep, naamlik akademies begaafde leerders, grootliks uit swart Suid-Afrikaners en blankes bestaan. Die taalverspreiding van die Suid-Afrikaanse bevolking word soos in tabel 4.1 deur die 2011-sensus weergegee (Statistics South Africa, 2012): Tabel 4.1 Taalverspreiding in Suid-Afrika
Taal Persentasie van die bevolking
IsiZulu 22,7% IsiXhosa 16,0% Afrikaans 13,5% Engels 9,6% Sepedi 9,1% Setswana 8,0% Sesotho 7,6% Xitsonga 4,5%
Dit is dus duidelik dat die Suid-Afrikaanse bevolking oor taal en ras verspreid is. Enige onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders sal van die taalverspreiding moet kennis neem, hoewel Engels as taal van onderrigleer verkies word deur ‘n meerderheid van die Afrikataalsprekers. Dit beteken dat die taal van onderrigleer in programme vir akademies begaafde leerders waarskynlik, veral vir die begin, in Afrikaans en Engels afgelewer moet word.
Die studie fokus op produktiewe onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders, Intermediêre fase, vanaf graad 4 tot graad 6. Die leerders verteenwoor-dig die 10 tot 14 jarige ouderdomsgroep. Die figuur 4.4 toon dat hierdie ouderdomsgroep 8,8% van die bevolking van Suid-Afrika uitmaak:
Figuur 4.3 Die totale bevolking van Suid-Afrika volgens ouderdomsgroepe (Statistics South Africa, 2012:10)
Gauteng se LUR van Onderwys, Me. Barbara Creecy, meen dat die sensus van 2011 twee baie belangrike punte ten opsigte van die onderwys in die provinsie uitlig (Gauteng Departement van Onderwys, 2012). Eerstens beteken die groeiende bevolkingsgetalle in die provinsie dat leerdergetalle in skole toeneem. Tweedens lig die sensus uit dat daar ‘n toename in die getal middelklas huishoudings in die provinsie is as gevolg van die verskuiwing van sosiale demografie. Dus is die aanvraag vir skole in middelklasgebiede groter.
Creecy (Gauteng Departement van Onderwys, 2012) bevestig dat die departement 213 nuwe skole in Gauteng gebou het om die groeiende getal leerders te akkommodeer. Verder is nog 3200 klaskamers aan skole voorsien en in 2012 is nog 35 skole in Gauteng geopen. Die Gauteng Departement van Onderwys het ook oor die afgelope drie jaar 1329 groeiposte vir onderwysers goedgekeur en nog 750 groeiposte vir 2013. Leerderinskrywings by skole het landwyd met 3% toegeneem vanaf 2000 (SAPA, 2012).
In tabel 4.2 word afgeronde getalle uit Suid-Afrika gegee wat as riglyn kan dien wanneer daar op akademies begaafde leerders gefokus word. Die studie gaan
van die vertrekpunt uit dat ongeveer 2,5% van die skoolgaande bevolking tot die kategorie akademies begaafd gereken kan word (Bylaag 1).
Tabel 4.2 Afgeronde leerdergetalle in Suid-Afrika in 2012 wat in onder-wysvoorsiening vir akademies begaafde leerders bedien moet word (Bylaag 1)
Leerders Aantal leerders Aantal begaafdes as
2,5% van totaal
Intermediêre skoolfase 2 959 000 73 975 Senior skoolfase 2 991 000 74 775 VOO-skoolvlak 2 460 000 61 500
Totaal 210 250
Dit is dus duidelik uit die bogenoemde dat leerdergetalle toeneem en dat akademies begaafde leerders as persentasie-verteenwoordiging van die gemeenskap oor die hele land verspreid is. Daar is ‘n groter aanvraag na onderwysvoorsiening, ook aan akademies begaafde leerders, in stedelike gebiede. Aan die anderkant is die vraag na onderwysvoorsiening, ook aan akademies begaafde leerders, veral op die platteland yl versprei soos uitgelig in figuur 4.3 en (na verwagting) oneweredig versprei. Dus sal ‘n afstandsgebaseerde program vir hierdie leerders die ideaal wees, aangesien kontakonderwys (waar ‘n onderwyser die leerders in ‘n klas onderrig) uiters moeilik gaan wees om te organiseer, byvoorbeeld ten opsigte van geskikte ruimtes wat verkry moet word, maar veral om geskikte onderwysers op die verskillende onderwysvlakke te vind wat vir die onderrig in die verskillende vakke verantwoordelikheid moet aanvaar.
4.4
Ekonomie as eksterne determinant
onderwysstelsel bepaal. Die stand van die ekonomie bepaal ook hoeveel geld beskikbaar is vir die finansiering van die onderwysstelsel.
Onderwys word in die algemeen erken as een van die instrumente waardeur staatsburgers bevoegdhede verwerf sodat hulle beroepe kan beoefen en waardeur waardes gevestig word wat burgers in staat stel om keuses te maak in alle lewensareas soos die beroepslewe, gesinslewe en politieke lewe (Pauw & Kok, 2002:6). Pauw en Kok (2002:6) beklemtoon verder dat deur middel van die onderwys word burgers van ‘n land toegerus tot persoonlike aanpasbaarheid en tot die realisering van hulle eie inisiatiewe. Hierdie aspekte, soos keusevryhede, vaardighede en inisiatiewe, kan nie aangeraak word sonder die ontwikkeling van die mens se kognitiewe potensiaal nie. Onderwys speel dus ‘n belangrike rol in die ekonomie van ‘n land. Dit is waarom produktiewe onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders so belangrik is.
De Villiers (2009:4) beskryf die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks as ‘n onderwyskonteks wat gekenmerk word deur die teenwoordigheid van leerders uit gedepriveerde omstandighede as gevolg van die toenemende armoede, werklose ouers, gebrek aan ouerondersteuning aan skole en onvoldoende opleiding van onderwysers. Die gemiddelde inkomste in Rand per huishouding per jaar in elke provinsie word in die volgende tabel 4.3 gegee (Statistics South Africa, 2012): Tabel 4.3 Gemiddelde inkomste in Rand per jaar per huishouding per
provinsie
Provinsie Sensus 2001 Sensus 2011
Gauteng 78 541 156 222 Wes-Kaap 78 157 143 461 Noord-Kaap 39 757 86 158 KwaZulu-Natal 38 905 83 050 Mpumalanga 31 186 77 597 Vrystaat 30 726 75 314 Noord-Wes 30 189 69 914 Oos-Kaap 29 334 64 550 Limpopo 22 985 56 841 Suid-Afrika 48 385 103 195
Dit is duidelik uit die tabel dat Gauteng die hoogste gemiddelde inkomste per huishouding toon van al die ander provinsies. Dit blyk verder dat die finansiering van die onderwys aan akademies begaafde leerders ‘n besondere uitdaging sal wees. Die meeste ouers sal waarskynlik nie ‘n afstandsgebaseerde onderwys-program vir akademies begaafde leerders finansieel kan bekostig nie. Alhoewel daar genoeg ouers uit die tipiese middelklas is wat die program finansieel sal kan ondersteun, veral indien die prys daarvoor redelik is, sal spesifieke maatreëls getref moet word, byvoorbeeld deur middel van ‘n beursskema, om ‘n beduidende deel van die akademies begaafde populasie finansieel te ondersteun soos tabel 4.4 aantoon. Dit moet ook beklemtoon word dat die meerderheid van die bevolking onder R12,000 per maand verdien.
Tabel 4.4 Persentasie bevolkingsverspreiding volgens maandelikse inkomste van werkende individue (SA Statistics, 2012:36)
Maandelikse inkomste Persentasie van totaal
Onder R12,000 87,9% R6,000 – R12,000 7,5% R12,000 – R25,000 3,5% R25,000 – R51,000 0,4% Bo R51,000 0,7%
4.5
Wetenskap en tegnologie
Steyn et al. (2002:143) beklemtoon dat wetenskap en tegnologie ‘n baie belangrike eksterne determinant van die onderwysstelsel is omdat dit die aard, inhoud en aflewering van onderwysprogramme en kurrikula bepaal. Hoe meer gesofistikeerd die wetenskap en tegnologie is waartoe die teikengroep toegang
Die onderstaande figuur toon dat toegang tot selfone vanaf 31,9% in 2001 tot 88,9% in 2011 toegeneem het. Die toegang tot televisies het ook toegeneem. Alhoewel die toegang tot rekenaars toegeneem het tot ongeveer 21%, is die persentasie huishoudings wat toegang het daartoe nog baie min, veral in die tegnologiese samelewing waarin ons leef. Die mate waartoe huishoudings in Suid-Afrika tot basiese tegnologie-artefakte toegang het, word in figuur 4.5 verduidelik.
Figuur 4.4 Persentasie huishoudings met toegang tot tegnologie (Statis-tics South Africa, 2012:20)
Daar is ‘n duidelike toename in die aantal huishoudings wat toegang het tot tegnologie. Dit is belangrik dat die onderwysstelsel rekening moet hou hiermee. Die strategie vir self-bestuurde, interaktiewe leer (par 3.9) wat in die ondersteuning van akademies begaafde leerders gebruik sal word, sluit verskillende digitaal-gebaseerde onderrigelemente in, naamlik die digitale boekskyf (DBS), die webgebaseerde onderrigbestuurstelsel en die sms-stelsel. Die gebruik van die televisie, DVD-speler en rekenaar met internettoegang is basiese voorwaardes en daarom sal die gebruik daarvan spesifiek beplan moet word.
Selfoon Radio Rekenaar Yskas Televisie Landlyn Telefoon sensus 2001 31.9 72.1 8.5 49.9 52.6 23.9 sensus 2007 72.7 76.5 15.6 63.9 65.5 18.5 sensus 2011 88.9 67.5 21.4 68.4 74.5 14.5 0 10 20 30 40 50 60 70 80 90 100
Persentasie huishoudings met toegang
tot tegnologie
4.6
Die rol van politiek in onderwysvoorsiening
Verskillende politieke partye het verskillende sienings aangaande die wyse waarop daar in die onderwysbehoeftes van die teikengroep voorsien moet word, en in ‘n demokratiese Suid-Afrika is dit veral die meerderheidspartye wat hierdie belang by die onderwysstelsel het (Steyn & Wolhuter, 2012:52).
Heeltemal te veel akademies begaafdes het nie ’n kans om hulle potensiaal te bereik nie en die situasie het ná 1994 vererger toe alle onderwyssentrums vir akademiese begaafdheid gesluit is (Oswald & De Villiers, 2013). Voor 1994 het Suid-Afrika betekenisvolle vordering in onderrig vir begaafde kinders gemaak (Rademeyer, 2013). Na Suid-Afrika se 1994-verkiesing het die Onderwysdeparte-ment ‘n proses van transformasie ondergaan waartydens nuwe beleidsdokuOnderwysdeparte-mente ontwikkel en bestaande stelsels en praktyke hersien is. Volgens De Villiers (2009:1) wil dit voorkom asof hierdie transformasieproses ook ‘n direkte impak op begaafdheidsonderrig gehad het, aangesien daar sedertdien minimale aandag aan begaafdheidsonderrig en -voorsiening geskenk is. Kokot (2000:801) en Taylor en Kokot (2005:470) meen dat die moontlike rede hiervoor die spesiale onderwysvoorsiening is wat akademies begaafde leerders tydens die vorige onderwysbedeling geniet het en dat hierdie leerders gestereotipeer is as ‘n “elite” groep. Meer klem word nou op gelyke onderwysvoorsiening vir almal geplaas. Volgens Rademeyer (2013) het Suid-Afrika ’n beleid van inklusiewe onderwys aanvaar waarin die skoolomgewing vir álle leerlinge toeganklik en aanpasbaar moet wees, maar daar is bedenkinge oor die mate waarin dit toegepas word. Oswald & De Villiers (2013) se navorsing het bevind dat daar ‘n algemene konsensus onder hoofde en onderwysers is dat die filosofie van inklusiewe onderwys aanvaarbaar is, maar dat die werklikhede in die klas dit moeilik maak om te implementeer. Daar is te veel leerders in een klas en die onderwysbehoeftes van die leerders is baie divers.
begaafd is, drasties hersien moes word. Die onderwysfokus het gevolglik verskuif vanaf afsonderlike, gespesialiseerde onderrig aan leerders wat akademies begaafd is na hoofstroom-inklusiewe onderrig waarin alle leerders op gelyke vlak hanteer moes word.
Die Grondwet (Suid-Afrika, 1996a), Handves van Menseregte (Suid-Afrika, 1996a), Wet op Kinderregte (Suid-Afrika, 2008) en die inklusiewe onderwysbeleid (Departement van Onderwys, 2001) beklemtoon die feit dat alle mense en leerders se onderwysbehoeftes in die onderwys ingesluit behoort te word. Die vraag word gevolglik gevra waarom die unieke onderwysbehoeftes van akademies begaafde leerders nie ook verreken word nie. Onderwys moet alle leerders (insluitend leerders wat akademies begaafd is) se diverse vlakke van vermoë op verskillende toepaslike maniere ondersteun om werklik suksesvol te wees (Kokot, 2005:470; De Villiers, 2009:2). Daar is ‘n groot behoefte aan onderwysprogramme vir akademies begaafde leerders en dus sal so ‘n program goed ondersteun word. Die wil om in hierdie unieke onderwysbehoeftes te voorsien, moet dus by alle belanghebbendes bevorder word.
4.7
Mededingers en medewerkers in die onderwysvoorsiening
van akademies begaafde leerders
Die mededingers en medewerkers in dieselfde veld van onderwysvoorsiening, veral in die geval van ‘n mini-onderwysstelsel, is ‘n eksterne determinant waarmee rekening gehou moet word in die onderwysstelselbeplanning, asook om die besondere aard en funksionering van die mini-onderwysstelsel te verstaan, aangesien dit die onderwysstelsel kan ondersteun of ‘n negatiewe impak daarop kan hê (Steyn & Wolhuter, 2012:53). Daarteenoor verduidelik Steyn et al. (2002:148) ook dat mededingers aanleiding kan gee tot samewerkingsooreen-komste en tot die verbetering in uitset van die bepaalde stelsel kan lei.
Onderwysers en hoofde meen dat die ondoeltreffende samewerking en steuning tussen rolspelers, naamlik beleidsmakers, distriksbeamptes, onder-steuningspanne, die gemeenskap, ouers, onderwysers en leerders, begaafdheids-onderrig onuitvoerbaar en oneffektief maak (De Villiers, 2009:175). De Villiers
(2009:3-4) beklemtoon die feit dat groter gemeenskapsbetrokkenheid en die volhoubare ondersteuning van distrik ondersteuningspanne belangrik is.
Die moontlike medewerkers in die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders sluit in ander skole wat betrokke wil raak by die programme, verskillende gemeenskapsgroeperinge wat saamwerk, asook die verskillende universiteite wat ‘n bydrae tot die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders lewer. Mededingers wat geïdentifiseer kan word in die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders is die verskillende skole betrokke by akademies begaafde leerders wat die bestaan van verskillende programme as kompetisie sien. Instansies wat soortgelyke programme aanbied, asook verskeie politieke groeperinge wat die onderwys aan akademies begaafde leerders ag as slegs bedoel vir die elite, en daarom uit beginsel dit teenstaan, word ook as mededingers beskou.
4.8
Samevatting
In hierdie hoofstuk is die eksterne determinante wat op die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel inwerk oorsigtelik beskryf en daar is verduidelik hoe dit onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders beïnvloed. Die eksterne determinante vorm deel van die fase van beplanningsanalise van die raamwerk van strategiese onderwysstelselbeplanning. Die eksterne determinante waarop gefokus is en wat onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders beïnvloed sluit in demografie, ekonomie, wetenskap en tegnologie, politiek en die medewerkers en mededingers in die onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders.
Uit die bogenoemde is dit duidelik dat die getalle van akademies begaafde leerders toeneem en dat hulle oor die hele land verspreid is. Die aanvraag na onderwysvoorsiening aan akademies begaafde leerders word dus elke jaar groter.
die aflewering van die program sal goed ontleed moet word en daar sal waarskynlik meer van TV-video fasiliteite as van rekenaarfasiliteite gebruik gemaak moet word. Dit blyk ook dat die finansiering van die program ‘n besondere uitdaging gaan bied, aangesien die grootste deel van die bevolking minder as R12,000 per maand verdien. Op politieke vlak sal ook besondere oorredingswerk gedoen moet word om die idee van akademies begaafde onderwys as elite-onderwys af te breek. Daar is ook aangetoon dat die plek van medewerkers en mededingers tot voordeel van die onderwys aan akademies begaafde leerders uitgewerk moet word.