• No results found

Graad nege–leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "Graad nege–leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk"

Copied!
116
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

Graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk

HM Roux 23296062

B in Primêre Onderwys; B Ed Honneurs

Verhandeling voorgelê vir die Magister Artium in Psigologie aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit

Studieleier: Mev IF Jacobs Medestudieleier: Prof V Roos

(2)

I AM THE CHILD

I am the child.

All the world waits for my coming.

All the earth watches with interest to see what I shall become. Civilization hangs in the balance,

for what I am, the world of tomorrow will be.

I am the child.

I have come into your world, about which I know nothing. Why I came I know not;

how I came I know not. I am curious, I am interested.

I am the child.

You hold in your hand my destiny.

You determine, largely, whether I shall succeed or fail. Give me, I pray you, those things that make for happiness.

Train me, I beg you, that I may be a blessing to the world.

(3)

DANKBETUIGINGS

Die volgende persone word van harte bedank vir hulle bystand en steun met die voltooiing van hierdie verhandeling:

My Hemelse Vader sonder wie niks moontlik is nie.

Mev. Issie Jacobs, my studieleier, vir haar vriendelike en positiewe leiding, geduld en motivering.

Prof. Vera Roos, vir haar waardevolle bydrae as mede-studieleier.

My drie dogters, Eliznica, Marguerite en Amoré, vir hulle liefde, begrip en ondersteuning.

Gert, vir sy opofferinge en positiewe lewensuitkyk!

Al my vriendinne vir hulle belangstelling en aanmoediging.

Die adolessente wat as deelnemers opgetree het vir hulle waardevolle insette.

(4)

VERKLARING DEUR NAVORSER

Hiermee verklaar ek dat

GRAAD NEGE-LEERDERS SE BESKRYWING VAN NEGATIEWE GROEPDRUK

my eie werk is en dat alle bronne wat ek gebruik of aangehaal het, deur middel van volledige verwysings aangedui en erken is.

--- ---

Handtekening Datum

(5)

VERKLARING DEUR TAALVERSORGER

Hiermee verklaar ek dat ek die taalversorging van

GRAAD NEGE-LEERDERS SE BESKRYWING VAN NEGATIEWE GROEPDRUK

deur Hilda Maria Roux, vir die Magistergraad in Psigologie, waargeneem het.

Ek is ’n vryskuttaalversorger na ’n loopbaan as publikasiehoof van ’n vooraanstaande uitgewerygroep.

Lambert Daniel Jacobs (BA Hons, MA, BD, MDiv) April 2013

(6)

OPSOMMING

Hierdie studie was daarop gerig om graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk te verken en te beskryf. Die studie het plaasgevind binne die konteks van adolessensie wat onder meer gekenmerk word as ’n tydperk waar negatiewe groepdruk ’n beduidende rol in die lewe van adolessente speel. ’n Literatuurstudie oor die onderwerp het aangetoon dat groepdruk ’n komplekse fenomeen is wat die een af ander tyd deur alle adolessente ervaar word. Die literatuur het verder aangetoon dat die stem van adolessente rakende hulle unieke en subjektiewe beskrywing van negatiewe groepdruk nog nie genoeg gehoor is nie.

Dit was duidelik dat veral graad nege-leerders kwesbaar vir negatiewe groepdruk blyk te wees. Hierdie graad of ouderdomsgroep vorm deel van die middel-adolessentefase van ontwikkeling wat veral gekenmerk word deur die vorming van ’n eie identiteit. Die vorming van ’n eie identiteit word beïnvloed deur die verskillende ontwikkelingstake wat met adolessensie gepaardgaan, naamlik hulle emosionele, kognitiewe, morele en sosiale ontwikkeling. Tydens hierdie ontwikkelingsfase word lidmaatskap van ’n portuurgroep toenemend belangrik en uitsluiting deur die groep word gevrees. Hierdie vrees lei dikwels tot konformering tot negatiewe groepnorme en gedrag. Vanuit hierdie konteks is die studie genoodsaak.

Die navorser het ’n kwalitatiewe, fenomenologiese studie onderneem waarty-dens ongestruktureerde onderhoude met twaalf graad nege-leerders uit twee openbare hoërskole in die Drakensteingebied in die Boland, Wes-Kaap gevoer is. Hierdie onderhoude is getranskribeer, waarna die data ontleed is en bepaalde temas rakende negatiewe groepdruk geïdentifiseer is. Uit hierdie empiriese gegewens was dit duidelik dat die deelnemers se onderskeie verhoudinge, sowel as die dinamika en norme binne hulle verskillende groepe, impakteer op hulle beskrywing van negatiewe groepdruk.

Groepvorming in die middel-adolessente jare blyk ’n komplekse proses te wees. Dit wil voorkom of die kleiner, meer intieme vriendegroep adolessente

(7)

enersyds teen negatiewe groepdruk kan beskerm, maar andersyds ook soms druk op groeplede plaas om aan negatiewe aktiwiteite deel te neem. Daarom gebeur dit dat die kleiner groepies dikwels wissel soos lede in en uit die groep beweeg om ’n groep te vind waar hulle tuis voel.

Konformering tot negatiewe gedrag en norme vind volgens die deelnemers egter meer geredelik in die groter of wyer en meer diverse portuurgroep plaas. Binne hierdie groter groepe verloor individue makliker hulle eie identi-teit en daarom gee adolessente, wat nog soekend na ’n persoonlike identiidenti-teit en waardestelsel is, makliker toe aan negatiewe druk en gedrag. ’n Wye verskeidenheid oorsake word vir hierdie toegewing aangedui, maar uit die deelnemers se beskrywings is dit duidelik dat hulle behoefte aan aanvaarding en erkenning deur die portuurgroep en die gepaardgaande vrees vir uitsluiting die belangrikste oorsake daarvan is.

Uit die studie was dit verder duidelik dat die verhoudinge waarbinne adolessente hulle bevind, ’n belangrike rol in hulle beskrywing van negatiewe portuurgroepdruk speel. Die deelnemers dui aan dat hulle verhouding met hulle ouers, hulle portuurgroep, sowel as hulle verhouding met hulleself, ’n invloed uitoefen op hulle vermoë om negatiewe groepdruk te hanteer.

Uit hierdie bevindinge word die deelnemers se beskrywing van negatiewe groepdruk volledig weergegee. Voorstelle word verder gemaak om ouers, opvoeders en ander professionele persone wat met adolessente werk, toe te rus om aan graad nege-leerders doeltreffende ondersteuning en advies te bied in hulle hantering van negatiewe groepdruk.

SLEUTELTERME: Graad nege-leerder, adolessent, negatiewe groepdruk, konformering.

(8)

SUMMARY

The aim of this study was to investigate and describe the description of negative peer pressure by grade nine learners. The study took place within the context of adolescence, which is often described as a phase where negative peer pressure plays a significant role in the lives of adolescents. A literature study on the topic showed that peer pressure is a complex phenomenon that is experienced by all adolescents at some point. Literature also indicated that the voice of adolescents regarding their own unique and subjective description of negative peer pressure has not been recorded often enough.

It became evident that especially grade nine learners are vulnerable to negative peer pressure. This grade or age group forms part of the middle adolescent phase, which is especially characterised by the forming of an own identity. The forming of an own identity is influenced by the different develop-mental tasks that are associated with adolescence, namely their emotional, cognitive, moral and social development. During this developmental phase the membership of a peer group becomes increasingly important and exclusion from the group is feared. This fear often leads to conforming to negative group norms and behaviour. From this context, the study is necessary.

The researcher has undertaken a qualitative, phenomenological study, during which unstructured interviews were conducted with twelve grade nine learners from public high schools in the Drakenstein area of the Boland, Western Cape. These interviews were transcribed and the data analysed so that specific themes concerning negative peer pressure could be identified. From these empirical findings it was evident that the mutual relationships of the participants as well as the dynamics and norms within their respective groups, impacted severely on their description of negative peer pressure.

Group formation in the middle adolescent years seems to be a complex process. It appears as if the smaller, more intimate group of friends can protect adolescents against negative peer pressure on the one hand, but can

(9)

also exert pressure on group members to partake in negative activities. Therefore smaller groups often change as members move in and out of the group to find a group where they feel at home.

According to the participants, conforming to negative behaviour and norms takes place more readily in the bigger or wider and more diverse peer group. Within these bigger groups it is easier for individuals to lose their identity, and therefore adolescents that are still in search of a personal identity and value system, give in to negative pressure and behaviour easier. A wide range of causes are named for this giving in to pressure, but according to the participants, their need for acceptance and recognition by the peer group as well as the accompanying fear of exclusion are the most important causes.

From the study it was further evident that the relationships that adolescents find themselves in, play a deciding role in their description of negative peer pressure. The participants indicated that their relationship with their parents, their peer group, as well as the relationship with themselves, all influence their ability to handle negative peer pressure.

From these findings the description of participants of negative peer pressure is explained in full. Suggestions are made to better equip parents, teachers and other professional people who work with adolescents in order to support and advise grade nine learners more successfully in their handling of negative peer pressure.

KEY TERMS: Grade nine learner, adolescent, negative peer pressure, conforming.

(10)

VOORWOORD

Hierdie studie word in verhandelingformaat aangebied. Die NWU Harvard-verwysingsmetode is in die studie benut soos verkry vanuit die 2012 uitgawe van die NWU-verwysingsgids, versprei deur die Biblioteekdienste, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit.

In die aanloop tot die studie het die navorser met graad nege-opvoeders van die twee skole waaruit die seleksie vir die deelnemers gedoen is, gekonsulteer om sodoende die relevansie van die studie te bepaal. Om die skole en die opvoeders se identiteit te beskerm, word hulle name nêrens in die verhandeling of die bronnelys genoem nie, maar daar word wel na hulle opinies verwys.

Vir die doel van die studie is daar ook van ouer bronne gebruik gemaak aangesien dit uit die literatuuroorsig duidelik was dat hierdie bronne waardevol en steeds relevant tot die studie is. Die navorser kon in samewerking met die Biblioteekdienste van die Noordwes-Universiteit byvoorbeeld min inligting vind oor positiewe groepdruk sowel as oor die positiewe gevolge van negatiewe groepdruk.

Die navorser gee erkenning daaraan dat portuurgroepdruk ook positief kan wees, maar omdat die fokus van hierdie studie op negatiewe groepdruk is, is die navorsing vanuit daardie paradigma gedoen en word die resultate dan ook daarvolgens bespreek.

(11)

INHOUDSOPGAWE

DANKBETUIGINGS iii

VERKLARING DEUR NAVORSER iv

VERKLARING DEUR TAALVERSORGER v

OPSOMMING EN SLEUTELTERME vi

SUMMARY AND KEY TERMS viii

VOORWOORD x

HOOFSTUK EEN: INLEIDING EN UITEENSETTING VAN DIE STUDIE

1.1 INLEIDING 1

1.2 ORIËNTERING EN MOTIVERING VIR DIE STUDIE 1

1.2.1 Navorsingsvraag 4

1.3 DOELSTELLING 4

1.4 LITERATUURSTUDIE 4

1.5 METODE VAN ONDERSOEK 5

1.6 KEUSE EN STRUKTUUR VAN NAVORSINGSVERSLAG 6

1.7 SAMEVATTING 6

HOOFSTUK TWEE: ’N TEORETIESE PERSPEKTIEF OP ADOLESSENSIE EN GROEPDRUK

2.1 INLEIDING 7

2.2 ADOLESSENTE-ONTWIKKELING 7

2.2.1 Fisiese ontwikkeling 8

2.2.1.1 Vroeë en laat volwassewording 9

2.2.2 Kognitiewe ontwikkeling 11

2.2.2.1 Implikasies van kognitiewe veranderinge 11

2.2.3 Persoonlikheidsontwikkeling 13

2.2.3.1 Identiteitsontwikkeling 13

2.2.3.2 Emosionele ontwikkeling 14

2.2.3.3 Selfkonsep 15

(12)

2.2.5 Sosiale ontwikkeling 18

2.2.5.1 Ouer-adolessent verhouding 18

2.2.5.2 Die portuurgroep 21

2.3 GROEPDRUK AS VERSKYNSEL 22

2.3.1 Groepsdinamika 23

2.3.1.1 Die klein groep 23

2.3.1.2 Die groot groep 24

2.3.2 Die aard en oorsake van groepdruk 24

2.3.3 Portuurgroepdruk en Konformiteit 25

2.3.4 Vatbaarheid vir portuurgroepdruk 26

2.3.5 Portuurgroepdruk en akademiese motivering en prestasie 28

2.3.6 Portuurgroepdruk en kubermishandeling 29

2.4 SAMEVATTING 30

HOOFSTUK DRIE: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.1 INLEIDING 31 3.2 NAVORSINGSBENADERING 31 3.2.1 Kwalitatiewe benadering 31 3.3 NAVORSINGSONTWERP 32 3.4 POPULASIE EN STEEKPROEFNEMING 33 3.4.1 Steekproefneming 33 3.4.2 Steekproefgrootte 34 3.5 PROSEDURE 34 3.6 ETIESE ASPEKTE 35

3.7 METODE VAN DATA-INSAMELING 36

3.7.1 Ongestruktureerde onderhoude 37

3.7.2 Loodsstudie 38

3.7.3 Oudio-opnames 38

3.7.4 Veldnotas en refleksies 38

3.8 DATA-ANALISERING 39

DIAGRAM 3.1: Data-analise in Kwalitatiewe Navorsing

(13)

Stap 1: Organiseer die data 40

Stap 2: Lees en skryf notas 40

Stap 3: Genereer kategorieë en kodeer die data 41 Stap 4: Interpreteer die betekenis van temas/beskrywings 42 Stap 5: Eksploreer alternatiewe verduidelikings 42

Stap 6: Bied die data aan 42

3.9 VERTROUENSWAARDIGHEID 42 Geloofwaardigheid (Credibility) 43 Oordraagbaarheid (Transferability) 43 Vertroubaarheid (Dependibility) 43 Bevestigbaarheid (Confirmability) 44 3.10 SAMEVATTING 44

HOOFSTUK VIER: NAVORSINGSBEVINDINGS

4.1 INLEIDING 45

TABEL 4.1: Indeling van hooftemas, subtemas en kategorieë 46

4.2 RESULTATE 47

4.2.1 Hooftema 1: Deelnemers beskryf negatiewe groepdruk binne die konteks van redes daarvoor en gevolge daarvan 47 TABEL 4.2: Hooftema 1, subtemas en kategorieë 47

4.2.1.1 Subtema 1: Redes vir negatiewe groepdruk 48

TABEL 4.3: Kategorieë en verbatim aanhalings van Subtema 1 49 4.2.1.2 Subtema 2: Gevolge van negatiewe groepdruk 52 4.2.2 Hooftema 2: Onderlinge verhoudinge van deelnemers en

die invloed daarvan op negatiewe groepdruk 57

TABEL 4.4: Hooftema 2, subtemas en kategorieë 57

4.2.2.1 Subtema 1: Verhouding met ouers 58

4.2.2.2 Subtema 2: Verhouding met die portuurgroep in terme van

selfdefiniëring 62

4.2.2.3 Subtema 3: Verhouding met die self 64

4.2.3 Hooftema 3: Negatiewe groepdruk binne die konteks van

(14)

TABEL 4.5: Hooftema 3 en subtemas 69

4.2.3.1 Subtema 1: Klein groep 69

4.2.3.2 Subtema 2: Wyer / groter portuurgroep 72

4.3 SAMEVATTING 73

HOOFSTUK VYF: GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

5.1 INLEIDING 75

5.2 NAVORSINGSVRAAG 75

5.3 EVALUERING VAN DIE DOELSTELLING VAN DIE STUDIE 75

5.3.1 Doel van die navorsingstudie 75

5.4 GEVOLGTREKKINGS 76

5.5 AANBEVELINGS 79

5.5.1 Aanbevelings vir die praktyk (skole,terapeute, jeugwerkers) 79

5.5.2 Aanbevelings vir ouers 80

5.5.3 Aanbevelings vir verdere navorsing 81

5.6 BEPERKINGS VAN DIE NAVORSING 82

5.6 SLOTOPMERKING 83

BRONNELYS 84

BYLAE 95

BYLAAG A 95

BRIEF AAN WES-KAAPSE ONDERWYSDEPARTEMENT

BYLAAG B 98

TOESTEMMING VAN WES-KAAPSE ONDERWYSDEPARTEMENT

BYLAAG C 99

BRIEF AAN SKOOLHOOFDE

BYLAAG D 101

(15)

HOOFSTUK 1

INLEIDING EN UITEENSETTING VAN DIE STUDIE

1.1 INLEIDING

Adolessensie is ’n sensitiewe en kritiese ontwikkelingsfase waartydens adolessente verskeie psigososiale take moet bemeester. Die portuurgroep is ’n belangrike sosiale netwerk waarin adolessente funksioneer en daarom is dit belangrik om adolessente se beskrywing van hoe hulle negatiewe portuurgroepdruk in hulle interaksie met die portuurgroep ervaar, te bestudeer.

1.2 ORIËNTERING EN MOTIVERING VIR DIE STUDIE

Portuurinvloed of -groepdruk verwys na die invloed wat ’n portuurgroep uitoefen om ’n persoon te oorreed om sy/haar houdings, waardes of gedrag te verander om by groepnorme aan te pas (Bester & Fourie, 2006:157; Roos, 2003:73). Groepe kan onder meer hulle lede mobiliseer sodat groepsgedrag individue tot positiewe uitkomste mobiliseer. Positiewe uitkomste verwys na verantwoordelike besluitneming, prestasiemotivering, positiewe betrokkenheid by skolastiese aktiwiteite en aanvaarbare gedrag en houdings. Alhoewel groepdruk ook positief kan wees, gebeur dit volgens Bester en Fourie (2006:157) egter dikwels dat adolessente gedrag in ’n groep openbaar wat nie ooreenstem met hulle optrede in ’n een-tot-een situasie nie. Groepe kan hulle groeplede beperk in hulle uitoefening van individuele keuses wat ’n invloed kan hê op die lede se funksionering of daartoe kan lei dat hulle met die groepnorm konformeer. Dit word beskou as negatiewe groepdruk. Uit navorsing blyk dit dat portuuraanvaarding vir adolessente so belangrik is dat hulle in sekere opsigte eerder sal toegee aan die eise van die portuurgroep as om geïsoleer of verwerp te word (Selikow, Ahmed, Flisher, Mathews & Mukoma, 2009:110). As gevolg van hulle behoefte om aanvaar te word, neem die motivering om tot die portuurgroep se norme en waardes te konformeer, ook toe (Gouws, Kruger & Burger, 2008:93).

(16)

“Konformiteit” word deur Plug, Louw, Gouws en Meyer (1997:186) gedefinieer as die neiging of eienskap van individue om hulle waarnemings, menings, houdings en gedrag in ooreenstemming te bring met dié van persone met wie hulle in kontak kom, of dié wat algemeen in die gemeenskap heers. Konformiteit hou volgens Deutsch, Gerard en Insko (in Baron, Byrne & Branscombe, 2006:346) ook verband met twee baie sterk behoeftes van die mens, naamlik die behoefte om aanvaar te word en die behoefte om reg te wees. Hierdie behoeftes kan daartoe lei dat adolessente oormatig konformeer en by hoërisikogedrag, die gebruik van verbode middels en antisosiale gedrag betrokke raak (Cheung & Yeung 2010:1750; Pretorius, 1998:61).

Uit die literatuur (Roos, 2003:63; Youniss & Haynie in Westen, 1999:547) blyk dit dat konformiteit veral gedurende die middel-adolessente jare voorkom en sy piek in graad nege bereik (Fourie, 2001:43; Schuld, 1999:24). Vir die doeleindes van hierdie studie val die fokus daarom op graad nege-leerders wat in die Suid-Afrikaanse skolestelsel tipies beskryf kan word as ’n veertien- of vyftienjarige kind in middel-adolessensie (Fourie, 2001:148-149). Om graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk te ondersoek, is dit noodsaaklik om ’n teoretiese perspektief op hulle ontwikkelingsfase te bekom. Adolessensie is die ontwikkelingstadium tussen die kinderjare en volwassenheid en is afgelei van die Latynse woord adolescere wat beteken “om groot te word” of om tot volwassenheid te groei (Louw, Van Ede & Louw, 1998:388). Adolessensie kan breedweg in drie fases verdeel word, naamlik vroeë adolessensie vanaf 11 tot 13 jaar; middel-adolessensie vanaf 14 tot 17 jaar en laat-adolessensie vanaf 18 tot 21 jaar (Smetana, 2011:12). Vir adoles-sente om tot volwassenheid te kan groei, moet hulle sekere ontwikkelingstake uitvoer. Hierdie ontwikkelingstake gaan egter dikwels gepaard met ’n toename in stres, angstigheid, onsekerheid en depressie (Bester & Fourie, 2006:157; Roos, 2003:74). Die ontwikkeling van ’n persoonlike identiteit en die bewe-ging na persoonlike outonomiteit, word verder gekenmerk deur ’n toene-mende behoefte aan portuurgroepaanvaarding, ’n toename in portuurinvloed en die verwerping of bevraagtekening van ouerlike gesag (Roos, 2003:61).

(17)

’n Afname in skolastiese motivering, akademiese onderprestasie en ’n laissez-faire houding teenoor skoolwerk word geassosieer met adolessente se behoefte om aanvaar te word en/of hulle vrees om verwerp te word (Roos, 2003:61; Ryan, 2001:1146). Verwerping deur die portuurgroep hou verder verband met aspekte soos voortydige skoolverlating, kriminele en delinkwente gedrag en ernstige psigologiese probleme in latere adolessensie en vroeë volwassenheid (Ministerial Committee on Learner Retention in the S.A. Schooling System, 2008:84; Roos, 2003:62; Woolfolk, Hughes & Walkup, 2008:98). Hierdie gedragsuitinge het oor die afgelope dekade tot verskeie studies aanleiding gegee. Outeurs (Bester & Fourie, 2006; Chan & Chan, 2008; Crocket, Raffaelli & Shen, 2006; Fourie, 2001; Lebitso, 2001; Moilanen, Crockett, Rafaelli & Jones, 2010; Roos, 2003; Selikow et al., 2009) het onder meer aandag geskenk aan die invloed en/of rol van groepdruk op adolessente se selfkonsep, verhoudings, vermoë tot selfregulering, emosionele outonomiteit en hulle geneigdheid tot en betrokkenheid by hoërisikogedrag.

Uit hierdie literatuur blyk dit egter dat daar steeds ’n leemte rakende adolessente se subjektiewe beskrywing van negatiewe groepdruk bestaan. Dit impliseer volgens Lashbrook (2000:1-4) en Bámaca en Umaña-Taylor (2004:644) dat die stem en persepsies van die jeug ten opsigte van groepdruk nie genoeg gehoor word nie. Deur aan graad nege-leerders die geleentheid te bied om hulle beskrywing van negatiewe groepdruk te deel, kan ’n beter begrip vir die invloed daarvan op die leefwêreld van adolessente verkry word. Daarom is die oogmerk van hierdie studie om juis die stem van adolessente, en dan spesifiek van graad nege-leerders, ten opsigte van hulle beskrywing van negatiewe groepdruk te hoor. Sodoende wil die navorser haar stem by dié van Roos (2003:61) voeg, naamlik dat adolessente “need and deserve to benefit from increased and continued investigation of the issues that destabilise them and, consequently, increase their vulnerability to peer pressure to unacceptable and dangerous levels”. Die navorser wil daarom poog om graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk in diepte te verken en te beskryf om sodoende die navorsingsvraag te beantwoord.

(18)

1.2.1 Navorsingsvraag

’n Navorsingsvraag is volgens Jansen (2007:7) die breë oorkoepelende vraag waarop antwoorde gesoek word. Strydom en Delport (2011:384) verwys na die navorsingsvraag as die formulering van ’n spesifieke vraag oor die onderwerp. Die vraag moet verband hou met die doelstelling en doelwitte van die studie en rigting daaraan gee. Dit moet verder ondersoekend van aard wees en verkennend teenoor die fenomeen optree. In hierdie studie sal die volgende navorsingsvraag die ondersoek rig:

Wat is graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk?

1.3 DOELSTELLING

Die oorhoofse doelstelling van hierdie studie is om ’n kwalitatiewe, fenomenologiese studie te onderneem ten einde graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk te verken en te beskryf. Indien graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk bekend is, kan dit ’n platform skep waar intervensie- en voorkomingstrategieë ontwikkel kan word om ouers, onderwysers, jeugwerkers en terapeute wat by adolessente in hierdie kwesbare ouderdomsfase betrokke is, te begelei.

1.4 LITERATUURSTUDIE

Creswell (2009:25) verduidelik dat die doel van ’n literatuuroorsig is om ’n raamwerk vir die belangrikheid van die studie daar te stel, asook ’n vertrekpunt om die resultate met ander bevindinge te vergelyk. Aangesien ’n fenomenologiese studie poog om die persepsies, perspektiewe en spesifieke situasie van mense te verstaan, is dit volgens Leedy en Ormrod (2005:140) nodig dat die bevindinge van ’n studie in verband gebring moet word met bestaande teorie en navorsing.

(19)

handboeke, vaktydskrifte, proefskrifte en lopende en afgehandelde navor-singsbronne gebruik gemaak. Literatuur van die sielkunde- en opvoedkunde-professies is bestudeer en databasisse soos EBSCO Host, ProQuest, NEXUS, SAePublications en SACAT is gekonsulteer. Kernkonsepte wat gebruik is, sluit in groepdruk, adolessensie, konformering, portuurgroep, hoë-risiko- en antisosiale gedrag.

1.5 METODE VAN ONDERSOEK

Die navorsingsmetodologie verwys na die navorsingsprosedure en werkswyse wat vir die studie gevolg is. Dit behels onder meer ’n uiteensetting van die navorsingsontwerp en benadering, die metodes van steekproefneming, data-insameling en dataverwerking, sowel as die etiese aspekte wat op die studie van toepassing is.

Aangesien die studie ten doel gehad het om graad nege-leerders se beskrywing van negatiewe groepdruk te verken en die navorser met die studie beoog het om vir graad nege leerders ’n “stem” (“voice”) te gee, is ’n kwalitatiewe benadering met ’n fenomenologiese strategie as navorsings-ontwerp gevolg (Fouché & Schurink, 2011:316). Die navorsingspopulasie van die studie het uit graad nege-leerders van twee openbare hoërskole in die Drakensteingebied in die Boland, Wes-Kaap bestaan.

Die navorser het van nie-waarskynlikheid steekproefneming gebruik gemaak en spesifiek van ’n lukraak doelgerigte steekproef. Data is deur middel van ongestruktureerde onderhoude ingesamel en verwerk aan die hand van Creswell (2009:183-190) en Schurink, Fouché en De Vos (2011:402) se stappe en aanbevelings vir data-analisering.

Al bogenoemde aspekte word volledig in hoofstuk drie omskryf, sowel as die vertrouenswaardigheid van die studie wat aan die hand van Lincoln en Guba (in Schurink et al., 2011:419-421) se vier kriteria, naamlik geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, vertroubaarheid en bevestigbaarheid bespreek word.

(20)

1.6 KEUSE EN STRUKTUUR VAN NAVORSINGSVERSLAG

Die navorsingsverslag sal in verhandelingformaat aan die hand van die volgende struktuur aangebied word:

Hoofstuk 1 - Inleiding en uiteensetting van die studie

Hoofstuk 2 - ’n Teoretiese perspektief op groepdruk en adolessensie Hoofstuk 3 - Navorsingsmetodologie

Hoofstuk 4 - Navorsingsbevindings

Hoofstuk 5 - Gevolgtrekkings en aanbevelings

1.7 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is gefokus op die motivering vir die navorsingstudie, die formulering van die probleem wat ondersoek is, asook die metodologie wat tydens die studie gevolg is. In hoofstuk twee word daar vervolgens gekyk na die bestaande literatuur ten opsigte van die onderwerp. Groepdruk as fenomeen word bespreek, sowel as die ontwikkelingstake wat adolessente moet voltooi in terme van hulle fisiese, kognitiewe, persoonlikheids-, sosiale en morele ontwikkeling.

(21)

HOOFSTUK 2

’N TEORETIESE PERSPEKTIEF OP ADOLESSENSIE EN GROEPDRUK “Being 15 is when you get your first taste of how strange and alien the world

actually is as contrasted with how organized and socially conscious it presents itself to be. That won’t go away. It’s a long and very lonely journey but in the end you will be able to look in the mirror and see a similar image, only a bit older, that’s not worth hating anymore when loving it is just that

much easier on the heart.”

(Y. Dvorkis: http://www.poemhunter.com)

2.1 INLEIDING

Adolessensie word gekenmerk as ’n tydperk waartydens adolessente ’n eie identiteit ontwikkel, meer tyd met hulle portuurgroep deurbring en toenemend meer outonoom en onafhanklik van hulle ouers raak. Die portuurgroep oefen volgens Pretorius (1998:167) affektiewe, kognitiewe en normatiewe druk op die adolessent uit en nie alle adolessente het die vermoë om hierdie druk korrek te hanteer nie (Fourie, 2001:1). Om graad nege-leerders se beskry-wing van negatiewe portuurgroepdruk te verken, is dit nodig om spesifieke aspekte van groepdruk en adolessensie te bestudeer. Die fokus van hierdie hoofstuk is daarom om ’n teoretiese perspektief op hierdie kernkonsepte te bekom en omdat die studie die adolessentefase impliseer, sal middel-adolessensie deurlopend aandag geniet.

2.2 ADOLESSENTE-ONTWIKKELING

Die adolessentefase word as ’n oorgangsperiode na volwassenheid beskou waartydens ’n jong persoon van afhanklikheid na onafhanlikheid, outonomie en volwassenheid moet beweeg (Geldard & Geldard, 2012:4). Die ouder-domsafbakening van adolessensie, naamlik vroeë (11 tot 13 jaar), middel- (14 tot 17 jaar) en laat-adolessensie (18 tot 21 jaar) staan volgens Ackermann (2001:104) as die chronologiese benadering tot adolessensie bekend, maar

(22)

adolessensie kan ook vanuit ’n fisiese, kognitiewe, sosiologiese, sielkundige en oorgangsbenadering beskou word. Rogers (in Ackermann, 2001:104) is egter van mening dat adolessensie vanuit ’n sielkundige oogpunt as ’n proses eerder as ’n tydsperiode beskryf moet word. Adolessensie behels ’n proses van ontwikkeling en die verwerwing van houdinge, oortuigings en gedrags-patrone, ’n proses van eksperimentering met rolle en ’n proses van identiteits-verwerwing. Hierdie prosesse staan ook as ontwikkelingstake bekend en verwys na die vermoëns, vaardighede, houdings en gedragspatrone wat gedurende spesifieke ontwikkelingstadiums bereik moet word (Ackermann, 2001:105). Om tot volwassenheid te kan groei, moet adolessente hierdie ontwikkelingstake suksesvol uitvoer en vir adolessente in die middel-adolessente fase beteken dit die:

ontwikkeling van ’n eie identiteit,

ontwikkeling van sosiaal verantwoordelike gedrag, aanvaarding van en aanpassing by sekere groepe en

ontwikkeling van onafhanklikheid van ouers en ander volwassenes (Louw et al., 1998:392).

Verskeie faktore het egter ’n impak op adolessente se suksesvolle bemeestering van hulle ontwikkelingstake. Nie alleen moet hulle die snelle biologiese en fisiese veranderinge leer hanteer nie, maar ook die uitdagings wat met hulle kognitiewe, sosiale en persoonlikheidsontwikkeling gepaard-gaan (Bester & Fourie, 2006:157; Chan & Chan, 2008:38; Theron & Dalzell, 2006:397). Daar sal vervolgens by elk van hierdie ontwikkelingsfasette stilgestaan word, sowel as by die implikasies daarvan op adolessente se vermoë om negatiewe groepdruk te hanteer.

2.2.1 Fisiese ontwikkeling

Adolessente se fisiese ontwikkeling sentreer hoofsaaklik rondom die liggaamlike en hormonale groeiversnelling wat veral gedurende vroeë adolessensie voorkom (Swartz, De la Rey, Duncan & Townsand, 2008:86).

(23)

Dié groeiversnelling word gekenmerk deur ’n vinnige toename in lengte en gewig, ryping van die voortplantingsisteem en die verskyning van sekondêre geslagskenmerke (Engelbrecht, 2009:11; Gouws et al., 2008:12; Wait, Meyer & Loxton, 2005:152). Hierdie liggaamlike veranderinge moet volgens Wait et al. (2005:170) deur elke adolessent in sy/haar geslagsrolidentiteit en selfbeeld geïntegreer en geïnkorporeer word. Dit behels onder meer die aanvaarding van die veranderde fisiese voorkoms, die ontwikkeling van ’n gesonde liggaamsbeeld (Engelbrecht, 2009:11) en “to cope and to deal with their sexuality in a responsible way” (Ackermann, 2001:106).

Hierdie uitdagings kan vir adolessente egter baie moeilik en stresvol wees, wat daartoe kan bydra dat hulle meer kwesbaar vir negatiewe groepdruk is. Baie adolessente sukkel met die suksesvolle uitvoering van hierdie noodsaaklike ontwikkelingstake en omdat fisieke voorkoms adolessente se populariteit en hulle verhoudings beïnvloed, kan dit die vestiging van ’n negatiewe liggaams- en selfbeeld in die hand werk (Geldard & Geldard, 2012:5). Uit die literatuur blyk dit egter dat hierdie tendens meer dikwels by meisies as seuns voorkom omdat adolessente meisies meer geneig is om hulle selfwaarde op hulle liggaamsbeeld te baseer (Wait et al., 2005:154). Nie alleen raak meisies meer krities en begaan oor hulle voorkoms nie (Fourie, 2001:36), maar daar word ook van hulle verwag om die “ideale maer voorkoms” wat deur die media geprojekteer word, te bereik (Gouws et al., 2008:25; Kaplan, 2000:476; Swartz et al., 2008:88). Hulle raak dikwels gepreokkupeerd met hulle liggaam en daarom is dit volgens laasgenoemde outeurs geen verrassing nie dat die eetsteurings anorexia nervosa en bulimia nervosa meestal gedurende adolessensie begin. Hierdie eetsteurings kom daarom meer dikwels by meisies as seuns voor (Kaplan, 2000:477; Rice & Dolgin in Gouws et al., 2008:171).

2.2.1.1 Vroeë en laat volwassewording

Uit die literatuur is dit duidelik dat daar vroeë, normale en laat volwasseworders is en dat daar gevolglik verskillende sosiale, intellektuele en psigologiese implikasies vir adolessente seuns en meisies is (Mwamwenda,

(24)

2004:64). Dit blyk verder dat die tydsberekening of tempo van liggaamlike rypwording verskillend op seuns en meisies impakteer en dat dit ’n bepalende faktor van hulle selfbeeld, selfvertroue en gewildheid is (Geldard & Geldard, 2012:5).

Vroeg-rypwordende seuns kry dikwels meer verantwoordelikheid en word in leierskapsrolle verkies, hulle kry meer aandag van meisies, is atleties goed en openbaar meer selfvertroue (Fourie, 2001:71; Kaplan, 2000:469; Wait et al., 2005:154), terwyl seuns wat later volwassenheid bereik, minder gewild by hulle portuurgroep is, meer sielkundige stres ervaar, selfbewus, angstig en gefrustreerd is (Mwamwenda, 2004:65). Hulle tree ook dikwels verspot en kinderagtig op om aandag van hulle portuurs te kry en kan volgens Fourie (2001:73) daarom meer vatbaar vir negatiewe groepdruk wees.

Meisies wat vroeg liggaamlike volwassenheid bereik, is geneig om verleë en ongemaklik oor hulle voorkoms en vroulikheid te wees (Wait et al., 2005:155). Hulle is buierig, toon gedragsprobleme, presteer skolasties swakker en is minder gewild by hulle eie geslag (Fourie, 2001:69; Mwamwenda, 2004:65). Ten spyte hiervan is hulle meer onafhanklik en meer gewild by die teenoorgestelde geslag, maar omdat hulle meer vryheid deur hulle ouers toegelaat word (Mwamwenda, 2004:65), is hulle ook meer kwesbaar vir groepdruk en meer geneig tot hoërisikogedrag (Kaplan, 2000:470). Hierteenoor is laat-volwasse meisies gewild by die portuurgroep en daarom meer selfversekerd, hulle presteer akademies beter en verkeer onder minder sosiale druk. Hierdie meisies ervaar egter heelwat meer spanning weens hulle stadiger groei en ontwikkeling (Mwamwenda, 2004:65) en worstel volgens Fourie (2001:70) met die gedagte dat hulle nie normaal is nie.

Mwamwenda (2004:65) is egter ook van mening dat die implikasies van vroeë en laat volwassewording nie universeel is nie, maar van kultuur tot kultuur kan verskil. Dit is volgens hierdie outeur nie ’n noodwendigheid dat vroeë volwassenheid nadelig onder “African girls” is nie. Dit is selfs moontlik dat dit vir hierdie meisies respek en aansien kan verdien. Wat egter duidelik is, is dat

(25)

(Swartz et al., 2008:88) wat veral hulle emosionele en sosiale ontwikkeling op verskeie maniere kan beïnvloed (Ackermann, 2001:106). Adolessente se houding teenoor hulleself word gevorm op grond van wat hulle deur ander (insluitend die portuurgroep) oor hulleself wysgemaak word (Mwamwenda, 2004:63). Die sielkundige impak hiervan beklemtoon volgens Wait et al. (2005:155) hoe kwesbaar hulle vir sosiale verwagtinge en verwerping deur die groep is.

2.2.2 Kognitiewe ontwikkeling

Menslike ontwikkeling is ’n geïntegreerde proses en daarom word die mens se kognitiewe of intellektuele ontwikkeling deur al die ander ontwikkelings-dimensies beïnvloed. Adolessente se kognitiewe ontwikkeling word volgens Piaget (in Swartz et al., 2008:88) se ontwikkelingsraamwerk deur die vorming van formeel operasionele denke gekenmerk. Dit behels minder konkrete en meer abstrakte en wetenskaplike denke met die vermoë om logies te redeneer, krities en kreatief te dink en hipoteses oor die logiese opeenvolging van gebeure te maak.

Kognitiewe ontwikkeling hang ten nouste saam met gesonde sosiale, emosionele en fisiese ontwikkeling (Ackermann, 2001:108-109). Ander faktore soos motivering, gevoel van eiewaarde, vorige ervarings van sukses en mislukking, toekomsverwagtinge en ekosistemiese faktore soos kultuur (skool, familie, portuurgroep), sosiale norme en sosiale verwagtinge, impakteer ook op die adolessent se kognitiewe ontwikkeling (Swartz et al., 2008:89).

2.2.2.1 Implikasies van kognitiewe veranderinge

Kognitiewe ontwikkeling beïnvloed volgens Louw en Louw (2007:303) verskillende areas van adolessente-ontwikkeling soos gesinsverhoudinge, vriendskappe, skoolprestasie en risikogedrag. Omdat adolessente oor hoër vlakke van kognitiewe redenering beskik, strewe hulle nie alleen na onafhanklike besluitneming nie, maar raak ook meer krities oor hulle ouers se waardes en uitgangspunte (Ackermann, 2001:109). Hulle bevraagteken hulle

(26)

ouers se gedrag en gesag en verwag van hulle ouers om hulle sieninge en reëls te verifieer.

Hierdie kognitiewe verandering gee aanleiding tot adolessente-egosentrisme en verwys na adolessente se preokkupasies met hulleself en hulle eie gedagtes (Swartz et al., 2008:88). Adolessente-egosentrisme sluit volgens Elkind (in Louw & Louw, 2007:306) twee valse beelde of konsepte van die verhouding tussen die self en ander in, naamlik die denkbeeldige gehoor en die persoonlike fabel.

Die denkbeeldige gehoor verwys na adolessente se self-gesentreerdheid en die aanname dat hulle die middelpunt van almal se belangstelling en die fokuspunt in enige situasie is en asof hulle gedurig op ’n verhoog voor ander is (Swartz et al., 2008:89; Geldard & Geldard, 2012:7). Omdat hulle so baie oor hulleself dink, glo hulle dat ander mense, veral hulle portuurs, ook so baie aan hulle dink en hulle op dieselfde wyse evalueer as wat hulle hulleself sien (Wait, et al., 2005:156). Hierdie aanname en selfevaluering lei dikwels tot selfbewustheid, selfkritiek, oorsensitiwiteit en ’n dringende behoefte aan privaatheid, veral as hulle vind dat hulle nie aan die eise van die portuurgroep voldoen nie (Jones, 2003:18; Louw & Louw, 2007:306).

Die persoonlike fabel verwys na adolessente se onrealistiese fantasieë oor hulleself. Dit is ’n opgeblase opinie van hulle eie belangrikheid en die gevoel dat hulle uniek, spesiaal, onoorwinlik en onaantasbaar is (Louw & Louw, 2007:306; Swartz et al., 2008:89). Die gevaar hieraan verbonde is die oortuiging dat die negatiewe gevolge van hoërisikogedrag, soos tienerswangerskap, drank- en dwelmafhanklikheid en MIV/Vigs, “nie met my sal gebeur nie”.

Adolessente-egosentrisme neem volgens Geldard en Geldard (2012:7), Kaplan (2000:486) en Rycek, Stuhr, McDermott, Benker en Swartz (in Jones, 2003:18) ’n aanvang tydens vroeë adolessensie, bereik ’n hoogtepunt op 14- tot 16-jarige ouderdom en neem af gedurende laat adolessensie. Hierdie feite korreleer met middel-adolessente se vatbaarheid vir portuurgroepdruk en hulle geneigdheid om tot groepnorme te konformeer.

(27)

2.2.3 Persoonlikheidsontwikkeling

Die psigososiale of persoonlikheidsontwikkeling van adolessente word primêr deur die ontwikkeling van ’n persoonlike identiteit onderlê (Berger, 2006:465). Erik Erikson was die eerste psigoanalitiese teoretikus om die belangrikheid van die vorming van ’n persoonlike identiteit in die persoonlikheids-ontwikkeling van die individu te identifiseer (Louw & Louw, 2007:309).

2.2.3.1 Identiteitsontwikkeling

Erikson het geglo dat die ontwikkeling van ’n eie identiteit die belangrikste ontwikkelingstaak tydens adolessensie is en dit moet volgens hom, Kohlberg en ander teoretici gedefinieer word in terme van die kontras tussen die self en ander (Kroger in Geldard & Geldard, 2012:9). Swanson (2010:102) dui aan dat identiteitsontwikkeling as ’n psigososiale konsep alle ander dimensies van ontwikkeling inkorporeer, naamlik persoonlike, sosiale en kollektiewe identiteit.

Die verwerwing van ’n eie identiteit kan as ’n selfontdekkingsreis beskryf word (Gulotta et al., in Ackermann, 2001:110), omdat dit primêr verwys na adolessente se soeke na antwoorde op vrae soos: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? en Wie / wat wil ek word? (Mwamwenda, 2004:67). Hierdie kritiese taak is die vyfde van die agt lewenstadiums soos deur Erikson beskryf en die psigososiale krisis of konflik van hierdie stadium behels die verwerwing van ’n eie identiteit versus identiteitsverwarring (Ackermann, 2001:109; Swartz et al., 2008:88; Weiten, 2001:344). Erikson (in Louw et al., 1998:427) beskryf identiteitsverwarring soos volg:

“I ain’t what I ought to be, I ain’t what I am going to be,

But I ain’t what I was”

Identiteitsverwarring ontstaan wannneer adolessente nie in staat is om by ’n psigososiale selfdefinisie uit te kom nie en geen besluite oor hulleself, hulle

(28)

rolle of hulle toekoms kan neem nie (Ackermann, 2001:110; Swartz et al., 2008:91). Hierdie toestand van diffusie wek angs en vyandigheid teenoor rolle of waardes en gaan dikwels gepaard met ’n toename in stres, onsekerheid en depressie (Bester & Fourie, 2006:157; Roos, 2003:74). Berger (2006:497) verduidelik dat diffusie adolessente op risiko plaas vir kroniese misdadigheid en volgens Fourie (2001:87) dra identiteitsdiffusie daartoe by dat adolessente ’n groter behoefte sal hê om met ’n groep te identifiseer en gevolglik makliker aan negatiewe groepdruk sal toegee.

’n Ander ongewenste uitkoms van die identiteitskrisis tydens adolessensie is die vorming van ’n negatiewe identiteit (Ackermann, 2001:110). ’n Negatiewe identiteit kan gevorm word wanneer adolessente se verwagtinge met dié van die gemeenskap verskil (Berger, 2006:498). Hierdie diskrepansie tussen sosiale en persoonlike verwagtinge kan daartoe lei dat adolessente oorweldig voel en by anti-sosiale en delinkwente gedrag betrokke raak (Geldard & Geldard, 2012:13). Anti-sosiale en delinkwente gedrag is dikwels die gevolg van die negatiewe invloed van die portuurgroep (Geldard & Geldard, 2012:45). Naas die ontwikkeling van ’n eie identiteit, vorm adolessente se emosionele ontwikkeling en hulle selfkonsepvorming kernaspekte van hulle persoonlikheidsontwikkeling (Louw & Louw, 2007:314, 319), waaraan daar vervolgens aandag gegee sal word.

2.2.3.2 Emosionele ontwikkeling

Die emosionele ontwikkeling van adolessente word gekenmerk deur emosionele intensiteit en fluktuasies (Wait, et al., 2005:154) en staan daarom

as die verhoogde emosionele tydperk bekend (Rice in Fourie, 2001:94). Adolessente beleef intense gemoedskommelinge en hulle emosionele

belewing wissel van optimisme tot pessimisme, van vreugde tot hartseer, van trots tot vernedering en van liefde tot haat (Wait, et al., 2005:157). Hierdie emosionele onstabiliteit hou dikwels verband met adolessente se aanpassing by, en die aanvaarding van hulle biologiese veranderinge, maar dit kan ook aan ’n verskeidenheid ander faktore, soos kognitiewe, morele en

(29)

omgewingsfaktore toegeskryf word (Gouws et al., 2008:117). Faktore wat hier ter sprake is, behels onder meer veranderinge in adolessente se sosiale verhoudings, sowel as veranderinge in hulle oortuigings, hulle houdings en hulle selfkonsep (Geldard & Geldard, 2012:6).

As gevolg van adolessente se hoër vlakke van kognitiewe ontwikkeling en hulle vermoë tot abstrakte denke, word hulle vermoë tot empatie en insig in hulle eie en ander se gevoelens egter ook ontwikkel (Louw & Louw, 2007:319). Hulle besef volgens Wait et al. (2005:157) gevolglik dat hulle anders is en dat hulle ouers of sibbe nie noodwendig begrip vir hulle intense emosies het nie. Hierdie nuwe insig kan daartoe lei dat adolessente soms hulle emosies soos vrees, bekommernis, angs, woede, aggressie, jaloesie en depressie op ’n rigiede wyse probeer beheer en kontroleer. Emosionele beheer en die onderdrukking van emosies kan aanleiding gee tot angstigheid en eetversteurings wat weer gevoelens van skaamte, skuld, verleentheid en depressie tot gevolg kan hê (Gouws et al., 2008:172; Wait et al., 2005:157). 2.2.3.3 Selfkonsep

Selfkonsep is die siening wat individue van hulleself het en sluit die oortuigings, idees, gedagtes en houdings wat hulle teenoor hulle fisiese, sosiale, emosionele en geestelike bestaan het, in (Geldard & Geldard, 2012:209; Gouws et al., 2010:98). Yontef (1993:33) definieer die self in terme van die interaksie tussen die individu en sy/haar omgewing of veld. Adolessente se selfkonsep word dus deur interaksies met hulle portuurgroep en belangrike ander mense in hulle veld beïnvloed (Gouws et al., 2008:100). Verder word adolessente se selfkonsep volgens Louw et al. (1998:437) en Louw en Louw (2007:314) ook deur hulle identiteitsontwikkeling en kognitiewe vermoë beïnvloed. Weens hulle hoër kognitiewe vaardighede ontwikkel vroeë adolessente die vermoë om verskillende en meer komplekse beskrywings van hulleself te gee (Kaplan, 2000:510). Hierdie vermoë kan egter tydens middel-adolessensie tot verwarring lei, omdat twyfel ontstaan oor watter van die kontrasterende eienskappe die werklike self of werklike identiteit is (Kaplan, 2000:511).

(30)

Die ontwikkeling van ’n eie identiteit gaan dikwels met identiteitsverwarring gepaard en identiteitsverwarring kan ’n negatiewe identiteit en lae selfkonsep tot gevolg hê. Adolessente wat oor ’n lae of gebrekkige selfkonsep beskik, is meer kwesbaar vir verwerping en kritiek en sal gevolglik makliker tot die norme van die portuurgroep konformeer en meer gewillig by hoërisikogedrag betrokke raak (Bámace & Umaña-Taylor, 2006:634; Bester & Fourie, 2006:167; Rice & Dolgin in Gouws et al., 2008:101; Theron & Dalzell, 2006:398). Fourie (2001:93) brei hierop uit en kom tot die gevolgtrekking dat ’n negatiewe selfkonsep daartoe kan lei dat adolessente:

deur die portuurgroep verwerp word, ’n lae sosiale profiel handhaaf,

doelbewuste pogings aanwend om by die portuurgroep gewild te wees, maklik deur die portuurgroep beïnvloed word en

toelaat dat die portuurgroep besluite neem wat hulle raak.

Hierteenoor dra ’n hoë selfkonsep by tot emosionele welstand, positiewe sosiale verhoudings, akademiese sukses en die verwerwing van ’n eie identiteit (Gouws et al., 2008:101).

2.2.4 Morele ontwikkeling

Adolessente se nuutverworwe kognitiewe vaardighede en gepaardgaande vermoë tot abstrakte en buigsame denke, stel hulle in staat om alternatiewe morele waardes te oorweeg en te ondersoek en om ’n persoonlike waardestelsel te ontwikkel wat as riglyn vir hulle eie gedrag kan dien (Gouws et al., 2008:123; Kaplan, 2000:488; Louw et al., 1998:464; Louw & Louw, 2007:346).

Ten einde ’n persoonlike waardestelsel te ontwikkel, word ouers en belangrike ander persone in die adolessent se lewe se waardes en morele oortuigings toenemend onder ’n vergrootglas geplaas en krities bevraagteken (Kaplan, 2000:490). Hierdie beoordeling van ouers en die gemeenskap se morele

(31)

standaarde neem veral gedurende die middel-adolessente jare ’n aanvang wanneer die adolessent tot formeel-operasionele denke in staat is, en staan volgens Kohlberg (in Kaplan, 2000:488) as postkonvensionele moraliteit bekend. Die oorgang van konvensionele na postkonvensionele moraliteit loop volgens Turiel (in Wait et al., 2005:172) parallel met die vorming van ’n eie identiteit. In hulle soeke na ’n eie identiteit soek adolessente ook na hulle eie morele waardes en houdings wat hulle gedrag kan rig. Hierdie soektog kan deur die portuurgroep beïnvloed word.

Adolessente se interaksie met hulle portuurgroep speel ’n kritiese rol in die ontwikkeling van hulle waardesisteem (Gouws et al., 2008:131; Moodley, 2003:26). Portuurinteraksie stel adolessente volgens Piaget (in Louw & Louw, 2007:346) aan ’n spektrum van morele sieninge en oortuigings bloot. Hierdie blootstelling kan hulle morele ontwikkeling positief of negatief beïnvloed. Indien die groep ’n lae morele peil handhaaf en by hoërisiko en delinkwente aktiwiteite betrokke raak, kan groeplede tot hierdie negatiewe groepnorme konformeer. Net so kan ’n hoë morele groepidentiteit tieners teen negatiewe groepdruk beskerm (Fourie, 2001:127).

Ander faktore wat adolessente se morele ontwikkeling kan beïnvloed, sluit die volgende in:

Geloof kan houdings en gedrag beïnvloed (Kaplan, 2000:491). Gelowige adolessente toon groter morele selfstandigheid, is minder angstig en alkohol- en dwelmgebruik kom minder by hulle voor (Louw et al., 1998:473; Louw & Louw, 2007:346). Hierteenoor mag adoles-sente met identiteitsdiffusie deur onortodokse godsdienstige praktyke aangetrek word en hulleself met hierdie groepe se geestelike oortuigings en waardes identifiseer (Geldard & Geldard, 2012:17).

Sosio-ekonomiese status: Adolessente uit hoë sosio-ekonomiese omstandighede (SES) is volgens Fourie (2001:125) beter in staat om hoër vlakke van morele redenering te bereik, terwyl kinders in ’n lae

(32)

SES se morele ontwikkeling vertraag word deur hulle swakker begrip van die sosiale samelewing.

Media: Televisie, rekenaarspeletjies, musiek en die internet kan ’n betekenisvolle invloed op adolessente se waardesisteem en gedrag hê (Moodley, 2003:26). Dit stel kinders en adolessente aan “anti- waardes” (Gouws et al., 2008:133) bloot wat die emosioneel onstabiele adolessent kan verwar en tot innerlike konflik kan lei.

Die skool: Indien ’n skool daarin misluk om waardes soos eerlikheid, eerbied, liefdadigheid en nederigheid te beklemtoon, kan kinders begin glo dat hulle ouers se waardes outyds is en sal hulle meer geneig wees om die norme van die portuurgroep en dié wat deur die media geprojekteer word, te aanvaar (Allport in Gouws et al., 2008:136).

2.2.5 Sosiale ontwikkeling

Behalwe vir fisiologiese en psigologiese veranderinge vind daar ook sosiale veranderinge by adolessente plaas (Bester & Fourie, 2006:157). Hierdie sosiale veranderinge word gekenmerk deur ’n geleidelike losmakingsproses van ouers, ’n toenemende behoefte aan interaksie met die portuurgroep en die ontwikkeling van ’n persoonlike waardestelsel (Engelbrecht, 2009:12). Die sosiale risiko’s wat met adolessensie geassosieer word en bydra tot adolessente se kwesbaarheid, behels onder meer ouer-adolessent konflik, portuurgroepverwerping, oormatige konformering tot die portuurgroep en negatiewe groepdruk (Mash & Wolfe in Theron & Dalzell, 2006:398). Vanuit hierdie paradigma sal die ouer-adolessent verhouding en die rol van die portuurgroep as die twee primêre sosialiseringsagtente in die lewe van adolessente vervolgens bespreek word.

2.2.5.1 Ouer-adolessent verhouding

Gedurende adolessensie word die verhouding wat adolessente met hulle ouers het, onder groot druk geplaas. Omdat adolessente streef na

(33)

onafhanklikheid en selfstandige besluitneming, bevraagteken hulle toenemend hulle ouers se reëls, waardes en opvoedingstyl (Ackermann, 2001:109; Berger, 2006:507). Dit gee dikwels aanleiding tot ouer-adolessent konflik en ’n gepaardgaande stresvolle en swak ouer-kind verhouding. Die verhouding wat adolessente met hulle ouers het, speel egter ’n belangrike rol in hulle sosiale aanpassing en ontwikkeling. Nie alleen impakteer hierdie verhouding op hoe adolessente hulleself sien en handhaaf nie, maar ook op hulle skolastiese motivering en die hantering van portuurgroepdruk (Fourie, 2001:135; Gouws et al., 2008:82). Uit die literatuur blyk dit dat kinders wat min aandag en aanvaarding van hulle ouers kry, meer vatbaar vir negatiewe groepdruk sal wees, terwyl ’n goeie verstandhouding tussen ’n ouer en kind die risiko van groepdruk verminder (Schuld, 1999:55). Faktore wat ’n rol speel in die ouer-adolessent verhouding, sluit onder meer ouerskapstyle en ouers se hantering van adolessente se strewe na outonomie en onafhanklikheid (Engelbrecht, 2009:12) in.

Ouerskapstyl

In die literatuur (Louw & Louw, 2007:328; Rodriguez & Walden, 2010:302) word dikwels verwys na die drie ouerskapstyle wat in 1967 en 1971 deur Diana Baumrind geïdentifiseer en bestudeer is, naamlik die outoritêre (“authoritative”), outokratiese (“authoritarian”) en permissiewe (“permissive”) ouerskapstyle. Uit hierdie literatuur blyk dit dat adolessente met outoritêre ouers sosiaal meer bevoeg is en minder gedragsprobleme en sielkundige probleme toon as kinders van outokratiese en permissiewe ouers. Hierdie kinders is gewoonlik in staat om verantwoordelik en onafhanklik op te tree, is gewild by hulle portuurs en minder geneig om by delinkwente gedrag betrokke te raak (Berger, 2006:302). Die rede daarvoor mag wees omdat outoritêre ouers warm en aanvaardend is en kommunikasie aanmoedig, terwyl outokratiese ouers totale gehoorsaamheid vereis en hulle kinders se gedrag en houdings streng beheer en kontroleer (Rodriguez & Walden, 2010:302). Die permissiewe ouer is weer uitermate verdraagsaam, laat adolessente toe om hulle eie besluite te neem en bevraagteken selde hulle kinders se gedrag (Gouws et al., 2008:84).

(34)

Alhoewel dit uit bogenoemde beskrywing duidelik is dat die outoritêre opvoedingstyl die mees aanvaarbare styl is en die beste resultate tot gevolg het, is Louw en Louw (2007:328) van mening dat die meeste ouers van adolessente ’n kombinasie van hierdie style moet gebruik. Sekere situasies mag volgens hulle soms ’n meer outokratiese of permissiewe styl vereis. Berger (2006:303) sluit hierby aan en wys daarop dat die kind se temperament ook in ag geneem moet word. ’n Bang kind het volgens hierdie skrywer ’n behoefte aan “gentle parenting”, terwyl ’n “bolder child needs more restrictive (but still warm) parenting”.

Verder blyk dit dat kulturele verskille ook die ouerskapstyl mag beïnvloed en bepaal (Berger, 2006:303, 507; Kaplan, 2000:528). Smetana (in Rodriguez & Walden, 2010:299) wys egter daarop dat ongeag kulturele verskille, alle adolessente na meer outonomie strewe soos hulle ouer word en volgens Papalia et al. (in Gouws et al., 2008:85) werk die outoritêre of gesaghebbende ouerskapstyl die beste in alle kulture. Fourie (2001:135) kom ten slotte tot die gevolgtrekking dat adolessente se verhouding met hulle ouers hulle sosiale verhoudings met die portuurgroep, sowel as hulle vatbaarheid vir groepdruk beïnvloed.

Outonomie

Outonomie is ’n noodsaaklike ontwikkelingstaak omdat dit ten nouste verbind word met individualisering en identiteitsvorming (Steinberg & Silverberg, 1986:841). Adolessente-outonomie kan gedefinieer word as die vermoë om te dink, te voel, besluite te neem en onafhanklik op te tree, en vanweë die multidimensionele aard daarvan, kan vier tipes outonomie onderskei word, naamlik emosionele outonomie, gedragsoutonomie, morele of waarde-outonomie en kognitiewe waarde-outonomie (Fleming, 2005:2; Louw & Louw, 2007:372).

Emosionele outonomie beteken om weg te beweeg van die emosionele afhanklikheid van ouers, nuwe verhoudings te vorm en emosionele ondersteuning van ander te kry (Kaplan, 2000:519). Gedragsoutonomie verwys na die vermoë om onafhanklike besluite te neem en dit met aksies

(35)

deur te voer (Fleming, 2005:2; Gouws et al., 2008:86). Morele of waarde-outonomie beteken om ’n eie waardestelsel rakende politiek, geloof, akademiese opsies en sedes te vorm wat as riglyn vir eie gedrag kan dien (Fleming, 2005:2; Louw & Louw, 2007:327). Kognitiewe outonomie verwys na die vermoë om besluite te neem en verantwoordelikheid vir daardie besluite te aanvaar (Louw & Louw, 2007:327).

Baie adolessente is onseker van hulle eie identiteit en omdat outonomie ’n integrale deel van indentiteitsontwikkeling vorm, probeer hulle om gedrags- en emosionele outonomie en losmaking van hulle ouers te verkry (Steinberg & Silverberg, 1986:847). Ouers kan hierdie losmakings- of emansipasieproses as ’n bedreiging van hulle gesag ervaar en gevolglik strenger beheer toepas (Louw & Louw, 2007:326). Dit het egter meestal konflik tot gevolg, omdat adolessente in hulle strewe na outonomie teen hierdie strenger reëls rebelleer (Kaplan, 2000:527). Vanweë hulle kognitiewe redenasievermoë word hierdie konfliksituasies dikwels deur intense woordewisselings en negatiewe reaksies gekenmerk. Dit is volgens Louw en Louw (2007:327) daarom noodsaaklik dat ouers adolessente se strewe na outonomie as ’n kritiese taak tot volwassewording moet sien en nie as ’n ontkenning van ouergesag nie.

’n Nuwe benadering tot die verwerwing van outonomie is die “negotiating family framework” waarvolgens ouers en adolessente ’n ooreenkoms bereik oor watter party die regmatige gesag het om besluite rakende aktiwiteite en situasies waarin die adolessent betrokke is, te neem (Smetana & Turiel in Rodriguez & Walden, 2010:308).

2.2.5.2 Die portuurgroep

Die portuurgroep of kliek verwys na ’n individu se kleiner, intieme groep vriende wat op ’n gereelde basis interaksie of kontak met mekaar het en oor tyd baie hegte verhoudings met mekaar vorm (Fourie, 2001:12; Ryan, 2001:1137). Die portuurgroep speel ’n belangrike rol in die sosialisering van adolessente (Gouws et al., 2008:91) en kan volgens Louw en Louw (2007:330) in baie gevalle as ’n aparte kultuur beskou word wat die oorgang van die kinderjare na volwassenheid vergemaklik.

(36)

Adolessente bestee toenemend meer tyd met hulle portuurgroepe en een van hulle belangrikste sosiale behoeftes is die behoefte om aanvaar te word, tot ’n groep te behoort en om erkenning en status binne die groep te geniet (Fourie, 2001:12, 103; Bester & Fourie, 2006:158; Gouws et al., 2008:93). Portuur-groepe maak die vervulling van hierdie behoeftes moontlik en verleen aan adolessente ’n gevoel van behoort (Lebitso, 2001:17). Dit bied ook aan hulle die geleentheid om sosiale vaardighede aan te leer en in te oefen (Rodriguez & Walden, 2010:317). Hurlock in Fourie (2001:102) beskryf die funksie van die portuurgroep as “the adolescent’s real world, providing him a stage upon which to try out himself and others”.

Portuurgroepe oefen ’n invloed op adolessente se houdings, gedrag en psigologiese welsyn uit en kan gevolglik positiewe sowel as negatiewe gedrag tot gevolg hê (Fourie, 2001:15). Negatiewe gedrag en houdings word dikwels geassosieer met die vorming van bendes. Bendes is in essensie portuur-groepe en ten spyte van die negatiewe gevolge van hoërisikogedrag en druk tot deelname aan anti-sosiale praktyke, bied bendelidmaatskap vir baie jongmense ’n gevoel van mag, status en ’n gevoel van behoort (Geldard & Geldard, 2012:42; Gouws et al., 2008:230).

2.3 GROEPDRUK AS VERSKYNSEL

“Peer pressure is one thing all teens have in common. You can’t escape it, it is everywhere. No matter how popular you are, how well liked you may be or how together you feel, sooner or later you will have to face peer pressure”

(Hardcastle, 2013).

Groepdruk is ’n komplekse verskynsel met verskeie dimensies en word deur Clasen en Brown (1985:452, 464) beskou as ’n primêre meganisme waarmee groeplojaliteit en groepnorme oorgedra word. Groepdruk beïnvloed wat ’n persoon moet doen, bepaal hoe die persoon iets moet doen en wanneer dit gedoen moet word (Lebitso, 2001:6). Om groepsgedrag en die invloed van negatiewe groepdruk te verstaan, is dit belangrik om groepsdinamika te bestudeer. Die bestudering van groepsdinamika kan volgens Sniezek

(37)

(2007:2) help om te verstaan “how and why it is possible that, in certain situations, groups can evolve to act and behave immorally”.

2.3.1 Groepsdinamika

Groepsdinamika word deur Forsyth (2006:16) gedefinieer as die wetenskaplike studie van groepe, asook die aksies, prosesse en veranderinge wat in sosiale groepe voorkom. Hierdie groepsprosesse en groepstrukture ontwikkel volgens Sniezek (2007) deur die interaksies en invloede tussen individue en die groep en het volgens Kruger, Smit en Le Roux (1996:209) ’n belangrike invloed op die groepslede deurdat dit die gedrag van groepslede asook die prestasie van die groep self beïnvloed. Groepe kan op verskillende wyses geklassifiseer word, maar vir die doeleindes van hierdie studie is die klein of primêre groep, sowel as die groter of sekondêre groep van belang. Graad nege-leerders se klein groep sal hulle intieme vriendegroep wees, terwyl die groter groep die klasgroep is.

2.3.1.1 Die klein groep

Die klein groep kan gedefinieer word as ’n versameling van twee of meer individue wat in interaksie met mekaar is en sosiaal na mekaar aangetrek word omdat hulle ’n gemeenskaplike doelwit en ’n gedeelde identiteit het (Kruger et al. 1996:208; Sniezek, 2007). Ander kenmerke van die klein of primêre groep word soos volg deur Swartz et al. (2008:302-303) beskryf:

Norme: Binne die klein of primêre groep ontwikkel groeplede gewoonlik groepnorme of verwagtinge oor die gedrag wat aanvaarbaar is en van almal vereis word.

Rolle: Binne ’n klein sosiale groep het elke individuele lid ’n spesifieke rol wat die gedrag wat van hom of haar verwag word, spesifiseer. Kommunikasie: Klein groepe het gewoonlik ’n spesifieke

kommunika-siepatroon wat die vloei van inligting tussen die groeplede struktureer. Groepdenke (“Groupthink”): Groepdenke is ’n belangrike

groepspro-ses-verskynsel wat tot swak besluitneming kan lei (Swartz et al., 2008:303). Groepdenke kom volgens Kruger et al. (1996:218) voor

(38)

waar groeplede in so ’n mate eenparigheid nastreef dat hulle onwillig is om alternatiewe optredes realisties te oorweeg. Die doel van die groep is dus eenparigheid eerder as wat die beste besluit vir ’n situasie is. Simptome van groepdenke is die illusie van onaantasbaarheid, rasionalisering, ’n onvoorwaardelike aanvaarding van die groeps-moraliteit, ’n stereotipe siening van die vyand, selfgesentreerdheid en druk om tot die groepnorme te konformeer (Swartz, 2008:303).

2.3.1.2 Die groot groep

Die groot groep kan as ’n sekondêre groep, sowel as ’n verwysingsgroep bekend staan (Swartz et al. 2008:301). ’n Verwysingsgroep is ’n groep met wie ’n persoon identifiseer, maar nie formeel aan behoort nie en is veral belangrik in die vorming van ’n persoon se opvattings, waardes, houdings, selfbeeld en gedrag (Kruger et al., 1996:207; Swartz, et al., 2008:301). In sekondêre groepe is daar volgens Moghaddam (in Swartz, 2008:301) min direkte interaksies, swak identifikasie met die groep, min affektiwiteit tussen groeplede, beperkte of funksionele verhoudings en ’n kort bestaansperiode.

’n Negatiewe aspek van groter groepe is de-individualisering (“deindividuation”). De-individualisering kom volgens Sniezek (2007) voor in situasies waar mense hulle normale perke verwerp, hulle individuele identiteit verloor en meer vatbaar vir groepnorme raak. Dit gebeur gewoonlik in groter groepe waar individue anoniem voel en daarom meer geneig is om dinge te doen wat hulle nie sal doen wanneer hulle alleen is nie (Swartz et al., 2008:302). Sniezek (2007) verduidelik: “Deindividuated people are less restrained, less self-regulated, more responsive to the situation and more likely to act without thinking about their own values.” Hierdie aspek van groepe beïnvloed groepslede negatief en kan immorele gedrag tot gevolg hê.

2.3.2 Die aard en oorsake van portuurgroepdruk

(39)

kamerade en beïnvloed mekaar se houdings, waardes en sosiale gedrag (Pretorius, 1998:167). Hierdie invloed kan egter ’n positiewe of negatiewe krag in die adolessent se lewe wees en kan dus prososiale sowel as anti-sosiale gedrag tot gevolg hê (Schuld,1999:57).

Negatiewe groepdruk word as een van die hoofoorsake van die toetrede tot anti-sosiale en hoërisikogedrag, soos winkeldiefstel, misdaad, middelmisbruik en konfronterende en aggressiewe gedrag beskou (Geldard & Geldard, 2012:46; Lebitso, 2001:31). Negatiewe of destruktiewe groepdruk is volgens Berger (2006:510) die sterkste wanneer adolessente onseker van hulleself voel. Daarom kan dit gebeur dat adolessente in hulle eerste jaar op hoërskool klasmaats wat met dwelms eksperimenteer en aggressief optree, bewonder en gevolglik meer geredelik aan negatiewe groepdruk toegee.

Portuurinvloed kan op ’n direkte sowel as ’n indirekte manier plaasvind. Direkte portuurinvloed fokus volgens Gana (2004:41) eksplisiet daarop om ’n persoon sover te kry om te rook, te drink of by ander vorme van hoë-risikogedrag betrokke te raak. Dit kan wissel van beleefde gebare soos om vir iemand ’n drankie aan te bied tot ’n openlike bevel of aanmoediging om te drink of te rook. Indirekte portuurinvloed is gebaseer op etikettering en die modellering van die portuurgroep se gedrag en houdings, tuis en by die skool. Humor, terg en skinder is volgens Rodriguez en Walden (2010:320) algemene praktyke waarmee norme afgeforseer word sonder dat dit direk aangespreek word. Op hierdie manier word antisosiale gedrag versterk.

2.3.3 Portuurgroepdruk en konformiteit

Groepdruk word primêr gekenmerk deur adolessente se konformering tot die norme van hulle portuurgroep “often against their own better judgement, in order to secure themselves an acceptable and sustainable position in that group” (Roos, 2003:73). Konformiteit verwys na die neiging om toe te gee aan sosiale en/of portuurgroepdruk (Louw & Louw, 2007:332) en staan volgens Deutsch en Gerard (in Swartz et al, 2008:304) bekend as “normatiewe sosiale invloed”. Konformering met porture word gereflekteer in adolessente se kleredrag, haarstyle, smake en woordeskat en gee aan adolessente ’n sin van

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

Er zal moeten worden gekeken naar de eisen die aan deze producten worden gesteld en wat voor mogelijkheden er allemaal zijn om het verwerkt te krijgen tot het gewenste

In 2007 werd echter voor de eerste keer in narcisbollen van cultivar Minnow, die tot de Amaryllidaceae behoren, een zachtrot gevonden die bleek te zijn veroorzaakt door de

Er moet meer ruimte zijn voor wa- terbeheersing, voor mogelijkheden voor recreatie en toerisme, voor ontwikke- ling in de landbouw en voor versterking van de kleine kernen en

Waar deze kenmerken niet aanwezig zijn, kunnen de V85 snelheden tot boven de 80 km/uur stijgen. Zoals verwacht nemen de snelheden tússen snelheidsremmende voorzieningen toe en

Om de relatie tussen de binnendijkse grondwaterstand en de buitendijkse grond- en oppervlaktewaterstand te bepalen, zijn op twee locaties peilbuizen in de bodem van het

In South Africa a number of functions have been delegated to local government by either Central andlor Provincial Government. These functions may vary between

If the alternative conclusion referred to above is accepted namely that the disputed functional area falls under "municipal planning" in part B of schedule 4 and

It is clear that classroom activities in South Africa need to accommodate different approaches to teaching and learning in order to comply with the pedagogical needs of learners,