• No results found

HOOFSTUK 4: RAPPORTERING EN BESPREKING VAN RESULTATE

4.5 VOORSTELLE VAN ONDERWYSERS OM PROBLEME

TE LOS

Kodes wat hierdie kategorie ingesluit het, is tyd wat aan Scratch-onderrig bestee word, vroeëre blootstelling aan Delphi en spesifieke onderrig van programmerings- begrippe in Scratch.

Aangesien die groot werkslading en die kwessie van tyd die onderwysers se grootste probleme was, het die meeste voorstelle vir oplossings daarvan verband gehou met ʼn besparing van tyd tydens Scratch-onderrig aan graad 10 leerders sodat vroeër met Delphi begin kon word.

Ek probeer hulle nou bietjie vinniger druk, om klaar te kry met Scratch, sodat ek in graad 10 bietjie met Delphi kan begin (P7).

Nog ʼn voorstel van onderwysers om vroeër blootstelling aan Delphi te kry, was weer eens die vooruitverwysing na Delphi.

Ek sal baie Delphi in graad 10 tussendeur die Scratch inbring. Ek sal sê, in Delphi kry ons, en dan skryf ek sommer Delphi se IF en ELSE neer, dan sê ek dis nou die IF en ELSE en dan skryf ek Delphi se formaat op die bord neer (P1).

Deelnemer P6 het voorgestel dat praktiese Delphi-voorbeelde van teoretiese begrippe tydens teoretiese werk aan leerders in graad 10 gewys word. Op hierdie wyse kan leerders reeds in graad 10 blootstelling aan Delphi kry, om tyd in graad 11 te bespaar.

Ek spaar ontsaglik tyd met hierdie kontroles en dit vul die teoriehoofstuk baie aan, want hulle sien dit is nie net Windows nie. In Delphi wys ek hulle nou van “uses”, “uses” Windows, Messages, Dialogs (P6).

Deelnemer P6 het verder voorgestel dat die beste manier sou wees om reeds in graad 10 tydens die onderrig van Scratch meer op programmeringsbegrippe te fokus.

Ek sien daarna uit om volgende jaar baie meer te kan fokus op veranderlikes of lusbeheerveranderlikes – al hierdie probleme waarvan ons gepraat het in graad 11. My voorstel is – moenie in graad 11 terugverwys na Scratch toe nie, begin al in graad 10 [om meer op programmeringsbegrippe en -beginsels te fokus] (P6).

Deelnemer P3, wat op die onderrig van programmeringsbeginsels en -begrippe in Scratch gefokus het, en sukses behaal het met die oordrag daarvan (sien 4.3.2.1), se voorstelle was op begrippe wat reeds in Scratch onderrig kan word, gefokus. Een gedagte was om deur middel van die name van veranderlikes leerders reeds op die verskillende soorte, String en Integer, attent te maak.

Ek leer hulle sommer al klaar met afkortings in Scratch, van veranderlikes. “S” vir String, “I” vir Integer, sodat hulle dit nou al klaar [in Scratch] weet (P3).

Net so het deelnemer P4 ook voorgestel dat meer klem in graad 10 op programmeringsbegrippe in Scratch gelê moet word. Dié begrippe sluit ingeboude

funksies, soos ABS en ROUND, die reikwydte van veranderlikes en die gebruik van verskillende datatipes in.

Ek lê meer klem op byvoorbeeld ABS en ROUND. Ek het spesifiek klem gelê op “For this Sprite only” en “For all Sprites” (P4).

Verder het P3 beoog om leerders se begrip van herhaling te verdiep. Leerders moes nie net telkens die FOREVER-lus gebruik nie, maar moes die beste lusstruktuur kon kies en gebruik.

By die REPEAT laat ek hulle nie die normale REPEAT eers gebruik nie; hulle moet eers REPEAT vir X aantal kere met ’n teller doen, en hulle moet REPEAT … UNTIL gebruik. Ek laat hulle amper nie eers FOREVER gebruik nie, tensy hulle UNTIL gebruik (P3).

Onderwysers het verskeie redes aangevoer vir probleme wat met Delphi-onderrig ervaar is, waarvan nie almal as gevolg van Scratch was nie. Hulle het ook verskeie voorstelle gemaak vir die oplos van probleme. Die voorstelle was nie altyd in ooreenstemming met voorskrifte vir die KABV nie, maar sou volgens onderwysers lei tot ʼn besparing van tyd tydens die onderrig van Scratch ten einde vroeër met Delphi te kan begin. Slegs enkele deelnemers het voorgestel dat daar sterker op programmeringsbeginsels in Scratch-onderrig gekonsentreer moet word om sodoende die oordrag na Delphi makliker te maak.

4.6

SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is aangedui dat daar leemtes was met betrekking tot die onderrig van programmeringsbeginsels en -begrippe in Scratch aan graad 10-leerders. Verskeie redes is vir hierdie leemtes verskaf en die meeste kan toegeskryf word aan onderwysers se onsekerheid oor die onderrig van ʼn nuwe programmeertaal. Die deelnemende onderwysers het gerapporteer dat hulle blootgestel was aan ʼn nuwe programmeringsomgewing met min hulpbronne. Onderrig was ʼn kwessie van probeer en tref en as gevolg daarvan is programmeringsbeginsels en -begrippe in Scratch nie behoorlik onderrig nie. Gevolglik was Delphi-onderrig aan dieselfde leerders in graad 11 ook onder druk. Onderwysers was oorlaai met werk omdat programmeringsbeginsels en -begrippe nie na graad 11 oorgedra is nie en die tyd wat volgens die KABV aan Delphi-onderrig toegeken is, nie haalbaar was nie.

Alhoewel daar groot verskille is tussen Scratch en Delphi, en alle programmeringsbeginsels en -begrippe nie in Scratch hanteer kan word nie, is daar bevind dat oordrag, van algemene programmeringsbeginsels en –begrippe met behoorlike onderrig in Scratch, wel moontlik is. Slegs enkele onderwysers kon egter voorstelle gee om die oordrag van programmeringsbeginsels en -begrippe na Delphi deur middel van Scratch-onderrig te verhoog. Die meeste deelnemers se voorstelle was gerig op ’n verkorting van die tydperk van Scratch-onderrig. Laasgenoemde is egter nie in ooreenstemming met riglyne vervat in die KABV nie. Die oplossing lê by die onderrig van Scratch op so ʼn manier dat maksimum oordrag van programmeringsbeginsels en -begrippe na Delphi plaasvind. Hierdie voorstelle word in die volgende hoofstuk bespreek.

5

HOOFSTUK 5:

BEVINDINGS, GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

5.1

INLEIDING

Die doel met hierdie navorsing was om te bepaal hoe Scratch as ʼn visuele programmeertaal (VP) aan graad 10-leerders onderrig behoort te word, om die oorgang na Delphi as sintaksisgebaseerde objekgeoriënteerde taal (SOOP) te vergemaklik. Sewe subdoelwitte en navorsingsvrae is geïdentifiseer om hierdie doel te bereik (sien 1.3). In hierdie hoofstuk word die bevindings, gevolgtrekkings en aanbevelings aan die hand van die navorsingsdoelwitte en -vrae bespreek.