• No results found

HOOFSTUK 4: RAPPORTERING EN BESPREKING VAN RESULTATE

4.3 ONDERWYSERS SE ERVARING VAN DIE OORGANG

4.3.1 Algemene aspekte met betrekking tot die oorgang van

4.3.1.1 Die volume werk van Delphi in graad 11

Die volume werk wat volgens die KABV (DBE, 2011:13) in die eerste ses maande afgehandel moes word, was vir die deelnemende onderwysers net te veel en hulle was gespanne daaroor. Die onderwysers was bekommerd omdat hulle slegs twee jaar gehad het vir Delphi-onderrig, alhoewel dieselfde inhoud voorheen in graad 10, 11 en 12 onderrig is (sien tabel 1.1).

Wat ons voorheen drie jaar gevat het om met die kinders reg te kry, druk hulle [KABV] in twee, of een-en-ʼn-halwe jaar in (P8).

As ek so opgestres is teen die tempo wat ek moet werk, hoe moet hulle nie voel wat dit as ’n nuwe vak neem nie. Ek voel jammer vir hulle, veral vir die leerders wat wil goed doen. Dis vir hulle baie swaar (P1).

Alhoewel die Delphi-omgewing nuut was, moes bepaalde programmeringsbeginsels en -begrippe in Scratch reeds in graad 10 vasgelê word (sien tabel 1.1). Onderwysers het egter met graad 11 Delphi-onderrig gevoel dat hulle weer van nuuts af moes begin met die onderrig van programmering. Dit bevestig die bevindings van hierdie studie (sien 4.2) dat onderwysers nie Scratch aan leerders onderrig het met die doel om programmeringsbeginsels en –begrippe vas te lê nie. Hulle het nie besef dat Scratch wel meer as net probleemoplossing en ʼn liefde vir programmering kan bevorder nie.

Die kinders het dit [Delphi] heeltemal gesien as ’n nuwe program. Integer, Boolean en daardie begrippe moes ek van vooraf met hulle doen (P7).

Terwyl onderwysers gevoel het hulle begin van voor af met die onderrig van programmering in graad 11, word in die KABV (DBE, 2011:12) aangeneem dat leerders reeds in graad 10 bepaalde programmeringsbeginsels en -begrippe bemeester het. In graad 11 moes Delphi-onderrig slegs hierop voortbou (sien tabel 1.1). Daar is reeds in hierdie navorsing bevind dat programmeringsbeginsels en -begrippe nie behoorlik aan leerders in Scratch onderrig is nie (sien 4.2.3.6) en die deelnemende onderwysers het gevolglik paniekerig begin raak oor die tyd wat beskikbaar was om Delphi te onderrig.

Wat ons nou moes gedoen het, is basies om die hele [vorige] graad 10-sillabus in vier maande te doen (P4).

Soos ons aangaan met die konsepte raak dit ’n panieksaaiery, want hulle sukkel met al die konsepte (P3).

Behalwe die groot volume werk wat afgehandel moes word, moes leerders ook die nuwe Delphi-programmeringsomgewing aanleer. Die ervaring met betrekking tot die oorgang na die nuwe Delphi-proggrammeringsomgewing word vervolgens bespreek. 4.3.1.2 Die Delphi-programmeringsomgewing

Die deelnemers se ervarings rakende die Delphi-koppelvlak (sien 2.5.3), die sintaksis (sien 2.5.4.2) en fouthantering (sien 2.5.5.3) word vervolgens bespreek.

Die Delphi-koppelvlak

Die deelnemers het gerapporteer dat die Delphi-koppelvlak aanvanklik vir leerders vreemd was, maar hulle het met verloop van tyd daarby aangepas en geleer om daarmee te werk.

In die begin was dit baie vreemd; dit was nogal moeilik; dit is nie ’n maklike koppelvlak nie (P3).

… deur die helfte van die tweede kwartaal het dit begin makliker raak vir hulle (P2).

Aangesien Scratch egter ʼn visuele programmeertaal is (sien 2.4.2) waar blokke kode slegs ingesleep word om programmeringskode mee te bou en Delphi ʼn sintaksisgebaseerde taal (sien 2.5.2), was die verwagting dat die radikale verskille ʼn probleem sou wees tydens die oorgang na Delphi. Die gevolgtrekking kon egter gemaak word dat die oorgang na die Delphi-koppelvlak met verloop van tyd nie vir

leerders ʼn probleem was nie, maar dat dit wel tyd geneem het om leerders daarmee vertroud te maak.

Die sintaksis

Deelnemers P4, P5 en P6 was van mening dat leerders met die sintaksis sukkel. ʼn Algemene klagte wat telkens voorgekom het, was dat leerders vergeet het om BEGIN- en END-instruksies in programmeringstrukture in te voeg.

Hulle vergeet om die BEGIN en END in te tik as daar meer as een stelling na die dubbelpunt is. Dit het ek gesien, maar dit is ’n klein foutjie (P4).

Die enigste ding is die aanhalingstekens, daar is te veel aanhanlingstekens in Delphi in vergelyking met Scratch, maar leerders is nou gewoond daaraan. Sommige leerders, veral dié wat visueel afhanklik is, vind dit tot vandag toe nog moeilik om by te hou met Delphi waar alle instruksies getik moet word (P5). …hulle moes binne ’n kwartaal alles en sintaksis leer. Sintaksis bly vir nuwe gebruikers ’n uitdaging, ’n hekkie (P6).

Die meeste deelnemers het egter nie gevoel dat die aanleer van sintaksis in Delphi vir leerders moeilik was nie. Algemene foute betreffende sintaksis, soos om aanhalingstekens en kommapunte te vergeet, is deur die meeste deelnemende onderwysers nie as struikelblokke gesien nie, maar as die normale verloop van die aanleer van ʼn sintaksisgebaseerde programmeertaal. Deelnemers P1, P7, P3 en P8 het vertel dat leerders die sintaksis relatief maklik aangeleer het, al was dit aanvanklik vir hulle vreemd.

Ek dink hulle het dit [sintaksis] vir my vinnig opgevang, ja (P1). Hulle het dit [die sintaksis] nogal vinnig opgetel (P7).

Dit was nogal 'n groot probleem aanvanklik gewees, maar nou is dit nie meer so nie (P3).

Ek sou sê die sintaksis is vir hulle nie ʼn probleem nie. Van hulle kan dit presies reg doen maar natuurlik is programmering maar 'n frustrerend as jy nie gewoond is aan die sintaksis nie (P8).

Sintaksis word algemeen in die literatuur as ʼn struikelblok by die aanleer van programmeertale vir beginners gesien (sien 1.1.1). Die bevindings van hierdie navorsing was egter dat die sintaksis nie vir graad 11-leerders die grootste struikelblok was nie. ʼn Moontlike verklaring hiervoor lê in die bevindings van Jenkins (2002:55) en Resnick (2012) opgesluit. Hulle voer aan dat die skryf van

programmeringskode slegs ʼn klein deeltjie van programmering behels en dat die prosesse van programmering (sien figuur 2.1) aangeleer moet word tydens die onderrig van programmering. Aangesien leerders reeds in Scratch met die prosesse van programmering kennis gemaak het, het hulle nie die sintaksis van Delphi as ʼn probleem ervaar nie, maar slegs as ʼn nuwe faset van programmering wat hulle op daardie stadium kon oorbrug. Die beginsel van fouthantering was egter nie vir hulle so maklik nie.

Fouthantering

Leerders is feitlik nooit in Scratch blootgestel aan programme wat nie wou uitvoer nie (sien 4.2.3.6) en daarom was dit, volgens die deelnemende onderwysers, vir leerders moeilik om foutopsporing te doen.

Hulle het nooit daarmee kennis gemaak nie. Nou as die program nie wil uitvoer nie, dan roep almal en almal het ’n probleem en niemand weet hoekom nie (P7). Hulle reageer nie, dis asof hulle so skrik as die program nie wil werk nie, dat alles vassteek (P4).

Soos wat leerders meer blootstelling aan fouthantering gekry het, kon hulle wel die sintaksisfoute opspoor, maar hulle het steeds gesukkel om logiese foute op te spoor.

Hier is ’n paar van hulle wat presies agterkom as hulle daardie foute kry, dit aanteken, sodat hulle nie meer met die verwysing sukkel nie (P3).

Hulle het nie daardie ervaring om regtig foute op te spoor nie, so foutopsporing is ’n probleem. (P6).

Die gevolgtrekking word gemaak dat fouthantering ʼn struikelblok was wat leerders in die Delphi-programmeringsomgewing ervaar het. Alhoewel sintaksisfoute nie in Scratch voorkom nie, kan logiese foute steeds algemeen in Scratch-programme voorkom (Maloney et al., 2010:5–6). Die aanname kan gevolglik gemaak word dat leerders reeds in Scratch blootstelling moes gekry het aan programme wat uitvoerfoute gee en toetsing van programme (DBE, 2011:23) om ’n grondslag te lê vir foutopsporing in Delphi. Foutopsporing is juis ook een van die prosesse van programmering wat onderrig moet word (sien figuur 2.9), ongeag die taal waarin programmering plaasvind.

Jy kan mos nie sê dis Delphi of Scratch nie, dis maar die onderwyser, hoe hy algoritmes, soek van foute en naspeurtabelle aan leerders oorgedra het (P6).

Alhoewel die onderwysers baie aandag aan probleemoplossing en algoritme-ontwerp in Scratch gegee het (sien 4.2.2), het hulle nie pertinent aandag aan foutopsporing gegee nie. Dit kan as ʼn struikelblok vir die oorgang na Delphi geïdentifiseer word. Die aanleer van die Delphi-koppelvlak, sintaksis en fouthantering het waardevolle onderrigtyd in beslag geneem en veroorsaak dat onderwysers nie soos deur die KABV voorgeskryf is dadelik met gevorderde programmering in Delphi kon begin nie. Vervolgens word die kwessie van te min onderrigtyd bespreek.